Nigerië, Switserland kom ooreen oor ouddiktator se geld

Nigerië en Switserland het ’n ooreenkoms onderteken wat die weg baan vir die ontvangs van meer as $300 miljoen wat van die familie van Nigerië se voormalige militêre heerser, Sani Abacha, gekonfiskeer is, het Nigerië se visepresident aangekondig.

Transparency International, ’n korrupsie-waghond, het Abacha daarvan beskuldig dat hy tydens die vyf jaar wat hy aan bewind was, vanaf 1993 tot sy dood in 1998, tot soveel as $5 miljard aan staatsgeld gesteel het.

Nigerië se prokureur-generaal het ’n brief van voorneme onderteken ingevolge die voorwaardes deur Switserland gestel om US$321 miljoen “wat deur die Abacha-familie bekom is”, aan Nigerië te betaal, het Reuters berig.

Nigerië se president, Muhammadu Buhari, wie se ampstermyn verlede jaar begin het, het ‘n veldtog teen korrupsie aangekondig.

Hy het Brittanje en Amerika versoek om te help om geld terug te vind wat deur sommige van die land se vooraanstaandes oor etlike jare gesteel is.

Die ekonomiese krisis in Afrika se grootste ekonomie wat teweeggebring is deur ’n drastiese daling in die olieprys, maak dit gebiedend noodsaaklik dat die land geld moet terugkry wat weens korrupsie verloor is.

Nigerië het ook intussen ‘n reuseboete op die Suid-Afrikaanse selfoonmaatskappy MTN gehef.

In 2014 het Nigerië en die Abacha-familie ’n ooreenkoms bereik sodat die land die geld kan terugkry. In ruil hiervoor is klagte teen die voormalige heerser se seun, Abba Abacha laat vaar.

Hy het in April 2005 in ’n Switserse hof tereggestaan op klagte van geldwassery en korrupsie nadat hy uit Duitsland gedeporteer is.

Hy het later 561 dae in aanhouding deurgebring. In 2006 het Luxemburg opdrag gegee dat die geld van die jonger Abacha bevries word.

‘n Soortgelyke versoek deur Tunisië is aan Switserland gerig om die president Ben Ali, wat deur die Arabiese Lente ontsetel is, se fondse terug te betaal.

Al- Sjabaab weer glo aanval af

Volgens die Islamitiese groep Al-Sjabaab, het hulle ‘n aanval op een van hul basisse in die suide van Somalië afgeweer.

Buitelandse kommando’s het glo met twee helikopters ingevlieg en die aanval geloods. Een Al-Sjabaab-militant is in die aanval dood.

Sjeik Abdiasis Abu Musab, Al-Sjabaab se woordvoerder vir militêre operasies, het nie die nasionaliteit van die troepe geïdentifiseer wat in die aanval ongeveer 50 km suid van Mogadisjoe, betrokke was nie.

Verskeie lande onder die vaandel van Amisom staan die Somaliese regering by in hul stryd teen die Al-Sjabaab-insurgensie.

Die sending bestaan uit troepe van verskeie Afrikalande wat sy aan sy met die Somaliese weermag veg.

Amerikaanse amptenare het in 2014 bekend gemaak dat Amerikaanse militêre adviseurs sedert 2007 in die geheim in Somalië betrokke is en dieper betrokke sal raak om die Islamitiese bedreiging af te weer.

Washington het oor die naweek aangekondig dat lugaanvalle Saterdag op ’n ander Al-Sjabaab-basis uitgevoer is en dat meer as 150 Islamitiese vegters in daardie aanval dood is.

Hulle het glo van onbemande tuie gebruik gemaak om twee sleutelfigure uit te wis. Al-Sjabaab wou nie die Pentagon se verklaring bevestig dat hulle die twee, Ugaas en Mire gedood het nie.

Die VSA het hommeltuie in Jemen sowel as in Somalië ontplooi.

Ondertussen berig Reuters dat ’n motorbomontploffing in die Somaliese hoofstad, die week die lewens van drie mense geëis het.

Die drie slagoffers was almal polisiemanne.

