Nazi aan massamoord skuldig bevind

’n Duitse man (94) wat as boekhouer in die Auschwitz-strafkamp gewerk is, is dié week in ’n hof in Lueneburg in Duitsland daaraan skuldig bevind dat hy ’n medepligtige aan die moord van 300 000 mense was.

Hy is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis in wat waarskynlik een van die laaste hofsake oor die Tweede Wêreldoorlog se behandeling van Jode kan wees.

Oskar Groening het egter nie self enigiemand doodgemaak terwyl hy in die Nazi-besette Pole gewerk het nie.

Aanklaers het aangevoer dat deur die geldnote te sorteer afkomstig van treinvragte vol Jode wat by die kamp aangekom het, hy bygedra het om die bewind se “massamoord” te ondersteun.

Groening was 21 jaar oud en volgens sy eie erkenning ’n entoesiastiese Nazi, toe hy in 1942 in die kamp begin werk het.

Die klagtes teen hom hou verband met die tydperk tussen Mei en Julie 1944 toe 137 treine met ongeveer 425 000 Jode van Hongarye in Auschwitz aangekom het. Minstens 300 000 van hulle is glo reguit na die gaskamers gestuur.

China sien Vodacom-groep vir terroriste aan

Vyf Suid-Afrikaners wat in China in hegtenis geneem is, is op pad terug na Suid-Afrika. Drie is direk verwant aan die uitvoerende hoof van Vodacom.

Daar is volgens berigte nog vyf Suid-Afrikaners wat steeds in aanhouding is.

Gift of the Givers sê die toeriste was deel van ‘n groep van 20 wat antieke dele van China “verken” het. Hulle is verlede week in Binne-Mongolië in hegtenis geneem.

Die Chinese owerheid het ingegegryp nadat die toergroep as terroriste uitgewys is omdat hulle ‘n propaganda-film in hulle hotel gekyk het.

Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers sê die vyf het gisteraand op ‘n vliegtuig geklim en word vandag in Suid-Afrika terug verwag.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het geen nuwe inligting oor die arrestasie en aanhouding van 10 Suid-Afrikaners in China ontvang nie, maar het gesê dat die amptelike besoek van adjunkpresident Cyril Ramaphosa aan die land is nie op enige manier verbind met die voorval nie.

“Hy was in China, maar sy besoek in China is nie verwant aan die voorval nie. . . Sy besoek daar het niks te doen met die voorval in Mongolië nie,” het woordvoerder Nelson Kgwete aan die uitsaaier 702 gesê.

Gift of the Givers stigter Imtiaz Sooliman het in ‘n verklaring gesê hulle was deel van ‘n 20-sterk toergroep wat in hegtenis geneem is deur Chinese amptenare.

Die toergroep was op ‘n beplande 47-dag reis na die land, bestaande ​​uit 10 Suid-Afrikaners, nege Britse burgers en een Indiër.

“Van die vyf Suid-Afrikaners wat aangehou is, is drie direkte familie van Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom. Salim Aziz Joosub, Shameel se broer, is die uitvoerende hoof van Capital and Financial Brokers.”

Kgwete het bevestig dat die vyf Suid-Afrikaners Vrydag tergverwag word.

IMF kritiseer Eurosone-hulppakket aan Grieke

Die Internasionale Monetêre Fonds het die voorwaardes van die finansiële reddingspakket deur die Eurosone aan Griekeland skerp gekritiseer omdat hulle meen die land se skuld sal waarskynlik binne die volgende twee jaar twee keer soveel as die nasionale inkomste styg.

Die IMF sê ook dat die Eurosone nou veel verder sal moet gaan om Griekeland se skuldprobleem voldoende aan te spreek.

Die organisasie is ook krities oor die hervormingsmaatreëls wat op Griekeland afgedwing word en het dit as onrealisties en onvoldoende afgemaak.

Die Griekse parlement het intussen die nuutste maatreëls aanvaar om in aanmerking te kom vir die derde hulppakket.

Van die 300 parlementslede het 229 ten gunste van die besuinigingsmaatreëls gestem, terwyl 64 daarteen gestem en ses buite stemming gebly het.

Die eerste minister, Alexis Tsipras het opposisielede se stemme nodig gehad om die hervormings deur te voer terwyl verskeie lede van sy kabinet teen die voorstelle gestem het.

Van die hervormingsmaatreëls wat die parlement moes aanvaar sluit in pensioenaanpassings, verhogings in belasting op toegevoegde waarde en beperkings op staatsbesteding.

