Gyselnemers skiet Turkse aanklaer dood

Polisiemanne van Istanboel het die sentrale hof laat Dinsdagmiddag ­bestorm en twee mense dood­geskiet wat nege ure vroeër in die gebou ­ingebreek het om ’n aanklaer ­gyselaar te neem.

Die aanklaer het ’n ­sterfgeval verwant aan anti-regeringsoptogte in 2013 ondersoek, het DPA berig.

Istanboel se polisiehoof, ­Selami ­Altinok, het bevestig dat twee ­mense dood is. Hy het gesê die ­polisie het ses ure met die ­gyselnemers ­onderhandel

Hulle het die hof bestorm toe ­hulle geweerskote uit die aanklaer se ­kantoor gehoor het.

Turkye se eerste minister, Ahmet Davutoglu, het laat Dinsdag ­aangekondig dat die aanklaer in die ­hospitaal aan sy wonde beswyk het. Davutoglu het sy simpatie met die familie uitgespreek en die ­gyselaardrama ’n aanval op Turkse reg en demokrasie genoem, het die nuusagentskap Anadolu berig.

Die twee gyselnemers het hul verbintenis met die ­militante groep DHKP-C erken, wat op sy ­Facebook-blad gedreig het om die aanklaer dood te maak. Op die blad is foto’s geplaas van die aanklaer wat gewurg word.

Die groep het op sy ­Facebook-blad geëis die polisieman wat ­verantwoordelik is vir die dood van Berkin Elvans moet ­geïdentifiseer word en dat alle ondersoeke ­rakende die ­betogers gestaak word.

Die 15-jarige Berkin is tydens ­optogte van 2013 met ’n ­traangaskan teen die kop raakgegooi en het nooit weer sy bewussyn herwin nie. Hy is in Maart 2014 dood. Daar was geen vordering in die ondersoeke na sy dood nie.

Berkin se pa, Sami Elvan, het op Twitter gesê hy wou nie hê dat ­enigiemand moet seerkry nie. “Ek wil net ’n regverdige verhoor hê,” het hy getwiet.

Die gyselaarsdrama het begin toe twee mense hul weg na die aanklaer se kantoor op die sesde vloer van die gebou gevind het, het Altinok aan Turkse media gesê. Die voorval het tydens ’n kragonderbreking in ­Istanboel plaasgevind.

Die optogte het in 2013 plaasgevind.

Intussen het twee mense – gewapen met gewere en in minstens een geval, met ‘n bom – die stad se polisie-hoofkwartier Woensdag aangeval, het Turkye se staatsbeheerde uitsaaier berig.

Een van die aanvallers, ‘n vrou met ‘n bom, is gedood toe die polisie op die aanvallers losgebrand het, volgens TRT.

Die tweede persoon het aanvanklik gevlug voordat hy opgespoor is. Hy het ligte beserings opgedoen. ‘n Polisiebeampte is ook beseer in die voorval.

Franse ondersoek Germanwings-kajuit se sluitmeganisme

Die Franse ondersoekagentskap BEA, wat veiligheidsmaatreëls ondersoek wat tot die vliegramp kon gelei het, het die week gesê hulle fokus op die Germanwings-stuurkajuit se sluitmeganisme sowel as psigologiese evaluerings.

BEA probeer om die geskiedenis van die vlug te herkonstruktureer van die stuurkajuit se stemopnemer, een van die twee vlugopnemers wat dusver gevind is. Die tweede vlugopnemer, die vlugdata-opnemer, word steeds vermis.

“Die veiligheidsonder­soek sal fokus op die stuurkajuitdeur se sluitmeganisme en stuur­kajuittoegang- en uitgangprosedures, asook die kriteria en prosedures om spesifieke psigologiese profiele op te spoor,” het die BEA in ’n verklaring gesê.

Volgens Franse aanklaers het die medevlieënier, Andreas Lubitz, met opset die vliegtuig in die berg in­gevlieg nadat hy die kaptein uit die kajuit gesluit het. Lufthansa is die moedermaatskappy van Germanwings.

Duitse aanklaers sê Lubitz was onder behandeling van sielkundiges en neuroloë. Hy het siektebriewe wat hom ongeskik verklaar het vir vlieg, glo opgeskeur.

Internasionale lugdienste het intussen ‘n minimum van twee mense in die stuurkajuit as ’n tussentydse maat­reël geïmplementeer. Lufthansa is genoop om ’n nuwe pos van groepveiligheidsvlieë­nier te skep.

Die Europese versekeringsreus Allianz sal die skadevergoeding vir die ramp dek.

