Wrakstukke van Indoniese vliegtuig opgemerk

Wrakstukke is Maandag vanuit ’n Indonesiese soek- en reddingsvliegtuig in die Papoea-provinsie opgemerk wat vermoedelik dié is van ’n vliegtuig met 54 mense aan boord wat vroeër neergestort het, het Reuters berig.

Trigana Air Service se ATR 42-300-vliegtuig het Sondag vermis geraak. Dit is die jongste in ’n reeks lugrampe in Suidoos-Asië.

Yunus Wally, die plaaslike polisiehoof, het aan die Antara-nuusagent­skap gesê die wrakstukke, vermoedelik van die Trigana Air Service-vliegtuig, is by die Tankokberg in die dig beboste Bintangbergreeks gesien.

“Dit is waar bemanning van ’n soekvliegtuig die wrakstukke by die Oksop-waterval raakgesien het.”

’n Soek- en redding­span wat bestaan uit onder meer 266 Indonesiese soldate het gister gereed gemaak om na die gebied te gaan. Die soektog sluit ook 20 klien vliegtuie en helikopters in.

Dit sal egter moeilik wees om die lyke te vind, weens die uiterste terreintoestande by die ongelukstoneel wat in ‘n baie hoë en steil gebied geleë is. Boonop is die weerstoestande onvoorspelbaar met mis wat skielik in die koue, bergagtige dele kan voorkom.

Altesaam 44 volwasse passasiers, 5 kinders en babas en 5 bemanningslede was op die kortafstandvlug van die Sentani-lughawe in Jayapura, hoofstad van Papoea, na Oksibil.

Weens kommer oor veiligheidstandaarde is die lugdiens sedert 2007 op die Europese Unie (EU) se lys van verbode lugdienste. Dit was by 14 ernstige voorvalle betrokke sedert dit in 1991 sake begin doen het. Voor Sondag se lugramp is 10 van die lugdiens se vliegtuie afgeskryf.

Indonesië het ’n swak lugvaartveiligheidsrekord en het reeds twee groot lugrampe vanjaar beleef. Dit sluit in ’n vlug van AirAsia wat in die Java-see neergestort het. Al 162 mense aan boord het gesterf.

Die Indonesiese president het in Julie ’n hersiening van die land se lugmagvliegtuie belowe nadat meer as 100 mense dood is toe ’n militêre vrag­vliegtuig neergestort het.

Indonesië het pas sy 70ste onafhanklikheidvieringe gevier.

Dodetal na Bangkok-bom styg

Die dodetal in die bomontploffing by ‘n gewilde heilige tempel in die Thaise hoofstad, Bangkok het tot 27 gestyg.

Minstens 123 mense is beseer in die ontploffing wat naby ‘n gewilde Hindoe tempel voorgekom het.

Volgens berigte is verskeie buitelanders vanuit Asië, waaronder ook Chinese, in die ontploffing dood. Die tempel word daagliks deur duisende Boeddhiste en toeriste besoek.

Die bom was volgens berigte op ‘n motorfiets geplant en die ontloffing het ‘n krater van sowat twee meter wyd veroorsaak en tot grutonele gelei van menslike ledemate wat oral gesaai lê.

Nog ‘n bom op die toneel is onskadelik gestel.

Alhoewel dit nog nie bekend is wie vir die ontploffing verantwoordelik is nie, sê die owerhede dat hulle die aanvallers op geslotekringtelevisie opgemerk het.

Die eerste minister van Thailand, Prayuth Chan-ocha, het die ontploffing as die ergste voorval nog beskryf wat die land getref het.

Volgens die Thaise regering is dit duidelik dat die aanvallers die land se ekonomie, waarvan toerisme ‘n groot deel is, wou vernietig.

Die dodetal is intussen tot 20 aangepas, terwyl 125 mense beseer is. Die ontploffing was omstreeks sewe-uur plaaslike tyd by die Erawan-tempel wat ‘n bekende toeriste-aantreklikheid is.

Thailand word sedert Mei 2014 deur ‘n militêre junta regeer.

Thailand se drie suidelike provinsies is die tuiste van Moslem-separatiste wat in opstand teen die regering is, maar volgens die owerhede stem die metode wat die aanvallers gebruik het nie ooreen met die van seperatiste groepe in die suide van Thailand nie.

Sedert 2004, is meer as 6500 mense, die meeste van hulle burgerlikes, dood in geweld in die streek.

Grondwetkrisis dreig in Guinee-Bissau

Spanning, aangevuur deur klaarblyklike oor­vleuelende pligte in Guinee Bissau se semi-presidentstelsel, is sedert verkiesings verlede jaar tussen pres. Jose Mario Vaz en die eerste minister, Domingos Simoes Pereira, aan die oplaai.

Dié land lê suid van Senegal in Wes-Afrika.