Tsipras het voor die stemmery oor die maatreëls gesê daar is geen alternatief indien Griekeland ‘n algehele finansiële ineenstorting wil voorkom nie.

Die Europese Kommissie het amptelik voorgestel dat `n korttermyn-lening van meer as R90 miljard aan Griekeland gegee word totdat die reddingsboei van die Eurogebied gefinaliseer is.

Dit sal betaal word uit `n fonds waartoe al die 28 lidlande van die Europese Unie bydrae.

Die voorstel is met heftige teenkanting begroet van die lande wat nie die Euro gebruik nie. Lande soos Brittanje, Denemarke, die Tsjeggiese Republiek en ander wat nie deel van die Eurogebied is nie, sê hulle weier om te betaal vir die probleme wat by die Eurogebied hoort.

Die Kommissie sê hy sal wyses probeer vind sodat die EU-lidlande buite die Eurogebied nie waarborge oor die volgende paar weke hoef te verskaf nie.

Magsbalans in Midde-Ooste verander na Iran-ooreenkoms

Die kernooreenkoms wat dié week in Wene deur Iran en ses groot moondhede bereik is, sal waarskynlik die magsbalans in die Midde-Ooste verander.

Ná ‘n dekade van onderhandelinge wat met tye aan die gang was, maar telkens op ‘n dooie punt uitgeloop het, kon onderhandelaars van die Internasionale Atoomenergie-agentskap ‘n strategiese plan onderteken om lig op huidige en toekomstige uitstaande kwessies te werp.

Ingevolge die ooreenkoms sal sanksies opgeskort wat deur Amerika, die Europese Unie en die Verenigde Nasies teen Iran ingestel is. Dit is in ruil vir Irak se instemming tot langtermynbeperkinge op sy kernprogram.

Die ooreenkoms is ‘n groot politieke oorwinning vir sowel pres. Barack Obama van Amerika en Iran se pres. Hassan Rouhani, ‘n pragmatis wat twee jaar gelede verkies is met die belofte om Irak se diplomatieke isolasie te beëindig.

Albei presidente het te staan gekom voor skeptisisme tuis ná dekades van vyandigheid tussen die lande. Die lande het onder meer na mekaar as “die groot Satan” en “’n lid van die spil van boosheid” verwys.

Die finale ooreenkoms in Wene volg ná drie weke van intensiewe onderhandelinge tussen Amerika se minister van buitelandse sake, John Kerry, en Irak se minister van buitelandse sake, Mohammad Javad Zarif.

Westerse diplomate sê ingevolge die finale ooreenkoms het Iran ‘n “terugspring”-meganisme aanvaar waarvolgens sanksies binne 65 dae weer ingestel kan word indien Iran nie die ooreenkoms nakom nie.

‘n Wapen-embargo van die VN sal vir vyf jaar duur en die verbod op die aankoop van missieltegnologie sal vir agt jaar van krag wees.

Teenkanting teen die ooreenkoms van Washington se grootste bondgenoot in die Midde-Ooste, naamlik Israel, was uit die staanspoor te wagte.

“Hierdie ooreenkoms is ‘n geskiedkundige oorgawe deur die Weste aan die ‘spil van boosheid’ onder leiding van Iran,” het Israel se adjunkminister van buitelandse sake, Tzipi Hotovely, in ‘n boodskap op Twitter gesê. “Israel sal alles in sy vermoë doen om te verhoed dat die ooreenkoms bekragtig word.”

Die dramatiese verklaring deur Israel se premier Benjamin Netanyahu voor wêreldleiers in 2012 by die VN se Algemene Vergadering dat Iran binne ‘n jaar ‘n kernbom sal vervaardig, is egter weerspreek deur sy eie geheimediens.

Jesus se doopplek in Jordanië

Vir jare stap Christen-pelgrims van beide oewers die Jordaanrivier in om ‘n verbintenis met een van die hoekstene van geloof, die dood van Jesus Christus, te vorm.

Die parallelle tradisie het sowel Israel as Jordanië uit toerismedollars voordeel laat trek, het AP berig.

UNESCO het nou egter ingeklim in die meedinging en Jordanië se doopplek op die oostelike oewer van die rivier as wêrelderfenisterrein verklaar omdat geglo word dit is die plek waar Jesus gedoop is.

