Washington begin vuurmaak onder Kartoem

Pres. Barack Obama het Amerika se sanksies teen Soedan met nog ‘n jaar verleng en sê Kartoem se beleidsrigtings bly ‘n “buitengewone bedreiging” vir die nasionale veiligheid van Amerika.

Soedan is sedert 1997 onderworpe aan ‘n Amerikaanse handelsembargo vir steun aan Islamitiese groepe. Al-Kaïda­ se leier, Osama bin Laden, was vanaf 1992 tot 1996 in Kartoem gestasioneer.

In onlangse jare is die Soedanese regering se verskroeide aarde taktieke teen etniese minderheidsrebelle in Darfoer as rede aangevoer waarom die sanksies nie opgehef is nie.

Obama het Maandag opdrag gegee dat die sanksies vir nog ‘n jaar vanaf 3 November verleng word.

“Die optrede en beleid van die regering van Soedan gaan voort om ‘n buitengewone bedreiging vir die nasionale sekuriteit en buitelandse beleid van Amerika te wees,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Daar was bespiegelinge dat die sankies moontlik opgehef kon word, ná herhaalde besoeke die afgelope maande aan Kartoem deur Amerika se spesiale gesant, Donald Booth.

In ‘n afsonderlike verklaring deur die Amerikaanse ambassade in Kartoem, word gesê die sankies is bloot tegnies van aard en dat dit steeds verlig kan word.

Dit was “deel van ‘n roetine, jaarlikse proses wat nie die vermoë van die president om sanksies op enige tydstip in die toekoms te verlig, in die gedrang bring nie,” lui die verklaring deur die ambassade.

Amerika, wat Soedan sedert 1993 op ‘n swartlys as borg van terrorisme het, is van voorneme om voort te gaan met sy beleid van betrokkenheid, voeg die ambassade by.

Washington was ‘n sleutelrolspeler in die vredesooreenkomste wat in 2011 tot Suid-Soedan se onafhanklikwording gelei het en daar was destyds sprake dat Soedan, as beloning, van die swartlys verwyder sou word.

Die Darfoer-konflik vertroebel egter steeds betrekkinge.

Pres. Omar al-Bashir word deur die Internasionale Geregshof gesoek op klagte van oorlogmisdade en volksmoord, wat met die konflik verband hou. Hy ontken die klagte.

In September verlede jaar het Washington geweier om ‘n visum aan Basjier uit te reik om die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) by te woon en as verduideliking die Internasionale Geregshof se dagvaarding aangevoer.

Die VN sê minstens 300 000 mense is dood en meer as 2,5 miljoen is haweloos gelaat sedert die Darfoer-konflik in 2003 uitgebreek het. 

Suid-Korea se Raspoetin-agtige figuur aangehou

Die vrou in die middel van ‘n politieke skandaal wat die Suid-Koreaanse presidensie in ‘n krisis gedompel het, is laat Maandagaand in hegtenis geneem, het die Yonhap nuusagentskap berig.

Dit was enkele ure nadat sy by die kantoor van die plaaslike staatsaanklaer vir ondervraging aangemeld het.

Aanklaers ondersoek bewerings dat Choi Soon-sil haar vriendskap met pres. Park Geun-hye misbruik het om staatsaangeleenthede te beïnvloed.

Sy het toegang tot geklassifiseerde dokumente verkry en persoonlike voordeel getrek deur niewinsgewende stigtings, het ‘n woordvoerder van die kantoor van die staatsaanklaer vroeër gesê.

Choi is ‘n vriend en informele adviseur van Suid-Koreaanse sepresident en sy is al beskryf as ‘n Rasputin-agtige karakter na aan die leier.

Duisende het oor die naweek die strate van die hoofstad Seoel ingevaar en geëis dat Park die tuig neerlê.

NY Opera ontruim na man as strooi

Die Metropolitaanse Operahuis in New York het Saterdag sy uitvoering van Rossini se Guillaume Tell inderhaas afgestel nadat ‘n man glo sy mentor se as in die orkesput gestrooi het.

Daar is eers gemeen dat dit ‘n terreuraanval kon wees.

Die polisie in New York sê getuies in die gehoor het ‘n man hoor sê sê hy is by die opera om die as van sy mentor te strooi. Die man het dit glo tydens die tweede pouse gedoen.