Nog ‘n gebou stort ineen in Nigerië

Nooddienswerkers in Lagos in Nigerië soek steeds na moontlike oorlewendes onder die puin van ‘n vyf-verdiepinggebou wat ingetuimel het.

Die dodetal staan tans op minstens 18, maar vrese bestaan dat dit verder sal styg, het RSG berig.

Nooddienswerkers sê hulle werk onverpoosd omdat stemme onder die puin steeds opklink. Elf mense is vroeër gered.

Die gebou het vermoedelik weens sanderige grond ineengestort. Die erf was eers ‘n rivier wat onlangs met sand opgevul is.

In September 2014 is 116 mense, waaronder 81 Suid-Afrikaners dood toe ‘n gastehuis by die kerk van die prediker, TB Joshua ineengestort het.

Suide stem nuwe sanksies teen Noord-Korea

Suid-Korea het die week ’n reeks nuwe, eensydige sanksies teen Noord-Korea aangekondig. Dit sluit onder meer ’n beroep op burgers in om Noord-Koreaanse restaurante in die buiteland te boikot.

Die nuwe maatreëls volg nadat die Noorde onlangs ’n kerntoets uitgevoer en ’n langafstand-vuurpyl getoets het, het AFP berig.

’n Lang lys name van Noord-­Koreaanse individue en entiteite is ook op ’n swartlys geplaas en ’n verbod is geplaas op enige skepe wat voorheen in Noord-Koreaanse hawens anker gegooi het, om in Suid-Koreaanse gebiedswaters te vaar.

Dit volg op streng sanksies wat verlede week deur die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad teen Noord-Korea ingestel is.

Seoel het verlede maand die buitengewone stap gedoen en die operasies van die gesamentlik beheerde Kaesong-nywerheidskompleks opgeskort.

Die sanksies en die sluiting van die kompleks is daarop gemik om die krane toe te draai van enige buitelandse valuta wat na die bewind in Pjongjang vloei.

“Aangesien Noord-Koreaanse instansies, soos buitelandse restaurante, een van die maniere is waarop Noord-Korea buitelandse valuta verdien, vra ons die publiek om nie van hierdie instansies gebruik te maak nie,” het Lee Suk-Joon, hoof van die kantoor belas met regeringsbeleid-koördinering gesê.

Die Suid-Koreaanse regering beraam dat Pjongjang nagenoeg US$10 miljoen jaarliks uit 130 restaurante in 12 lande verdien.

“Verminderde benutting van Noord-Koreaanse restaurante sal bydra om die kontantvloei tot ’n groot mate te laat opdroog,” het die regering in ’n afsonderlike verklaring gesê.

Lee sê die regering vermoed dat die meeste buitelandse valuta, deur verskillende kanale, uiteindelik vir wapens van massavernietiging gebruik word.

Seoel het ook 40 indivue en 30 groepe wat betrokke is by Noord-Korea se kern- en missielprogramme, insluitende twee individue en ses groepe van ’n derde land, op die swartlys geplaas en hulle enige saketran­saksies met Suid-Koreaanse ondernemings belet.

Die skuif om buitelandse vaartuie wat in die Noorde anker gegooi het, te verbied om Suid-Koreaanse gebiedswaters binne te kom, maak klaarblyklik ook ’n einde aan ’n ambisieuse trilaterale infrastruktuurprojek wat ten doel gehad het om Russiese steenkool, deur die Russiese grensdorp, Khasan en die Noorde se hawestad, Rajin na Suid-Korea uit te voer.

Die sogenaamde Rajin-Khasan-projek was ’n integrale deel van die Suid-Koreaanse president, Park Geun-Hye, se visie om die spoornetwerke van die Noorde en Suide te integreer om dit uiteindelik met Europa te verbind.

Tunisë en Libië raak by grens slaags

Tunisiese veiligheidsmagte het die week met gewapende soldate naby die grens met Libië slaags geraak, minder as ’n week nadat vyf militante wat oor die grens gekom het, deur veiligheidsmagte doodge­skiet is.

Die gewapende mans het probeer om ’n pos van die nasionale wag en weermagbarakke in die dorp, Ben Guerdane, aan te val toe die gevegte uitgebreek het.

Minstens vier burgerlikes is in die gevegte gewond.