Jordanië, waar die aantal toeriste skerp afgeneem het sedert die Arabiese lente en die opkoms van die Islamitiese Staat (IS), is verheug oor die aankondiging.

Israel swyg, maar ‘n Palestynse amptenaar sê die doopplek op die westelike oewer moes ook erken gewees het. Die plek is in die Israel-besette gebied wat Palestyne beoog om in ‘n Palestynse staat in te sluit.

Jordanië se minister van toerisme, Nayef al-Fayez, het UNESCO meegedeel dat Jordanië ‘n boodskap van verdraagsaamheid stuur.

Die koninkryk se Hasjemitiese regeerders “wat die regstreekse afstammelinge van die profeet Mohammed is, is dieselfde wat beskerming aan een van die heiligste plekke vir die Christendom verleen”, het hy gesê.

Aanvallers in Parys nog op vrye voet

Gewapende mans wat Maandagoggend probeer het om ‘n winkel in ‘n sentrum in Villeneuve-la-Garenne, net noord van Parys, te beset, was nog op vrye voet.

“Omstreeks 06:30 het drie gewapende misdadigers die Primark-winkel binnegegaan. Ons vermoed dit het begin as ‘n gewapende roof,” het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

‘n Werknemer van die winkel het haar kêrel omstreeks 07:00 in ‘n teksboodskap meegedeel dat personeel deur twee gewapende mans gyselaar geneem is. Die gebied om die winkelsentrum is afgekordon, verkeer het tot stilstand gekom en ander winkels is ontruim, met spesiale magte wat hulle na die gebied gehaas het.

Die winkelsentrum het leeg geloop, maar ongeveer 18 werknemers was steeds in ‘n kantien. Dit was aanvanklik nie duidelik of hulle deur die gewapende mans daarheen geneem is of self daarheen gevlug het om weg te kruip nie.

Hulle is omstreeks 10:30 na veiligheid geneem met veiligheidsmagte wat steeds op soek na die gewapende mans was.

Die herinnering aan die aanvalle in Januarie deur Islamitiese ekstremiste wat 17 mense in en naby Parys doodgeskiet het, insluitende verskeie wat in ‘n Joodse supermark gyselaar gehou is, is nog vars in die geheue van die Franse volk.

Frankryk en Parys in die besonder is nog steeds op ‘n hoë gereedheidsgrondslag met nagenoeg 7 000 soldate wat landwyd ontplooi is om die polisie tydens enige moontlike aanval by te staan.

Die voorval kom op die vooraand van die tradisionele militêre parade wat jaarliks in Parys op 14 Julie, die Franse nasionale dag, gehou word.

Vanjaar het spesiale magte vir die eerste keer aan die opmars in die Champs-Elysees deelgeneem in erkenning vir die rol wat hulle in die weerstand teen die aanvalle in Januarie gespeel het.

Meksiko se dwelmbaas dreig Trump

Meksiko se prokureur-generaal, Arely Gomez het die einde van ‘n tonnel besoek waardeur die Meksikaanse dwelmbaas Joaquin “El Chapo” Guzman Sondag uit die hoë sekuriteitsgevangenis Altiplano na ‘n huis in Almoloya de Juarez kon ontsnap het.

Dit was Guzman se tweede ontsnapping in 14 jaar. Hy is nog op vrye voet.

Mexiko se mees gesoekte dwelmbaas toon tans ‘n belangstelling in die Amerikaanse presidensiële wedloop vir 2016, nadat hy ‘n dreigende, vuil bewoorde twiet aan Donald Trump gestuur het.

Trump het vroeër neerhalende kommentaar oor Mexikaanse immigrante gemaak.

Guzman is die berugte baas van die Sinaloa-dwelmkartel. Binne ure, het hy gedreig dat hy Trump “sy woorde sal laat eet”. Die boodskap bevat talle Mexikaanse vloekwoorde.

Bekend as die “magtigste dwelmhandelaar in die wêreld” by die Amerikaanse Tesourie, is Guzman in Februarie 2014 vasgetrek. Die Amerikaanse regering het dit destyds as “die grootste soektog in die geskiedenis” beskryf.

Trump het Mexikaanse immigrante daarvan beskuldig dat hulle geneig is tot misdaad en dwelms.

“Wanneer Mexico sy mense stuur, stuur hulle nie hul beste nie,” het Trump gesê. “Hulle stuur mense wat baie probleme het. […] Hulle bring dwelms. Hulle bring misdaad. Hulle is verkragters.”

