‘Uit die volksmond’

fightingdeur Willem de Jager, Sendai, Japan.

Sondag merk ek ‘n interessante ontwikkeling in die briewekolom van Rapport op.

In sy brief uit Suid-Korea, “Wat ‘n vriend het ons in FW”, reken Pieter Reynecke dat Afrikaners nou “skielik” vry is en bedank hy “oom” FW en Madiba vir daardie vryheid.

Hy merk dat Afrikaners “van die beste motors” ry en in “enorme” huise woon.

Elke man is geregtig op sy interpretasie van die realiteit. Maar hier is die opwindende deel: In plaas van die gebruiklike inskiklikheid van ‘JA-stemmers’ of die stilswye van ‘NEE-stemmers’ (as ek so ‘n pre-1992 onderskeid kan tref) vind daar toe ‘n ander ding plaas.

Mense het aan die praat geraak. Daar is Afrikaners wat weet van ‘n Suid-Afrika voor ‘the bad old days of Apartheid’ die amptelike refrein geword het.

Dis die perspektiewe van sulke ingeligtes wat die gesprek verhef het uit die arena van beledigings slinger.

So herinner ene “Cyberjerk Ingram” ons daaraan dat FW en die NP redelik gou tot die vergetelheidsfeer vervaag het na afloop van die oorgawe.

Hy onthou dat selfs ‘n Engelse joernalis, Ken Owen, toegegee dat “FW de Klerk went way beyond his mandate” en stel sy oorgawe gelyk aan “criminal treason against the Afrikaner”.

Eweneens onthou “Halala Mandelatopia” dat FW destyds onder andere “Sterk en doelgerigte leierskap” en “Veiligheid, vryheid en voorspoed deur geregtigheid” beloof het.

Elkeen van FW se beloftes is natuurlik sedertdien verbreek.

As meer Afrikaners hierdie bewustheid het, dan sal ons van beter weet as om die toenemend onderdrukkende status quo sondermeer te aanvaar of om ons aan die “ongekende Afrikanerwelvaart” te troos waarna Reynecke in sy brief verwys.

Dit is buitendien vir meer en meer Afrikaners eenvoudig nie waar nie.

Daar is ook diegene wat braaf genoeg is om onder hulle eie name te debatteer soos Chris Pretorius wat wonder of sou dit die “spul ‘leunstoel-krygers’… gepas het as FW & kie liewer ‘n oorlog aan die gang gesit het..?”

Cathy Kotze reageer met “daardie oorlog word steeds gevoer. Op ons plase teen weerlose boere. In ons swart woongebiede teen weerlose kinders en vroue. In ons stede in die huise van weerlose mense.”

In retrospek wil dit lyk of dit ‘n keuse was tussen ‘n vinnige, bloedige oorlog en die huidige oorlog in stadige aksie wat ons toe gekry het.

Dan is daar Dan De Lange wat homself beskryf as “an Afrikaans-speaking South African” wat nie as Afrikaner identifiseer wil word nie “but just a South African”.

Mens wonder waarom los hy nie maar die “Afrikaans” geheel en al nie, ek meen wat’s die punt om jouself in Engels, op ‘n Afrikaanse webblad, as ‘n Afrikaanssprekende te beskryf?

Maar dit was seker om Dave Van Huffel te akkommodeer wat reken dat “many Afrikaans-speaking individuals still suffer from the “isolation-polarization indoctrination syndrome” (en die bevryding waarvoor Madiba hom beywer het sal ons vir ewig ontwyk, o wee).

Ook in die rubrieke-kolom was daar die afgelope Sondag aansienlik meer kommentaar as gewoonlik en ook daar was teenstrydige opinies oor Flip Buys wat skryf ons “Moenie hoop op komende verkiesing” nie.

Manfred Delport laat weet vir Flip dis presies “waaroor die sogenaamde wit rassiste, waaroor [hy] so geweldig skree, VOOR 1992 se referendum gewaarsku het – dwingelandy en oorheersing. Dit was nie nodig vir doktore en professore om tesisse daaroor te skryf en 20 jaar van ‘n jong volk se tyd te mors nie!

Paul Kirsten grap in dieselfde forum oor FW de Klerk se “wigte en teenwigte waarvan daar ongelukkig net die booswigte oorgebly het”.

Net as dit na ‘n partytjie wil begin lyk, gooi Willem de Haan ‘n ander klip in die bos: “Ongelukkig het “die Afrikaner” maar ‘n swak rekord wanneer dit by saamstaan kom en is daar ook vandag nog steeds die politiek korrektes wat “rassiste” skree sodra van ‘n Afrikaner of blanke groepsorganisasie gepraat word”.

Dit is alles waar en ons het mekaar deur die dekades, eeue, heen ‘hensoppers’ en ‘joiners’ en ‘hanskakies’ en ‘k*boeties’ en elke denkbare speelgrondbelediging toegedig.

Dit maak ons nie uniek nie, dit maak ons menslik. Ghandi se bevrydes van die Britse juk het so onder mekaar baklei dat hulle uiteindelik verdeel het in ‘n Moslem Pakistan en ‘n Hindoe Indië.

Die Iere het mekaar doodgeskiet toe die IRA-bittereinders geweier het om hulle republikeinse ideaal met Britse voorwaardes af te water rondom 1919-20.

Daar was selfs twee Boererepublieke, om hierdie historiese heterogeniteit verder te illustreer. ‘n Verenigde Afrikanerdom is eintlik ‘n heel Britse ontwikkeling wat met die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het.

Ons kan ons historiese verweefdheid met die Britse kroon nie wegpraat nie en dis nie dat ons nie van die Engelse hou nie; ons hou nie van verdrukking nie, dis wat.

Ons verskille is nie die problem nie. Daar is een ding wat ek meer haat as konflik en dit is die leuen.

Ons onderlinge konflik kan ons juis help om die leuens te ontbloot. Dis nie ons “beste motors” en ons “enorme huise” wat vir ons gaan vrede bring nie.

Inteendeel dit word die ammunisie vir anti-Afrikaner sentimente in die voortgesette ekonomiese apartheid wat aan die orde van die dag is.

Dis `n baie meer giftige opset as vantevore want daar kan nie vingers gewys word na onregverdige wetgewing nie en tog is daar aanduidings dat die inkomstegaping bly groei.

Die onderdrukker bly onsigbaar.

Deur volgehoue dialoog sal ons by die waarheid uitkom, sal ons die aanloop tot die huidige anti-Afrikaner Suid-Afrika waarin ons onsself bevind, kan uitpluis. Ons sal op die ou end by die kruks van die saak moet draai: Wie is die Afrikaners in 2014?

Kom ons praat daaroor.

Alle gebruikersname is soos die gespreksdeelnemers hulleself in die openbare Rapport forums (Sondag, 5 Januarie 2014) ge-identifiseer het.

Willem de Jager, 6 Januarie 2014, Sendai, Japan.

 

Lina Spies oor Flip Buys se Afrikaner

Lina Spies
Lina Spies

Ek het al kommentaar gelewer (Praag 8 Des) op Flip Buys se onlangse opmerkings oor die Afrikaner (Maroelamedia 4 Des). Die Burger en Beeld het heelwat later dit wys geag om Buys se teks te herpubliseer. Lina Spies het pas in ‘n brief daarop gereageer (Die Burger, 2 deser, p 13). Spies is ‘n gevierde Afrikaanse digteres, ‘n oud-Afrikaans-dosent aan die Universiteit Stellenbosch en iemand wat as US-raadslid saam met onder andere Hermann Giliomee (tevergeefs) vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Botman-US geveg het. Uitgaande van die veronderstelling dat Spies se kommentaar Praag-lesers kan interesseer, haal ek haar brief in sy geheel aan.

“Oor die bedanking deur mense van hul Afrikanerskap het Leopold Scholtz ‘n keer geskryf dat dit nie sommer net so by wyse van spreke gedoen kan word nie en bygevoeg: ‘Ek is ‘n Afrikaner, omdat ek een gebore is.’ Ook ek is as Afrikaner gebore en opgevoed. Van huis uit het ek respek vir ander geleer en dit mettertyd leer verstaan as nie-eksklusiewe medemenslikheid.

“By die lees van Flip Buys se artikel ‘Afrikaner-saak word só erg benadeel’ (19.12) het ek egter volkome vervreem gevoel van wat Afrikaners is soos hy hulle voorstel.

“Van die titel tot die slot gebruik Buys die retoriek van ‘n verbygegane era. Dié retoriek skree in teen die voelbare en gedemonstreerde verbondenheid van Suid-Afrikaners van alle groepe met Madiba se dood en begrafnis. Wat is die ‘Afrikaner-saak’ en die ‘pro-Afrikaner-standpunt’ in die 21ste-eeuse Suid-Afrika waaroor Buys dit het? My ouers en hul tydgenote het ‘n Afrikanersaak gehad om voor te stry: die ekonomiese en kulturele emansipasie van die Afrikaner en die ontwikkeling van Afrikaans tot ‘n taal, bruikbaar op alle vlakke van menswees. Maar wat is die ‘goeie saak’ waarvoor nou gestry moet word en waarvoor ‘ons niks opeis wat ons ander nie gun nie’?

“Aan sy slot bereik Buys ‘n hoogtepunt van retoriese vaagheid: ‘Ons droom is om ‘n toekoms te skep waarin die Afrikaner ook blywend, vry, veilig en voorspoedig kan wees.’ Hoe skep ons so ‘n plek? Ons kan nie terug na die verlede en van Suid-Afrika weer ‘n verre, geïsoleerde, onbekende land aan die voet van Afrika maak nie. Dit het onteenseglik geblyk met Madiba se begrafnis toe Suid-Afrikaners – op ‘n klein minderheid na – hulle trots deel gevoel het van die wêreld, sigbaar in ons midde.

“Wie is die mense, behalwe Dan Roodt, teen wie se wit meerderwaardigheid Buys skryf, wat met hul ‘dom optrede’ ‘nog meer verbete vyande vir Afrikaners maak’? En as hy beweer dat ‘ons reeds een van die mees gehate groepe in die land is’, wil ek vra hoeveel onse daar in sy pond is.