John Miller, adjunkkommissaris van die departement van intelligensie en antiterrorisme sê dit kan die oorblyfsels van ‘n mens wees, maar dit moet nog ontleed word.

Die operahuis het op sy Facebook-blad gesê Saterdagaand se uitvoering van Rossini se L’Italiana in Algeri is ook gekanselleer sodat die polisie die voorval kan ondersoek.

Geen beserings of skadelike reaksies is weens die “onbekende middel” aangemeld nie. Die teater is ontruim en die polisie het ‘n spesiale eenheid ontplooi om die voorval te ondersoek.

Die onbekende verdagte het van die toneel gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Operaliefhebbers het die opvoering van Tell wat herleef dié seisoen na meer as 80 jaar van verwaarlosing, se half-hartige kwasi-modernistiese stelkleding deur Pierre Audi, glo nie waardeer nie en harde applous kon gehoor word toe

Ban Ki-Moon soebat by Zuma oor Strafhof

Teenkanting teen die Internasionale Strafhof het duideliker geword tydens ‘n debat oor die Strafhof se jaarverslag wat in die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gelewer is.

Suid-Afrika het nie aan die debat deelgeneem nie. Die VN-sekretaris-generaal, Ban Ki-Moon het President Jacob Zuma die naweek in ‘n telefoniese gesprek probeer oorreed om die besluit te heroorweeg.

Talle Afrika-lande het hulle tydens die ope debat teen lande in Europa, Asië en Latyns-Amerika uitgespreek, maar ander het hul voortgesette steun toegesê aan die Strafhof.

Sommige lande het ook hul teleurstelling uitgespreek oor Suid-Afrika en ander lande se aankondiging dat hulle hul aan die Statuut van Rome gaan onttrek, terwyl die Strafhof Kenia en Burundi die skerpste veroordeel het.

Maar druk bou vir Afrika-state om die wêreld se enigste permanente oorlogstribunaal te verlaat, maar die hof sê hulle sal voortgaan.

“Selfs as die helfte van die Afrika-lande die hof verlaat, sou dit baie jammer en skadelik vir die konsep van internasionale reg wees, maar dit sal nie die einde van die hof wees nie,” het een IS amptenaar wat anoniem wou bly, aan Reuters nuusagentskap gesê.

“Dit is duidelik die IS nie regverdig is nie,” het die Keniaanse akstivis Ngujiri Wambugu in sy rubriek vir die Jamaica Observer geskryf en gevra waarom die voormalige Amerikaanse president George W. Bush en oud-Britse premier Tony Blair nog nie aangekla is vir die inval in Irak nie.

Uganda se president Yoweri Museveni het die hof beskryf as ‘n “klomp nuttelose mense” by sy inhuldiging in Julie, en is reeds besig om druk toe te pas om met die volgende AU-beraad in Januarie ‘n Afrika-uittog te bewerkstellig.

“Die IS verdien wat nou gebeur,” sê Okello Oryem, Uganda se junior minister van buitelandse sake.

Die mees kommerwekkende vir die IS, is bewerings van rassistiese vooroordeel en “neo-kolonialisme”. Byna elke Afrikaland het ingekoop by dié besware.

Brittanje se oorlogsonderrok hang ver uit

Rusland het NAVO se opbou aan sy grens gekritiseer en gesê dit sal geensins bydra om noordelike Europa veiliger te maak nie.

Die Britse sekretaris van Verdediging, Sir Michael Fallon het by NAVO se hoofkwartier in Brussel verklaar: “Dit is Brittanje wat NAVO wil versterk met die ekstra gerusstelling wat ons in staat is om aan te bied.

“Hoewel ons die Europese Unie verlaat het, sal ons baie meer doen om die oostelike en suidelike flanke van NAVO te help verseker.”

‘n MoD woordvoerder het bygevoeg: “Die Verenigde Koninkryk verhoog sy pakket van maatreëls om sy bondgenote in Europa te ondersteun, ten spyte van ‘n meer selfgeldende Rusland.”

Soveel as ses NAVO-lande is glo bereid om magte na die Swartsee-gebied te stuur in 2017, sê NAVO se sekretaris-generaal Jens Stoltenberg.

