Polisieminister mors R578 000 in hotel uit

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het nog ‘n geweldige hoë hotelrekening laat oplui, dié keer vir meer as R570 000 in Durban, het die Sunday Independent gister berig.

Tussen 19 Desember en 25 April, het Mthethwa by tye in die vyfster-Hiltonhotel saam met lede van sy BBP-beskermingseenheid teen ‘n koste van R578 499 tuisgegaan.

‘n Woordvoerder vir die geagte minister, Zweli Mnisi, het nie oor die syfer kommentaar gelewer nie, maar bloot gesê dat Mthethwa gedurende Desember in Kwazulu-Natal “op amptelike sake” was en aan aanbiedings deelgeneem het wat op die vermindering van Kersseisoenmisdaad gemik was. Gedurende April het hy weer by die Hilton ingetrek weens die nasionale verkiesings.

“Die provinsie is as ‘n potensiële warm sone (vir misdaad) geëien. Dit was alles amptelike programme wat daarop gemik was om plaaslike belanghebbendes in die stryd teen misdaad te betrek, waaronder raadpleging met plaaslike owerhede as deel van die voorbereiding vir die verkiesing,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Volgens die Sunday Independent se afskrif van die rekening, het Mthethwa sowel Kersfees as Nuwejaar in die hotel deurgebring. Gedurende ‘n ononderbroke verblyf van 17 dae vanaf 19 Desember, is hy nie deur enige lyfwagte vergesel nie en het die rekening op net bokant R86 000 te staan gekom.

Op die vooraand van Valentynsdag op 14 Februarie, het Mthethwa by dieselfde hotel geregistreer, dié keer met vier van sy wagte, teen ‘n koste van R28 516. Van 19 tot 25 April, het hy by die hotel met twee wagte ingewoon. Hierdie rekeing het R89 000 bedra.

Die Hiltonrekening is gelykstaande aan dubbel die bedrag wat belastingbetalers vir Mthethwa se verblyf van 17 dae in Kaapstad se vyfster-Table Bay-hotel vroeër vanjaar moes opdok. Mthethwa het by in die hotel gebly teen ‘n koste van R235 000 terwyl sy huis ná vloedskade opgeknap is.

Mnisi het gesê die minister het voorheen beweer dat hy onbewus was van die hoë pryse wat deur die Kaapstadse hotel gevra word.

Opposisiepartye het met woede oor Mthethwa se jongste “spandabelheid” gereageer.

Die Kongres van die Mense het gesê Mthethwa het óf vir die ANC ‘n politieke veldtog gevoer óf hy het eenvoudig huis toe gegaan en die regering vir sy verblyf gefaktureer.

Die Demokratiese Alliansie het gesê die departement van polisie se lang lys weeldevergrype is nie net teenstrydig met president Jacob Zuma se oproepe om besuiniging en versigtigheid nie, maar druis ook in teen gesonde verstand en die verbintenis om die publiek se belang bo persoonlike bevrediging te stel.

“As ‘n mens die hotelbuitensporighede by die motors tel wat vir Mthethwa en sy adjunk, Fikile Mbalula gekoop is, dan bedra dit R3,7 miljoen van openbare geld wat op persoonlike vertoon uitgegee is,” het die skaduminister van polisie, Dianne Kohler Barnard, in ‘n verklaring gesê.

Sy het gevra hoe Mtethwa sy gedrag kon regverdig terwyl polisiebeamptes wat dikwels hul lewens waag elke maand ‘n karige salaris huis toe neem.

Die Onafhanklike Demokrate het hul “afkeer” uitgespreek.

“In die lig van die feit dat dit die tweede sodanige onthulling oor Mthethwa binne twee weke verteenwoordig, kan woorde nie uitdruk met watter afkeer die OD vervul is nie,” het die party se woordvoerder vir polisie, Haniff Hoosen, in ‘n verklaring gesê.

“Die kabinet se magte om die handboek te magtig, moet weggeneem word. Voordele, voorregte en toelaes vir ministers behoort deur ‘n soortgelyke proses bepaal te word as die Moseneke-kommissie wat met die ondersoek na vergoeding vir openbareposbekleërs belas is.”

review the secret historyДанильченко Юрий Брониславович