“Nee, meneer Buys, jongmense en jeugdige senior burgers voel hulle nie onder skot van die ‘kanonkoeëls van vooroordele’ nie. Hulle leef vry en gelukkig in ons multikulturele samelewing en die globale werklikheid, en hulle sal hulle beslis distansieer van die omgekeerde rassisme wat aan die grond van u artikel lê.”

Leon Lemmer

Fidel Castro se stryd teen die VSA in Afrika

fidelDeur Madelein Jacobs

Onlangs was Fidel se broer Raul Castro in Suid-Afrika vir die begrafnis van Mandela. Hier het President Obama sy blad geskud.

VSA President John F Kennedy sou dieselfde gedoen het. JFK het op 23 Oktober 1963 gese:

“… there is no country in the world including any and all the countries under colonial domination, where economic colonization, humiliation and exploitation were worse than in Cuba, in part owing to my country’s policies during the Batista regime. I approved the proclamation which Fidel Castro made in the Sierra Maestra, when he justifiably called for justice and especially yearned to rid Cuba of corruption. I will even go further: to some extent it is as though Batista was the incarnation of a number of sins on the part of the United States. Now we shall have to pay for those sins.”

Vir lesers wat nie weet nie: Amerika, Amerikaners en Amerikaanse maatskappye het hul Kubaanse buurland, ekonomie en bevolking, insluitend vrouens en jong meisies, verkrag en misbruik tydens die Batista-bewind.

Soos President John F. Kennedy laat blyk het: Amerikaanse besigheidbeleid jeens Kuba, het die Afrikanerbewind se apartheidsbeleide in Afrika en Suid-Afrika mede-menslik en Christelik laat lyk.

As mens die ANC moet glo, het Fidel, Raul en hulle rewolusionere Kuba ‘n deurslaggewende rol in die “bevryding” van Suid-Afrika gespeel. U, liewe leser, moet die ANC glo.

Die Afrikaner-Republiek het ophou bestaan weens die sondes van die VSA in Kuba.

Kuba is ‘n relatief klein buur-eilandjie van die VSA. Kuba behoort geografies tot Suid-Amerika, die VSA se agterplaas. Kuba is soos Rusland, baie ver gelee vanaf Suid-Afrika.

Gedurende 1959, net na die Kubaanse Rewolusie, het die verregse wit Amerikaner, Francis Parker Yockey, Kuba besoek. Yockey het linkse staatsleiers soos Fidel Castro geadviseer om met Rusland saam te werk, en om die VSA-Weste se globale imperiale mag op sy swakste plek, dit is in Afrika te verminder.

Fidel Castro het die politieke wette soos uiteengesit in Yockey se boek, Imperium, ter harte geneem, en die geweldige groot magsvakuumgeleentheid in Angola in 1975 met beide hande aangegryp. Fidel het vas geglo, of Kuba vul die magsvakuum van 1975 in Luanda, Angola, of die VSA doen dit deur middel van sy streekslakei, Suid-Afrika.

Sou die SAW Luanda in 1975 bereik het, sou die geskiedenis heeltemaal anders verloop het vir Afrikaners. Suid-Afrika sou ‘n bestendige imperiale supermoondheid geword het, en vir Fidel het dit beteken dat die VSA-Weste se wereldmag nog groter sou geword het.

Fidel Castro het die SAW se besetting van Luanda in 1975 gestuit, en so Suid-Afrika verhoed om die magsvakuum in strategiese Angola te vul. Dit het deterministies gelei tot die einde van die Afrikanerstaat binne minder as 2 dekades. Alles wat na 1975 met die Afrikanerstaat se geopolitieke mag gebeur het, was die gevolg van Fidel Castro se strategie in Angola.

Tot en met 1987, het Fidel vas geglo dat Suid-Afrika Luanda en Angola moet beset om polities te oorleef. Fidel Castro was reg. Fidel se geopolitieke analise van Angola was korrek. So ook China se analise van Angola, in 1975, sowel as in die 21ste eeu.

President Zuma besef ook die belang van Angola. Hy het gedurende 2013 hard gewerk om Angola tussen die DRK en Suid-Afrika deur middel van Inga III te integreer. Die VSA is bewus daarvan, en het nou uit die bloute aangebied om die helfte van die koste van Inga III te finansier.

Die globale geopolieke spel vorder onverpoos, maar sonder Afrikaners, wat ter versagting darem instinktief twee keer probeer het om beheer oor Luanda en Angola te verkry. Beide kere het een leier, Fidel Castro, die politieke insig en wilskrag van die hele Afrikanerkabinet geklop.

Was Fidel Castro ‘n Afrikanerleier, sou Suid-Afrika ‘n supermoondheid gewees het.

Geopolities gesien, het President Zuma meer insig as alle oorlede en lewende Afrikanerintellektuele saam. Dog Zuma se onlangse suksesse in Suider-Afrika hang ten nouste af van Afrikaner-Rooivalke, hulle vlieniers, en logistieke ondersteuning, waaronder Russiese vervoerstelsels.

Al is die Afrikanerstaat totaal vernietig beginnende in Angola, kan Afrikaners vandag nog steeds ‘n bydrae maak tot die globale politieke magspel.

U hoef nie as u nie wil nie, maar sommiges sal en doen dit reeds. Vir maksimum effektiwiteit in die geskiedenis, is die aangewese weg om Fidel Castro se geopolitieke insig in Angola te volg.

Lees Fidel Castro se mening oor die stryd in Angola, Mandela en apartheid hier.

Is Afrikaans ‘n blote toevalligheid? – ope brief aan Palesa Morudu

'n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl
‘n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl

deur Willem de Jager

Mooi woorde, Palesa, in vandag se Rapport, waarin jy skryf:

Sedert Nelson Mandela se dood deur sy geheel en al onwaardige opvolger aangekondig is, het wit en swart, jonk en oud gesing, gedans, geboe, gestry en gebid oor wat sy nalatenskap beteken.

Die eg Suid-Afrikaanse viering van sy lewe weerspieël dit waarvoor hy sy hele volwasse lewe geveg het.

Op 22 Julie 1985, skaars 48 uur nadat PW Botha ’n noodtoestand afgekondig het, het Oliver Tambo, destydse ANC-president, miljoene Suid-Afrikaners gevra om “die land onregeerbaar en apartheid onwerkbaar te maak”.

Dit is goed ontvang in die townships, waar ons klippe na die polisie en weermag gegooi het en die tronke en strate met ’n vasberade verset gevul het.

’n Paar jaar later is apartheid vervang deur ’n staat wat ons drome beliggaam het vir ’n nie-rassige, nie-seksistiese toekoms.

Graag wil ek jou komplimenteer op jou aanwending van die ironie: Jy volg jou ode aan nie-rassigheid pragtig op met ‘n paragraaf oor die tragiese lot van *swart* mense (20 jaar later) in hierdie “wonderlike… demokrasie” wat julle gebou het. Ek se “julle” in antwoord op jou “ons” wat julle in die strate verset het teen apartheid. Ironies genoeg “suffer” die nuwe *swart* middelklas steeds/weer volgens jou. Ai.

palesa_morudu
Palesa Morudu wat gewoonlik rubrieke in die Business Day publiseer, word deur Rapport as ‘n ‘Kaapse skrywer’ beskryf.

Voorts wil ek vir jou en Rapport beide komplimenteer op julle pragtige Afrikaans. Julle slaag werklik daarin om ‘n etniese niemandsland vir ons op te tower waarin Afrikaans ‘n blote toevalligheid is. Net jammer dit weerspieël geen werklike situasie nie, soos jou artikel. Ons het nou reeds gesien dat omgekeerde apartheid sowel as die illusie dat ras/ etnisiteit ‘n banale onbenulligheid is, nie die oplossing is nie. Is dit heeltemal onmoontlik dat ons realisties na ons diversiteit kan kyk en daarvolgens aan oplossings dink? Ek verstaan dat die ras-taboe ons vermoë om rasioneel te dink beïvloed maar ons kan ten minste probeer.

Die kern van jou boodskap is weinig anders as wat dit dit ten tye van Britse oorname meer as honderd jaar terug was: Die skep van ‘n “Suid Afrikaanse” identiteit is steeds die refrein. 50 miljoen gewillige min-of-meer Suid-Afrikaners maak inderdaad ekonomies sin. Maar net vir ‘n paar groot varke wat geen god ken nie, behalwe Mammon.

Mandela-gedenkdiens in Soweto: ten minste laat ons die wêreld lag

Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie
Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie

deur Alet Bredenkamp

Ek en Chris het Dinsdag Madiba se gedenkdiens by die ENB-stadion in Soweto gaan bywoon.

Dit was n baie interessante ervaring. Chris het my 04:00 (in Pretoria) kom oplaai, sodat ons die 05:00 gratis bus kan kry na Gold Reef City, om 06:00 by die stadion te kan wees sodra die hekke oopmaak. Onthou, ons het gedink die hele Soweto staan tou buite die hekke, so ons kans om in te kom, is maar skraal.

Teen 05:30 was daar (by Gold Reef City); nog geen teken van n bus nie, net toue mense wat al hoe langer word. Toe begin ek en Chris stap stadion toe, nadat ons n swart meisie omgepraat het om saam te stap en ons die pad te wys. Ons loop toe die string busse raak by ‘n robot so ‘n ent van Gold Reef City af, en die swart meisie oortuig die swart busbestuurder om ons almal op te laai. Om 05:40 stop die busse toe by Gold Reef City en van die ander mense word opgelaai.

Op die bus sing en juig die mense. Ons hou partytjie! Duidelik is ‘n begrafnis ‘n fees. Dis ‘n heerlike atmosfeer wat heers.

By die stadion aangekom, gaan staan ons almal buite hekke H. Sesuur word halfsewe. Geen mens kom die hekke oopmaak nie. Iemand vertel die hekke aan die ander kant van die stadion is oop, en die stadion word vol. Dit begin reën. Ons hardloop om die stadion, maar daardie hekke is ook toe en die mense daar is kwaai oor hulle plek in die tou. Toe skree iemand ons hek het oopgemaak. Ons hardloop terug, hardloop in en beland voor die enigste rolhek wat oop is. Die toue is LANK. Die mense sing, maar ‘n swart vrou skel ‘n swart man wat deur die kantreling probeer klim om in die tou te kom. Die swart vrou agter haar rol haar oë, pluk my aan die arm en beduie ek moet voor háár kom inklim, sy maak vir my plek. Ek klim in, en die gawe vrou sê ek moet dat Chris nou weer by my moet inklim. Ubuntu is ‘n gawe ding. Ons skiet soos springhase deur die rolhek sodat almal kan inkom. Behalwe die kwaai vrou – sy sit vas in die hek en vertraag die proses met ‘n halfminuut.

