Immigrante na Duitsland neem toe

Die aantal nuwe aankomelinge in Duitsland het volgens federale statistiek verlede jaar tot 10,9 miljoen mense toegeneem.

Verlede jaar het 6,4 miljoen mense van buitelandse afkoms in Duitsland gewoon. Dit is een uit elke vyf inwoners van die land. Die meeste, 56 persent, het Duitse burgerskap.

Duitsland het lank weerstand gebied teen die benaming “land van immigrasie” en het eers in 2005 statistiek oor migrante begin insamel.

In 2012 was Duitsland wêreldwyd die tweede gunsteling bestemming vir buitelanders, naas Amerika.

Die 2014-data toon die grootste toename in immigrasie het uit ander lidlande van die Europese Unie gekom. Pole, Roemenië, Italië, Bulgarye en Hongarye het die grootste aantal mense opgelewer wat hulle in Duitsland gevestig het.

Ondertussen is emosionele debatte aan die orde van die dag in Duitsland oor beplande wetgewing om die vloei van immigrante en asielsoekers te reguleer.

Duitsland hoop om hoogs gekwalifiseerde immigrante te lok, maar lok ‘n groot aantal mense wat van oorlog, vervolging en armoede vlug.

Die drastiese veranderinge het vanjaar gelei tot ‘n toename in behoudende, anti-multukulturele optogte.

Aanvalle op instellings wat skuiling aan asielsoekers bied, is ook aangeteken.

Vegvliegtuig stort neer op Siriese mark

Ten minste 27 mense is Maandag dood en talle beseer toe ’n vegvliegtuig van die Siriese weermag in ’n besige mark in die rebellevesting in die noordwestelike dorp, Arihe, neergestort het.

Die meeste oorledenes was burgerlikes. Die dorp in die Idlib-provinsie is in Mei deur ’n koalisie van Islamitiese insurgente ingeneem.

Die militêre vliegtuig het ’n bom in die hart van die sentrale stad afgegooi waar winkeleienaars besig was om vroegoggend hul winkels te open. Kort daarna het die vliegtuig in die middel van die markgebied neergestort.

Sondag het ’n missiel wat deur Siriese regeringsmagte afgevuur is, ’n burgerlike woonbuurt in die Sheikh Khodr-woonbuurt van Aleppo getref. Die stad was eens op ’n tyd Sirië se ekonomiese kern. Sedertdien is die stad byna in puin gelê deur gevegte en tussen regeringsbeheer in die weste en rebellebeheer in die ooste verdeel.

Gevegte tussen regeringsmagte en insurgente van die groep Jaish al Fateh, (weermag van verowering), wat Sirië se Al-Kaïda beweging, die Nusra Front insluit, het die afgelope tyd in intensiteit in die landelike Idlib-provinsie toegeneem.

Die val van Ariha het insurgente in beheer gelaat van die grootste deel van die Idlib-provinsie, wat aan Turkye grens.

Die meeste van die ryk landbougebied is egter sedertdien swaar deur die magte van pres. Bashar al-Assad gebombardeer in ’n teenoffensief om die gebied te herower.

Swaar lugaanvalle word ingespan om die insurgente se opmars in die berge van die Latakia-provinsie te stuit. Die insurgente beweeg al nader aan die kusgebied noord van die hoofstad, Damaskus, wat in regeringshande is.

Sirië se westelike flank, wat aan sowel die Middellandse See as Libanon grens, huisves Sirië se belangrikste stede, insluitend Damaskus.

Trump meer steun as volgende twee kandidate saam

Net dae voor die eerste Republikeinse presidensiële debat in Cleveland, Ohio, is kandidate en hul adviseurs raadop met Donald Trump. Die slimste strategie het nog nie gewerk om hul mededinger vas te vat nie.

Trump se verrassende uithouvermoë het selfs die mees gehardes in Washington sonder antwoorde gelaat.

Die grootste nuus is die toename in menings wat Trump in ‘n goeie lig beskou, met 52% wat gunstig reageer en slegs 35% wat ongunstig reageer.