Die ongemaklike omstandighede het begin kort ná die verkiesings wat burgerlike regering ná ’n staatsgreep in 2012 in die land herstel het.

Laat Woensdag het die bom gebars toe Vaz in ’n verklaring aangekondig het dat hy Pereira en sy kabinet met onmiddellike effek afdank. Vaz voer aan daar is ’n vertrouensbreuk tussen hom en die premier.

Geen onmiddellike reaksie is van Pereira of die regerende PAIGC-party, waaraan sowel Pereira as Vaz behoort, ontvang nie.

Pereira het vroeër aangedui dat PAIGC vanjaar ’n konvensie beplan om die spanningsvolle situasie te bespreek en ’n komitee sal aanstel om die grondwet te bestudeer en meer duidelikheid oor die twee leiers se verantwoordelikhede te vind.

Amerikaanse ontleders sê die jongste gebeure is maar net ’n voortsetting van ’n ou magstryd tussen die twee omdat daar nie ’n “duidelike skeiding van magte” is nie.

“Ongelukkig het mag­stryde in Guinee Bissau in die verlede nie ’n gelukkige einde gehad nie. Dit mag nou die tyd wees om na grondwetlike hervormings te kyk,” het die ontleder gesê.

Guinee Bissau het sedert 1980 nege staatsgrepe of pogings tot staatsgrepe beleef. Die afgelope jare het die land ook ’n sleutel deurgangsroete vir kokaïen van Suid-Amerika na Europa geword.

Amerikaanse owerhede sê senior weermagpersoneel speel ’n belangrike rol in die smokkelary.

Turkye gebruik ISIS as verskoning om Koerde aan te val

Vegvliegtuie het Maandag en Dinsdag 17 Koerdiese teikens in die Hakkari-provinsie aangeval as deel van ’n hernude aanslag op die verbanne Koerdiese Werkersparty (PKK).

Reuters berig dat die gewapende stryd reeds vir drie dekades teen Koerdiese selfbeskikking duur.

Turkye, wat ’n lidland van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is, het verlede maand met ’n sogenaamde “gesinchroniseerde oorlog teen terreur” begin en PKK-vegters in die noorde van Irak en militante van die Islamitiese Staat (ISIS) in die noorde van Sirië begin aanval.

Ontleders meen die Turke gebruik ISIS as ‘n verskoning om van Koerde ontslae te raak wat na onafhanklikheid streef.

Deur hoofsaaklik op die PKK in sowel naburige Irak as tuis te fokus, het Ankara die vermoede onder Koerde verder laat toeneem dat die ware agenda eerder is om Koerdiese territoriale ambisies te fnuik, as om die geharde Islamiete te verslaan.

Die Koerde het met geweld weerwraak geneem. Die PKK het Dinsdag aanspreeklikheid aanvaar vir die bomaanval Maandag op ’n polisiekantoor in Istanboel waarin vier mense dood is. Drie van die oorledenes was aanvallers gewees.

Die bomaanval was een van ’n golf aanvalle op Turkse veiligheidsmagte wat reeds die lewe van nege mense geëis het.

Die lugaanvalle in Hakkari volg na operasies Sondag in die oostelike Agri-provinsie waarin sewe PKK-militante dood is.

In gevegte op die grond, het die PKK ’n militêre basis in Sirnak, ’n provinsie aanliggend aan Hakkari, aangeval.

Een soldaat is dood in ’n geveg wat 20 minute geduur het.

Onluste nadat migrante in stadion toegesluit word

Polisiemanne op die Griekse eiland Kos het probeer om honderde migrante te beheer, deur hulle met brandblussers te spuit en met knuppels te slaan nadat onluste uitgebreek het.

Die polisie het migrante met knuppels geslaan om ’n stormloop te voorkom, ’n dag nadat ’n Griekse beampte verfilm is waar hy ’n migrant klap.

Die voorval het plaasgevind toe migrante na ’n plaaslike voetbalstadion geneem is, nadat hulle vir weke langs paaie en op die eiland se strande gekampeer het.

Honderde migrante stroom daagliks na die eiland.

George Kiritsis, die burgemeester van Kos, het Donderdag erken op ‘n nuuskonferensie dat daar onrus uitgebreek het, maar ontken dat die aankomelinge doelbewus toegesluit is in die stadion. Migrante beweer die onluste het uitgebreek omdat hulle gevange geneem is in die stadion.

Hulpverleners skat dat daar 6000 tot 7000 vlugtelinge en immigrante uit lande soos Sirië tans op Kos is, die ekwivalent van sowat 20 persent van die eiland se bevolking.

Die meeste van hulle het die kort reis uit Turkye onderneem. Die Turkse kuslyn is duidelik sigbaar van die Griekse hawe. Die vreemdelinge bereik die EU dmv rubberbote in die middel van die nag.

