Brittanje wil militêr uitbrei op Falkland-eilande

Brittanje het aangekondig dat hulle hul omstrede militêre teenwoordigheid op die Falkland-eilande sal uitbrei.

Rusland is na bewering ook besig met ‘n transaksie om langafstand bomwerpers aan Argentinië te verhuur.

Argentinië hou vol dat Las Malvinas, soos hulle die eilande noem, aan hulle behoort. Brittanje is al vir byna twee eeue heerser oor die sowat 3000 inwoners.

Die herlewing van die Falkland-vraagstuk kom net ses weke voor ‘n Britse algemene verkiesing in waarin uitgawes vir wapentuig ‘n verkiesingskwessie is.

Fallon se Konserwatiewe Party is onder druk omdat die verdedigingsbegroting volgens militêre leiers en Brittanje se belangrikste bondgenoot, die Verenigde State van Amerika, krimp.

Die VSA het hierdie maand aangedui dat hy “baie bekommerd” is oor wapenuitgawes te midde van vrese dat dit onder ‘n NAVO-teiken van twee persent van staatsbesteding kan daal.

Meer as 30 jaar het verloop vandat Argentynse magte die eilande in 1982 beset het en Brittanje ‘n militêre mag gestuur het om die eilande terug te neem.

In die blitsoorlog wat gevolg het, is meer as 600 Argentyne en 255 Britse soldate gedood.

Die Britse minister van verdediging, Michael Fallon, sê hulle sal die reg van die eilandbewoners verdedig teen bedreigings om hulle toekoms te bepaal.

Geen oorlewendes in Alpe-vliegramp

Die Franse eerste minister, mnr. Manuel Valls, het gister gesê hy vrees al 148 passasiers en bemanningslede is dood nadat die Airbus van die Germanwings-redery op vlug GWI18G in die suide van Frankryk neergestort het.

“Ons weet nog nie wat die oorsaak van die ongeluk was nie,” het Valls aan die media gesê.

Valls sê hy het die ministeriële krisiskomponent geaktiveer nadat hy van die ongeluk in kennis gestel is. Hy het ook die minister van binnelandse sake, mnr.Bernard Cazeneuve, na die ramptoneel gestuur.

Die Franse koerant La Provence sê die Airbus het 142 passasiers, twee vlieë­niers en vier kajuitbemanningslede aan boord gehad toe dit in die Alpe-gebied neergestort het.

Die vliegtuig was van Barcelona na Düsseldorf onderweg toe dit tussen Digne en Barcelonnette geval het.

Die parlementariër Christophe Castaner, wat by die ongelukstoneel aangekom het, het aan FranceInfo radio gesê dat dit nog nie duidelik is watter van die twee swartvlugopnemers opgespoor is nie.

Een wat neem die onderhandelinge van die bemanning op en die ander een die tegniese inligting van die vlug.

Intussen het die VSA haastig die moontlikheid van ‘n terroriste-aanval uitgesluit as die rede vir ongeluk.

“Daar is geen aanduiding van ‘n terreurdaad op hierdie tydstip nie,” het Bernadette Meehan, die Withuis se nasionale Veiligheidsraadwoordvoerder aan Fox News gesê.

Sestien Duitse skoolkinders wat van ‘n skooluistappie teruggevlieg het, is ook in die ongeluk dood.

Twee operasangers Oleg Bryjak en Maria Radner het in die vliegongeluk omgekom nadat hulle in Wagner se “Siegrfied” in Barcelona opgetree het.

Die direkteur van Deutsche Oper am Rhein in Düsseldorf, Christoph Meyer, het die inligting bevestig.

“Die Duitse Düsseldorf/Duisburg Opera treur oor die heengaan van bas-bariton Oleg Bryjak. Hy is een van die slagoffers van vlug U49525,” het Gonne Garling, ‘n joernalis wat vir die Bild-koerant skryf, Dinsdag op sy Twitter-blad geskryf.