Marine Le Pen kán Franse president word – Le Figaro

Ondanks die feit haar party gister tydens die tweede ronde van departementele verkiesings nie daarin kon slaag om een van Frankryk se 96 departemente  in te palm nie, meen ‘n invloedryke koerant dat Marine Le Pen wel president kan word. Die redakteur van Le Figaro, Alexis Brézet, skryf vanoggend in ‘n ontleding van gister se verkiesing dat gister se sukses deur die sentrum-regse UMP van Nicolas Sarkozy “te danke is aan die kiesstelsel wat oorspronklik bedink is om die Front National uit hou”.

Hoewel die Front National in vele kiesafdelings die meeste stemme ontvang het en verskeie kantons ingepalm het, kon hy vanweë die stelsel nêrens ‘n departement verower nie. Die Sosialistiese Party van president Francois Hollande, wat reeds sedert die tweede wêreldoorlog die linkse blok in Frankryk aanvoer, het skouspelagtig teruggesak. Die regse partye het voorheen 40 departemente beheer, dog het gister ten minste 67 ingepalm. Die linkses beheer nou slegs 34 departemente, iets wat blykbaar ook die Sosialistiese Party se finansies ‘n erge knou gaan gee aangesien partye ook fondse van die departemente verkry.

Die Kommunistiese Party, wat voorheen twee departemente beheer het, het een verloor en beheer nou slegs die Val-de-Marne-departement, waarvan die vorige charismatiese leier, Georges Marchais, afkomstig is.

50,01 % van Franse het gister buite stemming gebly, aangesien departementele verkiesings gewoonlik nie groot getalle kiesers trek nie. Slegs een departement het van regs na links gekantel, terwyl die sentrum-regse koalisie nie minder nie as 28 van die linkses afgerokkel het, waaronder die Bouches-du-Rhône, ‘n departement wat reeds sedert 1953 as ‘n linkse bastion gereken word.

Die Front National het tussen 43 en 47 kantons verower, wat beteken dat die party nou ook op departementsvlak sterk verteenwoordig is en dat hy verdere verkiesingsfondse van die staat sal ontvang. Voor die verkiesing is voorspel dat Marine Le Pen se party moontlik die departemente van Vaucluse et Aisne kon verower, maar dit het nie geluk nie. Die parlementêre ster van die party en niggie van die leidster, Marion Maréchal-Le Pen is tans die LP vir Vaucluse en sy het gisteraand gesê dat die party slegs enkele honderde stemme kortgekom het om ‘n meerderheid in Vaucluse te behaal.

Le Figaro, wat die sentrum-regse partye ondersteun, se redakteur waarsku egter dat die sukses van die UMP slegs te wyte is aan die “verdeeldheid van die linkses” en geensins aan die gewildheid van die tradisionele sentrum-regse partye toegeskryf kan word nie. Tydens die eerste ronde van die verkiesing ‘n week gelede kon die sentrum-regse partye slegs een derde van die stemme trek, “terwyl kandidate van die Front National, wat dikwels oor geen plaaslike organisasie beskik nie, dikwels die plaaslike ‘hoëlui’ wat al jare lank daar gevestig is, kon ewenaar… Die groei van die FN plaas die UMP in ‘n netelige situasie.”

Ook tydens gister se verkiesing, het sowel die linkse as sentrum-regse partye ‘n “verenigde front” teen Marine Le Pen se party probeer voorhou. In Perpignan het die UMP selfs in ‘n verkiesingstryd tussen ‘n FN- en ‘n Kommunistiese kandidaat, ‘n beroep gedoen om vir die Kommunis te stem. Maar die redakteur van Le Figaro waarsku daarteen om te dink dat die tweede ronde van ‘n presidensiële verkiesing in Frankryk ewe maklik kan afloop en dat die UMP “by verstek” kan wen. Soos in die onlangse roman van Michel Houellebecq, Ondergang, sien Alexis Brézet, ook dat daar dalk nog een keer so ‘n president “by verstek” verkies mag word, alvorens Marine Le Pen die tradisionele partye troef en president mag word.

Die huidige eerste minister, die Sosialis Manuel Valls, het onlangs gewaarsku dat “Links mag uitsterf”. In Griekeland het ‘n Sosialistiese Party ook jare lank geregeer, alvorens hy heeltemal van die toneel verdwyn het.

Frankryk staar verskeie krisisse in die gesig: ná dekades van sosialistiese regering behaal werkloosheid nuwe hoogtes terwyl Moslem-immigrasie ‘n kultuurkonflik in die land veroorsaak het. Voeg daarby die oorheersing van die EU-burokrasie uit Brussel wat volgens die jong strateeg van die Front National, Florian Philippot, “tagtig persent van ons wette maak” en ‘n mens kan sien dat Frankryk se politieke en ekonomiese krisis dringend oplossings verg.

Marine Le Pen het haar party se vertoning in gister se departementele verkiesings as ‘n “manjifieke sukses” beskryf.