Trump is gewild onder mans en vroue, jonk en oud, konserwatiewe Republikeine en liberale Republikeine, Tea Party Republikeine asook nie-Tea Party Republikeine.

Sy teenstanders in die media en in sy eie party het vroeër voortdurend sy hoë aantal ongunstige stemme uitgewys as ‘n teken dat sy potensiaal van ondersteuning te laag is vir hom om die Republikeinse nominasie wen.

Nadat hy egter die oorlogrekord van John McCain, die oorlogsugtige Arizonasenator wat meer as vyf jaar ‘n gevangene in Viëtnam was, verkleineer het, het sy veldtog spoed gekry.

Die miljardêr tel daagliks momentum op en nege ander Amerikaanse Republikeine wat hoop op die presidentskap, se kanse is besig om te taan.

Tien kandidate sal deelneem aan die Republikeine se eerste ­televisiedebat in Cleveland eerskomende Donderdag op Fox News. Die tien Republikeine het die hoogste persentasie steun in die vyf laaste peilings uit 16 kandidate behaal.

Trump sal na verwagting die debat van 90 minute oorheers met kaalkopwaarhede.

Volgens die jongste peilings bly Trump die voorloper met 26% van die steun onder Republikeinse kiesers, teenoor Scott Walker se 12% en Jeb Bush se 11%.

Walker en Bush saam het nie eens soveel steun soos Trump nie. Trump se steun het sedert Julie verdubbel, terwyl Bush se steun afgeneem het.

Merkel wil glo vir vierde termyn aanbly

Kanselier Angela Merkel, wat Duitsland sedert 2005 regeer, het besluit om vir ‘n vierde termyn te staan en het begin met die beplanning haar 2017-herverkiesingsveldtog het Der Spiegel berig.

Peter Tauber, sekretaris-generaal van Merkel se Christen-demokratiese (CDU) party en effektief ook haar veldtogbestuurder, wou nie kommentaar lewer toe hy gevra is oor die Reuters-berig nie.

“Dit is die somervakansieseisoen as jy nie opgemerk het nie,” het Tauber geantwoord op Twitter toe hy gevra is oor die berig.

Merkel, wat op 17 Julie 61 geword het, het nie kommentaar gelewer oor of sy vir ‘n vierde termyn sal staan nie. Sy is op stapvakansie in die Alpe.

Duitsland onder Merkel, lei Europa se grootste ekonomie. Sy was aan die spits deur 2008 se finansiële krisis en talle euro-sone storms.

Daar is geen termynbepalinge in Duitsland nie en die laaste CDU-kanselier, Helmut Kohl, het vir 16 jaar in sy pos gedien voordat hy vir ‘n vyfde termyn in 1998 deur Gerhard Schroeder van die Sosiale Demokrate (SPD) uitgeknikker is.

ISIS krap Novus orbis terranum om

Owerhede in sentraal-Asië se Sowjet “stans” – die vyf republieke van die voormalig Sowjetunie – doen drakoniese stappe om van militante Islam ontslae te raak, nadat Turkye se bedekte steun vir ISIS uitgebrei het.

Veiligheidsbeheer en ingryping kan die nodige stabiliteit verseker, aangesien onstabiliteit ‘n kenmerk geword het van sogenaamde demokratiese politieke prosesse wat onder Anglo-Amerikaanse invloed vastrapplek gekry het.

Oesbekistan het baarde en Islamitiese kleredrag verbied en restaurante gesluit wat weier om alkohol te verkoop.

Die streek se outokratiese regeerders voer die afgelope kwarteeu, sedert die Sowjetunie in duie gestort het, ’n stryd teen Islamitiese militante, maar die opkoms van die Islamitiese Staat (ISIS) het volgens veiligheidsdienste nou ’n groter en ernstiger gevaar meegebring.

Die jongste ontwikkelinge hou verband met ‘n Turkse gaspyplyn wat deur president Vladimir Poetin in die vooruitsig gestel is, asook die kernooreenkoms tussen Iran en Westerse moondhede.