Die gevegte het omstreeks 04:30 uitgebreek en teen dagbreek het dit steeds gewoed. Troepe in die grensgebied is op ’n hoë gereedheidsgrondslag sedert ’n Amerikaanse lugaanval op 18 Februarie ’n opleidingskamp van die Islamitiese Staat (ISIS) groep in Libië gebombardeer het.

Altesaam 18 Tunisiese militante is in die aanval dood.

Minstens vier van die vyf militante wat verlede Woensdag naby Ben Guerdane dood is toe hulle hul vaderland vanuit Libië binnegesypel het, was Tunisiërs.

Dodelike aanvalle op buitelandse vakansiegangers verlede jaar het die Tunisiese toerismebedryf ’n ernstige knou toegedien.

Die skermutselinge het vrese laat ontstaan dat die geweld in Libië kaan oorspoel na hul buurland.

Inwoners van Calais kla oor ‘katastrofiese ekonomiese insinking’

Inwoners van die Franse hawestad, Calais, het Franse vlae omhoog gehou tydens betogings in Parys.

Hulle vra dat die migrantekamp, bekend as die “Oerwoud”, afgebreek word en sê hulle lewens word negatief beïnvloed deur die teenwoordigheid van die migrante.

‘n Afvaardiging van ongeveer 500 inwoners van die Franse gemeente van Calais was Maandag in Parys om hulp van die regering te eis.

Die Groter Vereniging vir Calais (Grand Rassemblement du Calaisis) sê die migrante het tot ‘n ekonomiese ramp gelei.

Volgens die afvaardiging, is die beeld van die dorp vernietig deur die voortslepende migrantekrisis in die “Oerwoud” naby Calais, en die hawedorp se belangrike toerismebedryf ly as gevolg daarvan.

Hulle vra vir ‘n 10-jaar belastingmoratorium om te herstel van die daling in handel by winkels en restaurante van tot soveel as 40 persent.

Vir dekades was Calais ‘n kosmekka vir Britse toeriste op soek na goedkoop Franse wyn en kaas.

Die hawedorp, net 90 minute weg van Dover, is baie afhanklik van hierdie toeristeverkeer.

Hulle vra dat die Calais-gebied, waardeur honderde migrante stroom, erken moet word as ‘n “gebied wat onder katastrofiese ekonomiese toestande gebuk gaan”.

SA se spesmagte wil ISIS en Boko Haram aanvat

Boko Haram se verklaarde samewerking met die Islamitiese Staat (ISIS) in Irak en Sirië, het vrese aangewakker dat die dodelike insurgensie in die noordooste van Nigerië ’n internasionale dimensie sou aanneem.

Dit was boonop ‘n amptelike verklaring deur die wêreld se dodelikste terroriste-organisasies, berug vir hul blindelinge slagting van tienduisende mense.

Kommer het voorheen geheers oor die potensiële invloei van buitelanders wat gewerf word na lande rondom die Tsjadmeer wat die plaaslike konflik kan laat toeneem, het AFP berig.

Die SANW het nietemin verklaar dat hulle spesiale magte na die streek sal stuur teen Boko Haram.

Boko Haram is egter oënskynlik na ‘n jaar se samewerking aansienlik swakker en in wanorde gedompel ná die militêre teenoffensief.

Hul se leier, Abubakar Shekau, het voorts slegs twee oudio-boodskappe opgeneem sedert hy op 7 Maart trou gesweer het aan ISIS.

Nigerië se weermag het sedertdien sy aanslag teen Boko Haram versterk en duisende mense onder Boko Haram se beheer, bevry. Verlede week het dosyne rebelle glo vanweë honger­snood in die militante se geledere oorgegee.

Ontleders beskou die sogenaamde alliansie eerder as ‘n propaganda-skuif. Boko Haram het ten tyde van die aankondiging gesukkel teen hul streekmagte en ISIS moes territoriale terugslae trotseer.

“Niks het in die Boko Haram-kamp verander sedert die aankondiging nie,” het ’n Nigeriese veiligheidsontleder, Abdullahi Bawa Wase, gesê.

“Geen ISIS-vegters het opgedaag nie en die organisasie kon ook nie daarin slaag om ISIS-wapens en kontant te bekom nie, iets wat baie mense gevrees het die geval sou wees.