NIEMAND kyk wat is in ons rugsakke en ander sakke nie. Daar is geen beduidenis van sekuriteit nie. Ons gaan binne meters van minstens sewentig wêreldleiers wees.Vreemd.

Baie bly om binne die stadion te wees, gaan ons in. Slim Chris kies vir ons sitplekke in die heel voorste ry, so na as moontlik aan die sprekers-podium. Dit beteken ons reën nat, maar wat, die reën gaan nou-nou ophou. Dis Suid-Afrika dié.

Die massas mense het nooit opgedaag nie

Die rëen het nie opgehou nie. Nooit nie. Die massas mense het ook nie gekom nie. Teen 11:00 was die stadion nog nie eens halfpad vol nie, deels omdat min van die beloofde busse geloop het. Agterna het ons gehoor dat baie busbestuurders nie gewerk het nie, uit respek vir Mandela! Regoor Gauteng het mense gesukkel om by hulle werke te kom, omdat die busbestuurders op hul eie manier respek betoon het. Hierdie land is snaaks, wrintiewaar.

Ons reën nat en word tandeklap-koud. Die mense sing en dans. Dis tienuur, maar elfuur sal alles darem begin. Ons hou uit. Elfuur kom en gaan. Halftwaalf … Kwart voor twaalf … dit reën. Twaalfuur begin die program eers, maar o wee, die mense op die pawiljoene kan niks hoor wat die sprekers sê nie. Die klanksisteem is nooit ingestel vir hulle nie, net vir die TV-kameras. So die mense hou aan sing en hul eie partytjie hou.

Die groot skerms wys Madiba se beeld, maar so af en toe wys die kameras belangrike mense wat instap. Almal van hulle het sambrele en dik jasse, en lyk droog. Ons is nat en koud. Die skare juig vir FW de Klerk, vir Winnie Mandela en vir Mbeki; baie vir laasgenoemde. Zuma se gesig verskyn. Almal boe. Verbaas kyk ek en Chris na mekaar. Kan dit waar wees? Dit gebeur weer en weer. Wanneer Zuma se gesig verskyn, boe die skare met oorgawe, en skree: Mbeki! Mbeki! Ons land lyk toe bietjie anders as wat ons gedink het…

Obama was die enigste na wie se toespraak 'n mens kon luister
Obama was die enigste na wie se toespraak ‘n mens kon luister

Toesprake is verstommend vervelig

Die “interfaith prayer” is ‘n ramp. Die rabbi dog glo ‘n gebed is ‘n preekbeurt en spring weg met ‘n baie lang en omslagtige storie oor die Jode se geskiedenis wat begin by Josef en die uittog uit Egipte. Ek en Chris is van die min mense wat kan hoor wat die man sê en ons vind dit oogoorkruis vervelig. Die res van die mense dans hul eie danse.

Die sprekers volg die een na die ander. Almal is verstommend vervelig, en sê presies dieselfde goed oor en oor. “Madela was n groot man, hy was n voorbeeld vir ons, hy het geglo in vryheid en gelykheid. Hy was 27 jaar in die tronk. Hy was n groot man. Ons sal hom mis. Viva Mandela” (wat volgens Chris effe onvanpas is by n begrafnisdiens). Dis nou nadat die spreker eers die staatsleiers, die konings, president Zuma, ens, ens, ens welkom geheet het. Dan kom die volgende spreker op, heet weer elke belangrike persoon welkom, en sê dan weer dieselfde goed oor Madiba.

Die enigste vermaak vir die skare is wanneer die kamera rondswaai in die gehoor en Zuma raaksien. Dan boe die skare. Dit raak so erg dat die groot skerms afgesit word. Nou het die skare geen kontak meer met die verrigtinge nie. Ons klomp op die pawiljoene hou ons eie Madiba-gedenkdiens. Dis n heerlike atmosfeer wat heers tussen ons klomp nat hoenders. Ons het in elk geval n lekkerder tyd as die belangrike gaste. Wanneer die groot skerms weer aangaan en hulle wys, sit van hulle en gaap, van hulle gesels met mekaar en sommiges slaap sommer so skeef in die stoel. Pleks húlle natgereën het. Dan sou hulle wakker kon bly.

Of ja – die gebaretaaltolk. Ek het vir Chris gesê die man lyk eienaardig. Dit lyk of hy alles n halfminuut te stadig sê. Die TV-kamera neem hom ook eienaardig af. Die meeste van die tyd sien ons net die helfte van sy gesig en een arm. Ek kan g’n niks uitmaak wat hy beduie nie. Hy het ook so ‘n vet, ronde Sotho-gesig, sodat ek nie sy gesigsuitdrukking kan lees nie. Ná die tyd hoor ek dat die man g’n gebaretaaltolk was nie. Hy het brabbeltekens gesein. Die ANC het hom al vantevore gebruik, en toe ook baie klagtes oor hom gekry. Nou sê die ANC hulle het geen idee wie die man is en waar hy vandaan kom nie! Die polisie sê ook op RSG dat húlle geen idee het wie die man is nie. Dis nou die man wat ons land toegelaat het om n armlengte van Ban Ki Moen en Barack Obama af te staan! Dis beide skreeusnaaks en baie vernederend.

Laasgenoemde twee sprekers was die enigste wat die moeite werd was om na te luister. Obama is n baie goeie spreker. Hy is die enigste spreker vir wie die hele skare doodstil gesit en luister het.

Ná Obama se toespraak het ek en Chris geloop (soos ‘n groot deel van die skare). Buite was chaos. Niemand weet waar om die busse te kry nie, daar staan baie busse vol passasiers, maar sonder drywers … Ek en Chris begin toe weer stap Gold Reef City toe, en slim Chris sien n bus raak met n drywer aan boord. Ons spring op en beland maklik terug by ons motor. Later hoor ons op die radio dat die situasie buite die stadion besig is om handuit te ruk. Die radio-omroepster het later die buskoördineerder op die lug gekry en beveel om dringend busbestuurders te stuur. Die omroepster was so kwaad. Ek het, soos die omroepster, baie simpatie gehad met die oproerige skare, want ek weet hoe dit voel om agt ure lank nat te reën, vrieskoud te wees en en nie her- of derwaarts te weet nie.

Alles in ag genome, is ek baie bly ons het gegaan. Ek is werklik dankbaar oor wat Mandela gedoen het vir die land, en ek het n kans gehad om respek aan hom te gaan betoon. Dit was lekker om deel te wees van my land se singende, dansende, opstandige mense. Die sirkus op die verhoog het sy eie vermaaklikheidswaarde gehad. Ek sou wou hê dat my land beter moes vertoon in die buitewêreld, maar nou ja.

Ten minste laat ons die wêreld lag.

Soos Josef: Van prisonier tot President

deur Madelein Jacobs

In die ou dae toe ons oumense nog baie Bybel gelees het, was daar ‘n bekende Bybelse verhaal oor ‘n prisonier wat president geword het.

Die Bybelse verhaal van Josef toon ooreenkomste met ‘n soortgelyke bekende Egiptiese verhaal oor twee broers, en is gedeeltelik daarop gebaseer. Die Bybelse verhaal oor Josef wat onderkoning oftewel “president onder die grondwet” geword het, speel hom ook af in Egipte, in Afrika.

Josef was van jongs af polities bewus en aktief, en word daarom deur sy bedreigde broers geëlimineer. Dog Josef oorleef en word as slaaf in Egipte, die wêreldsupermoondheid, aan ‘n baie gesiene en invloedryke politieke persoon verkoop. ‘n Politieke Potifar veroorsaak op veraderlike wyse dat Josef weer geneutraliseer word, en in ‘n Egiptiese tronk beland.

Die koning van Egipte droom, dink vooruit, en sien ‘n baie belangrike ekonomies-politieke siklus vir Egipte aankom: sewe jaar van vinnig groeiende borrelekonomie, en daarna die onvermydelike sewe jaar van groot resessie. Nie alleen verklaar die nie-Egiptenaar Josef hierdie komende siklus vir die koning van Egipte nie, maar stel ook ‘n meesterplan voor, hoe om die siklus te benut deur ‘n nasionale grondoordragskema deur opgegaarde voedsel vir grond te verruil, wat die mag en rykdom van die Egiptiese koning geweldig sal vergroot. Met hierdie puik politieke plan word die nie-Egiptiese prisonier toe die dienende president van Egipte, die wereldsupermoondheid van daardie tyd.

Die groot politieke plan soos wel opgeteken deur die Bybelskrywers, is egter vandag heeltemaal vergete. Al wat ons van die Bybelverhaal kan onthou en vir ons kinders vertel, is die aangrypende gebeure en pragpropaganda van ‘n goeie slaaf en modelprisonier wat ‘n uitstekende president geword het, en toe nie wraak geneem het nie, maar sy broers met hom versoen het.

Nelson Mandela was die Josef van Londen. Londen, die finansiële sentrum van die heersende Westerse wêreldmoondheid, het baie gehelp om van die politieke prisonier ‘n ikoniese president te maak. Met mnr Mandela aan bewind in Kaapstad en Pretoria, is kapitaalbeheer geliberaliseer, en het skatryk Suid-Afrika se grootste maatskappy na Londen ontsnap, om van daar multinasionale maatskappye van die heersende Westerse wêreldorde en Washington-konsensus te word. Anglo-American was Suid-Afrika se grootste maatskappy, wat voor Londen se Nelson president geword het, die helfte van Suid-Afrika se industrialisasie moes finansier. Ná Mandela het dit gedaal tot niks – ek verwys hier na plaaslike industrialisasie.