Westerse energiebelange beskou Turkye se President Erdogan se aanvaarding van die gasroeteplan as ‘n direkte aanval op die globale strategie van die Verenigde State asook NAVO.

Hierdie pyplyn, as dit eendag ‘n werklikheid word, sal ‘n kontinentale kommunikasieroete oopmaak en dreig om Washington se heerskappy oor die res van die wêreld in te perk.

Dit sal toelaat dat Rusland die Oekraïense chaos systap en ‘n nederlaag van die Europese embargo beteken.

Op die 22ste Julie het President Barack Obama dus sy Turkse eweknie, Erdogan, geskakel en ‘n paar ernstige dreigemente gemaak.

Volgens inligting, het die Amerikaanse president verklaar dat hy ‘n ooreenkoms met die Britse premier David Cameron Turkye gesluit het om Turkye uit NAVO te skop – wat ‘n burgeroorlog en die verdeling van Turkye in twee state impliseer – tensy Turkye ophou met die gaspyplyn.

Die afgelope vyftien jaar, het George Friedman, die stigter van die private intelligensie maatskappy Stratfor, Westerse leiers oorreed dat BRICS geen belangrike rol sal speel in die 21ste eeu nie, maar ‘n Islamitiese Turkye wel. Friedman is ‘n oud-medewerker van Andrew Marshall, die Pentagonstrateeg tussen 1973 en 2015.

Vroeër, in 2001, het strateë van die Amerikaanse Departement van Verdediging ‘n hermodellering van die «Groter Midde-Ooste» voorgestel wat die verdeling van Turkye voorsien het met onder meer ‘n onafhanklike Koerdistan wat dié Koerde van Irak en Iran insluit.

Hierdie projek het veronderstel dat Turkye uit NAVO tree, maar het nie rekening gehou met ISIS nie.

Kolonel Ralph Peters het bovermelde plan in ‘n artikel in Parameters (2001), uitgestippel voordat hy in 2005 die kaart van die Novus orbis terranum in die streek gepubliseer het.

Turkye weier intussen dat die VSA lugaanvalle teen ISIS vanaf hul basis in Turkye loods.

Taliban swyg oor vermeende leier se dood

Die Taliban het hulself van vredesamesprekings met die Afgaanse regering gedistansieer, maar nie ’n woord gerep oor berigte dat hul leier, Mullah Omar, dood is nie.

Afganistan het Woensdag gesê Omar is twee jaar gelede in Pakistan dood.

Mullah Omar is nie in die openbaar gesien sedert die Amerikaans-geleide inval in Afganistan in 2001 begin het en uiteindelik die Taliban bewind in Kaboel omvergewerp het nie.

’n Woordvoerder van die Afgaanse nasionale direktoraat van veiligheid het gesê Omar is “onder raaiselagtige omstandighede” in ’n hospitaal in pakistan dood.

Gerugte van die geheimsinnige vegter se dood het in die verlede gereeld die rondte gedoen, het AFP berig.

Twee Duitse joernaliste van hoogverraad aangekla

Duitsland ondersoek ‘n saak van hoogverraad teen ‘n nuuswebtuiste wat volgens berigte berig het oor planne om staatsmeeluistering van aanlyn-kommunikasie te verskerp.

Volgens die Duitse media is dit die eerste keer in meer as 50 jaar wat joernaliste van hoogverraad beskuldig word.

Joernaliste Andre Meister en Markus Beckedahl is in kennis gestel van die ondersoek op 24 Julie.

Die meeste veroordeel die optrede en noem dit ‘n aanval op die vryheid van die media. Die Duitse Joernalistevereniging (DJV) eis dat die staat dadelik die klag terugtrek.

‘n Woordvoerder van die staatsaanklaer sê hulle stel ondersoek in na artikels wat op Netzpolitik-punt-org gepubliseer is.

Dit volg na ‘n klagte deur Duitsland se binnelandse intelligensie-agentskap. Die artikels is glo op geheime dokumente gegrond wat uitgelek is.

