‘n Wakkerskrik-week vir Afrikaners

Deur Manfred Delport.

Die vorige regering het graag gepraat van ‘n totale aanslag teen Suid-Afrika. Gebruik egter laasgenoemde term vandag, en al wat ‘n libgestremde, kruiperkaner en paaier is, wil die horries kry. Jy sal onmiddellik as paranoïes uitgekryt word. Sint Mandela, Slovo en kie was immers, volgens die kruipers en linkses, gawe outjies wat eintlik net saam met ons Kinderkrans toe wou gaan, en die totale aanslag het slegs in mnr PW Botha se verbeelding bestaan. Het ons nie ook, volgens die paaiers en kruiperiges, op 27 April, 1994, die land van melk en heuning binnegegaan nie?

Twee gebeure hierdie week het mnr Botha egter doodreg bewys, en getoon dat daar inderdaad steeds ‘n totale aanslag teen Afrikaners bestaan, wat slegs in felheid toeneem. In die konteks waarin PW Botha die term destyds gebruik het, het dit egter meestal verwys na eksterne faktore, onder andere sanksies, ‘n militêre bedreiging vanuit Angola en binnelandse oproer, maar dit was meestal vir ons as Afrikaners op ‘n gemaklike afstand. Vandeesweek het twee gebeurtenisse daardie totale aanslag tot op Afrikaners se eie drempel gebring.

Die eerste voorbeeld hiervan was die skokuitspraak van die getransformeerde Grondwethof, ‘n anti-blanke instansie gepak met ANC-kaders, oor die Renate Barnard-saak. Die Grondwethof het beslis dat neo-apartheid en anti-blanke rassekwotas kwansuis grondwetlik sou wees, en dat Renate Barnard en 4 miljoen ander blankes inderdaad te wit is om ‘n werk te hê, selfs al is ons die mees bekwame en gekwalifiseerde kandidate vir die pos (wat ons meestal inderdaad is.) Pienk Frikkie se sogenaamde wigte en teenwigte is met dié uitspraak finaal ontbloot vir die leuen wat dit van meet af aan was.

So ook is die wind uit Solidariteit en Afriforum se seile gehaal. Hulle het, tot op hede, gepoog om die ANC se rassisme teen blankes deur die howe te beveg. Dit het tot op ‘n punt gewerk, siende dat die (relatief-ongetransformeerde) appèlhof ten gunste van Renate Barnard beslis het. Dié strategie was egter van meet af aan gedoem, omdat die ANC onvermydelik sou streef daarna om die regbank te pak met sy eie kaders, in die naam van transformasie.

Interessant genoeg maak Gareth van Onselen, ‘n voormalige DA-strateeg, ook die punt dat die DA klaarblyklik boedel oorgegee het met die parlement. Musi Maimane, die DA se eie “token black”, mag wel die DA parlementêre leier wees, maar is nie eens die leier van die party nie. Nes Solidariteit en Afriforum, het die DA ook klaarblyklik besluit om eerder die howe te gebruik, siende dat die parlement insgelyks ‘n nuttelose instansie is. Die bevestiging van blankes se status as derdeklasburgers deur die ANC se Grondwethof-kaders, gaan binnekort ook gevolg word deur ‘n toenemende aantal ander beslissings ten gunste van die ANC, namate die oorblywende blanke regters toenemend etnies gereinig en verjaag word.

Die tweede gebeurtenis is die aanslag op Afrikanerkinders se skole, deur nog ‘n Pienk Frikkie-agtige slang aan eie boesem, ene Hans Pietersen, ‘n individu met duidelik te veel tyd op hande, wat wil krap waar dit nie jeuk nie. Natuurlik is daar ook die smerige vingers van ‘n voormalige Naspershoernalis, George Claassen, hierin te bespeur. (Hoekom is ek nie verbaas dat Naspers, soos met die PUK-voorval, weer eens voor in die koor van Afrikanervyande is nie?)