Hy het gesê Kanada, Duitsland, Nederland, Pole, Turkye, en die VSA het hul planne om eenhede te stuur na Roemenië vir ‘n versterking van NAVO in die Swartsee-gebied bevestig.

Sewentien NAVO-lidlande sal hul militêre magte aan die vier multinasionale bataljonne afstaan, wat die Noord-Atlantiese Verdrag sal ontplooi in Oos-Europa aan die begin van 2017.

Noorweë het Maandag aangekondig dat meer as 300 Amerikaanse seesoldate op ‘n rotasie-grondslag digby die Russiese grens gestasioneer sal word. Vanaf Januarie 2017 sal hulle met opleiding en maneuvers besig wees.

Die Amerikaanse soldate sal by die Vaernes-lughawe naby Trondheim ge­stasioneer wees.

Die aankondiging kom teen die agtergrond van Brittanje se insinking na Brexit. Die VK probeer tans om lewe te blaas in NAVO deur konflik met Rusland aan te blaas. Hulle gebruik die Oekraïne en Sirië as verskonings.

Al geniet Noorweë goeie betrekkinge met sy buurland Rusland, het die Noord-­Atlantiese Verdragsorganisasie bondgenote­ gevra om by te dra tot die grootste militêre opbou op Rusland se grense sedert die Koue Oorlog.

NAVO beplan ‘n uitgerekte stryd teen Moskou.

Frankryk, Denemarke, Italië en ander bondgenote sal na verwagting aansluit by die vier gevegsgroepe wat deur Amerika, Duitsland, Brittanje en Kanada gelei word en in Pole, Litaue, Estland en Letland ontplooi sal word.

Volgens Russiese bronne sal die NAVO-magte ook gekonsentreer word in die omgewing van Kaliningrad, ‘n Russiese enklawe tussen Pole en Litaue.

Nog ‘n bron het gesê Russiese skepe bewapen met Kalibr langafstandkruismissiele is na die enklawe gestuur. “Die vloot se potensiaal fokus en sal aansienlik uitgebrei word in die Noord-Europese militêre teater,” het die bron gesê aan Interfax.

Rusland is bewus daarvan dat NAVO hul energiebronne wil kaap en ‘n verskoning soek om dit te doen.

Daarbenewens raak die VSA se penarie in Sirië al hoe groter. NAVO het ook aangedring dat Rusland aanvalle op Sirië se Aleppo staak, het NAVO se sekretaris-generaal Stoltenberg Woensdag by sy aankoms die ministeriële vergadering van die alliansie gesê.

“Rusland het die reg om in internasionale waters te wees. […] Die ding wat anders is hierdie keer, is dat ons bekommerd is oor die moontlikheid dat die Kuznetsov gebruik kan word as ‘n platform vir meer aanvalle op Aleppo en Sirië, en sodoende die humanitêre katastrofe wat ons reeds sien in Aleppo en Sirië te vererger,” hy het gesê.

Die Obama-administrasie probeer hul “rebelle”, eintlik terroriste, in Sirië red nadat Rusland se skietstaking wat hulle die geleentheid gegee het om oor te gee, misluk het.

Twee kragtige aardbewings tref Italië

Twee kragtige aardbewings het sentraal-Italië twee ure uit mekaar getref.

Alhoewel honderde mense in Augustus in dieselfde gebied in ‘n aardbewing dood is, is daar nog geen verslae van ongevalle ontvang nie.

Albei die jongste aardbewings was oos van die stad Perugia. Die Amerikaanse Geologiese Instituut sê die eerste aardbewing was 5,5 en die tweede 6,1. Albei se episentrum was naby die dorpie Visso.

Volgens berigte is die dorp Ussita die ergste getref.

‘n Kragtige aardbewing het die dorp Amatrice in dieselfde streek in Augustus getref waartydens 300 mense dood en groot skade aangerig is. Amatrice is sowat 70 kilometer vanaf Visso.

Die twee sterk aardbewings in die sentrale deel van Italië Woensdagaand, het “apokaliptiese” skade veroorsaak volgens berigte.

Maar ‘n uur na die skuddings, was daar nog geen berigte van ernstige beserings of tekens van mense wat vasgevang word in puin nie, sê die hoof van Italië se burgerlike beskermingsagentskap, Fabrizio Curcio.