Die Suid-Afrikaanse Gencor het na Londen se Nelson as president tot in die wêreld se grootste en rykste multinasionale mynmaatskappy ontwikkel: BHP Billiton, wat in Londen genoteer is, wie se groei gefinansier is met geheime Eskomkragtariewe wat net aan BHP Biliton beskikbaar en bekend was, wat hulle in staat gestel het om betyds hul reusechroombates in Suid-Afrika teen maksimum waarde te verkoop, net voordat die kragprys vervierdubbel het.

President Mandela het soos ‘n keiser sy eie Londen-ondersteunde Xhosa-opvolger gekies en aangestel, en nieteenstaande die onervare president Mandela se oneindige persoonlike goedheid en heiligheid, het tradisionele Zoeloes van Kwazulu-Natal met ‘n geheue van Londen se Suid-Afrikaanse empire in opstand gekom teen die ontsaglike rykdomoordrag vanaf Suid-Afrika na Londen.

Volgens die Bybelverhaal oor onderkoning, oftewel president, Josef in Egipte, het daar egter later ander konings en dinastieë in Egipte aan bewind gekom, en dit het die geskiedenisverloop beïnvloed.

Josef?
Josef?

Mnr Mbeki is onverwags deur mnr Zuma as tradisionele Zoeloe uit Londen se ekonomies neoliberale kussings gelig, en sedertdien voer Londen ‘n hewige politieke propaganda-oorlog teen Nkandla, wat nou fataal stoom verloor het deur Madiba, ook Londen se geliefde, se doodsaankondiging.

Dit is dus ironies dat die dood van Londen se Nelson, Londen se sterk aanslag teen sy aartsopponent Nkandla heeltemaal ongedaan gemaak het.

Dit is ook insiggewend dat Jacob besluit het om Nelson op 15 pleks van 16 Desember te laat begrawe. Gelofte- oftewel Versoeningsdag, word dus nie Mandeladag nie, met die een wat op die ander volg.

Die skryfster van hierdie artikel distansieer haar van enige negatiewe uitlatings of beledigende kommentare oor Zoeloepresident Zuma of San-Xhosa-Nelson Mandela. Die skryfster is baie lief vir Madiba se kritiese stellings oor die VSA, en Zuma se doeltreffende aksies teen Londen en die neoliberale Washington-konsensus.

Wat van kostes wat verswyg word?

taxOns betaal reeds duur vir energie, medisyne, bankwese, en telekommunikasiedienste. Maar ‘n bietjie navorsing toon dat ons veel meer betaal op ‘n verskeidenheid maniere waarop ons sakevriendelike hoofstroommedia nie sal praat nie.

1. Farmaseutiese maatskappye: Die bedryf gaan baie verder as winste, met die werklike privatisering van ons liggame. Een vyfde van die menslike genoom is in privaatbesit deur patente.

Variante van griep en hepatitis is reeds opgeëis deur korporatiewe en universiteitslaboratoriums, wat navorsers verhoed om gepatenteerde lewensvorme te gebruik om kankernavorsing te doen.

Nou moet belastingbetalers dubbel opdok sodat regerings groot aankope doen soos vir anti-retrovirale medisyne.

2 . Oliemaatskappye: Hoe het die groot oliemaatskappye vergoed vir hul besoedeling en die agteruitgang van die omgewing en vergiftiging van waterbronne?

Exxon en Chevron betaal byna geen belasting aan hul regering nie, soos die meeste ander privaat oliemaatskappye wat van belastingontduiking ‘n kuns gemaak het.

3 . Telekommunikasie: Ons betaal vir hulle om te spioeneer op ons en gratis data in te samel, behalwe dat ons heeltemal te duur vir data en kommunikasie betaal. Data beteken geld, inkomste, waartoe ons nie toegang het nie, en ook geen beheer nie.

4 . Banke: Astronomiese bankfooie. Daar is kompetisie op die horison, maar dit gaan maar stadig. Die vier Groot banke in Suid-Afrika is al uitgevang dat hulle saamspan teen kliënte.

5 . Myne: Inkomste Hier Winste Oorsee.

Heckie van Tonder

Voorbeeldland en voorbeeldvolk Japan

shintoEk, my vrou en ons twee seuns van 18 jaar, was in Augustus vir drie weke op reis in Japan en dit was ‘n onvergeetlike ervaring. Graag deel ek hierdie ervaring met julle. Voor die aanpak van die reis het ons soveel as moontlik boeke gelees oor Japan. Die meeste boeke raai ’n voornemende reisiger af om nie in Japan ‘n voertuig te bestuur nie. Ons het tog ’n voertuig gehuur, want hiermee kom jy veral op die platteland vinnig oor die weg.

Na ‘n baie lang vlug in die nuwe dubbeldekker Airbus het ons op die lughawe Nara net buite Tokyo geland. Op die lughawe moes alle reisigers met ’n vreemde paspoort in ’n aparte ry staan en hier word iets gedoen wat ons nog nooit in ‘n ander land teëgekom het nie. Van elke vreemde persoon word ‘n foto geneem, maar ook die vingerafdrukke van die twee wysvingers word digitaal geneem deur op twee klein kussinkies te druk. Ons het ook op die lughawe kontant Yen getrek uit die OTM, omdat ons bewus was van die feit dat jy nie sommer by enige bank geld kan trek met ‘n buitelandse bankpas nie. By Citibank was dit dan wel moontlik.

Hierna kon ons ons bestelde voertuig in ontvangs neem; outomaties, want alle voertuie in Japan is outomaties. Hy het ook geen handrem nie, maar ‘n tweede voetrem. Aanvanklik was ons maar super versigtig, maar gou het ons ontdek dat dit eintlik baie maklik is om in Japan te bestuur. Daar word links gery soos in Suid-Afrika en jy vind nêrens in Japan maar een slaggat in ‘n pad nie. Vanaf die lughawe het ons suidwaarts beweeg in die rigting van Kyoto, die voormalige hoofstad van Japan. Onderweg het ons talle besienswaardighede besoek, onder andere by Kamakura waar ons ‘n groot Boeddha beeld sien staan het in die opelug. Ons het die pragtigste kastele en tempels gesien wat ’n groot aantal besoekers trek, maar seker 99% van die besoekers is egter Japanners.

Alle verkeersborde word in Japanse skrif sowel as in Romeinse letters aangegee. Ons navigasie-sisteem was in Romeinse letters bedienbaar. Hierop kan jy dorpsname invoer, winkelname, hotelname, telefoonnommers, ens. Om die hotelle te bereik wat ons vantevore met ‘n kredietkaart gereserveer het, het ons telefoonnommers aan die navigasie-sisteem gevoer. Ons het die groot aantal tolpaaie wel lastig gevind en ook duur. Ons het egter eers later besef dat ‘n mens voor die tyd ‘n digitale kaart kan koop waarmee ’n mens op tolgeld kan bespaar. ’n Mens is egter nie verplig om tolpaaie te neem nie. Die navigasie-sisteem gee voor die aanvang van die reis verskillende opsies, soos reistyd, maar ook die koste aan die tolgeld op ’n bepaalde trajek. Hieruit kan ‘n mens dan ’n keuse doen. Tolpaaie verkort die reistyd soms wel drasties. Daar is duisende brûe en hulle is byna altyd van staal. In Toyo hang heelwat paaie in die lug en is die konstruksie hiervan ook van staal (beton sal waarskynlik makliker breek by aardbewings). Ons het deur tientalle tonnels gery, soms tot 4km lank en nêrens enige rook kon ruik binne-in hierdie tonnels nie.

Hierdie land en sy mense het ons baie verbaas. Japan is ’n besonder skoon land. Jy sien nêrens papiere, blikkies en plastiek rondwaai nie. Selfs in die miljoene stad Tokyo sien jy nêrens rommel rondlê nie. Maar ook sien jy nêrens asblikke op straat staan nie. Jy gooi dus nie jou rommel op straat nie (of soos in Suid-Afrika sommer by die karvenster uit nie). Jy hou dit by jou en tuis gooi jy dit in die asblik. Alle afval word tuis geskei (plastiek, metaal, papier en organiese afval apart).

Die verskeidenheid aan produkte in Japanse winkels is enorm groot. Ons was in die verlede telkens verbaas oor die groot verskeidendheid aan produkte in Europese winkles, maar Japanse winkels oortref die produkaanbod by verre. Die vrugte in Japanse winkels is die grootste en mooiste wat ons ooit gesien het. Die appels en perskes is seker twee keer so groot as grootstes wat ons in Europa gesien het. In geen enkele supermark staan iemand gereed om jou aangekoopte kruideniersware vir jou in te pak nie. Jy pak dit alles maar self in.

Japan is ongetwyfeld ‘n land van hoë tegnologie. Jy vind daar produkte wat jy nie kan weet welke doel dit moet dien nie, maar ook vreemde produkte soos ‘n naelknipper met ‘n loep. Veral in elektronika-winkels staan jy verbaas oor die produkaanbod en die kwaliteit. Hier vind jy onder andere deursigtige skottelgoedwassers, mini (deursigtige)  skottelgoedwassers, outomatiese stofsuiers, outomatiese grassnyers, reuse LED lampe, wat ons nog nooit elders gesien het nie, maar ook outomatiese toilette. Oral in Japan is die toilette outomaties. Die toiletsitplek word verwarm en ook die spoelwater waarmee jy afgespoel word tydens/na die toiletbesoek, word verwarm.

Ook die boekwinkels in enorm groot. My een seun, wou Japanese boeke koop en het ons ‘n aantal boekwinkels besoek. Hierdie boekwinkels is almal groter as die biblioteke in Suid-Afrika en alle boeke is in Japannees. Ek het onder andere ook ‘n Engelstalige boek gesoek oor die Japanse Sjintoïsme, maar kon dit nêrens vind nie. Eers met ons tuiskoms kon ek ‘n Nederlandstalige boek oor die Sjintoïsme vind via internet, wat ek dadelik bestel het.

Wat ons besonders gevind het in daardie mooi land is die feit dat die gee van fooie/tips ongebruiklik is. Jy gee niemand ’n fooi in Japan nie. Dit word as ‘n belediging beskou. Ons het elke aand in restaurante geëet, nooit fooie gegee nie en niemand dit sien doen nie. Ook by die hotelle dra jy jou bagasie self en is daar geen portier wat jou te hulp snel en jou koffers na jou kamer dra en dan bakhand staan vir ’n fooi nie.

