praag.co.za

Tag: OGOD

  • Brief: OGOTTERS het Afrikaans genasionaliseer

    Brief: OGOTTERS het Afrikaans genasionaliseer

    Afrikaans as taal se rommelstatus word haarfyn beskryf in 1 Korintiërs 13 en 14 :1-25: die verwantskap tussen die liefde, taal en profesie (godsdiens).

    Lees en laat daar ‘n lig vir jou sowel as die ganse Afrikaanse mediabedryf opgaan.

    Want geen taal is nog ooit so misbruik as wapen van volksvernietiging deur antichriste , ateïste en sataniste as Afrikaans nie.

    Die OGOTTERS het so pas vêr gevorder met die nasionalisering van Afrikaanse Christenskole.

    — Jan

  • Dan Roodt: Ope brief aan elke christen in Suid-Afrika, deel 1

    Dan Roodt: Ope brief aan elke christen in Suid-Afrika, deel 1

    Die Hooggeregshof in Johannesburg het vandeesweek uitspraak gelewer en openbare skole verbied om “slegs een godsdiens” tydens saalopeninge of ander tradisionele aktiwiteite toe te laat. ‘n Skool mag ook nie meer ‘n christelike etos aanneem nie, maar moet iets anders in die plek daarvan stel, wat kan wissel van die mengkultuur (soos dit in Swede bekendstaan) tot Islam of marxisme-leninisme. Daarmee het die hof ten gunste van OGOD, oftewel Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie, bevind, sodat aggressiewe ateïste soos Piet Croucamp van “God-is-breindood“-faam oorwinning gekraai het.

    Tans word daar gepoog om die uitspraak so te plooi dat dit bloot daarop sou neerkom dat “alle godsdienste in skole gelyk verklaar is”. Soos ons al met “taalgelykheid” in ons land gesien het, is “alle diere gelyk, dog sommige meer gelyk as ander”, om nou George Orwell in sy beroemde Animal Farm aan te haal. Net soos wat Engels meer gelyk as Afrikaans is, sal linkse ateïsme en Islam meer regte as die christelike geloof op skool geniet. Daar word bespiegel dat ons skole soos in Saoedi-Arabië of ander Moslemlande voortaan geen blyk van ‘n kruis op hul skoolwapen mag vertoon nie, dat skoolliedere met christelike inhoud gewysig moet word en dat selfs gedigte deur Elisabeth Eybers of Van Wyk Louw met christelike of godsdienstige temas nie meer in die kurrikulum aanvaarbaar gaan wees nie. Die eerste strofe van Eybers se treffende Kersgedig, “Maria”, sou byvoorbeeld nie meer in ‘n openbare skool gelees of behandel mag word nie:

    ‘n Engel het dit self gebring,
    die vreugde-boodskap – en jy het
    ‘n lofsang tot Gods eer gesing,
    Maria, nooi uit Nasaret!

    Ook die studie van skilderye in die kunsklas word hierdeur geraak, want soos almal weet is die hele Westerse skilderkuns deurtrek van christelike verwysings en simbole. Dit sou vervang moet word met nie-christelike of antichristelike kuns waarvan daar natuurlik in die twintigste eeu ‘n enorme hoeveelheid geproduseer is.

    Dit ly geen twyfel dat dié aanval op veral die Afrikaanse skool — daar is geen Engelse skole as teenpartye gedagvaar nie — georkestreer is nie. Binne ‘n dag of wat ná die uitspraak is ‘n grootskaalse propagandaveldtog op RSG en die program “Praat saam” van stapel gestuur waarin Piet Croucamp, die godloënaar en djihadis, die onmiddellike implementering van die hofuitspraak bepleit het. Volgens Croucamp gaan dit oor “verdraagsaamheid”, ‘n begrip wat vir hom beteken dat ander hulle by sy verwronge en beledigende opvattinge moet aanpas.

    Weereens is dit Orwelliaans, want onverdraagsaamheid en hatigheid teenoor die christelike geloof, waardes en kultuur, selfs onverbloemgde Boerehaat, word nou in die naam van “verdraagsaamheid” aangebied.

    Oor die afgelope twee of drie eeue was dit slegs marxis-leniniste en islamitiese djihadiste wat die beoefening van die christelike godsdiens verbied of belemmer het. Sedert die begin van die huidige konflik in Sirië, waar van die vroegste christelike gemeenskappe ter wêreld in Romeinse tye ontstaan het, is daar vele kerke en kunswerke deur die Islamitiese Staat-groep vernietig. Duisende christene is ook voor die voet doodgeskiet of gemartel. In Wes-Europa oorhandig die ontkerstende bevolking hul kerke en katedrale aan inkomende Moslems om moskees daarvan te maak, dikwels met munisipale en staatsubsidies.

