Die twee studente van die Universiteit van die Vrystaat wat reeds deur die hoofstroommedia, asook die rektor Jonathan Jansen, aan ‘n “rassistiese poging tot moord” verhoor en skuldig bevind is, is vanoggend in die Bloemfonteinse landdroshof onskuldig.
Die twee studente, Cobus Muller en Charl Blom, is daarvan aangekla dat hulle op 17 Februarie 2014 vir Damane Muzi Gwebu (21) op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangerand en dat Muller hom probeer doodry het. Streeklanddros Rasheed Matthews het hulle egter geheel en onskuldig bevind.
Die twee Kovsies het agterna gesê dat hulle “verheug” is oor die uitspraak, maar wou hulle nie uitlaat oor die moontlikheid om ‘n eis teen die UV in te dien nie. Hulle is intussen deur die universiteit geskors en verbied om hul “voete op die kampus te sit”.
Van hule studentevriende van die Armentumkoshuis het hulle vandag in groot getalle kom ondersteun.
Die twee studente is deur ‘n groot groep van hul Armentum-koshuisvriende ondersteun.
Hier is net ‘n klein gedeelte van die mediaberigte wat die onskuldige studente erg benadeel het en wat glad nie die sub judice-reël gehoorsaam het nie.
Die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, se voorstelle by die grondberaad dat daar ‘n beletsel geplaas moet word op die hoeveelheid grond wat landbouers mag besit, is sy eie idee, het City Press berig.
Daar is dus nog geen duidelikheid oor die minister se voorstel dat landbouers 50% van hul grond aan hul swart plaaswerkers moet afstaan nie. Boonop is die riglyne wat Nkwinti stel onuitvoerbaar.
City Press het berig dat die oordrag van wit eienaarskap na swart arbeiders die minister se eie voorstel is en dat hy nie goedkeuring van enige van die ANC-strukture of regeringstrukture gehad het om met so ʼn voorstel vorendag te kom nie.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se hoofstuk ses bevat daarbenewens heeltemal ander voorstelle vir grondhervorming op distriksvlak.
Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het die NOP-voorstelle vroeër aan kommersiële landbouers voorgehou, wat verskil van die Nkwinti-planne.
Daar is voorts nog geen duidelikheid oor wat presies die nuwe onteieningswet behels wat deur die kabinet goedgekeur is nie.
Intussen het adjunk-president Cyril Ramaphosa verlede week kommersiële landbouers in Limpopo aangemoedig om opnuut in landbou te belê en as wildboere hul belange uit te brei.
Oor Nkwinti se ondeurdagte grondgrypvoorstelle was daar byna nog geen konsultasie met die landboubedryf nie, wat tot onherstelbare skade vir boerdery gelei het. Boere neem tans ingrypende besluite om hul kennis, vaardighede en beleggings buite Suid-Afrika aan te wend.
Uitbreidings word dus gestaak en werkersgetalle neem af deur weens die onophoudelike en wêreldvreemde ideologiese opswepery. Die onherstelbare skade aan die Suid-Afrikaanse landbou is tot groot nadeel van voedselsekerheid in Suid-Afrika.
“Woensdag het ‘n groep wit mansstudente my ‘n rasseverraaier en ‘n moffie genoem,” sê Jaco Oelofse. “Nie baie oorspronklike nie, maar hulle het probeer.”
Oelofse is gay, wit, marxistiese en Afrikaans, asook die studenteleier van die Ekonomiese Vryheidsvegters op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Hy beskou Julius Malema as ‘n “uitstekende leier” en sê:
“Die media slaag daarin om ‘n sterk swart stem te demoniseer. Ek dink dat hy ‘n uitstekende leier is en presies die soort leier wat die land nodig het, en meen dat hy ‘n “goeie spreker is
“Hy ken politiek, is ‘n uitmuntende orator en wat ek van hom hou, is dat hy verstaan dat die waarheid radikaal is, hy praat die waarheid.”
Tot dusver het die 23-jarige Oelofse nog nie sy leier ontmoet nie, maar wil baie graag.
Jaco Oelofse, leier van die EFF se gevegseenheid by Tuks
Wat die grondkwessie betref, voel hy dat alle grond aan die “regmatige eienaars” terugbesorg moet word aangesien dit “met geweld gesteel is. Daar moet geen vergoeding (vir boere) wees nie, dit moet net aan die regmatige eienaars teruggegee word.”