Pietersen en sy trawante, met hul bruin ANC-ringe om die nek, is nie tevrede dat blankes bloot derdeklasburgers moet wees in ons beroepslewens nie, maar wil ook toesien dat Afrikanerskole se karakter heeltemal moet verander. Sonder om in die godsdiensdebat betrokke te wil raak, wil OGOD (die Pietersen—karakter se sogenaamde organisasie) klaarblyklik toesien dat een of ander tipe New Age-agtige almal-is-eners gebrabbel aan skoolkinders oorgedra, ten einde Afrikanerkinders se “geestelike horisonnne verbreed”.

Vermoedelik wil OGOD dus die kinders onder andere van die “geloof van vrede” leer. Een van die dae kom Pietie by die huis met die opdrag om ‘n selfmoordonderhemp te moet maak as ‘n skooltaak, of moet Sannie navorsing doen oor die sewentig maagde wat in die hemel wag vir diegene wat ongelowiges onthoof. Natuurlik gaan skoolkinders ook vertel word dat alle religieë van soortgelyke waarde is, selfs dié wat lei daartoe dat brandstof oor Kirsty Theologo uitgegooi is, en sy aan die brand gesteek is tydens ‘n Satanistiese ritueel. Skoolkinders sal natuurlik ook wysgemaak word dat voorvaderaanbiddery en sy gepaardgaande moetie-moorde, van presies dieselfde waarde as Christenskap is.

Mens moet jou egter nie blindstaar teen die blote aantasting van Afrikaners se godsdiens nie, of probeer om hierdie aanslag op slegs ‘n godsdienstige vlak te beveg nie. Dit gaan oor veel, veel meer as dit. Dit gaan oor die ganse aard van Afrikanerskole, ook oor hul kultuur en dissipline, iets wat meestal in swart en Engelse skole afwesig is. Pietersen en sy ander mede-kaders het, “vreemd genoeg”, nie een, enkele Joodse- of Moslemskool geteiken nie. Die Joodse King David-skool in Johannesburg is dus nie op die lys van respondente in die hofgeding nie. Dit is uitsluitlik Afrikaanse skole wat in Pietersen en trawante se visier is. Toeval? Ek dink nie so nie. Pietersen, Claassen en die res van die spul kaders is dus nie tevrede met bloot die etniese reiniging van Afrikaners uit hul poste nie, maar teiken nou ook Afrikanerkinders se kultuur en lewensbeskouing, en wil hulle ganse waardestelsel omvorm na een of ander identiteitslose multikul-gedrog wat, eerder as om te bid tot Jesus voor ‘n rugbywedstryd, ‘n kat of twee sal slag terwyl hulle ‘n Boeddhistiese gebrom besig.

Ek is weliswaar nie té jammer oor Pietersen se aanval op Afrikanerkinders nie, of oor die Grondwethof se uitspraak nie. Dit is bes moontlik presies wat Afrikaners nodig gehad het om wakker te skrik en ons gemaksones te verlaat. Ons moet dringend ‘n kopskuif maak, en van ‘n hele paar fopspene vergeet.

Vergeet van die nuttelose rassesensus bekend as verkiesings en die nuttelose tydmors by die stembus – selfs die DA het boedel oorgegee daarmee. Hul leidster sit nie eens in die parlement nie.

Vergeet van die howe – die ANC se kaders, daardie blygemaakte hofklerke wat kwansuis regters is, gaan nié in ons guns beslis nie.

Vergeet van Pienk Frikkie se sogenaamde wigte en teenwigte. Dit bestaan eenvoudig nie.

Vroeër vandeesweek, ná die Grondwethof se skokuitspraak, het Dirk Hermann van Solidariteit in sak en as gesit, en gespekuleer dat blankes ons saak nou op ander maniere sou moes beveg. Ek wil “eureka!” skree. Uiteindelik het hy die kloutjie by die oortjie gebring. Dit is tyd vir ‘n nuwe fase van weerstand, een wat buite die konvensionele strukture van die politiek en howe moet plaasvind. So nie, gaan die totale aanslag ons verswelg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.