Magsbalans in Midde-Ooste verander na Iran-ooreenkoms

Die kernooreenkoms wat dié week in Wene deur Iran en ses groot moondhede bereik is, sal waarskynlik die magsbalans in die Midde-Ooste verander.

Ná ‘n dekade van onderhandelinge wat met tye aan die gang was, maar telkens op ‘n dooie punt uitgeloop het, kon onderhandelaars van die Internasionale Atoomenergie-agentskap ‘n strategiese plan onderteken om lig op huidige en toekomstige uitstaande kwessies te werp.

Ingevolge die ooreenkoms sal sanksies opgeskort wat deur Amerika, die Europese Unie en die Verenigde Nasies teen Iran ingestel is. Dit is in ruil vir Irak se instemming tot langtermynbeperkinge op sy kernprogram.

Die ooreenkoms is ‘n groot politieke oorwinning vir sowel pres. Barack Obama van Amerika en Iran se pres. Hassan Rouhani, ‘n pragmatis wat twee jaar gelede verkies is met die belofte om Irak se diplomatieke isolasie te beëindig.

Albei presidente het te staan gekom voor skeptisisme tuis ná dekades van vyandigheid tussen die lande. Die lande het onder meer na mekaar as “die groot Satan” en “’n lid van die spil van boosheid” verwys.

Die finale ooreenkoms in Wene volg ná drie weke van intensiewe onderhandelinge tussen Amerika se minister van buitelandse sake, John Kerry, en Irak se minister van buitelandse sake, Mohammad Javad Zarif.

Westerse diplomate sê ingevolge die finale ooreenkoms het Iran ‘n “terugspring”-meganisme aanvaar waarvolgens sanksies binne 65 dae weer ingestel kan word indien Iran nie die ooreenkoms nakom nie.

‘n Wapen-embargo van die VN sal vir vyf jaar duur en die verbod op die aankoop van missieltegnologie sal vir agt jaar van krag wees.

Teenkanting teen die ooreenkoms van Washington se grootste bondgenoot in die Midde-Ooste, naamlik Israel, was uit die staanspoor te wagte.

“Hierdie ooreenkoms is ‘n geskiedkundige oorgawe deur die Weste aan die ‘spil van boosheid’ onder leiding van Iran,” het Israel se adjunkminister van buitelandse sake, Tzipi Hotovely, in ‘n boodskap op Twitter gesê. “Israel sal alles in sy vermoë doen om te verhoed dat die ooreenkoms bekragtig word.”

Die dramatiese verklaring deur Israel se premier Benjamin Netanyahu voor wêreldleiers in 2012 by die VN se Algemene Vergadering dat Iran binne ‘n jaar ‘n kernbom sal vervaardig, is egter weerspreek deur sy eie geheimediens.

Iran, P5+1 vergader oor kernooreenkoms

p5Samesprekinge vind tans plaas tussen Iran en die Veiligheidsraadlidlande Amerika, Brittanje, Rusland, Frankryk en China, plus Duitsland, kortweg bekend as die P5 + 1.

Iran en die P5 + 1 het Dinsdag in Wene, Oostenryk vergader om konflik oor Teheran se kernkragambisies te besleg.

’n Tussentydse ooreenkoms is in Januarie gesluit waarkragtens tydelike beperkinge op Iran se kernkragprogram geplaas is. ’n Finale ooreenkoms moet nog gesluit word.

Die VSA wil toesien dat Iran hul aantal uraanverrykingssentrifuges verminder van 10 000 na tussen 3000 en 4000.

Dit sal beteken dat indien Iran wel ’n kernoorlog wil voer, sy wetenskaplikes ses maande nodig sal hê om die nodige hoeveel uraan te vervaardig.

Iran sal ook versoek word om sy plutonium-aanleg by Arak te herontwerp om te verseker dat alternatiewe metodes in kernwapenvervaardiging nie beskikbaar is nie.

Iran het op sy beurt gevra dat alle sanksies opgehef word, wat sanksies op olie-uitvoere insluit. In Januarie is van die sanksies deels opgehef, maar die ergste olie- en ekonomiese sanksies is steeds in plek.

Met knelpunte in die samesprekings sal die huidige ooreenkoms heel moontlik met nog ses maande verleng word, indien die finale ooreenkoms nie in Junie bereik kan word nie.

Die opperleier van Iran, Ajatollah Ali Khamenei, het gesê alhoewel die samesprekings “na nêrens lei”, hy sal hou by die tussentydse ooreenkoms.

Hy het ook gesê dat hy die diplomasie van pres. Hassan Rouhani ondersteun.