Airbus-vlug loop van aanloopbaan

‘n Vliegtuig van Air Canada het tydens landing in die oostelike stad, Halifax van die aanloopbaan afgeloop en meer as 20 mense is lig beseer.

Die meeste beseerdes is na behandeling ontslaan. Die Airbus A320 van Toronto het 133 passasiers en vyf bemanningslede aan boord gehad.

‘n Skielike kragonderbreking by die lughawe is opgemerk. Nova Scotia Power het later getwiet dat die krag herstel is, maar het nie aangedui wat die onderbreking veroorsaak het nie.

‘n Woordvoerder van die Royal Canadian Mounted Police het gesê ‘n kraglyn suid van die aanloopbaan is beskadig.

Passasiers het dadelik die vliegtuig ontruim maar vir meer as ‘n uur op die koue teer gestaan en wag in die snerpende wind en sneeu, baie sonder skoene of warm kleding.

Nooddienste was glo op die toneel binne 90 sekondes, maar hulle eerste prioriteit was glo om ‘n brandgevaar te beperk.

Die Kanadese lugvaartowerheid het die twee swart vlugopnemers reeds aan ‘n laboratorium in Ottowa oorhandig.

Swaar sneeu het tydens die voorval geval en die vliegtuig is beskadig, maar het nie aan die brand geslaan nie. Ondersoekers sê dit is ‘n wonderwerk.

Die landingsapparaat is nie ontplooi nie, en die vliegtuig het 300m ver op sy romp geskuur voordat dit tot stilstand gekom het.

Een van die passasiers, Mike Magnus, 60, het aan AP gesê dit behoort as ‘n “vliegongeluk” geklassifiseer te word en nie ‘n “harde landing” soos die owerhede verklaar het nie. Hy het gesê dit is weens politiekery.

Die jongste lugramp in die Alpe is ook ‘n Airbus A320.

Gesteelde Picasso ter waarde van $16 miljoen gevind

‘n Picasso-skildery­, wat vermoedelik gesteel is, en ’n Romeinse beeld uit die tweede of derde eeu is in afsonderlik­e voorvalle teruggevind­ net voordat dit na New York versend sou word, is berig.

Die Carabinieri, die Italiaanse polisie, se kuns-eenheid­­ het beslag gelê op die skildery wat in 1912 in Picasso se kubistiese tydperk geskilder is. Dit is meer as $16 miljoen werd.

Voorlopige aanduidings is dat ’n inwoner van Rome die skildery na die buiteland wou stuur waar dit op ’n veiling­ verkoop sou word.

Die polisie probeer nog vasstel hoe dit in sy besit gekom het.

Die eienaar, wat ‘n raamwinkel besit het, het gesê hy het die skildery in 1978 van ‘n bejaarde kliënt as ‘n geskenk ontvang in ruil vir die gratis herstel van ‘n kosbare fotoraam van sy kliënt se oorlede vrou.

Die raammaker het nie geweet dit was ‘n waardevolle Picasso nie, het die polisie gesê, en dit weggepak vir 36 jaar “sonder besondere sorg” totdat hy ontdek het – toevallig, sê hy – dat dit die werk van die Spaanse meester is.

Olimpiese atleet verdrink

Die Kanadese Olimpiese atleet Daundre Barnaby het tydens ’n oefenkamp­ op die Karibbiese­ eiland­ St. Kitts in die see verdrink­, het Atletiek­ Kanada die naweek aangekondig­.

Barnaby, ’n 24-jarige Jamaikaan van geboorte, het Kanada in die 400 m by die Olimpiese Spele van 2012 in Londen verteenwoordig.

Volgens die verklaring het Barnaby­ verdwyn terwyl hy saam met spanmaats­ geswem het.

Barnaby het in 2012 ’n Kanadese burge­r geword.

Drie geboue stort ineen na ontploffing in NY

Drie woonstelgeboue het in New York in die VSA ineengestort en ‘n vierde het aan die brand geslaan ná ‘n vermeende gasontploffing.

Brandweermanne het gesê 19 mense is beseer, waarvan vier in ‘n kritieke toestand verkeer, sommige met brandwonde aan hul lugweë.

Die burgemeester van New York, Bill de Blasio het gesê dat dit blyk dat niemand vermis word nie. ‘n Ondersoek na die voorval is aan die gang.
 
De Blasio het gesê niemand het ‘n gaslek aan die owerhede voor Donderdag se ontploffing aangemeld nie. Con Edison, die gasmaatskappy, het gesê hulle het die hele gebou Woensdag ondersoek en het geen lekkasies gevind nie.

Ooggetuies het vertel hoe bebloede inwoners uit die gebou gehardloop het en in die straat ineengesak het.

Agt mense is verlede jaar in ‘n soortgelyke voorval in die Harlem-buurt dood.