“In teendeel, Boko Haram is swakker as voor die aankondiging. Dit blyk uit die drastiese afname in dodelike aanvalle. Selfs die vlaag selfmoordbomaanvalle het afgeneem,” het hy gesê.

Die aankondiging en die daaropvolgende nuwe handelsmerk van Boko Haram as die Islamitiese Staat se Wes-Afrika-provinsie, (ISWAP) het glo verdeeldheid in die Boko Haram-hiërargie veroorsaak.

Sommige veiligheidsraadgewers voorspel dat Boko Haram vanjaar eerder as ’n kriminele streekbedreiging, soortgelyk aan die Lord’s Resistance Army in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, sal word.

Die Minister van Verdediging, Mansur Dan Ali, het verklaar dat Suid-Afrika sy spesiale magte sal stuur om die land te help in die stryd teen Boko Haram.

Dan-Ali het het tydens ‘n vergadering met sy Suid-Afrikaanse eweknie, Nobise Mapisa-Nqakula, in Abuja op Maandag, gesê besprekings oor die ontplooiing van die spesmagte het reeds ‘n gevorderde stadium bereik.

Hy het gesê die reëling sal binnekort afgehandel word.

Die minister het gesê die ontwikkeling is ‘n opvolgstap na ‘n Memorandum van Verstandhouding in 2013 tussen die twee lande onderteken is.

“Dit is ‘n baie goeie ding dat Suid-Afrika wat ons noue bondgenoot is, kom help in die ontwikkeling van ons industriële kompleks, wat die verdedigingsindustrie van Nigerië is.

Mapisa-Nqakula het gesê die samewerking tussen die twee lande sal lei tot sterker bande.

Intussen het die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, genl Zakaria Shoke, gesê dat hulle bereid is om saam te werk met die Nigeriese weermag.

In Januarie vandeesjaar het Britse soldate in Nigerië aangekom om die Nigeriese weermag teen die Moslem-insurgente op te lei.

President Jacob Zuma sal vandag en môre in Nigerië wees vir ‘n staatsbesoek.

Zuma en die Nigeriese president, Muhammadu Buhari sal poog om politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die lande te verbeter.

Hy sal na verwagting Nigerië se Nasionale Vergadering, sowel as die Suid-Afrika-Nigerië sakeforum toespreek.

Zuma en sy Nigeriese ampsgenoot, Muhamadu Buhari, sal onder meer die Nigeriese boete van bykans R61 miljard aan MTN bespreek.

Nancy Reagan oorlede

Die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, Nancy Reagan, is in die ouderdom van 94 jaar oorlede aan hartversaking.

Reagan sal begrawe word by die Ronald Reagan Presidensiële Biblioteek in Simi Valley, Kalifornië, langs haar man, Ronald Wilson Reagan, wat op 5 Junie 2004 oorlede is.

Sy het haar man in die laat veertigerjare ontmoet terwyl hulle altwee Hollywood-akteurs was.

Hy was vanaf 1981 agt jaar lank president van Amerika.

Nancy, geliefd onder Amerikaners, het haar man jare lank versorg nadat hy met Alzheimers se siekte gediagnoseer is.

Sy het die amp van Eerste Dame met besondere waardigheid en elegansie beklee.

Trump en Hillary loop voor

Senatore Ted Cruz en Bernie Sanders het Saterdag betekenisvolle oorwinnings in hul aanslag op die Withuis behaal, maar dit was Donald Trump en Hillary Clinton wat weer eens hul opponent uitgestof het en die onbetwiste voorlopers is.

Trump, ’n Republikein, en Clinton, ’n Demokraat, het hul ding gedoen in die deelstaat Louisiana, het AFP berig.

Die res van die uitslae op “Super Saterdag” was verdeeld. Cruz het in Kansas en Maine geseëvier en sodoende sy aanspraak dat hy die beste alternatief vir Trump is, bevestig.

Senator Marco Rubio, wat sleg gevaar het, moet besin of hy sy veldtog kan omkeer of liewer die wedloop vaarwel moet wuif.