Hulle wil na Swede en Nederland gaan waar hulle van voornemens is om van uitkerings te lewe. “Ek hou baie van Frankryk,” het een gesê in gebroke Frans. “Maar ek dink dat hulle nie Siriërs toelaat nie.”

Britse regering pas instromingsbeheer toe terwyl kritiek van ‘ rassisme’ woed

Die Britse regering is besig om naarstiglik instromingsbeheer teen nie-blanke immigrante toe te pas terwyl kritici hom van “rassisme”  beskuldig. Die eerste minister, David Cameron, het reeds verskeie kere neerhalend na voornemende immigrante wat die Mou by Calais probeer oorsteek as “swerms” verwys. Die Verenigde Koninkryk se hoofdiplomaat, die minister van buitelandse sake Philip Hammond, het die “plunderede swerwers” wat die land wil binnekom daarvan beskuldig dat hulle Brittanje en Europa se “lewenstandaard bedreig”.

In ‘n onderhoud met die BBC het Hammond gesê:

“Europa kan hom nie beskerm en sy lewenstandaard en maatskaplike struktuur handhaaf indien dit miljoene instromers uit Afrika moet opneem nie.”

Volgens die Guardian-koerant, die Britse Vlugtelingeraad (Refugee Council) een van die eerstes om mnr. David Cameron op Twitter te kritiseer:

Dié organisasie se woordvoerder, Dr Lisa Doyle, sê:

“Dis besonder teleurstellend om te hoor hoe die eerste minister sulke onverantwoordelike, verontmenslikende taal te gebruik om die desperate mans, vroue en kinders te beskryf wat vir hul lewens oor die Middellandse See vlug.

“Dié soort retoriek is uiters plofbaar en kom op ‘n tydstip waartydens die regering daarop behoort te fokus om saam met sy Europese eweknieë te werk om kalm en simpatiek op dié aaklike humanitêre krisis te reageer.”

Franse gendarmes keer 'n vlugteling uit Afrika op die Eurotunnel-terrein by Calais aan
Franse gendarmes keer ‘n vlugteling uit Afrika op die Eurotunnel-terrein by Calais aan

Linkse en liberale webblaaie het sowel die Britse eerste minister as sy buitelandse minister van “rassisme” beskuldig en dat hulle die Britse Wet op rassebetrekking van 1976 oortree.

Aanslag teen Al-Sjabaab verskerp

‘n Gesamentlike aanslag van die Somaliese weermag en magte van die Afrika-Unie is op die Al-Sjabaab-vesting, Kismayo, toegespits.

Die terreurgroep verdien glo aansienlike bedrae uit heffings en belastings omdat hulle die hawe van Kismayo beheer.

Regeringsamptenare het die week gesê die gesamentlike magte is besig om verdere druk op die Al-Sjabaab- vesting toe te pas.

Duisende burgerlikes het gevlug voor die verwagte aanslag. Keniaanse troepe, wat deel uitmaak van die 17 000 vegters van Afrika-Uniemag, veg sy aan sy met Somaliese milisiegroepe, wat teen Al-Sjabaab met sy noue bande met Al-Kaïda gekant is.

Die groep is nou ongeveer 40 kilometer van die suidelike Somaliese hawestad.

Beheer van Somalië, gebuk gegaan het onder meer as twee dekades van burgeroorlog, is van kardinale belang om sekere buitelandse beleggers tevrede te stel en die ekonomie ‘n hupstoot te gee.

Olie- en gasontginning kan teen 2020 afskop nadat Shell, Exxon en BP aangedui het dat hul eksplorasiewerk suksesvol afgehandel is, volgens President Hassan Sheikh Mohamed.

Die konflik het reeds troepe vanuit lande soos Ethiopië, Kenia, Uganda, en Burundi ingetrek.

Al-Sjabaab word vermoedelik deur Eritrië befonds wat Ethiopië se magsposisie in die streek wil inperk.

Libië beloof ondersoek na tronkmarteling

Die minister van justisie in die Tripoli-regering, Mustafa al-Kulaib, het Maandag die gevangenis in Tripoli besoek waar die seun van oudleier Moeammar Ghaddafi aangehou word.

Die besoek volg nadat ’n menseregte-organisasie ’n ondersoek oor die mishandeling van gevangenes in die Al-Hadba-gevangenis aangevra het, het AFP berig.

Die versoek spruit uit ’n ongedateerde video wat vroeër die maand op ’n Arabiese webtuiste gepubliseer is, waarin gesien kan word hoe tronkbewaarders gevangenes, insluitende Saadi Ghaddafi, aanrand.

Al-Hadba is onder die beheer van die Fajr Libya-milisiekoalisie wat verlede jaar Tripoli ingeneem het en die internasionaal erkende regering, waarvan die hoofkwartier in die ooste van die land is, teenstaan.

