Die VF Plus gaan ‘n regsmening formuleer op grond van die ANC se partygrondwet en ANC-beleidsdokumente waarvolgens Malema en die jeugbestuur duidelik ANC-reëls oortree en binne die ANC se strukture aangekla behoort te word. Dit sal aan die ANC se leierskap voorgelê word vir verdere aksie, by gebreke waarvan die VF Plus die ANC-jeugliga by die Menseregtekommissie gaan aankla vir haatspraak en aanhitsing van rassisme.
Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêrewoordvoerder oor sport, is dit nou nodig om nie net Malema nie, maar die hele jeugbestuur in die naam van vrede en rasseharmonie in Suid-Afrika, formeel te dissiplineer. Trouens, indien president Zuma bereid is om van swak burgemeesters en ander amptenare ontslae te raak, soos hy al gedoen het, hoeveel te meer sal dieselfde dissipline nie van toepassing wees op sy eie jeug nie? Daarom beroep die VF Plus hom op die ANC-leierskap om hulle jeuglede in lyn te bring met president Zuma se beleid van versoening as ‘n toets vir die erns wat die ANC hiermee het.
Die VF Plus-reaksie volg op uitsprake van mnr. Floyd Shivambu, die ANC-jeugliga se woordvoerder, wat volgens Rapport gesê het dat die meeste wit mense rassiste is en dat hulle nie die oorwinning van Caster Semenya vier nie omdat sy nie wit is nie. Hy voeg hiermee sy uitsprake by dié van Malema wat deurlopend nog rondom die voorval agterdog en verdeeldheid saai en rassepolarisering aanstig.
“Hitler het voor die Tweede Wêreldoorlog voortdurend rassistiese uitsprake teenoor die Joodse minderheid gemaak wat as onskuldige propaganda afgemaak is. Uiteindelik het dit gelei tot sy formele program van etniese uitwissing. Daarom kan hierdie rassistiese uitsprake teenoor die wit minderheid in Suid-Afrika nie ligtelik afgemaak word nie,” volgens adv. Alberts.
“Wit mense in Suid-Afrika raak al hoe meer bekommerd oor die roekelose uitsprake van die ANC-jeug en begin al hoe meer onveilig voel. Die klanke wat hierdie jongmense maak, lyk al hoe meer soos die amptelike uitsprake van die ANC self en dit is nou tyd vir die ANC om duidelik en ferm aan te dui wat hulle standpunt oor die plek van wittes in Suid-Afrika is. Die VF Plus is daarvan oortuig dat die meeste wittes nie rassisties georiënteerd is nie, maar dat daar wel ‘n wit/swart-polarisering begin opbou onder die oënskynlike leierskap van Malema en sy juigkommando,” volgens Alberts.

Amerikaanse wetgewers het gister onderneem om gou en beslissend teen Iran op te tree. Dit volg op ‘n verslag dat wapendeskundiges van mening is dat Teheran die kundigheid ontwikkel het om ‘n atoombom te bou – en dit terwyl ‘n senior Amerikaanse amptenaar die nuusberig afgemaak het.
Die munisipale bestuurder van die uMhlathuze-munisipaliteit in Empangeni, Kwazulu-Natal, is deur die ANC-meerderheid vanaf gister geskors. Dr. Tonie Heyneke, ‘n ervare bestuurder, gaan glo ondersoek word met die oog daarop om hom af te dank ten einde ‘n swart ANC-gesinde bestuurder in sy plek aan te stel.
Die Franse minister van binnelandse sake, Brice Hortefeux, is gedagvaar om klagtes van rassisme te beantwoord. Dit spruit uit ‘n film waarin dit voorkom dat hy anti-Arabiese opmerkings gemaak het.
Die toenemende toestroming na stedelike gebiede deur landelike swartes plaas geweldige druk op die stedelike infrastruktuur, het die minister van menslike nedersettings, Tokyo Sexwale, gister gesê.
Die groot Switserse maatskappy Nestlé koop tot ‘n miljoen liter melk per jaar van voorheen blanke plase wat nou aan Grace Mugabe, die Zim-diktator se vrou, behoort. Mevrou Mugabe het in 2002 ses van die land se mees waardevolle plase van hul blanke eienaars gekonfiskeer, waaronder melkplase.
Wêreldleiers het die Duitse kanselier, Angela Merkel, met haar verkiesingsoorwinnning gelukgewens maar sommige koerante meen vanmôre dat die lae stempersentasie en haar party se swakste vertoning sedert 1949 nie veel is om oor te kraai nie.
Die stempersentasie was ‘n rekordlae 70,8 persent, teenoor 77,7 persent vier jaar gelede.