PRAAG tree toe tot regstryd oor Christelike inhoud in skole

Deel op

PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het Woensdagoggend 3 September ‘n epos aan die voorsitter van OGOD, mnr. Hans Pietersen, gerig waarin die naam van sy prokureur en hul kontakbesonderhede versoek word aangesien PRAAG dié organisasie se skending van godsdiensvryheid in die land wil teenstaan.

“Hierdie is die soveelste aanval op Afrikaanse skole wat deur twyfelagtige nie-regeringsorganisasies geloods word,” sê Dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Gewoonlik word sulke organisasies ook vanuit die buiteland, veral vanuit die VSA en Groot Brittanje, befonds. Dit gaan allermins oor die vryheid van leerlinge om te besluit watter geloof hulle wil aanhang, al dan nie. Dis maar net nog ‘n manifestasie van Boerehaat of etniese haatgevoelens jeens Afrikaners wat sowel in taaldiskriminasie as plaasmoorde manifesteer. Die deels Christelike aard van Afrikaanse skole kan teruggevoer word na die CNO-skole wat kort ná die verowering van die Boererepublieke gestig is. Dit het gegaan om die behoud van Afrikaans en Afrikanergeskiedenis, terwyl daar in Engelse staatskole in Suid-Afrika destyds slegs Britse geskiedenis gedoseer is.”

'n Skildery wat Christus uitbeeld deur Caravaggio. Binnekort ook verbode in Afrikaanse skole?
‘n Skildery wat Christus uitbeeld deur Caravaggio. Binnekort ook verbode in Afrikaanse skole?

As kultuurorganisasie vind PRAAG die poging van OGOD om aan Afrikaanse skole, wat uiteindelik deur ouergemeenskappe en beheerrade bestuur word, ewe verwerplik as Section 27 se hofaansoeke om ‘n Sowjetagtige vorm van staatsbeheer en verengelsings van Afrikaanse skole deur die howe af te dwing. Dr. Dan Roodt sê: “Geloofsvryheid beteken ook die reg om in die skoolgebou te mag bid of die Bybel te mag lees. Die verbod op alle vorme van Christelike inhoud is ondeurdag en filistyns, aangesien selfs sekulêre letterkunde verwysings na Christelike temas bevat. Om van kunsgeskiedenis en skilderye nie te praat nie. Mag Raphaël, Caravaggio en al die ander skilders wat sowel Maria as Christus uitgebeeld het nou nie meer in ons skole behandel word nie? Daar is sekerlik duisende Afrikaanse gedigte met metafore, beeldspraak of verwysings na die Christendom… moet ons Afrikaanse skole nou dáárvan ook gesuiwer word?”

PRAAG het ‘n beroep op alle Afrikaners gedoen om saam te staan, selfs nie-gelowiges. “Deur die geskiedenis was Afrikaners nog altyd verdraagsaam en Paul Kruger het byvoorbeeld sowel Jode as Moslems in die Transvaal verwelkom. Met die heksejag teen Afrikaanse skole en gevestigde gebruike in ons skole word ons nou deur die Engelsman in sy marxistiese blindheid en fanatisme terugbetaal. Dis ‘n aanval op ons as gemeenskap en as volk.”

In getuienis wat voor die hof geplaas sal word, gaan PRAAG die totalitêre linkse tradisie in Suid-Afrika aan die kaak stel, wat wissel vanaf godsdienstige, etniese en talige onverdraagsaamheid tot verkragting, halssnoermoorde en terreur. Die vervolging van Christene in die toenmalige kommunistiese Oos-Europa is ook ter sake, aangesien die huidige Suid-Afrikaanse bewind hom ideologies op daardie vorm van kommunisme skoei.

Roodt het ook so pas ‘n eboek-essay gepubliseer waarin hy die ekstreemlinkse fanatisme van plaaslike Engelssprekendes van naderby ontleed en spesiaal vir die Engelse gemeenskap in Engels geskryf is: Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity.

Intussen het die voorsitter van die organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie (OGOD), mnr. Hans Pietersen, laat weet dat hy nie bereid is om sy prokureurs se kontakbesonderhede aan PRAAG te verskaf nie:

Soos ek in verskeie forums (drukpers, radio en tv) genoem het, is die saak nié teen ‘n spesifieke geloof óf geloof as sulks gemik nie, en ook nie teen ‘n spesifieke kultuur- of taalgroep nie. Om OGOD dus van Afrikaner- of Boerehaat te verdink sou onwaar, oneerlik en propagandisties wees.

Ek gaan op hierdie stadium nie ons regspan se besonderhede oordra nie aangesien skakeling met hulle bloot die fokus van ons eie doelwitte gaan aflei.

Desnieteenstaande het PRAAG die hofstukke bekom en is tans besig om dit te bestudeer en sal ook vergaderings met skole bywoon om die aanslag af te weer. In wese kom die hofstukke daarop neer dat Pietersen die regulasies teen die Christelike godsdiens soos dit deur Kader Asmal uitgevaardig is, op alle Afrikaanse skole en veral die ses skole wat in die aansoek gedagvaar word, wil laat afdwing. Die volgorde waarin die ses Afrikaanse skole in die aansoek genoem word, is:

Laerskool Randhart

Laerskool Baanbreker

Laerskool Garsfontein

Hoërskool Linden

Hoërskool Oudtshoorn

Langenhoven-gimnasium

Onder andere maak Pietersen beswaar teen Laerskool Randhart se leuse op sy skoolwapen: “Ons glo.” Pietersen meen ook dat die skoolwapen self (die embleem) teen die grondwet indruis omdat dit op die drieledige stelling gegrond is: “Glo in God, jouself en jou land.”

In weerwil daarvan dat al ses skole Afrikaans is, is die dagvaarding in Engels op die skole beteken.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.