Kulaib het gesê hy veroordeel die swak behandeling van gevangenes, maar het bygevoeg dat slegs “geïsoleerde voorvalle” plaasgevind het waarna ondersoek ingestel sal word.

Kulaib het Saadi, Ghaddafi se derde oudste seun, en Ghaddafi se laaste eerste minister, Al-Baghdadi al-Mahmoedi, tydens die besoek ontmoet.

In Julie het ’n hof nog ’n seun van Ghaddafi, sy sogenaamde troonopvolger, Seif al-Islam, en agt ander van sy volgelinge, insluitende Mahmoedi, ter dood veroordeel vir misdade wat tydens die 2011-opstand begaan is.

Seif al-Islam, wat ook deur die internasionale strafhof gesoek word, is in absentia verhoor omdat hy aangehou word deur ’n milisiegroep wat die owerhede in Tripoli teenstaan.

Sy broer Saadi is in Maart 2014 deur Niger uitgelewer, waar hy toevlug ná die 2011-opstand gesoek het.

Drie van Ghaddafi se sewe seuns is in die opstand dood. Ghaddafi self is in Oktober 2011 deur pro-Amerikaanse rebelle gevang en doodgemaak.

Sedert die opstand is Libië in chaos gedompel. Die land het nou twee parlemente en twee regerings wat om mag meeding en ’n horde gewapende groepe wat veg om beheer oor die land se ryk oliebronne te kry.

Jeb Bush kla dat Hillary nie oorlogsugtig genoeg is nie

Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, sê “hernude Amerikaanse leierskap” is in die Midde-Ooste nodig om die militante Islamitiese Staat-groep (ISIS) en ’n ideologie wat die “fokus van boosheid in die moderne wêreld is”, te verslaan.

“Die bedreiging van ’n globale jihad en ISIS in die besonder, vereis al die krag, eenheid en selfvertroue wat net Amerikaanse leierskap kan bied,” het Bush gesê. Hy het in Simi Valley, Kalifornië, opgetree.

“ISIS het gegroei terwyl Amerika belangstelling in die Midde-Ooste verloor het en die bedreiging geïgnoreer het. Waar was die minister van buitelandse sake, Clinton, toe dit gebeur het?” het Bush gevra.

Hy sê Clinton het “rondgestaan” toe die harde oorwinning deur Amerikaners en hul bondgenote “weggegooi” is. “In al haar rekordaantal buitelandse reise het sy presies een keer in Irak gestop.”

Amerikaanse troepe het Irak in Desember 2011 verlaat ingevolge ’n 2008 veiligheidsooreenkoms met oudpresident George W. Bush. Albei kante wou graag sien dat etlike duisende Amerikaanse troepe ná die sperdatum in Irak moes aanbly om ’n demper op spanning onder Islamitiese sektes te plaas.

Die Irakse regering het egter geweier dat Amerikaanse magte in die land aanbly nadat pres. Barack Obama se administrasie op “geregtelike immuniteit” aangedring het om die magte te beskerm.

Obama, wie se veldtog om die president­skap grootliks gevoer is op die beëindiging van die oorlog in Irak, het die geleentheid aangegryp om Amerikaanse magte aan Irak te onttrek.

“Dit was ’n geval van dodelike haas om te onttrek en om die tragiese gevolge iemand anders se probleem te maak,” het Bush gesê. “Om weg te vlug van gevaar is net so onwys as om in gevaar in te storm. Die koste is ewe groot,” het hy bygevoeg.

Honderde veevrektes na droogte Ethiopië tref

Seisoenale reën het vanjaar nie in sommige dele van Ethiopië geval nie en die dood van groot getalle vee en ander diere veroorsaak.

Die regering sê nog nie dat dele van die noorde, noordooste en ooste van Ethiopië droogtegeteister is nie, maar die impak het reeds sy tol geëis.

‘n Ooggetuie het aan AP gesê hy het honderde dooie beeste langs die pad tussen Addis Abeba en die hoofstad van die Afar-streek, Semera, gesien. Hy het ook dosyne vragmotors opgemerk wat noodvoedselhulp afgelewer het.

Die regering is besig om voedsel op te gaar, ten einde tekorte later af te weer.

Landbou, wat van reën afhanklik is, is ‘n primêre bydraende faktor tot Ethiopië se ekonomie en dra byna 45 persent tot die land se bruto binnelandse produk by en verskaf werk aan 85 persent van die bevolking.

Die land is tussen 1983 en 1985 ook deur droogte getref wat die dood van byna ‘n halfmiljoen mense tot gevolg gehad het.

Alhoewel die sterftes aan droogte toegeskryf is, is die ramp hoofsaaklik veroorsaak deur ‘n “transformasieprogram” deur Marxiste.