    Internasionaal het ‘n soort alliansie tussen liberaal-marxiste en Islam ontstaan, en waarvan OGOD en sy hofaansoek bloot nog ‘n manifestasie is.

    Die aanval op christelike Afrikaanse skole moet ook binne dié internasionale konteks gesien word. Die beweegrede van OGOD en wie ook al agter dié organisasie staan, is nie “godsdiensvryheid” of “diversiteit” of enige van die polities korrekte slagspreuke waarmee die aanslag verdoesel word nie, maar om beheer oor ons kinders uit te oefen. In die provinsie Ontario van Kanada bestaan daar reeds wette wat die owerheid in staat stel om jou kinders van jou af weg te neem indien jy hulle nie polities korrek opvoed deur hulle byvoorbeeld aan homoseksualiteit en “diverse geslagsidentiteite” blootstel nie.

    Politieke korrektheid, ‘n term wat deur Mao Zedong gemunt is, is op sigself ‘n geloof en ‘n verskriklike dogma daarby. Die huidige hofuitspraak verteenwoordig daarom bloot die “dun ent van die wig” waarmee die staat en ekstremistiese groepe gaan poog om ons kinders te indoktrineer en te vervreem van hul kultuur, hul erfenis en hul identiteit. In die ou Sowjetunie was daar die verhaal van Pawlik Marosof wat meer lojaal teenoor die staat en die Kommunistiese Party as teenoor sy eie ouers was; hy was bly toe sy ouers deur die staat vir hul ideologiese “onsuiwerheid” tereggestel is.

    Kort op die hakke van “Afrikaans must fall” volg dus nou: “Christ must fall.”

    As Afrikaners en as christene word ons opgeroep om hierdie uitspraak, asook Piet Croucamp en die OGOD-beweging se marxistiese djihad teen ons en ons kinders te verwerp. Ons voorouers het teen die universele kerk, die Rooms-Katolieke Kerk, opgestaan; vandaar die benaming “Protestante”. Tydens die Bartolomeusnag van 1572 moes vele Franse Hugenote met hul lewens boet vir hul geloof. Ander is lewenslank tronk toe gestuur. Een van die Protestantse martelare, Marie Durand, is op die ouderdom van 15 in ‘n Franse kerker, die Tour de Constance opgesluit waar sy 38 jaar van haar lewe (1730 tot 1768) moes deurbring. Op die muur van haar sel het sy die woord “weerstaan” in Oksitaans uitgekrap.

    Marie Durand se woorde in die klip: “weerstaan”.

    Al word ons ook 38 jaar toegesluit omdat ons nie bereid is om die oorheersing van OGOD, Islam, politieke korrektheid en marxisme-leninisme te aanvaar nie, moet ons ons daarteen verset.

    Marion Maréchal-Le Pen

    Die jong Franse parlementslid wat intussen die politiek vaarwel gesê het, Marion Maréchal-Le Pen, het onlangs gesê: “Frankryk is geen Islamgebied nie.” Net so moet ons herbevestig dat Suid-Afrika christengebied is waar ons mag bid of Bybel lees net waar ons wil en wanneer ons wil, dat ons en ons kinders na willekeur gedigte of boeke met christelike verwysings mag lees of bestudeer, asook na al die klassieke Westerse skilderye met hul dikwels diep christelike betekenis mag kyk, Händel se Messias of ander musiek mag luister, ongeag die staat, OGOD, of vloekende antichris-djihadiste soos Piet Croucamp.

    Weerstaan!

    Ns. In ‘n tweede deel van dié ope brief, sal ek poog om dieper in te gaan op presies waarom die soort opvoeding wat ons as Afrikaners en as Westerlinge in ons skole beoefen, onlosmaaklik christelik is, asook na die verskillende tipes ateïsme verwys.

  • Godsdiens in skole: valse probleem of sielkundige operasie?