In Japan eet jy baie lekker. Die kos is vars en die smaak is voortreflik. Daar word in alle opsigte gestreef na perfeksie. Dit sien jy onder andere aan die produkte in ’n bakkery. Aan sommige gebak kan jy sien dat dit meerdere kere op verskillende manier gebak moes gewees het. Ook wil dit voorkom asof die meel daar fyner is as die wat ons ken en hulle gebak is wel meestal soet. Ook die brood is effens soeter as ons bekende brode. Ons het dikwels ook lekker nat-beskuit gekoop wat ons besonder smaaklik gevind het. Nooit geweet dat ons boerbeskuit (wel ongedroog) in Japan sou vind nie. Gedroogte vleis en gedroogte vis koop jy daar ook in elke supermark, van velerlei soorte.

Wat ons ook opgeval het, is die smaak van die vleis. Dis beslis beter as die smaak van vleis in Europa, maar miskien tog nie so smaaklik as die van byvoorbeeld die Spur nie. Tog is die vleis bekend as Kobe beef, van Wagyu beeste, besonder smaaklik. Hierdie Wagyu beeste kry ’n spesifieke dieet en onder andere ook bier om te drink, word gemasseer en rustig gehou. Tussen die vleisvesels van hierdie beesvleis sit ook baie vetweefsel wat die vleis ‘n besondere smaak gee. Mens sou dan dink dat Japanners vet mense moet wees, maar ons het baie selde ’n oorgewig Japanner gesien.

Verder is die Japanners baie bewus van skoonheid en higiëne. Alles word baie goed skoongemaak en baie personeel dra handskoene. By sommige bakkerye neem jy by die ingang van die winkel ’n skinkbord en tang. Met jou tang plaas jy die produkte wat jy uitgekies het op die skinkbord en loop na die kassa. Hier word jou broodjies en ander gebak sorgvuldig ingepak. Die skinkbord en tang wat jy gebruik het, word ook ingehandig en gaan direk in die skottelgoedwasser. Ook dra bus-chauffeurs, taxi-chauffeurs en polisie almal wit handskoene. Soms sien ‘n mens selfs op straat mense met handskoene loop, maar die meeste mense op straat dra geen handskoene nie. Verder sien ‘n mens geen skoonmakers nie. Alle winkels word deur die personeel self skoongemaak. In die skole maak die kinders self die klaskamers en ook toilette skoon.

Die Japanners is baie pligsgetroue en harde werkers. Baie min Japanners werk net 8 ure par dag, maar veel meer. Ons het onder andere ’n gids gehad wat ons by een van die talle kastele begelei het. Die man is nou op pensioen. Maar hy is al vir meer as 25 jaar ’n gids en hy doen die werk sonder enige vergoeding. Hy vertel dat hy vroeër (voor sy pensioen) ses dae per week gewerk het. Vrydae was hy vry, maar inplaas daarvan om op sy weeklikse vrye dag tuis uit te rus, het hy as vrywilliger diens gedoen by die kasteel, waar hy steeds werksaam is.

Die Japanse beskawingspeil is ongetwyfeld hoër as die van ons. Die Japanners is besonder gedissiplineerd. Emosionele uitbarstings word in Japan as ’n groot swakheid beskou. Hulle manier van kommunikasie is baie beleefd en diplomaties. Die stemtoon, die stemhoogte, die woordkeuse en die non-verbale kommunikasie dui op agting en respek vir mekaar. In die hele samelewing kan ’n mens sien dat daar na perfeksie gestreef word; na hoë norme en waardes. Selfs die verpakking van eenvoudige koekies word so deeglik gedoen dat ons dit selfs vervelend gevind het (moeilik om dit oop te kry).

Baie hotelle het swembaddens waar naak geswem word, maar mans en dames apart. In Kyoto het ons in ‘n luukse hotel tuisgegaan met twee swembaddens (dames/mans) en voor elke swembad hang ‘n groot bord waarop enkele reëls pryk in groot letters. Een daarvan was besonder opmerklik: As jy ‘n tatoeëring op jou liggaam het, hoe klein dan ook, mag jy die perseel nie betree nie.

Merkwaardig is dat ’n mens baie min vreemdelinge in Japan sien. Ons het by een geleentheid ‘n groep van ongeveer 6 moslems (dames met kopdoeke) gesien wat uit ’n ander Asiatiese land kom, waarskynlik gasarbeiders uit Indonesië. Ook het ons baie min swartes gesien, seker in totaal 5. Twee daarvan was vergesel van Amerikaanse blanke vroue. By plekke met  besienswaardighede (veral in Tokyo) kom ‘n mens wel ’n aantal buitelanders tee van Europese afkoms, waarvan die meeste Franse, Amerikaners en Duitsers is. Ons wil vermoed dat hulle waarskynlik meestal/almal toeriste is op besoek aan Japan. Ten spyte van ’n krimpende bevolking, voer Japan ’n baie streng immigrasiebeleid. Ook is die Japanners baie op hulle hoede vir uitheemse invloed op hulle kultuur. Die Arabiese Koran is in Japan byvoorbeeld ‘n verbode boek. In teëstelling tot Europa sien ‘n mens nog baie jong Japanners met kinders, terwyl die bevolking in Europa vir ’n baie groter deel uit gryskoppe bestaan.

Die natuur is pragtig. Dis berge en heuwels en alles groen en baie mooi. Die Japanners is baie bewus van die mooi natuur en hulle pas die natuur op. Die verering van die Natuur is immers een van die hoofpylers van die Sjintoïsme. In alle dorpe en stede vind jy onder andere pragtige parke en tuine met watervalle en mooi terrasse en mooi visse. Ook in Tokyo vind mens ‘n paar heel groot parke en as jy daar wandel, besef jy nie dat jy in ‘n groot stad ronddwaal nie. Van hierdie parke binne-in die stede is ook enorm groot. Ook is in Japan nog ’n aantal smeulende vulkane te sien en het ons ook een hiervan besoek, waar kokende water en swael dampe uit die aarde stoot. Ten spyte van die digbevolkte gebied in die sentrale gedeelte van Japan, is die grootste gedeelte van die natuur ongeskonde. Die verbouing van rys sien mens in alle dele van Japan en is dit hulle vernaamste landbouproduk. Tog het ons ook deur ‘n gebied gery waar druiwe en ook wyn geproduseer word.

Ons het elke aand Japanse TV gekyk. Wat ons opgeval het, is dat jy al spoedig ‘n sender vind waar een of ander reeks uitgesaai word wat in die verlede of verre verlede afspeel. Die indruk wat ons gekry het, is dat die Japanner baie trots is op hierdie verlede en daarom graag ook na programme kyk wat die verlede laat herleef. Nog opvallend is dat ons elke dag Japanners gesien het op straat wat in die tradisionele kimono’s rondloop. Hulle was veral te sien by tempels waar heelwat jongedames kimono’s dra. Dit is in teenstelling met Duitsland en Nederland waar tradisionele drag maar selde nog gedra word en dan net tydens volksfeeste. Ons Afrikaners het eintlik geen tradisionele drag nie en kry bowendien dikwels skaam as TV-programme getoon word wat die verlede uitbeeld.

Die twee hoofgelowe in Japan is die Sjintoïsme en die Boeddhisme. Die Boeddhiste huisves beelde in hulle tempels, maar die Sjintoïsme ken eintlik geen beelde nie. Sjintoïstiese tempels is dus byna altyd beeldloos. Alhoewel beide die gelowe imposante heiligdomme ken, vind ‘n mens dikwels ook heel eenvoudige tempels, veral by die Sjintoïsme. Die Sjintoïsme is die oudste religie in Japan en is dit eintlik ’n vorm van animisme. Die Natuur word dus deur die Sjintoïsme vereer en opgepas. Dit is dan vir ons ook opvallend dat die Japanners die verlossingsgodsdienste van die Midde-Ooste buite die deur hou; en kon sulke godsdienste nooit ‘n stewige vastrapplek in Japan vind nie. Vandag is Islam sonder enige teëstand besig om Europa binne te sypel.

Dit was vir ons merkwaardig om te kon sien hoe Nagasaki en Hiroshima, binne tien jaar na die val van die atoombomme volledig herbou was. Ook is dit merkwaardig om te sien, hoe die Japanners groot maatskappy (Honda, Kawasaki, Sony, Mitsubishi, Toyota, Yamaha, Nintendo, Hitachi, Sharp, Canon, Casio, Toshiba, Nikon, Sanyo, Fuji, Olympus, Panasonic, Pentax, ens.) uit die grond kon stamp terwyl daar geen grondstowwe in die bodem sit nie. Yster, koper, olie, ens word alles ingevoer en hiervan word hoë tegnologie produkte gemaak. Terwyl Japan slegs oor 123 miljoen mense beskik, is Japan vandag die derde grootste ekonomie in die wêreld en word veral gespesialiseer in hoë tegnologie-produkte.

Daar word ook redelik baie fietsgery in Japan, selfs in die groot stede. Maar dan moet ’n mens byvertel dat die meeste Japanners nie goed kan fietsry nie. Hulle stel die saal te laag. Hulle doen dit egter om veiligheidsredes. ‘n Wankelende fietsryer kan maklik die voete op die grond sit om ’n val te voorkom en ook is dit makliker om by ‘n verkeerslig te stop. Maar omdat die saal so laag sit, is dit moeilik om krag uit te oefen op die pedale.

Iets wat ons in Japan nie mooi gevind het nie is die kragdrade en telefoondrade wat alles aan pale gemonteer word en in die lug hang. Krag- en telefoondrade word in Europa onder die grond begrawe. ‘n Voordeel van die kragdrade wat in die lug hang, is dat die veiliger is en dat nuwe drade maklik aangelê kan word en oues verwyder word. Net soos die Noord-Europeërs is die Japanners nie behep met die versiering van hulle gebou deur middel van beelde en ander tierlantyn nie. Dit is in teenstelling met Suid-Europa waar geboue ryklik versier word (ook beeldryk).