Merkel ontmoet Griekse premier

Die Duitse kanselier, Angela Merkel en die Griekse eerste minister, Alexis Tsipras het met hul ontmoeting in Berlyn glo gesels oor Griekeland se eis dat Duitsland die Grieke vergoeding skuld vir die Tweede Wêreldoorlog.

Albei was vaag oor hoe om te verhoed dat Athene se geld opraak. Merkel het gesê sy wil sien dat die Griekse ekonomie groei en Tsipras het gesê dit is beter om mét mekaar as óór mekaar te praat.

Die twee lande verskil oor Griekeland se pogings om die terme van sy internasionale skuldkrisis te onderhandel.

Die leiers het Maandag vir ’n uur vergader voordat hulle ’n gesamentlike mediakonferensie toegespreek het. Hierna het hulle ’n verdere vyf ure agter geslote deure byeengekom en eers ná middernag verdaag.

Franse Nasionale Front lewer sterk vertoning

Frankryk se Nasionale Front, een van die magtigste regse politieke partye in Europa, het ‘n sterk vertoning teen pres. Francois Hollande se regerende sosialiste in die naweek se streeksverkiesings gelewer.

Die verkiesings word in 101 “departemente” gehou, wat portefeuljes soos skole en welsynsbegrotings beheer.

Sondag se verkiesings het ‘n geleentheid gebied vir die Nasionale Front om stoom op te bou in die aanloop tot die presidentsverkiesings wat in 2017 gehou word.

Sommige ontleders meen die party se leier, me. Marine Le Pen, staan ‘n goeie kans om die ongewilde Hollande uit die kussings te lig.

ISIS-kuberkrakers teiken Amerikaanse soldate

Die groep wat hulself die Islamitiese Staat (ISIS) se kuberkrakerafdeling noem, het gister die name van 100 Amerikaanse militêre personeellede gepubliseer en ISIS-ondersteuners aangemoedig om hulle dood te maak.

ISIS se kuberkrakers sê die 100 personeellede van die Amerikaanse weermag, vloot en lugmag het ISIS in Irak, Sirië en Jemen geteiken.

Die situasie in Jemen het so agteruitgegaan dat Jemen se pro-Amerikaanse president, Abd Rabbuh Mansur Hadi, op een punt saam met Amerikaanse troepe sou ontruim, het amptenare aan NBC News gesê.

Terwyl Amerikaanse amptenare die onttrekking as ‘n sukses beskou, beteken dit dat die VSA se militêre magte nie meer oë en ore op die grond in Jemen het nie.

Die Amerikaanse departement van verdediging en FBI-woordvoerders het aan The New York Times gesê hulle is bewus van die dreigemente en ondersoek die webtuiste waar dit gepubliseer is.

Amerika lei ‘n internasionale koalisie wat ISIS in Irak en Sirië teiken, waar militante groot dele grondgebied beset.

Duitse kenner onthul ‘terreurbestuur’

Die Duitse joernalis en regeringskonsultant Christoph Hoerstel, was 2006/7 spreker oor die onderwerp van Afghanistan by die leierskapsentrum (ZInFü) van die Bundeswehr.

In hierdie verband het hy het die term “terreurbestuur” gedefinieer en in die klaskamer ontleed, om soldate in dié land in staat te stel om die bisarre gebeure waarmee hulle te kampe gehad het, te verklaar.

Alle lesinginhoud is persoonlik hersien en deur die Duitse owerhede goedgekeur.

Op grond van hierdie ervaring, sê hy, is die vrees vir terrorisme nie toevallig nie. Dit word, volgens Hoerstel, aangewend deur regerings met ‘n sekere doelwit.

In tye van krisis en politieke onsekerheid, bestuur intelligensie-agentskappe, tesame met alle NAVO-regerings, die voorbereiding en uitvoering van aanvalle.