    Vreemde dinge is aan die gang sover dit Afrikaans en Afrikaners aangaan. Terwyl Afrikaneridentiteit en lojaliteit teenoor Afrikaans tans ‘n heropbloei beleef, lyk dit asof daar ‘n verbete poging is om dié beweging in die kiem te smoor. Nie net word Steve Hofmeyr deur die polities korrekte hoofstroommedia verguis as hy en sy aanhangers Die Stem sing nie, maar tans is ‘n eenmanorganisasie genaamd OGOD besig om ‘n hooggeregshofaansoek teen ses Afrikaanse skole te bring wat hulle gaan verbied om enige christelike aktiwiteit of inhoud op die skoolterrein te verrig of te behandel.

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Soos praag reeds elders berig het, sou dit kon beteken dat ‘n groot deel van die Westerse letterkunde of kunsgeskiedenis, byvoorbeeld die skilderye van Raphaël of Caravaggio, nie meer op Afrikaanse skole behandel mag word nie. Die ander vraag is: waarom ontvang OGOD (Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie) skielik soveel aandag in die hoofstroommedia? Terselfdertyd is die Daily Maverick, die linkse webblad wat as die senuweepunt van Boerehaat in Suid-Afrika bestempel kan word, besig om die regsoptrede toe te juig. En om die ligroos kroon te span, publiseer Beeld vandag bokant sy voorbladopskrif “God-geveg al hoe feller” ‘n enorme foto van die Voortrekkermonument wat ligroos gekleur is. Blykbaar gaan die monument vir die volgende twee maande, tot aan die einde van Oktober, saans ligroos en pers “belig” word.

    Voeg daarby nog die Nazi-herrie wat aan die begin van die jaar losgebars het toe die uitgesproke lesbiërdosent op die Potch-kampus, Hannelie Booyens, en haar vorige huismaat, Adriaan Basson (tans Beeld-redakteur), die bestaan van “Nazi-rituele” op daardie kampus “aan die kaak gestel het”. ‘n Foto is insgelyks op die voorblad van Beeld geplaas wat van ‘n video-opname geneem is en waarmee die eerstejaarstudentes se arms vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde “bevries” word, as sou hulle ‘n Nazi-saluut gegee het.

    Onlangs gesels ek met iemand wat voorheen in polisiekringe gewerk het en wat my meedeel dat daar geen twyfel bestaan dat die hoofstroommedia in Suid-Afrika, Engels en Afrikaans, deur betaalde agente geïnfiltreer is nie. Hy het selfs name genoem. Sommige “joernaliste” werk ook vir buitelandse geheimedienste. As ‘n mens na dié vreemde veldtogte kyk wat daar tans in die media gevoer word, dan is dit helder dat een of ander “saak” gedien word.

    Wat sou die saak wees van ‘n mag of instansie wat:

    • Potch as ‘n Nazi-kampus wil stigmatiseer sodat dit sneller “getransformeer” kan word;
    • Die Stem by openbare plekke waar Afrikaners byeenkom, verbied;
    • elke Afrikaanse sanger of skrywer wat vir sy taal en kultuur opkom as “verregs” stigmatiseer en openlik aansê om die land te verlaat (soos daar aanmekaar met my en Steve Hofmeyr gedoen word);
    • elke sweem van christelikheid aan Afrikaanse skole met ‘n hofbevel wil verbied;
    • die Voortrekkermonument, daardie simbool van Afrikanergeskiedenis en -identiteit, “ligroos te verf en in ‘n gay disco te omskep”?

    Laasgenoemde was die voorstel wat die 702-omroeper en vorige Wits-dosent, Barry Ronge, in 1999 gemaak het en wat ek in my onlangse eboek-essay, Raiders of the lost Empire, aanhaal. Ronge se presiese woorde was:

    I have always looked at that old stupid monument to the past, called Voortrekkermonument and have decided that the only sensible thing to be done with is to paint it pink and turn it into an enormous gay disco at which they can have drug crazed raves. Now that would be exactly what it deserves.

    Manfred Delport het ‘n paar dae gelede in sy rubriek hier verwys na die “totale aanslag” wat daar op hierdie oomblik teen Afrikaners gevoer word. Terwyl ons bekend is met plaasmoorde, verkragting, geweld, asook die wetlike bedreigings soos grondhervorming en rasstellende aksie, kyk ons dikwels die sielkundige dimensie van die aanslag mis.