Sondag het Rupert Murdoch – die miljardêr en beherende aandeelhouer van die konserwatiewe Fox News – hom ook na Twitter gewend in ‘n aanval op Trump.

Murdoch het gesê dat Mexikaanse immigrante ‘n baie laer misdaadkoers het as “moedertaal geborenes” en bygevoeg “Trump verkeerd”.

Premier vir korrupsie ondersoek

As deel van ‘n ondersoek na korrupsie, het Roemeense aanklaers dié week aangekondig dat hulle hul premier, Victor Ponta, gaan aankla.

Dit plaas toenemende druk op die beleërde politikus om te bedank.

Ponta word van bedrog, belastingontduiking en geldwassery tussen 2007 en 2011 aangekla, nog voordat hy in 2012 eerste minister geword het. Die owerhede het op van Ponta se eiendom beslag gelê.

Ponta het Donderdag teruggekeer kantoor toe nadat hy vir ‘n maand ná ‘n knieoperasie in Turkye aangesterk het.

Hy het Sondag aangekondig dat hy uittree as hoof van die Sosiale Demokrate party terwyl hy homself teen die korrupsieklagte verdedig.

Hy het egter onderneem om as premier aan te bly.

Ebola woed voort in Afrika

Afrika se Ebola-probleem is nog steeds nie opgelos nie met rondom 30 mense wat weekliks besmet word, het die Verenigde Nasies se spesiale gesant vir die dodelike siekte, David Nabarro, Maandag gesê.

Onder normale omstandighede, sou so ‘n infeksietempo beskou word as “‘n groot, groot uitbraak,” het hy gesê.

“Waarskynlik ongeveer een derde van die mense kom nie van die kontaklys nie, wat beteken dat hulle onverwagse gevalle is, en dit is ‘n groot bekommernis,” het Nabarro gesê by ‘n konferensie gereël deur die Wêreldgesondheidsorganisasie in Kaapstad.

Die ergste aangetekende uitbreking van Ebola het reeds meer as 11 200 mense regoor Wes-Afrika se lewens geëis.

Infeksiekoerse is af van die hoogtepunt van die krisis. Maar Liberië berig dat ‘n 17-jaar-oue seun positief getoets het vir die virus op 30 Junie, byna twee maande na die land vry van Ebola verklaar is.

Liberië, die land wat die ergste onder die virus deurloop, is beskou as ‘n voorbeeld vir die naburige Guinee en Sierra Leone, wat ook sukkel om die verspreiding te stop.

Derde reddingsboei vir Grieke

Europese leiers het ‘n ooreenkoms met Griekeland bereik vir ‘n derde reddingsboei in ‘n poging om die land in die euro-gebied te hou.

Die nuwe maatreëls wat ingestel is kan egter lei tot die val die linksgesinde regering van Alexis Tsipras.

EU-leiers het eenparig besluit op ‘n Europese Stabiliseringsmeganisme vir Griekeland wat teen Woensdag sekere maatreëls deur sy parlement moet voer en duidelike tydsraamwerke vir hervormings moet voorlê.

Die ooreenkoms behels onder meer dat die Griekse parlement teen Woensdag hoër beslasting hef, pensioene verminder en nuwe indiensneming-wetgewing instel.

Eurosoneleiers het vroeër deur die nag in Brussel, België, beraadslaag in ‘n poging om ‘n kompromis te vind om te keer dat Griekeland se geldvoorraad opdroog.

Die Griekse regering is tot Woensdag tyd gegee om nuwe wetgewing deur te voer as voorwaarde vir verdere onderhandelinge oor ’n nuwe hulppakket wat die land nodig het.

Die noodberaad is ure lank onderbreek vir samesprekings tussen die Griekse eerste minister, Alexis Tsipras, die Duitse kanselier, Angela Merkel, Frankryk se president Francois Hollande en die president van die Europese Raad, Donald Tusk.

Tsipras het intussen met sy kabinet in Athene vergader om die nuwe besuinigingsmaatreëls te bespreek waaroor die Europese Unie ooreengekom het in ruil vir die reddingsboei.

Volgens berigte is ondersteuners van die Griekse premier woedend dat Griekeland die knie voor Duitsland se vereistes gebuig het.

Die ooreenkoms is met gemengde reaksie deur die res van die land begroet, met die staatsdienswerkersvakbond wat ‘n 24-uur staking afgekondig het.