Langs die snelweë vind ‘n mens dikwels rusoorde waar motoriste brandstof kan aanvul en iets lekkers kan nuttig. Dit het ons opgeval dat sommige reisigers, wanneer hulle daar stop, hulle voertuie nie eens sluit nie. Die enjins laat hulle dan ook nog draai, met die sleutels in die slot, terwyl hierdie reisigers gou iets gaan koop. Die bedoeling van die draaiende enjin is om die airco aan die gang te hou sodat die kajuit van die voertuig koel bly. Dit was in Augustus immers elke dag ongeveer 35 grade. Ons wil hiervan aflei dat daar nie sluipers is in Japan wat sit en wag om voertuie te ontvreem nie. In Japan is die misdaadsyfer besonder laag en die doodstraf bestaan steeds.

Wat ons ook opgeval het, is die keurige kleredrag van die mense. Japanners met verslonsde klere kom jy byna nie tee nie. Baie Japanners verskyn op straat asof hulle uit modeboeke stap. Onder die jong dames is kort rokkies populêr, maar ‘n lae hals kom jy nie tee nie. Ten spyte van die warm somerweer in Japan, dra baie dames sykouse en die mans pakke. Ook dra baie dames op straat sambrele om die son af te weer. Langs die pragtige strande van Japan het ons groot skares swemmers verwag, maar die strande is (byna) leeg. Japanners hou nie daarvan om in die son te lê nie. Die Japanse skoonheidsideaal (veral onder die dames) is om so wit as moontlik te wees.

In die restourante is die bediening besonder vinnig. Kort nadat jy jou bestelling geplaas het en die eerste teue van jou drankie geneem het, verskyn ‘n bord voor jou neus met die sissende gereg daarop wat jy bestel het.

In Japan mag jy in die openbaar nie rook nie, maar ook nie openbare geboue nie. Slegs op spesifieke aangewese plekke, mag gerook word. In Tokyo word hierdie tekens wat rook verbied onder andere op die sypaadjies (straat teëls) afgebeeld.

Parkeerplek is nie altyd volop nie. In die groot stede het baie hotelle ‘n hysbak-sisteem vir voertuie. Jy kan nie in die parkeergarage rondry nie, maar kom net by die ingang binne. Jy moet dan uit jou voertuig klim, waarna ‘n hysbak-sisteem jou voertuig wegneem en iewers bêre. Wil jy later die voertuig terugsien, druk die portier op ‘n knop en jou voertuig verskyn. Hy staan dan al omgedraai, sodat jy nie nog agteruit hoef te ry om uit die parkeergarage te kom nie. My sommige hotelle staan egter voor die parkeergarage ’n groot draaitafel wat voertuie omdraai.

Japan is nie so ‘n duur land as wat mens dink nie. Hotel akkommodasie is selfs goedkoper as in Europa. Petrol kos omgereken ongeveer dieselfde as in Suid-Afrika. Amerikaanse McDonalds en KFC vind ‘n mens oral in Japan en die prys-kwaliteit is dieselfde as in Europese lande.

As daar ‘n land en ’n volk is by wie ons sommer baie kan leer, is dit Japan en sy mense. Dit is dan ook betreurenswaardig dat ons so min van hierdie voorbeeldvolk weet uit die Land van die Rysende Son. Ons Afrikaner-oë is immers kollektief gerig op Amerika as voorbeeld, terwyl Amerika ’n sinkende skip is. Gedurende die boikot-jare is ons deur die ganse westerse wêreld veroordeel en geboikot, maar die wyse Japanners en Taiwanese het ons juis nie veroordeel en geboikot nie.

Groetnis

Petrus van Eeden

Tradisionele Zuma het Zoeloes gered

zumaskinsDie VSA se oud-president Jimmy Carter het werklikwaar byna vir president Thabo Mbeki te lyf gegaan, omdat Mbeki geweier het om anti-retrovirale medisyne ook vir Zoeloes beskikbaar te stel.

U het reg gelees: tydens Thabo Mbeki se bewind is Kwazulu-Natal se lae lewensverwagting deur president Mbeki se “irrasionele” beleid bepaal.

Statistiek Suid-Afrika se mees onlangse post-Mbeki sensus bewys dit. Nadat  Zuma sy politieke opponent Mbeki oorwin het en self ANC-president geword het in Mbeki se plek, het lewensverwagtinge in die land die meeste in Kwazulu-Natal gestyg.

Nie net het president Zuma persoonlik sy MIV-oorwinning bekend gemaak na sy strategiese omgang met ‘n MIV-positiewe persoon nie, maar daarna het hy ook Mbeki voortydig as staatspresident vervang, en so MIV se negatiewe impak op Kwazulu-Natal so gou as moontlik die nek in geslaan met moderne medisyne.

Ons skryf oor Afrikanervolksmoord en hou rekord van plaasmoorde, maar wie in Suid-Afrika skryf oor die verskil in Kwazulu-Natal onder die Mbeki- teenoor die Zuma-bewind? Feit is, honderduisende mense in Kwazulu-Natal se lewens is medies gesien onnodig kortgeknip, en honderduisende babas het in Kwazulu-Natal het absoluut onnodig tydens Mbeki se bewind gesterf.

Daarom wou Jimmy Carter vir Thabo Mbeki te lyf gaan.

Was die intellektuele Thabo Mbeki irrasioneel wat betref moderne ARM? President Mbeki was blykbaar nie dom en bygelowig nie. Dus was hy polities. Kwazulu-Natal as ANC-provinsie was president Mbeki se politieke vyand in ons demokrasie, waar die grootste etniese taalgroep, dit is Zoeloesprekendes, volgens die stemgetalle moet regeer.

Mbeki se politieke instink, onmenslik en oneties, was op sy eie oorlewing ingestem. Vandag is Kwazulu-Natal die Zuma-ANC se sterkste magsbasis, vanwaar hulle vir ten minste 30 jaar oor Suider-Afrika wil regeer. Kwazulu-Natal het nou nie net die hoogste styging in lewensverwagting nie, maar ook die meeste ANC-lede, takke en verteenwoordigers van alle provinsies in multi-etniese en meertalige Suid-Afrika.

Zuma het eers die ekstern-aangedrewe etniese burgeroorlog in Kwazulu-Natal gestop, en nou as staatspresident ook Mbeki se beleid omgekeer, en deur middel van ARM die lewensverwagting in Kwazulu-Natal verhoog.

Die meeste witmense lag vir Jacob Zuma, en die ex-ANC-Jood Shapiro het met sy simboliese stortkop die tradisionele Zoeloe van Nkandla as dom en onnnosel gebrandmerk. Tradisionele Afrikaners weet egter van beter, en dat daar ekonomiese en politieke kompetisie tussen Suid-Afrika se etniese groepe bestaan. Dit is wetenskaplik wel so dat stort direk na seks die MIV-virus kan afwas.  Ons moet dus soos Zuma wees: te midde van spot en veragting, selfs van ons eie mense, wetenskaplik en wettig ons politiek pleeg.

En alhoewel tradisionele Afrikaners tereg protesteer teen gruwelike Boere-plaasmoorde en sogenaamde etnies-staatlose Afrikaneruitwissing, weens ons eie tuimelende geboortesyfers, is dit ter wille van ons kinders se toekomstige oorlewing ook van belang dat ons ander etniese uitwissings soos die van tradisionele Zoeloes onder Mbeki-Brittanje se bewind raaksien, en die politieke belang daarvan ook erken, net soos met die aanslag teen tradisionele Afrikaners.

Bogenoemde kan slegs gedoen word deur verskille in swart en wit velkleure te ignoreer, en politiese aksies eerder op kulturele tradisies te fokus van tradisionele Zoeloes en tradisionele Afrikaners.

Beide Paul Kruger en Jacob Zuma was tradisionele Afrikane wat as politieke leiers teen die etniese uitwissing van hulle onderskeie tradisionele groepe – hulle magsbasisse – moes opstaan. Net so ook Andries Pretorius en Ndlela kaSompisi. Hierdie mense met identiteit en tradisie het die geskiedenis van Suid-Afrika gemaak. Deur bloot net ‘n identiteitlose wit of swart te wees, is nie goed genoeg om geskiedenis te maak, om effektief politiek te pleeg nie, om te oorleef in die toekoms in nie.

Dit moes ons grootste protes teen “EE” en “SEB” wees: Die “wit” statistiek-klassifikasie, want dit groepeer, verpolitiseer en dus neutraliseer tradisionele Afrikaners saam met kosmopolitiese blankes soos Jode en Engelse, pleks van polities-effektief tesame met mede-tradisionele Afrikane soos Zoeloes van Nkandla – ‘n soort veilige volkstaat ter wille van die oorlewing van identiteit en tradisie.

100 Jaar na die stigting van die ANC, sowel as byna 20 jaar se demokratiese bewind, is die diepte van verdeeldheid in en om die ANC so groot soos die San Andreas fout.

Wat ook al met die verdeelde ANC en sy verdeelde alliansie in Gauteng en Limpopo gaan gebeur, gaan net die Zuma-ANC se etniese magsbasis in veral Kwazulu-Natal verder beklemtoon.

As tradisionele Zoeloes het die mense van Nkandla ‘n soort Messias opgelewer – een wat hulle van Mbeki se vyandige politieke anti-ARM beleid gered het.

Met behulp van Afrikaner-Rooivalke en Afrikaner-weermagdoktrines het Zuma ‘n deurbraak vir Suid-Afrikaanse belange in die Kongo gemaak. Soos wat die Westers-internasionale en wit kosmopolitaanse weerstand teen die suksesse van die tradisionele Nkandla eskaleer, soos nou alreeds voor die verkiesing gebeur, sal die noodsaaklikheid van ‘n tweede strategiese tradisie-alliansie in Suid-Afrika al hoe groter word.

Toe Jacob Zuma met Dan Roodt en ander plaaslike Afrikaners gebraai het, het hy laat blyk dat Afrikaners as potensiele Afrika-stam geen bruikbare politieke steunmag vir tradisionele Zoeloes is nie, omdat hulle nie as ‘n identifiseerbare tradisionele groep ge-organiseer is nie, ten spyte van al hulle tradisionele gebraaiery. Rugby is ook ‘n suiwer Engelse pleknaam, en rugby speel alleen, hoewel ‘n politieke Boere-tradisie sedert die ABO, is nie genoeg vir effektiewe Afrikanerpolitiek nie.