    ‘n Interessante video is onlangs op YouTube gelaai, wat ek graag hier met lesers deel. Dit gaan oor die onbewuste beïnvloeding van mense en hoe ons breine eintlik gekondisioneer word om selfs onwaarhede te aanvaar solank ons dink dat mense met gesag of mag oor ons dit as die waarheid aanbied. Sielkundige eksperimente wat in die VSA gevoer is, het die volgende bewys: Tot 37% van mense aanvaar enigiets wat ‘n ander in ‘n gesagsposisie vir hulle sê, selfs al dui hul eie sintuie vir hulle aan dat dit verkeerd is! Tot 75% van mense aanvaar ‘n leuen soms as dit deur iemand of ‘n instansie met gesag aan hulle oorgedra word.

    Sedert 1994, en selfs daarvóór, is Afrikaners gebreinspoel om teen hul eie belang op te tree. Deel van die huidige totale aanslag is iets wat ons ‘n “semiologiese oorlog” kan noem, dit wil sê, ‘n oorlog wat deur middel van tekens gevoer word. Die vyand – en vir seker is daar baie geslepe mense wat hierdie dinge teen ons uitdink en waarskynlik vet salarisse of tenders daarvoor ontvang – identifiseer simbole en aspekte van ons identiteit wat vir ons belangrik is en val dit aan deur dit te beswadder, te sensureer, verdag te maak of selfs te verbied.

    Anders as in Frankryk, die Lae Lande, om van die Midde-Ooste nie te praat nie, was daar in Suid-Afrika nog nooit ‘n godsdiensoorlog of -konflik nie. Toegegee, in die vroeë dae van die Kaap het die V.O.C. geen ander geloof as die Protestantisme toegelaat nie, hoewel Maleierslawe tog toegelaat is om hul Moslemgeloof te behou.

    In die 1890s het ongeveer 40 000 Litause Jode na Suid-Afrika gekom omdat hulle in Oos-Europa vervolg is, om bepaalde redes. Benewens die ontdekking van goud, was die godsdiensvryheid wat ons voorouers en veral Paul Kruger in die Transvaal aan hulle toegestaan het, die groot trekpleister wat hulle hierheen gelok het.

    Dieselfde godsdiensvryheid word ons egter nie tans gegun nie. OGOD, die Daily Maverick, Beeld (en wie ook al Beeld se ideologiese uitgangspunte bepaal) staan beperkings op ons geloofsvryheid voor. Afrikaans is reeds as landstaal uitgefasseer sodat baie van ons kinders besig is om te verengels en nie eens meer behoorlik Afrikaans kan praat nie, selfs al was hulle op ‘n Afrikaanse skool. Vele woorde ken hulle net in Engels, omdat hulle in ‘n totaal Angel-Saksiese taalomgewing moet grootword. Ook ons Europese afkoms word teen ons gehou en oral word “witheid” en om blank te wees, verdag gemaak en met rassisme gelykgestel. As jy verkies om met ‘n ander blanke Afrikaner te trou, is daar iets fout met jou. Vermenging word as ideaal aan ons voorgehou. Slegs die rasgemengdes gaan hemel toe, soos oorlede Chris Louw eenkeer sarkasties aan my gesê het, verwysende na Jonathan Jansen se tipe kleurlingrassetrots.

    Die Afrikaner se godsdienstradisie wat van Nederland en Noord-Duitsland afstam – vandaar die term “Nederduits” – verteenwoordig nog ‘n merker van Afrikaneridentiteit wat nou onder skoot kom. Kwansuis is daar prokureurs en advokate wat die saak vir OGOD teen die skole “pro bono” voer. OGOD se Engelse prokureur in Randburg gaan kwalik gratis en verniet aan ‘n saak werk wat dalk weke of maande se aandag gaan verg. Watter belang het ‘n Engelse prokureur in Randburg om ‘n bietjie saalopening met die Bybel en gebed in Afrikaanse skole verbode te laat verklaar?

    ‘n Ander aspek van die saak teen die Afrikaanse skole is dat dit die Amerikaanse voorbeeld slaafs navolg. Ons hele rassemodel met rasstellende aksie en swart nydigheid wat deur ‘n minderheid linkse en liberale blankes teen die meerderheid blankes aangehits word, is net so uit die VSA ingevoer. Ook in die VSA se openbare skole is christelike tekens of oorblyfsels in openbare skole in sommige state deur middel van hofbevele verbied. Uitsprake van die Amerikaanse Hooggeregshof (hul ekwivalent van die Grondwethof by ons) neig om dubbelsinnig te wees, deur godsdiensvryheid toe te laat, maar evangelisering vir ‘n spesifieke godsdiens op skool te verbied. Anti-christelike fanatici gryp egter hierdie hofuitsprake aan om skole van álle verwysings na die christelike tradisie te suiwer. Dieselfde word egter nie vir verwysings na Islam of veral die Joodse godsdiens gedoen nie.