“Maar,” sê die filosofiestudent aan Tuks wat onder invloed van marxistiese denkers gekom het, “dit beteken nie dat blankes nie ook deel van die land kan wees nie, maar voordat ons kan praat van die land met blankes deel, kom ons fokus liewers daarop om blankes te kry om die grond te deel.”
Volgens Oelofse mag blankes ook deel wees van Suid-Afrika.
Sedert Oktober 2013 is hy lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters en ‘n lid van die “studentegevegseenheid” aan die UP.
Benewens filosofie, studeer Oelofse ook staatsleer. Hy meen “daar is geen ander keuse as nasionalisering nie”.
Hoe het dit gebeur dat hy die marxisme omhels het? In die onlangse verlede is Tukkies gesuiwer van nie-marxistiese akademici deur veldtogte teen hulle te voer, onder meer deur dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg wat ‘n dosent in die filosofiedepartement laat vervolg het weens kritiek wat sy op feminisme en marxisme uitgespreek het.
Oelofse het toenemend in sy studies die radikale menings van sy dosente, wat deesdae meesal van Wits, Kaapstad, Natal en ander radikale Engelse kampusse afkomstig is, omhels. “Soos wat ek in my studies gevorder het, het my belangstelling in radikale teorie toegeneem,” sê hy. “Ek vereenselwig my met ‘n radikale party wat die belang van die lydendes, die armes en die stemloses op die hart dra. As ‘n gay persoon glo ek ook dat die EFF die regte party is, aangesien hulle by verre die mees progressiewe beleid oor geslagtelikheid en seksualiteit het. Die EFF veg vir gelyke behandeling vir almal, ons kan nie groepe aan die rand van die samelewing uitsluit nie.” Volgens hom is daar, afgesien van die EFF, geen ander studentevereniging wat blanke oorheersing, die patriargie, seksisme en homofobie met soveel “radikale ambisie” beveg nie.
Hy het ook “die patriargale, heteroseksuele kulture by koshuise, wat mense met ander seksuele voorkeure uitsluit”, gekritiseer.
Jaco besef dit is idealisties om diskriminasie heeltemal uit te skakel.
“Op universiteit kan ons ten minste die ruggraat van rassisme breek.”
Tydens die studenteverkiesing verlede Woensdag op 3 September, het Afriforum Jeug egter 50% van die stemme verkry. Die stemverdeling lyk soos volg:
AfriForum Jeug het 6 uit die 12 setels verkry, insluitend twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad.
Die uitslag van die verkiesing is soos volg:
• AfriForum Jeug: – 50% (6 setels)
• Radical Youth Coalition – 8.3% (1 setel)
• South African Student Congress (SASCO) – 8,3% (1 setel)
• Democratic Alliance Student Organisation (DASO) – 8.3% (1 setel)
• Onafhanklike kandidate – 25,1% (3 setels)
Die EFF Tuks-gevegseenheid het egter die adjunkpresidentskap van die studenteraad ingepalm. Oeloefse meen dit is “goed vir ‘n organisasie wat maar sedert Februarie op die kampus aktief is”.
Nogtans voel hy teleurgesteld met die uitslae, aangesien hy nie Afriforum se verkryging van die transformasieportefeulje kan aanvaar nie.
Hy meen dat die EFF oor die algemeen goed op die kampus aanvaar word en studente nader hulle gedurig om aan te sluit.
“Ons het ‘n radikale vonk in Tuks-studentepolitiek veroorsaak.”
‘n Beesboer en sy vrou in KwaZulu-Natal is Woensdagmiddag op hul plaas doodgeskiet in die jongste plaasmoordaanval.
Nico en Marsha Lens, van Elandsberg,in die Paulpietersburg-distrik, is glo in die laatmiddag oorval. Albei is in die kop geskiet.
Marsha Lens het blykbaar die paniekknoppie gedruk om haar bure te laat weet van die aanval voor sy dood is.
Die Lens-egpaar, in hul vyftigs, is per alarmstelsel gekoppel aan buurplase, maar toe die bure by die plaas opdaag, was dit reeds te laat.
Hoewel die polisiekantoor net 30 km van die plaas geleë is, het die polisie eers ’n uur en half later opgedaag en die polisie se honde-eenheid het eers drie ure later toe dit te donker was om te begin soek.
PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het Woensdagoggend 3 September ‘n epos aan die voorsitter van OGOD, mnr. Hans Pietersen, gerig waarin die naam van sy prokureur en hul kontakbesonderhede versoek word aangesien PRAAG dié organisasie se skending van godsdiensvryheid in die land wil teenstaan.