‘n Handjievol mense is behandel vir geringe beserings of angs by hospitale en ‘n 73-jarige man is dood aan ‘n hartaanval, moontlik veroorsaak deur skok weens die aardbewing, het plaaslike owerhede aan die ANSA-nuusagentskap gesê.

Al Sjabaab van AU-basis aan

‘n Selfmoordbomaanvaller van Al Sjabaab het met ‘n voertuig vol plofstof gister ‘n militêre basis van die Afrika-unie in sentraal Somalië binnegejaag.

Volgens veiligheidswoordvoerders is die ontploffing deur swaar geweervuur gevolg. Die voorval het by die Djiboetiese basis in die stad Beledweyne plaasgevind.

Al Sjabaab, met bande aan Al Kaïda, het via sy Radio Andalus mediaorganisasie, aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar en sê “baie soldate is dood en beseer”.

Al Sjabaab veg om die internasionaal-erkende regering in Mogadisjoe omver te werp en val gereeld basisse van Amisom, die AU-sending in Somalië, aan.

In onlangse weke het Ethiopiese troepe wat in ‘n nabygeleë gebied ontplooi is, sonder enige verduideliking aan hul posisies onttrek. Ná die onttrekking het Al Sjabaab-vegters die dorpe opnuut beset.

Vier dood in Australiese pretpark-rit

Twee vrouens en twee mans is gister by ‘n vermaaklikheidspark aan Australië se gewilde Gold Coast dood.

Ooggetuies het beskryf hoe mense geskree het toe ‘n vaartuig op een van die waterritte omgeslaan het.

Queensland se polisie sê die vier slagoffers is op die “Thunder River Rapids”-rit by die Dreamworld park dood.

Australië se eerste minister, Malcolm Turnbull, het sy meegevoel aan hul families getuig en gesê hulle is in sy gebede oor die “baie, baie hartseer en tragiese gebeurtenis”.

Verhoor begin van Britse bankier oor grumoorde in Hongkong

Video’s wat ‘n Britse bankier gemaak het van die marteling en gewelddadige dood van twee Indonesiese vroue wat hy na bewering vermoor het, sal vir ‘n jurie vertoon word.

‘n Regter het Maandag in ‘n hof in Hongkong gelas dat die jurie daarna kyk nadat Rurik Jutting se verhoor begin het.

Jutting het vir Bank of ­America Corp gewerk.

Jutting (31), wat aan die Universiteit van Cambridge gestudeer en skoolgegaan het aan Winchester College, een van die prestige­rykste private skole in Brittanje,­ ontken skuld op klagte van moord op grond van verminderde aanspreeklikheid.

Hy beken skuld op klagte van manslag.

Hy is twee jaar gelede in hegtenis geneem nadat twee lyke in sy luukse woonstel gevind is.

Jutting het verskeie opnames van die moord gemaak. In een kan gesien word hoe die eerste slagoffer doodgemaak word en in ‘n ander praat hy oor sy planne vir die tweede slagoffer, lui die klagstaat.

Die polisie het die lyke van Sumarti Ningsih (23) en Seneng Mujiasih (26) in Oktober 2014 in sy woonstel gevind. Albei se kele was afgesny.

Lees verder.

Franse breek ‘Oerwoud’ af

Frankryk het gister begin om die sogenaamde “Oerwoud” migrante-kamp by die noordelike stad Calais te ontruim voordat dit opgebreek sal word.

Die migrante word nou na ontvangsentrums elders in Frankryk geneem.

Die kamp bestaan uit ‘n versameling tente en skuilings en staan op ‘n winderige moddervlakte naby Calais. Die kamp is ‘n trekpleister vir migrante wat probeer om die kanaal na Brittanje oor te steek.

Die 6 000 tot 8 000 inwoners van die kamp is hoofsaaklik Afgane, Irakese, Eritreërs en Soedanese.

Daar is gevrees dat geweld sou uitbreek oor die gedwonge verskuiwing, maar die eerste dag het glo ordelik verloop.

Die Franse owerhede is gretig om van die oogseer en kriminele nes ontslae te raak voor die verkiesing volgende jaar, maar die dorpies wat die uitlanders moet huisves is woedend en talle betogings teen die asielsoekers is reeds gehou.

Berigte van asielsoekers wat motoriste aanrand en hul motors kaap is reeds verskeie kere aangemeld.