    Ons sien dus dat daar ‘n stelsel van dubbele standaarde ingestel word, met een stel reëls vir Afrikaans, ‘n ander stel vir Engels, een stel norme vir swartes en ‘n ander vir blankes, asook een stel beginsels vir Jode en ateïste, en ‘n ander vir Christene en Moslems. In ons land is Moslems ‘n minderheid wat deur sommige Jode weens hul konserwatisme en afkeer van losbandigheid en radikale politiek soos kommunisme verkwalik word.

    Op elke suiwelproduk in Suid-Afrika verskyn daar egter simbole van Jode en Moslems wat dit as “milchik” of “halaal” sertifiseer. Daarvoor betaal elke verbruiker ‘n sekere persentasie van die verkoopprys wat aan dié twee godsdienste uitgekeer word. Op die meerderheid produkte is daar egter geen Afrikaans nie, hoewel daardie produkte ook aan Afrikaners versprei word.

    Daar is slegs 70 000 Jode in Suid-Afrika, waarvan 80% uit Litaue afkomstig is. Hul reg op kosjer produkte geniet egter voorrang bo die Afrikaner-Christen se reg om iets van die Europese kultuur en die christelike geloof, waaronder ons kuns, kerkgeboue, katedrale, prosa en poësie, in ons skole aan ons kinders te mag oordra. Reeds is die leerplanne van alle “eurosentriese” inhoud gesuiwer; nou moet selfs onskuldige christelike rituele waarmee ons almal grootgeword het onder die kultuurmarxistiese sensuur beland.

    Ons voortreflike Afrikaanse skole lewer die beste akademiese prestasies in die land, beter as in 99% van Engelse skole. Waarom moet hierdie skole konstant oor hul taal of tradisionele christelike gebruike aangeval word?

    Die meeste Afrikaanse skole hanteer die probleem van verskillende denominasies en geloofsoortuigings baie goed. Sekerlik kan individuele gevalle waar probleme opduik maklik deur onderlinge gesprek opgelos word, sonder om jou na die howe te wend met die oogmerk om ‘n algemeen bindende uitspraak teen alle Afrikaanse skole te verkry. Of is dit juis die doel van die hele oefening, om die valse probleem van godsdiens op die skoolbanke te gebruik om Afrikaanse skole nog verder onder owerheidsbeheer en -dwang te bring?

    Nie net verteenwoordig dit ‘n aanval op vryheid van assosiasie nie, maar selfs op ons godsdiensvryheid. Gaan daar ‘n tyd aanbreek dat ‘n mens in Suid-Afrika net ‘n Jood of ‘n marxistiese ateïs mag wees, soos in die ou Sowjetunie? Die ooreenkomste raak by die dag meer frappant.

    Ondersteun PRAAG se toetrede tot die hofsaak oor godsdiensvryheid in Afrikaanse skole.

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

  • PRAAG tree toe tot regstryd oor Christelike inhoud in skole

    PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het Woensdagoggend 3 September ‘n epos aan die voorsitter van OGOD, mnr. Hans Pietersen, gerig waarin die naam van sy prokureur en hul kontakbesonderhede versoek word aangesien PRAAG dié organisasie se skending van godsdiensvryheid in die land wil teenstaan.

    “Hierdie is die soveelste aanval op Afrikaanse skole wat deur twyfelagtige nie-regeringsorganisasies geloods word,” sê Dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Gewoonlik word sulke organisasies ook vanuit die buiteland, veral vanuit die VSA en Groot Brittanje, befonds. Dit gaan allermins oor die vryheid van leerlinge om te besluit watter geloof hulle wil aanhang, al dan nie. Dis maar net nog ‘n manifestasie van Boerehaat of etniese haatgevoelens jeens Afrikaners wat sowel in taaldiskriminasie as plaasmoorde manifesteer. Die deels Christelike aard van Afrikaanse skole kan teruggevoer word na die CNO-skole wat kort ná die verowering van die Boererepublieke gestig is. Dit het gegaan om die behoud van Afrikaans en Afrikanergeskiedenis, terwyl daar in Engelse staatskole in Suid-Afrika destyds slegs Britse geskiedenis gedoseer is.”