Maar wat ons ook benodig, is ‘n dik kleurblinde tradisie-bril. Een wat wit en Westerse kosmopolitane op ‘n afstand as politieke opposisie kan identifiseer, en terselfdertyd tradisionele Zoeloes reg langs ons as strategiese tradisie-bondgenote kan raaksien.

Andries Pretorius het dit so gesien. Danksy hom en sy geniale militere tradisies leef ons en bestaan Pretoria, ons gewese tradisionele Nkandla.

‘n Baie sterk en geskiedmakende tradisie van Pretorius, Kruger en ander Republikeinse en moderne Afrikaners, is uiters gevorderde vegkunste en wetenskaplik ontwerpte weermagdoktrines.

Tradisionele Nkandla-beheerde Suider-Afrika het ‘n akute behoefte aan hierdie gesogte Afrikanertradisie, soos nou in die Kongo, SAR, Mosambiek en Suid-Afrika met sy eskalerende sekuriteitsbehoeftes bewys.  Kwazulu-Natal regimente veg tans in die voorste linies, maar maak staat op Afrikanertuig en kundigheid.

“Tradisionele” Afrikanermedia soos PRAAG kan ‘n bemarkingsrol speel om meer militere loopbane vir jong werklose Afrikaners in die Nkandla-beheerde SANW te beding.

M Jacobs

Goeie nuus vir die patriotiese president

kabila
President Kabila

Beide Angola en die Kongo was en is van kardinale belang vir Suid-Afrika as ‘n soewereine superstaat in ‘n multi-polêre wêreld van superstate soos die VSA, EU en China.

Tydens die eerste Afrikanerstaat het Namibië aan Suid-Afrika behoort, en kon die Suid-Afrikaanse Weermag goedkoop en vinnig deur Namibie tot in Angola ry.

In 1975 was die plan om die magsvakuum met minimum fanfare te vul om tot in Luanda te ry met ‘n blou Honda-motortjie heel vooraan, die MPLA se oorname te stuit, en Unita aan bewind te plaas. Dit sou die olieryke Angola soos Namibië de facto ‘n aanliggende provinsie en afhanklike tuisland van Pretoria gemaak het. (Die VSA/CIA het hulle vyand Fidel Castro toegelaat om Pretoria se supermag ter wille van Beijing se steun aan die VSA teen die Sowjet-Unie te stuit.)

Vriendskaplike Rhodesië sou by ‘n vergrote Suid-Afrika-Namibië-Angola baat gevind het, deurdat dele van Zambië en post-Portugese Mosambiek terselfdertyd in Rhodesië se invloedsfeer en ekonomiese skoot sou geval het, en Rhodesië sodoende sterk en standhoudend sou gemaak het.

Deur in 1975 vanaf Suid-Wes tot in Luanda te ry, sou Pretoria teen die jaar 2000 ‘n magtige konfederale Suider-Afrikaanse superstaat gewees het, gelykstaande aan die EU en die VSA, met die potensiaal om die Westerse wêreldleier van die 21ste eeu te word. Dit is ‘n wetenskaplike geopolitieke feit, en nie onderhewig aan debat nie.

Cecil John Rhodes en Alfred Milner se werk sou ongeveer ‘n eeu na hulle Westerse visie verwesenlik geword het, ironies genoeg onder Afrikanerleierskap en potensiele wêreldinvloed. Afrikanerleiers in Pretoria was egter vrekbang vir plaaslike wit kiesers bestaande uit verskillende etniese groepe, tale en kulture, en het aanvanklik hopeloos te stadig en versigtig die geweldige magsvakuum in Angola en Mosambiek probeer vul.

Groot dele van dieselfde magsvakuum is egter vandag nog steeds daar. Kwazulu-Natal regimente veg nou in die DRK, en hulle maak goeie vordering danksy puik Afrikanerwapentuig, insluitend die Rooivalkhelikopter. President Zuma se weermag moet egter na die DRK, Uganda en Rwanda vlieg, wat die logistieke lugbrug geweldig duur en moeilik maak. Ook die Afrikaner-Rooivalkhelikopters is na die DRK gevlieg in Russiese vragvliegtuie.

Met ‘n Afrikanerlogistiekelandbrug, militere mag en baie basisse in Suid-Afrika-Suidwes-Angola, sou groot dele van vandag se DRK, insluitend die hidro-elektriese Inga-damme, onder Pretoria-Nkandla se sorg, beskerming en beheer gewees het.

President Zuma (en die Suid-Afrikaanse Staat) moet in die DRK veg om Inga III (2 500MW na SA) en Groot Inga (tussen 10 000 en 20 000MW na SA) moontlik te maak.

Die Zoeloe-regime se promosie van Inga III en Groot Inga is intelligent, net soos die Afrikanerregime se strategiese ondersteuning van Cahora Bassa was, maar Inga is nog belangriker as Cahora Bassa.

Egipte was aanvanklik die ankerklient vir Groot Inga, wat uiteindelik 40 000MW moet lewer om die Groot Inga hidro-damwal koste-effektief te maak.

Egipte se ekonomie is nou egter vernietig. Inga III en Groot Inga se ankerklient is nou gewis Suid- en Suider-Afrika.

Daarom het President Zuma weereens persoonlik ooreekomste met die DRK oor Inga gedryf en geteken. En President Zuma voeg die daad by die woord, en probeer die DRK stabiliseer met die mees moderne Afrikanerwapentuig en weermagdoktrines. Soos destyds in Angola, sal Suid-Afrika se militere stryd in die DRK en omstreke (insluitend Angola) eskaleer, en ook al hoe meer werk vir Afrikanerkundigheid skep.

Die kans dat die Zoeloe-regime van Pretoria-Nkandla gaan slaag om Suid-Afrika as soewereine superstaat te laat oorleef is, is min of meer so groot of klein soos die van die Afrikaner-regime in 1975.

Belangriker is die feit dat die Zoeloe-regime probeer, al is dit deur ook broederskap met Joseph Kabila in Kinshasa te bewys, wat aandui dat tradisionele Zoeloes polities-intelligent in die 21ste eeu van globale imperium is. Meer as meeste van vandag se nie-tradisionele Afrikaners.

Dit is positiewe patriotiese nuus, nie net vir President Zuma nie, maar ook vir tradisionele Afrikanernasionaliste.

Hef aan le voor, met oorlog en ekonomiese swaarkry. Afrika vir die imperialis! Of niks.

M. Jacobs

Niekie van den Berg speel Afrikaners af teen bruines

Niekie van den Berg
Niekie van den Berg

deur Danie Langner

Net ʼn kort voetnota oor Niekie van den Berg wat in vandag se Beeld dit nodig gevind het om Afrikaners sleg te sê en af te speel teen bruin Afrikaanssprekendes. Dit is die diepte van kulturele denke en strategiese insig van hulle skadu-minister vir kultuur wat my ernstig laat wonder oor die DA se vermoë om ʼn billiker bedeling vir Afrikaners te bring as hulle miskien eendag sal regeer.

In Augustus was ek saam met ʼn afvaardiging van die ATR by die parlement om juis met die DA gesprek te voer oor hulle moedswillige verwaarlosing van Afrikaans. Dit was ʼn erg flouerige vergadering wat maande later nog niks opgelewer het, anders as ʼn lekker ete. Die humor van die dag was toe daar oor en weer gestry is oor wie het nou “agter die skerms” die grootste bydrae gelewer om die swakkerige talewet met die ANC te beding.

In die vergadering het ek teenoor die voorsitter die opmerking gemaak dat kiesers meer verwag van die DA as blote partypolitiek. ʼn Party wat skadu-ministers aanstel en eendag die land wil regeer behoort in woorde, dade en beleid te kan toon watter alternatiewe regering hulle vir Suid-Afrikaanse burgers bied. Na hierdie tweede Afrikanerblaps in een jaar dink ek die DA gaan nie vir ʼn minderheid soos die Afrikaner ʼn beter bedeling bied nie. Ironies genoeg is dit hierdie mense wat die skadu-minister so lelik vloek oor die foon wat die meeste vir hom stem.

Op ʼn ander plek in vandag se Beeld is daar ʼn mooi artikel waar Tutu in Swellendam gesê het Afrikaners is wonderlike mense. Dit is seker die verskil tussen ʼn staatsman en ʼn politikus.

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK.

Maak Chinees die enigste onderrigtaal in SA

chinese_karaktersdeur Christo Viljoen, Stellenbosch

In die moderne kubernetika word gebruik gemaak van wasige logika-algoritmes (fuzzy logic) in beheerstelsels.

Dit is die term wat onwillekeurig by my opkom wanneer ek luister na prof. Jonathan Jansen se talryke uitsprake, soos pas weer met sy uitsprake oor Engels as voorkeur- (lees: enigste) onderrigtaal op skoolvlak gebeur het.

So beweer hy dat “swart studente aan tweetalige universiteite ’n ander redenasie vir die gebruik van Engels as onderrigtaal aanvoer”. Dit naamlik dat “as hulle die opoffering kan maak om nie in Tswana of Zoeloe onderrig te word nie, kan die Afrikaanse studente ’n soortgelyke opoffering maak betreffende onderrig in Afrikaans”.

Hy vervolg: “Dié standpunt – kom ons leer maar almal in Engels – dui op die verdere diepgewortelde agterdog onder swart studente dat Afrikaanse studente ’n groot voordeel geniet omdat hulle onderrig word in die dosent se moedertaal: Afrikaans.”

Volgens Jansen se wasige logika word Afrikaanssprekendes “onbillik” bevoordeel omdat die dosent in sy (die dosent se) moedertaal (Afrikaans) onderrig gee.

Hulle word dubbeld bevoordeel omdat hulle (die studente) in hul moedertaal onderrig ontvang.

Die onwillekeurige vraag is: Watter “onbillike” voordeel geniet Engelssprekende studente wat onderrig word deur dosente wie se moedertaal Engels is?

As Afrikaanse studente dientengevolge “opofferings” moet maak, soos “Tswana- of Zoeloesprekende” studente deur in Engels onderrig te word, kom laat ons billik wees en vereis dat álle studente en álle dosente opofferings maak, Engelssprekendes ingeslote. Dus, géén onderwyser/dosent mag in sy (die dosent se) moedertaal doseer nie, en alle studente moet in ’n taal anders as hul moedertaal klas loop.