“Hierdie is die soveelste aanval op Afrikaanse skole wat deur twyfelagtige nie-regeringsorganisasies geloods word,” sê Dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Gewoonlik word sulke organisasies ook vanuit die buiteland, veral vanuit die VSA en Groot Brittanje, befonds. Dit gaan allermins oor die vryheid van leerlinge om te besluit watter geloof hulle wil aanhang, al dan nie. Dis maar net nog ‘n manifestasie van Boerehaat of etniese haatgevoelens jeens Afrikaners wat sowel in taaldiskriminasie as plaasmoorde manifesteer. Die deels Christelike aard van Afrikaanse skole kan teruggevoer word na die CNO-skole wat kort ná die verowering van die Boererepublieke gestig is. Dit het gegaan om die behoud van Afrikaans en Afrikanergeskiedenis, terwyl daar in Engelse staatskole in Suid-Afrika destyds slegs Britse geskiedenis gedoseer is.”
‘n Skildery wat Christus uitbeeld deur Caravaggio. Binnekort ook verbode in Afrikaanse skole?
As kultuurorganisasie vind PRAAG die poging van OGOD om aan Afrikaanse skole, wat uiteindelik deur ouergemeenskappe en beheerrade bestuur word, ewe verwerplik as Section 27 se hofaansoeke om ‘n Sowjetagtige vorm van staatsbeheer en verengelsings van Afrikaanse skole deur die howe af te dwing. Dr. Dan Roodt sê: “Geloofsvryheid beteken ook die reg om in die skoolgebou te mag bid of die Bybel te mag lees. Die verbod op alle vorme van Christelike inhoud is ondeurdag en filistyns, aangesien selfs sekulêre letterkunde verwysings na Christelike temas bevat. Om van kunsgeskiedenis en skilderye nie te praat nie. Mag Raphaël, Caravaggio en al die ander skilders wat sowel Maria as Christus uitgebeeld het nou nie meer in ons skole behandel word nie? Daar is sekerlik duisende Afrikaanse gedigte met metafore, beeldspraak of verwysings na die Christendom… moet ons Afrikaanse skole nou dáárvan ook gesuiwer word?”
PRAAG het ‘n beroep op alle Afrikaners gedoen om saam te staan, selfs nie-gelowiges. “Deur die geskiedenis was Afrikaners nog altyd verdraagsaam en Paul Kruger het byvoorbeeld sowel Jode as Moslems in die Transvaal verwelkom. Met die heksejag teen Afrikaanse skole en gevestigde gebruike in ons skole word ons nou deur die Engelsman in sy marxistiese blindheid en fanatisme terugbetaal. Dis ‘n aanval op ons as gemeenskap en as volk.”
In getuienis wat voor die hof geplaas sal word, gaan PRAAG die totalitêre linkse tradisie in Suid-Afrika aan die kaak stel, wat wissel vanaf godsdienstige, etniese en talige onverdraagsaamheid tot verkragting, halssnoermoorde en terreur. Die vervolging van Christene in die toenmalige kommunistiese Oos-Europa is ook ter sake, aangesien die huidige Suid-Afrikaanse bewind hom ideologies op daardie vorm van kommunisme skoei.
Roodt het ook so pas ‘n eboek-essay gepubliseer waarin hy die ekstreemlinkse fanatisme van plaaslike Engelssprekendes van naderby ontleed en spesiaal vir die Engelse gemeenskap in Engels geskryf is: Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity.
Intussen het die voorsitter van die organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (OGOD), mnr. Hans Pietersen, laat weet dat hy nie bereid is om sy prokureurs se kontakbesonderhede aan PRAAG te verskaf nie:
Soos ek in verskeie forums (drukpers, radio en tv) genoem het, is die saak nié teen ‘n spesifieke geloof óf geloof as sulks gemik nie, en ook nie teen ‘n spesifieke kultuur- of taalgroep nie. Om OGOD dus van Afrikaner- of Boerehaat te verdink sou onwaar, oneerlik en propagandisties wees.
Ek gaan op hierdie stadium nie ons regspan se besonderhede oordra nie aangesien skakeling met hulle bloot die fokus van ons eie doelwitte gaan aflei.