    'n Skildery wat Christus uitbeeld deur Caravaggio. Binnekort ook verbode in Afrikaanse skole?
    ‘n Skildery wat Christus uitbeeld deur Caravaggio. Binnekort ook verbode in Afrikaanse skole?

    As kultuurorganisasie vind PRAAG die poging van OGOD om aan Afrikaanse skole, wat uiteindelik deur ouergemeenskappe en beheerrade bestuur word, ewe verwerplik as Section 27 se hofaansoeke om ‘n Sowjetagtige vorm van staatsbeheer en verengelsings van Afrikaanse skole deur die howe af te dwing. Dr. Dan Roodt sê: “Geloofsvryheid beteken ook die reg om in die skoolgebou te mag bid of die Bybel te mag lees. Die verbod op alle vorme van Christelike inhoud is ondeurdag en filistyns, aangesien selfs sekulêre letterkunde verwysings na Christelike temas bevat. Om van kunsgeskiedenis en skilderye nie te praat nie. Mag Raphaël, Caravaggio en al die ander skilders wat sowel Maria as Christus uitgebeeld het nou nie meer in ons skole behandel word nie? Daar is sekerlik duisende Afrikaanse gedigte met metafore, beeldspraak of verwysings na die Christendom… moet ons Afrikaanse skole nou dáárvan ook gesuiwer word?”

    PRAAG het ‘n beroep op alle Afrikaners gedoen om saam te staan, selfs nie-gelowiges. “Deur die geskiedenis was Afrikaners nog altyd verdraagsaam en Paul Kruger het byvoorbeeld sowel Jode as Moslems in die Transvaal verwelkom. Met die heksejag teen Afrikaanse skole en gevestigde gebruike in ons skole word ons nou deur die Engelsman in sy marxistiese blindheid en fanatisme terugbetaal. Dis ‘n aanval op ons as gemeenskap en as volk.”

    In getuienis wat voor die hof geplaas sal word, gaan PRAAG die totalitêre linkse tradisie in Suid-Afrika aan die kaak stel, wat wissel vanaf godsdienstige, etniese en talige onverdraagsaamheid tot verkragting, halssnoermoorde en terreur. Die vervolging van Christene in die toenmalige kommunistiese Oos-Europa is ook ter sake, aangesien die huidige Suid-Afrikaanse bewind hom ideologies op daardie vorm van kommunisme skoei.

    Roodt het ook so pas ‘n eboek-essay gepubliseer waarin hy die ekstreemlinkse fanatisme van plaaslike Engelssprekendes van naderby ontleed en spesiaal vir die Engelse gemeenskap in Engels geskryf is: Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity.

    Intussen het die voorsitter van die organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (OGOD), mnr. Hans Pietersen, laat weet dat hy nie bereid is om sy prokureurs se kontakbesonderhede aan PRAAG te verskaf nie:

    Soos ek in verskeie forums (drukpers, radio en tv) genoem het, is die saak nié teen ‘n spesifieke geloof óf geloof as sulks gemik nie, en ook nie teen ‘n spesifieke kultuur- of taalgroep nie. Om OGOD dus van Afrikaner- of Boerehaat te verdink sou onwaar, oneerlik en propagandisties wees.

    Ek gaan op hierdie stadium nie ons regspan se besonderhede oordra nie aangesien skakeling met hulle bloot die fokus van ons eie doelwitte gaan aflei.

    Desnieteenstaande het PRAAG die hofstukke bekom en is tans besig om dit te bestudeer en sal ook vergaderings met skole bywoon om die aanslag af te weer. In wese kom die hofstukke daarop neer dat Pietersen die regulasies teen die Christelike godsdiens soos dit deur Kader Asmal uitgevaardig is, op alle Afrikaanse skole en veral die ses skole wat in die aansoek gedagvaar word, wil laat afdwing. Die volgorde waarin die ses Afrikaanse skole in die aansoek genoem word, is:

    Laerskool Randhart

    Laerskool Baanbreker

    Laerskool Garsfontein

    Hoërskool Linden

    Hoërskool Oudtshoorn

    Langenhoven-gimnasium

    Onder andere maak Pietersen beswaar teen Laerskool Randhart se leuse op sy skoolwapen: “Ons glo.” Pietersen meen ook dat die skoolwapen self (die embleem) teen die grondwet indruis omdat dit op die drieledige stelling gegrond is: “Glo in God, jouself en jou land.”

    In weerwil daarvan dat al ses skole Afrikaans is, is die dagvaarding in Engels op die skole beteken.