“Dankie Louisiana, en dankie Kentucky,” het Trump gesê minute nadat hy as die waarskynlike wenner in Kentucky, verklaar is. Hy het met vier persentasiepunte geklop.

Vir die Republikeine was die naweek se voorverkiesings die eerste ware toets om vas te stel of die ­politieke elite, onder aanvoering van die 2012-kandidaat, Mitt Romney, se desperate pogings om ’n stokkie voor Trump se aanslag te steek, wel vrugte afgewerp het.

Trump sê Romney se pogings het misluk. Hy het ook vir Rubio, wat deur menige politieke waarnemers beskou word as die beste hoop om Trump te verslaan, gesê om maar sy tasse te pak.

“Marco Rubio het ’n baie slegte nag gehad. Persoonlik vra ek hom om die wedloop vaarwel toe te roep,” het Trump gesê.

“Ek sal dit geniet om Ted (Cruz) een tot een aan te vat. Dit sal maklik wees,” het Trump bygevoeg.

Benewens die aantal verteenwoordigers wat hulle ingeoes het, kan sowel Cruz en Sanders aanspraak maak op nuwe momentum in die aanloop tot kritiese voorverkiesings in Michigan, Dinsdag en dan eerste-oor-die-wenstreep-verkiesings in Florida en Ohio op 15 Maart.

Trump het reeds geseëvier in 12 van die 19 state waar voorverkiesings gehou is. Cruz se oorwinnings dui egter daarop dat, ondanks die feit dat Trump in alle waarskynlikheid die Republikeine se nominasie sal kry, dit steeds nie ’n uitgemaakte saak is nie.

Die konserwatiewe senator het bo verwagting in Kansas gepresteer waar hy 48,2 persent van die steun gekry het, meer as dubbel soveel as Trump se 23,3 persent.

Rubio was derde met 16,7 persent gevolg deur Ohio se goewerneur, John Kasich, met 10,7 persent.

Aan die Demokrate se kant het die selfverklaarde demokratiese sosialis, Sanders, oorwinnings in Kansas en Nebraska behaal wat meebring dat hy in sewe van die 18 Demokratiese voorverkiesings die oorwinnaar was.

Clinton het egter ’n betekenisvolle oorwinning in Louisiana behaal met 59 Demokratiese afgevaardigdes wat allerweë as die naweek se grootste prys beskou is. Kansas het 37 afgevaardigdes en Nebraska 25.

Die voormalige minister van buitelandse sake en eerste dame, het Louisiana, met sy sterk Afro-Amerikaanse kieserskorps oorheers.

Sanders het gewen in die ander twee state, met betekenisvolle wit bevolkings, ’n demografie waarin hy goed vaar.

Indië ontplooi elitetroepe by Paksitanse grens

Indië het elite veiligheidsmagte in die westelike deelstaat, Gujarat ontplooi ná ‘n intelligensieverslag aangedui het dat tien militante moontlik die grens vanaf Pakistan oorgesteek het.

Veiligheidsmaatreëls by sleutelinstansies is eweneens opgeskerp, het AFP berig.

Gujarat is die tuisstaat van die Indiese eerste minister, Narendra Modi. Die deelstaat is in 2008 deur ’n reeks bomontploffings geskud waarin minstens 45 mense dood is.

Veiligheidspersoneel het besoekers buite hotelle, rolprentteaters en winkelsentrums deursoek. Die ondersoeke is gebeeldsend.

Senior polisiebeamptes is in kennis gestel dat hulle verlof opgeskort is en dat hulle vir diens moet aanmeld. Hulle is aangesê om verdagte optrede te rapporteer.

Die vrees bestaan dat lede van die verbanne militante organisasie, Lashkar-e-Taiba, die land deur die Koesj-distrik kon binnegekom het.

Indië beskuldig Lashkar-e-Taiba (LeT) van die 2008 Mumbai-aanvalle waarin 166 mense dood is. Pakistan se regering het ook ’n verbod op LeT geplaas, maar ’n aantal van die organisasie se leiers is nog op vrye voet.

In 2002 is die deelstaat deur godsdiensgeweld geteister waarin meer as ’n duisend mense dood is. Die slagoffers was meestal van die Moslem-minderheid.