Die vrou in die middel van ‘n politieke skandaal wat die Suid-Koreaanse presidensie in ‘n krisis gedompel het, is laat Maandagaand in hegtenis geneem, het die Yonhap nuusagentskap berig.
Dit was enkele ure nadat sy by die kantoor van die plaaslike staatsaanklaer vir ondervraging aangemeld het.
Aanklaers ondersoek bewerings dat Choi Soon-sil haar vriendskap met pres. Park Geun-hye misbruik het om staatsaangeleenthede te beïnvloed.
Sy het toegang tot geklassifiseerde dokumente verkry en persoonlike voordeel getrek deur niewinsgewende stigtings, het ‘n woordvoerder van die kantoor van die staatsaanklaer vroeër gesê.
Choi is ‘n vriend en informele adviseur van Suid-Koreaanse sepresident en sy is al beskryf as ‘n Rasputin-agtige karakter na aan die leier.
Duisende het oor die naweek die strate van die hoofstad Seoel ingevaar en geëis dat Park die tuig neerlê.