Vlaamsbelang besoek Siriese president

Die leier van die Vlaamsbelang (VB) in Antwerpen, Filip Dewinter, is gisteroggend gul ontvang in Damaskus deur die Siriese president Basjar al-Assad.

Dewinter het die Siriese president ‘n “bondgenoot teen Salafism en ekstremisme” genoem.

“Stadig maar seker begin algar sien dat ons hom as ‘n bondgenoot (in die stryd) teen Salafism en ekstremisme moet beskou,” sê hy gesê per telefoononderhoud met Belga.

Dewinter het gesê sy ontmoeting met Assad het “meer as ‘n uur” geduur waartydens die Siriese president die boikot wat deur die Weste teen sy regime ingestel is, asook die gevolge daarvan, veroordeel het.

Die president gaan reeds vir vier jaar onder ‘n opstand gebuk wat op ‘n burgeroorlog uitgeloop het, met meer as 215 000 sterftes. Hy het ook gewaarsku teen die “chaos” waarin sy land sal verval sonder hom.

Hy het ook sy kommer uitgespreek, oor die opmars van die terroriste-groep die Islamitiese staat (ISIS) in lande soos Libanon, Libië en “elders op die grense van Europa.”

“Ek kan hom absoluut nie verkeerd bewys nie,” sê Dewinter. Dit was nie die ondervoorsitter van die VB se eerste besoek aan Sirië nie, maar wel die eerste keer dat hy Assad ontmoet het.

Hy het gesê die Siriese president verdien ondersteuning.

“Hulle (die Siriese leiers) het my verseker dat alle chemiese wapens sedertdien vernietig is. Verder, is dit onwaarskynlik dat die regime hierdie wapens gebruik het in die distrikte in die hoofstad. Ek sluit nie uit dat dit elders gebeur het nie, maar ek voel dat ‘n propaganda-oorlog gevoer word,” het Dewinter afgesluit.

Top Gear te wit en te manlik

Die BBC het bevestig dat Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson se kontrak nie hernieu gaan word nie.

Die besluit om Clarkson te skors het tot groot ontsteltenis onder Top Gear-aanhangers gelei wat sê dit is die jongste poging van die linkse Danny Cohen om van Clarkson ontslae te raak.

Top Gear, een van BBC2 se gewildste programme en die breinkind van Clarkson, sal na verwagting voortgaan. Daar is egter nog geen duidelikheid of Clarkson se mede-aanbieders, James May en Richard Hammond, sal aanbly nie.

Top Gear lok sowat 350 miljoen kykers wêreldwyd en hou die wêreldrekord vir die nie-fiksie program wat die meeste kere nóg in die wêreld gekyk is. Meer as 14 miljoen mense hou van Top Gear op Facebook en meer as ‘n miljoen mense volg die program op Twitter.

Lees hier:

Vlieënier van Alpe-rampvlug ‘uitgesluit’

Een van die twee vlieëniers op die gedoemde vlug wat in die Alpe verongeluk het, was uitgesluit uit die kajuit voor die vliegtuig met 150 mense neergestort het, het ‘n bron na aan die ondersoek Donderdag aan AFP gesê.

Kajuitopnames wat van die toneel verhaal is, het aangedui dat een van die sitplekke teruggestoot word en die deur oopgemaak word en dan weer toe, gevolg deur die klank van ‘n klop, het die bron gesê, en bygevoeg “daar was nie meer ‘n gesprek van daardie punt af tot die ongeluk nie”.

Die bron het gesê ‘n waarskuwingsalarm wat die nabyheid van die grond aandui, kon voor die impak gehoor word.

Die opname het getoon dat die vlieëniers normaal en in Duits gesels aan die begin van vlug-4U9525 vroeg Dinsdag. Die bron kon nie sê of dit die kaptein of die eerste beampte was wat die kajuit verlaat het nie.

Die New York Times het ‘n senior militêre amptenaar aangehaal wat betrokke is by die ondersoek, en berig dat die vlieëniers se gesprekke roetine was tot en met die punt waar een van hulle nie in staat was om terug te keer na die kajuit nie.

“Die man buite klop eers liggies aan die deur, en daar is geen antwoord nie,” het die koerant die ondersoeker aangehaal. “En dan slaan hy die deur harder en geen antwoord nie. Daar is nooit ‘n antwoord nie.”

Die klankopname dui daarop dat die uitgesluite vlieënier “probeer om die deur oop te breek.”

Die kajuitstemopnemer is laat Dinsdag gevind, ‘n paar uur na die ongeluk van die ekonomievlug vanaf Barcelona na Düsseldorf, en die data is Woensdagmiddag ontleed.

Die Airbus A320 het skielik ‘n noodlottige agt minute se daling ondervind kort nadat hy kruishoogte bereik het.

Geen noodsein is gestuur nie en die bemanning het nie gereageer op desperate pogings van grondbeheer om kontak te maak nie.