FBI kla ISIS-lid van bomkomplot aan

Die Amerikaanse Federale Buro van Ondersoek (FBI) het Harlem Suarez (23) van Key West, Florida, aangekla vir sy planne om ’n bom versteek in ’n rugsak te laat ontplof.

Hy is ’n selfverklaarde ondersteuner van die Islamitiese Staat (ISIS).

Suarez het onder die owerhede se aandag gekom nadat hy ekstremistiese boodskappe op Facebook gepubliseer het.

’n Gebruiker van die sosiale media het die polisie gekontak nadat Suarez na bewering probeer het om hom te werf om ISIS te ondersteun, het die FBI bekend gemaak.

“Ek gaan die rugsak doen,” het Suarez na bewering gesê met verwysing na ’n vorige bespreking om ’n bom in ’n rugsak te versteek en te laat ontplof.

Suarez het later ook iemand wat met die FBI saamwerk, betaal om ’n telefoonbeheerde bom vir hom te bou. Volgens die klagstaat het Suarez beplan om die bom op ’n strand te begrawe en dit van ’n afstand af te laat ontplof.

Volgens die FBI het Suarez op sy Facebook-blad gehou van die blaaie “jihadiste” en “buitengewone gebed vir ISIS”.
Suarez het ook ’n aanlyn bestelling vir ’n AK-47 masjiengeweer geplaas, sê die FBI.

Hongarye voltooi versperring teen migrante vinniger

Hongarye gaan die versperring wat hulle wil oprig teen die migrantestroom, vinniger voltooi.

Honderde migrante haal treine by onder meer die Gevgelija-stasie op die grens tussen Masedonië en Griekeland.

Hulle probeer om deur Masedonië en Serwië te reis en die Europese Unie via Hongarye binne te dring.

Some Hungarians speak English
Party Hongare praat blykbaar Engels

Hongarye­ het aangedui dat ’n draadversperring om migrante uit te hou by die land se suidelike grens met Serwië teen 31 Augustus voltooi sal wees, aansienlik vroeër as die November-sperdatum.

As ‘n poort na beide die EU en die Schengen-paspoortvrye sone, sukkel Hongarye tans met meer as 50.000 immigrante wat probeer om die grens oor te steek per jaar.

Obama sluit Afrika-besoek af met vermanings en kritiek

Pres. Barack Obama het Dinsdag weer ‘n woorde-aanval geloods teen Burundi se president.

Die toespraak het aan die einde van Obama se besoek aan Kenia, die geboorteland van sy pa, en Ethiopië gekom, het AFP berig.

Obama is die eerste Amerikaanse president in die geskiedenis wat die Afrika-unie (AU) kom toespreek het.

Albei lande is sleutel veiligheidsbondgenote van Amerika in die stryd teen terreur, maar Obama het sowel Kenia as Ethiopië oor kwessies soos demokrasie, menseregte en korrupsie uitgedaag.

“Afrika se demokratiese vooruitgang word in gevaar gestel deur leiers wat weier om uit te tree nadat hul termyne ten einde geloop het,” het Obama onder luide applous van sekere dele van die gehoor gesê.

“Niemand behoort lewenslank president te wees nie,” het hy gesê en verduidelik dat hy daarna uitsien om oor 18 maande die tuig neer te lê.

“Ek geniet my werk, maar ingevolge ons grondwet kan ek myself nie weer verkiesbaar stel nie. Ek dink dat ek ’n redelike goeie president is. Indien ek weer sou staan vir president kan ek wen, maar ek sal nie.”

“Ek verstaan nie hoekom mense so lank wil aanbly nie, veral as hulle genoeg geld het,” het hy gesê. Hy het ook gesê dat niks Afrika se ekonomiese potensiaal vinniger sou ontsluit as om “die kanker van korrupsie” uit te roei nie.

Obama het Burundi se pres. Pierre Nkurunziza, wie se geslaagde aanspraak op ’n derde termyn weke se onluste in die land ontketen het, uitgesonder as ’n voorbeeld van die gevare om in ’n pos aan te bly en die risiko vir “onstabiliteit en konflik” te loop.