Desnieteenstaande het PRAAG die hofstukke bekom en is tans besig om dit te bestudeer en sal ook vergaderings met skole bywoon om die aanslag af te weer. In wese kom die hofstukke daarop neer dat Pietersen die regulasies teen die Christelike godsdiens soos dit deur Kader Asmal uitgevaardig is, op alle Afrikaanse skole en veral die ses skole wat in die aansoek gedagvaar word, wil laat afdwing. Die volgorde waarin die ses Afrikaanse skole in die aansoek genoem word, is:
Laerskool Randhart
Laerskool Baanbreker
Laerskool Garsfontein
Hoërskool Linden
Hoërskool Oudtshoorn
Langenhoven-gimnasium
Onder andere maak Pietersen beswaar teen Laerskool Randhart se leuse op sy skoolwapen: “Ons glo.” Pietersen meen ook dat die skoolwapen self (die embleem) teen die grondwet indruis omdat dit op die drieledige stelling gegrond is: “Glo in God, jouself en jou land.”
In weerwil daarvan dat al ses skole Afrikaans is, is die dagvaarding in Engels op die skole beteken.
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Dinsdagoggend gesê die Grondwethof se beslissing teen Renate Barnard laat hulle “bitter teleurgesteld”.
Barnard is blykbaar bevordering geweier in die polisie omdat sy wit is. Die saak het egter in die arbeidshof oor diensbillikheid gehandel en nie oor ras nie.
Barnard was ‘n luitenant-kolonel in die polisie, maar het intussen bedank om ‘n pos in die private sektor te aanvaar.
Solidariteit wat die saak namens Barnard gevoer het, het intussen weer ‘n aansoek in die arbeidshof in Johannesburg gebring oor die geldigheid van die polisie se diensbillikheidsplan. Die uitspraak word voorbehou.
Regter Dikgang Moseneke het namens die Grondwethof die appèlhof in Bloemfontein se aansoek in Barnard se guns tersyde gestel in die polisie se guns.
Volgens Moseneke is die polisie se diensbillikheidsplan in die gees van die Grondwet en is daar nie meriete in Barnard se aansoek teen die besluit van die nasionale polisiehoof nie.
Barnard is drie keer nie in ‘n vakante pos aangestel nie, vermoedelik omdat sy wit is, maar die saak het eerder gehandel oor meriete in regstellende aksie-aanstellings
‘n Geheimsinnige “organisasie” het so pas ‘n hooggeregshofaansoek in Johannesburg geloods om alle Afrikaanse skole te verbied om enige vorm van christelike verwysing, gebed of die lees van die Bybel in Afrikaanse skole te verbied.
Mnr. Johannes de Klerk Pietersen voer in hofstukke voor die Gautengse Hooggeregshof, Johannesburgse plaaslike afdeling, aan dat dit “ongrondwetlik” is om hoegenaamd na die christelike geloof in ‘n openbare skool te verwys. Daar mag ook nie van “christelike norme en waardes” gepraat word nie, aangesien dit teen ander gelowe en opvattings “diskrimineer”.
Namens die “organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie”, waarvan hy voorsitter is, vra Pietersen die hof om ‘n bevel wat die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Hoërskool Oudtshoorn en die Langenhoven-Gimnasium in Oudtshoorn sal verbied om christelike verwysings en gebruike toe te laat en sodanige verwysings en gebruike as “ongrondwetlik” te verklaar.
Lede van Pietersen se organisasie is, volgens berigte, “Afrikaanssprekende mense wie se kinders in die onderskeie skole aan christelike praktyke onderwerp is”.
Dit is bekend dat dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg, wat voorheen by ‘n heksejag betrokke was teen Afrikaanse akademici wat kritiek op kultuurmarxisme lewer, insgelyks hewig teen christelike inhoud of gebruike in skole gekant is. Hy lewer gereeld op sy Facebookblad neerhalende kommentaar oor gelowiges en christene in die besonder. Dit is tans onbekend of hy by die aksie teen christenskap in skole gekant is.
Pietersen se organisasie is nou die derde wat teen Afrikaanse skole optree, naas die nasionale onderwysdepartement en die George Soros-ondersteunde Section 27 wat reeds ‘n hofsaak teen die Hoërskool Fochville gevoer het in ‘n poging om die skool te verengels en rasse-onmin tussen kinders te saai. Die vorige LUR vir onderwys in Gauteng, die Engelse mev. Barbara Creecy, het private dreigemente teenoor Afrikaanse skole in die provinsie gemaak dat sy hul geboue sou konfiskeer en met Engelse kinders sou vul.
Mnr. Paul Colditz van Fedsas adviseer die skole oor die hofsaak wat hulle in die gesig staar. Daar is nog nie ‘n besluit geneem of die skole die aansoek gaan teenstaan nie. Volgens hom, “raak die aansoek… elke openbare skool, ook die skole met ’n ander godsdienstige etos as dié van christenskap. Sou die saak verder gevoer word, sal dit waarskynlik in die grondwethof draai weens dít wat gevra word.”