Hoerstel sê hy het in Afghanistan ontdek dat alle NAVO-lande daaroor lieg dat daar ‘n stryd teen terreur woed.

Daar is geen “oorlog teen terreur” nie, maar eerder “bestuurde vrees” of dan “terreurbestuur” wat gebruik word om sekere beleidsrigtings en besluite af te dwing, sê hy, omdat die akteurs reeds aan die veiligheidsmagte in 95% van alle gevalle bekend is.

Hy onthul ook dat ISIS in Jordanië deur die CIA opgelei is om terreur te pleeg.

Dat terreur na Europa uitgevoer word, is ‘n manier om politieke probleme aan te spreek wat oplaai weens die finansiële krisis wat lidlande in die gesig staar.

Hoerstel sê dit is ‘n harde, “bloedige bedryf” waar geld, inligting en menslike hulpbronne bewillig word en waar onskuldige mense opgeoffer word.

Hy meen ook dat Charlie Hebdo só ‘n geval is waar die mees ongewilde Franse president wat slegs 13% steun geniet het vóór die skietery, se gewildheid skielik na 29% opgeskiet het.

Marine Le Pen het onlangs in ‘n onderhoud met Sophie Desjardin van Euronews gesê Francois Hollande lyk op die oppervlak onskadelik maar is tot wrede koelbloedigheid in staat. Sy het nie uitgebrei oor haar opmerking nie.

ESB-opening lei tot geweld in Duitsland

Onlustepolisie in Duitsland moes dié week bontstaan toe skares opgeruk het om teen besuiniging te betoog. Geweld het uitgebreek naby aan die stad se Alte Oper konsertsaal enkele ure voor ‘n nuwe bankgebou se amptelike opening.

Ondersteuners van die sogenaamde “Blockupy”-alliansie bestaande uit ­maatskaplike bewegings, aktiviste, vakbonde en politieke partye, het betogings teen besuinigingsmaatreëls en die magte van die ­Europese sentrale bank beplan vir wanneer die bank se nuwe hoofkantoor die week amptelik sou open.

Verskeie polisievoertuie is aan die brand gesteek op die openingsdag van die Europese sentrale bank in Frankfurt am Main.

‘n Skare van sowat 10,000 mense het buite die nuwe hoofkwartier van die Europese Sentrale Bank wat teen ‘n astronomiese koste van $1.4 miljard langs die rivier opgerig is, gedreunsing.

Die ESB is sedert sy die begin van sy bestaan in die Duitse stad, maar die nuwe duur toringgebou wat die bank pas betrek het, het tot hewige teenkanting gelei.

Talle Duitsers wat opgedaag van regoor die land, is ontevrede oor ‘n ekonomiese beleid wat diep sny aan openbare besteding en werkloosheid vererger.

Sowat 14 polisiebeamptes en 21 betogers is beseer nadat wegbreekbetogers met die polisie gebots het. Volgens die owerhede is 350 mense in hegtenis geneem.

Die polisie het gekla dat meer as 80 van hul lede met pepersproei aangeval is en moes behandeling ontvang.

Die polisie het ‘n kordon om die bank gevorm nadat bande en vullis ook aan die brand gesteek is.

Skietery in Swede se immigrantenes eis twee

Minstens twee mense is dood ná ‘n skietery by ‘n restaurant in Göteborg in Swede.

Die polisie sê outomatiese wapens is na bewering in die aanval gebruik. Ooggetuies sê die aanvallers was twee mans gewapen met Kalasjnikofs.

Göteborg is die tweede grootste stad in Swede, en ‘n immigrantenes van werkloosheid en geweld.

Die area waar die skietery plaasgevind het, Biskopsgaarden, het ‘n geskiedenis van nie-blanke bendegeweld. ‘n Staatsbehuisingskompleks vir die groot immigrantebevolking word deur hoë werkloosheid gekenmerk.