Met dieselfde wasige logika stel ek voor: Kom ons voer Chinees in as enigste onderrigtaal in ons skole (en universiteite?). Chinees is per slot van sake die grootste wêreldtaal met verreweg die meeste huistaalsprekers.

Dan is ons afgestudeerdes voorbereid daarop wanneer China die land klaar gekoloniseer het, en álle onderwysers en dosente én studente maak die opoffering om in ’n ander taal as hul eie onderskeidelik onderrig te gee en te ontvang. Niemand word dus onbillik bevoordeel nie.

Myneed

myneedDie waarheid, net die waarheid en niks anders as die waarheid nie

Ek praat onlangs met ’n sittende regter wat my pad kruis oor die aard en wese van reg en die uitvoering daarvan in Suid-Afrika. Om die ys te breek, vra ek hom hoekom ons nog voor God sweer om die waarheid te praat (los nou maar eers die plegtige bevestigingsopsie) as Hy nie meer in die Grondwet bestaan nie.

Sou dit nie meer prakties wees of te sweer by die heilige kleed van die Regter-president van die Grondwethof nie? Ons nuwe bedeling het mos die Grondwethof verhef as die oppergesag in die land oor alles. Aanvanklik was dit net vertikaal tussen die Staat en sy onderdane van toepassing maar nou hoor ek ook tussen landsburgers.

Myneed bestaan nog op die wetboeke maar word selde gebruik, gee hy toe. (Hy het eintlik bedoel nog nooit weer sedert ‘94 nie). Mense word nie meer gestraf en tronk toe gestuur as hulle onder eed in die hof lieg en uitgevang word nie.

Met die koms van ons ander howe soos die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, het ek reeds gesien die ou wat die beste lieg oor ’n saak, wen. Vra maar vir enige werkgewer wat al daar was en tot sy skok moes verneem hy as werkgewer is skuldig aan in onbillike arbeidspraktyk tot hy die teendeel bewys. Terloops, dis tot nou toe SARS en al die arbeidswette wat maak dat jy skuldig geag word en jou onskuld moet bewys.

Dit slaan nou al so mooi deur, dat selfs regeringskommissies wat die waarheid moet najaag, ‘n gelieg van algar verdra wat die beter weergawe voorhou. Self in die Parlement word Ministers wat goed gelieg het en uitgevang word, geloof en ondersteun.

Dus word ons howe en instellings net bloot ’n plek vir lekker lieg.

Die regter sê toe mos ek oordryf. Gelukkig was ek nie onder eed van die heilige kleed nie.

Groete,

Sagmoedige Lukas

Hoekom is ons hier in Afrika?

afrikaHet u al gewonder hoekom daar hoegenaamd ‘n blanke Volk hier in Suid-Afrika gevorm het? Hoekom hulle ‘n eie identiteit opgebou het? Hoekom daar ‘n eie taal Afrikaans ontstaan het? Hoekom daar vir hulle ‘n eie land gegee was?

En dan, hoekom is daardie Volk vandag moedeloos, voel verraai en wil nie meer op staan vir sy regte nie?

Dit is ‘n vraag wat baie van ons wil beantwoord hê.

Hierdie is my eie mening.

In 1652  het daar blankes hier aangekom, party het gebly en ander het weer aanbeweeg soos Jan van Riebeeck en tog is daar wel ‘n nuwe volk in wording geplant aan die suidpunt van Afrika. Hoekom het hier ‘n volksplanting plaasgevind? Hoekom?

Ek glo dit was ‘n daad van God om ‘n Volk vir hom hier af te sonder, want sy Volk Israel van ouds was versprei regoor die dan bekende wêreld. Hierdie nuwe volk het gekom van verskeie Europese Volke .

Die Volk het net Een gevrees en dit is God alleen, niemand anders nie. Hulle het kinders in die naam van God grootgemaak en dit is so oorgedra van geslag tot geslag en so is die Christen geloof lewendig gehou. Deur die hele Groot Trek heen het hulle vir God aangeroep wanneer die bose magte van Afrika hulle bedreig het en is telkemale uit die bose magte se hande gered.

Die slag van Bloedrivier het weereens bevestig dat God die Volk hier geplaas het, dat hulle selfs ‘n Gelofte met God aangegaan het as hy hulle sou red, dat die dag vir altyd sou gedenk word as ‘n dag wat aan God gewy sal word. Die hele Groot Trek was ‘n geloofsdaad  en ons sien hoe hierdie geloofsoortuiging verder in die Volk se geskiedenis soos ‘n goue draad loop. Oral waar daar ‘n dorp gevestig is, is van die eerste dinge wat gedoen was om ‘plek van byeenkoms te bou vir gelowiges, naamlik ‘n kerk.

Die huisgesin was opgevoed aan die hand van die Bybel, naamlik die Woord van God. Ek sê nie hiermee almal het dit presies so gedoen nie, daar was ook die wat afgedwaal het.

Ek is ook grootgemaak met die wete dat God is goed en groot, maar ‘n Volk wat  Hy vir hom hier afgesonder het, moet ook gehoorsaam bly aan Sy wette en Sy doel waarvoor Hy hulle hier geplaas het.

Het die Volk gehoorsaam gebly? Oordeel self.

Die Volk is getoets met die Vryheidsoorloë en hulle het nog sterker daaruit gekom en met ‘n vaste geloof en vertroue het die Volk herstel en alles weer opgebou. Het dit werklik gebeur? Ja, dit het!

Die Volk het welvarend geword en wou ook met andere volke kompeteer. Daar is welvaart opgebou ongekend in die wêreld vir so ‘n klein Volk. Daar was natuurlik ook die jaloerse volke wat nie kon vat dat ‘n volk van God so welvarend kan wees nie. Hulle wou dit ten alle magte vernietig. Hoe?

Deur hulle leier te vermoor en die Volk nog meer welvaart te gee en op die koop toe sport en al die genietinge wat die wereld maar kan bied.

Wat was die resultaat ? Die Volk het alhoemeer op homself vertrou in wat hy doen, God was nie meer die sentrale figuur in ons lewens nie maar is vervang met EK.

Rykdom en die eie ek het nou die sentrale tema geword in ons lewens, kan ek beter wees as my kollega, buurman, of familie? Ons het begin selfsugtig lewe en verby diegene te kyk wat nie so bevoorreg was nie. Ons lewe net vir onsself!

Ons wil met alle mag net die beste wees, ons wil nie agter bly nie, ons moet ook TV hê, ons moet vir die buiteland wys ons is op die sportveld die beste, ons moet selfs op Sondae sport beoefen (ons speel liewer gholf op ‘n Sondagoggend as om kerk toe gaan), ons winkels moet oop wees sewe dae ‘n week, ons moet onsself geniet.

Ons het na ons voormanne geluister, julle moet toegee dat ons “normaal” kan wees in die wêreld, nog meer handel, nog meer sport, dan moet ons integrasie toelaat. Eers stadig en later al hoe vinniger. Ons beskuldig FW as die groot verraaier, ja hy het die finale spyker ingeslaan maar wie het hom daar gesit en van sy voorgangers, die volk. Ons het onsself verraai deur die voormanne in die stoel te hou ten spyte van waarskuwings van ander mense. Ons het geglo dit sal nie gebeur nie, daar sal wigte en teen wigte wees, ons vertrou hulle.

Die wat apart gehou was, moet nou ook kon deel in die welvaart en oor ons regeer. Ons manne het gesê hulle sal ons beskerm met ‘n grondwet wat helaas nie die papier werd was waarop dit staan nie. Daar is beskuldigings van bedrog tydens die oorgawe ens. maar die Volk het dit net gelate aanvaar en niks vir jare gedoen nie.

Die verandering het stadig geskied, die Volk het stadig verarm, werk verloor, kontrakte verloor, of jy moes jou gewete verkrag met swart ekonomiese bemagtiging. Dit het die armstes die swaarste getref en die middelklas kon nog half oorleef, maar word ook nou getref. Dit alles het tot gevolg grootskaalse verarming van ons Volk.

Maar wakker word, nee nog nie, ons stry eerder oor beuselagtighede en hou die Volk verdeeld. Ons laat toe dat sommige mense die debatte lewendig hou en ons Volk verdeeld hou.

Daar is groepe wat die Volk wil verenig, maar self hulle word verdag gemaak deur dat daar baklei word oor die betekenis van kleure en simbole en enige iets waarmee ons hierdie groep in diskrediet kan bring.

Die Gelofte van 16 Desember is lank vergete en ons het ook van  God vergeet want dit gaan nog goed met ons. Ek weet daar is diegene wat vir my sal sê ons moet nou nie ‘n preek uitpak nie, want dit pas nie by die gegewe situasie nie, maar helaas vriend as jy eendag gaan wakker skrik, is dit vir ons as Volk dalk reeds te laat!

Nou waarom sit ons vandag op die ashoop? Juis oor dit wat ek hierbo genoem het.

Oplossings?

Dit gaan nie met ‘n towerwoord gebeur nie. Nou wat moet die Volk doen ?

Gaan op julle knieë en vra om vergifnis as ‘n volk, want ons as ‘n Volk het verkeerd gedoen  in die oë van God. Ja selfs jy wat nie vir dit gestem het nie. Gaan doen ‘n selfondersoek en jy sal selfs vind jy is ook aandadig, al is dit hoe klein.

Reik uit na mekaar, onder ons eie Volksgenote en help mekaar opstaan uit die ashoop, nie die wat lê nog skop nie. Doen sendingwerk onder ons eie mense.

Leiers reik uit na mekaar en moet nie net jou eie agenda najaag nie, luister na mekaar en vind ‘n gemene saak en verenig die Volk. Wees nederig, want julle dien nie julle self nie, maar God en julle Volk.

Word weer ’n Volk waarop ons trots kan wees en wat net vir God alleen dien en niks en niemand anders nie.

Glo dat God ons weer ’n vry Volk sal maak.

Dus moet nie in my skrywe enige versteekte agenda sien nie.

Ek is net lief vir God en my Volk,  wat hulle bly blind hou vir wat aangaan in die land en op ons wag, daarom die  skrywe aan my Volk en ons leiers, verenig in die naam van God en ons sal oorleef om vir ons kinders se kinders ’n toekoms te gee.

Willie Cloete

Pretoria-Noord