Die Madonna del Granduca deur Raphaël. Binnekort is die studie daarvan op ‘n Afrikaanse skool verbode?
Optrede teen die christelike geloof op skool word internasionaal veral met die kommunisme in die voormalige Oos-Europa vereenselwig. Gewoonlik is dit ‘n teken van ‘n owerheid wat ‘n wig tussen kinders en hul ouers wil indryf, sodat kinders makliker op skool gebreinspoel kan word. In Marx en Engels se oorspronklike Kommunistiese Manifes word voorgestel dat die staat kinders van hul ouers moet wegneem en moet grootmaak sodat kommunisme as enigste ideologie kan seëvier.
Kunsonderwyseresse by die skole is veral bekommerd dat hulle nie meer toegelaat sal word om Westerse kuns, waarin vele christelike tonele en verwysings voorkom, aan kinders te doseer nie. “Dikwels is daar ‘n klassieke skildery wat weer na ‘n Renaissance-skildery met ‘n christelike inhoud verwys,” het ‘n onderwyseres van Johannesburg, wat uit vrees vir viktimisering nie haar naam genoem wil hê nie, gesê. “Hoe gaan ‘n mens die inhoud en betekenis aan leerlinge kan verduidelik sonder om na die christelike godsdiens of die Bybel te verwys?”
Die boeremusiek-legende Ollie Viljoen is op 76-jarige ouderdom oorlede. Viljoen het diep spore getrap in boeremusiek.
Hy was ook bekende gesig in TV programme soos Spies en Plessis en Maak ‘n Las.
Hy het in 2007 van Gauteng na die Wes-Kaap verhuis nadat hy afgetree het, maar hy was steeds bedrywig met opnames, toere, produksies en solo-vertonings dwarsoor die land.
Ollie se eerste boek, “Kitare en ander snare – Ollie Viljoen vertel”, het onlangs verskyn.
Viljoen was in die Panorama-hospitaal weens hartversaking en ander komplikasies. Hy is in die hospitaal in Kaapstad opgeneem nadat sy gesondheid verswak het twee weke gelede na ‘n operasie wat hy ondergaan het.
Bladmusiek van Die Stem van Suid-Afrika wat Die Burger Boekhandel uitgegee het en wat op 13 Desember 1935 deur ds. M.L. de Villiers, die komponis, onderteken is, is Donderdag 28 Augustus in Sandton vir R17 000 opgeveil.
Dit is die beleid van die afslaer, Stephan Welz & Co, om nie kopers op sy veilings te identifiseer nie. Die veilingswaardasie van dié kleinood vir kultuurbewuste Afrikaners was R8 000, die helfte minder as die veilingsprys.
Die musiekstuk van vier bladsye, wat as Africana gereken word, is gelamineer. Dit dateer van ’n jaar voordat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dié toonsetting van Die Stem amptelik as die volkslied van Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners aanvaar het. Die indertydse nasionale volkslied was die Britte se God Save the King.
Ds. Marthinus Lourens de Villiers wat Die Stem van Suid-Afrika getoonset het.Die woorde van Die Stem is vir die Van Riebeeck-fees van 1952 in Engels omgesit as The Call of South Africa. In 1957 het die regering albei weergawes tot die amptelike nasionale volkslied verklaar. Ná die ANC-oorname in 1994 is dit vervang met Nkosi Sikelel’ iAfrika.
Sy bladmusiek wat deur Die Burger Boekhandel gedruk is en op 13 Desember 1935 deur hom onderteken is, het pas R17 000 op ’n veiling van Stephan Welz & Co in Sandton behaal.Die woorde van Die Stem is in 1918 deur die talentvolle regsgeleerde, politikus, joernalis, skrywer, digter en musikant C.J. Langenhoven aan sy woning op Oudtshoorn gedig. De Burger (sedert Januarie 1922 Die Burger) het die gedig geplaas, en Langenhoven het komponiste genooi om toonsettings in te stuur. M.L. de Villiers se eerste poging was in 1921, maar hy moes dit verskeie kere hersien voordat die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dit in 1936 aanvaar het.
Lees meer oor die skryf van Die Stem, die toonsetting daarvan en wie almal betrokke was voordat dit die amptelike volkslied vir die Afrikaners geword het in KultuurKroniek, kultuurrubriek op die FAK se tuisblad by www.fak.org.za/
kultuur-kroniek/