‘n Polisiewoordvoerder sê daar is geen aanduiding dat die voorval ‘n terreuraanval was nie. Verskeie mense is in die hospitaal opgeneem.

Die polisie kon nie bevestig hoeveel gewapende aanvallers daar was nie, maar het in ‘n verklaring gesê dat die dodetal na verwagting sal styg.

Nooddienste het gesê agt mense is na die hospitaal gebring deur ambulanse en ander Sweedse media berig dat twee dood is.

Swede en die naburige Denemarke het ‘n jarelange probleem met misaad deur kriminele bendes, insluitende Hells Angels, Bandidos, almal immigrante-groepe wat om die beheer van die land se dwelmhandel veg.

Suid-Afrikaner onder slagoffers van Tunis-aanval

Tunisië se ministerie van binnelandse sake het Woensdagaand bevestig dat daar ‘n Suid-Afrikaner onder die 20 toeriste was wat gedood is toe gewapende mans die nasionale museum in Tunis aangeval het.

Daar was ook Suid-Afrikaners onder die gewondes, het gesê die Minister van gesondheid gesê.
 
AP het vroeër die Tunisiese premier Habbib Essid aangehaal wat gesê het twee van die aanvallers is doodgeskiet, maar dat van die aanvallers ontsnap het.
 
Die aanval op die befaamde Nasionale Bardomuseum was die eerste op ‘n toerisme-aantreklikheid in jare in Tunisië.

Dit is nie duidelik wie die aanvallers was nie, maar veiligheidsmagte is onmiddellik in die gebied ontplooi.
 
Tunisië se parlementsgebou, langs die museum, is ontruim.
 
‘n Private televisiekanaal Wataniya het gemaskerde Tunisiese veiligheidsmagte getoon wat toeriste by ‘n nabygeleë plek weg van die gevaar lei, terwyl gewapende veiligheidsmagte gewere na ‘n aangrensende gebou rig.
 
Baie bejaardes, blykbaar Duitse toeriste, het ook omgekom. Talle ander het in paniek na veiligheid gevlug, insluitend ten minste een paar met twee kinders.
 
Onder die toeriste wat vermoor is, was Italianers van ‘n passasiersboot op ‘n sewe-dag reis wat in Tunis vasgemeer het.
 
Die eienaar van die boot, die Costa Crociere het bevestig dat sommige van sy 3 161 passasiers die hoofstad Woensdag besoek het, maar kon nie bevestig hoeveel passasiers by die museum was ten tye van die aanval nie.
 
Die Nasionale Bardomuseum, in ‘n 15de-eeuse paleis, is die grootste museum in Tunisië en huisves een van die wêreld se grootste versamelings Romeinse mosaïek onder sy 8 000 werke.
 
Die aanval is veroordeel deur die VSA, die VN, Frankryk en die Verenigde Arabiese Emirate.
 
Klaarblyklik het Twitter-rekeninge gekoppel aan die Islamitiese Staat (ISIS) verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

bardo2
 

Bibi wen met harde woorde teen Palestyne

Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu het ‘n oorwinning verklaar vir sy Likud-party in die land se verkiesing.

Likud het 30 setels in Israel se Knesset ingepalm en die sentrum-linkse Sioniste-unie-party onder leiding van sy grootste mededinger, Isaac Herzog het slegs 24 setels gewen.

Die mees onlangse peilings toon dus dat hy sy linkse opponente se voorsprong uit die weg geruim het.

Netanyahu het op die vooraand van die verkiesing skerp regs beweeg deur enige verbintenis tot onderhandelinge vir ‘n Palestynse staat te laat vaar.

Netanyahu het die hand gereik na ander partye om ‘n koalisie-regering op die been te bring.

Hy sal na verwagting binnekort harde uitsprake teen die Palestyne terugtrek om die VSA tegemoet te kom, het ‘n voormalige Israelse ambassadeur na Washington, Danny Ayalon gesê.