Die Franse minister van binnelandse sake, Brice Hortefeux, is gedagvaar om klagtes van rassisme te beantwoord. Dit spruit uit ‘n film waarin dit voorkom dat hy anti-Arabiese opmerkings gemaak het.
Die MRAP anti-rassismegroep beskuldig Hortefeux van “rassistiese beledigings” oor ‘n video wat opgeneem is tydens die somerkongres van President Nicolas Sarkozy se regerende UMP-party, vroeër vandeesmaand.
Die groep het regsaksie geneem onder ‘n vereenvoudigde snelbaanprosedure wat die eiser toelaat om ‘n verweerder regstreeks voor ‘n regter te dagvaar.
‘n Prokureur vir die MRAP, Pierre Mairat, sê die Paryse strafhof het ingestem om die saak die eerste maal op die 17de Desember aan te hoor. Die ministerie het nog nie bevestig of ontken dat die minister gedagvaar is nie.
Die film wat op die internet gelaai is, wys Hortefeux wat by ‘n man van Arabiese oorsprong poseer terwyl hy sê: “Daar moet altyd een wees. As daar een is, is dit in die haak. Dit is wanneer daar ‘n spul van hulle is, wat daar probleme is.”
Die man, na wie as Amine verwys word, is te siene in ‘n klein groepie partyaktiviste, insluitende ‘n vrou wat gehoor kan word om te sê: “Hy eet varkvleis, hy drink bier.”
Hortefeux antwoord: “Hy stem glad nie ooreen met die prototipe nie.”
Die MRAP se saak teen Hortefeux berus op die gebruik van die uitdrukking “prototipe” en die minister se klaarblyklike aanduiding dat ‘n groot hoeveelheid Arabiese immigrante ‘n probleem vir die gemeenskap veroorsaak.
“Dit sluit Arabiese mense van ons sosiale kontrak uit,” sê die groep se prokureur.
Hortefeux het later sy berou uitgespreek by ‘n geleentheid wat deur die Franse Raad vir die Moslemgeloof aangebied is, maar het daarop aangedring dat sy opmerkings buite konteks aangehaal is, maar hy het in gebreke gebly om ‘n verskoning aan te bied.
Rassebeledigings in Frankryk is strafbaar deur tot ses maande in die tronk of ‘n maksimumboete van omtrent R220,000.
