NWU sluit Mafikengkampus nadat studente geboue afbrand

Volgens ‘n mediaverklaring van die Noordwes-universiteit is die Mafikengkampus “onbepaald gesluit” nadat woedende swart studente verskeie geboue afgebrand het. Die studente was ontevrede oor ‘n nuwe studenteraad wat aangewys is. Op die universiteit se Facebookblad het hy die volgende verklaring gepubliseer, wat ons volledig hier aanhaal.

As gevolg van wydverspreide brandskade wat op 24 Februarie aan verskeie geboue op die Mafikengkampus aangerig is, is die kampus onbepaald gesluit. Studente is aangeraai om die kampus onmiddellik vir hul eie veiligheid te verlaat en huis toe te gaan aangesien dit ’n geruime tyd sal neem voor bedrywighede hervat sal word. Studente sal minstens ’n maand voor die tyd in kennis gestel word wanneer die kampus heropen sal word.

Die gebeure het soos volg ontvou:

’n Geleentheid is vir die oggend van 24 Februarie beplan waartydens die nuut aangewysde Kampus Verteenwoordigende Studenteraad (KVSR) ingehuldig is. Net voor die verrigtinge begin het, het ’n groep studente, na bewering van die EFF-studentebevelstruktuur en ondersteuners van die ontbinde KVSR, die geleentheid ontwrig. Die aanvanklike betogings het buite die Great Hall begin, waarna dit na binne uitgebrei het. Terwyl sprekers die studente toegespreek het, is die geleentheid deur ’n gesingery en geskree ontwrig.

Ná die geleentheid het die tydelik geskorsde KVSR-voorsitter, mnr Linda (Benz) Mabengwane op die kampus aangekom en ’n groep studente toegespreek. Sekuriteit wat op die kampus ontplooi is, het die groep uiteengejaag, wat tot botsings tussen hulle en die studente gelei het. Sekuriteit moes traangas en rubberkoeëls gebruik om die situasie onder beheer te kry. Die studente het sekuriteit met klippe bestook, wat tot verdere teenreaksie gelei het.

Teen laatmiddag het die situasie weer opgevlam en is voorvalle aangemeld waar studente ’n motorfiets wat aan ’n personeellid behoort het, asook ’n sleepwa van die sekuriteitsmaatskappy aan die brand gesteek het. Die personeel-kafeteria is ook geplunder.

Studente het voortgegaan om verskeie geboue op die kampus aan die brand te steek, waarvan die administrasiegebou hul hoofteiken was. Hierdie gebou is in totaliteit vernietig, insluitend alle amptelike rekords. Na berekening beloop die skade miljoene rande.

Arrestasies is klaarblyklik gemaak, maar dit kan nie in hierdie stadium formeel bevestig word nie.

Gerugte is versprei dat ’n student dood is as gevolg van ingryping deur sekuriteit, maar dit is van alle waarheid ontbloot. Daar word wel vermoed dat studente beseer is tydens die botsings met sekuriteit, maar geen bevestigde inligting is in hierdie stadium hieroor beskikbaar nie.

Nuwe oorkoepelende raad by NWU oorweeg

Een van die gevolge, indien die NWU sou oorskakel na ‘n gesentraliseerde bestuursmodel, is dat die huidige studenteraad van die Potchefstroomkampus kan wegval in ruil vir ‘n oorkoepelende studenteraad van al drie kampusse.

Dit is volgens kampusrektor Herman van Schalkwyk, en blyk uit sy toespraak aan honderde studente in die kampus se amfiteater Dinsdag.

Daar word tans ‘n nuwe bestuursmodel vir die universiteit, wat bestaan uit die Potchefstroom-, Mafikeng- en Vaal Driehoekkampus, oorweeg. Die belynde model, wat deur visekanselier Dan Kgwadi voorgestel word, sal ook behels dat daar slegs een dekaan per fakulteit oor kampusgrense heen sal wees.

Fondse sal ook so belyn word dat al drie kampusse op dieselfde vlak kan kom wat betref infrastruktuur.

Van Schalkwyk het aan OFM-nuus gesê dat die beplanningsfase egter nog nie voltooi is nie.

PUK se skorsing van SR-lid opgehef

Die Noordwes-Universiteit se visekanselier, Dan Kgwadi, is verantwoordelik om die Potchefstroom-kampus se studenteraadvoorsitter, Monica van Schalkwyk, se skorsing uit die Institusionele Verteenwoordigende Studenteraad (IVSR) op te hef.

Van Schalkwyk se prokureur, Werner Human, sê haar skorsing was onregmatig. Daar is ook geen redes verskaf nie. Human sê sy is geskors, vermoedelik weens ‘n meningsverskil met lede van die IVSR.

Human het in ‘n brief aan Kgwadi gevra dat hy haar skorsing teen môre moet ophef, omdat hy volgens die statuut die hoofdissiplinêre beampte is en die fout moet regstel.

Die studenteraad van die Potch-kampus het intussen sy steun aan Van Schalkwyk gegee. Haar skorsing kom glo nadat sy standpunt ingeneem het teen ‘n grondwetwysiging wat deur ISR-lede, wat die Vaaldriehoek- en Mafikeng-kampusse verteenwoordig, voorgestel is.

Die voorgestelde wysiging verklaar dat besluitneming van die IVSR sonder instemming van die onderskeie partye kan plaasvind.

Dit kom daarop neer dat besluite oor kampusaangeleenthede deur die IVSR geneem kan word sonder dat hulle dié onderskeie kampusse verteenwordig.

Kgwadi het Vrydag bekend gemaak dat Van Schalkwyk heraangestel is in haar posisie as adjunkvoorsitter van die Institusionele Verteenwoordigende Studenteraad (IVSR) nadat sy haar vetoreg wou uitoefen.

Gay, Afrikaans, marxisties en EFF-studenteleier by Tuks

“Woensdag het ‘n groep wit mansstudente my ‘n rasseverraaier en ‘n moffie genoem,” sê Jaco Oelofse. “Nie baie oorspronklike nie, maar hulle het probeer.”

Oelofse is gay, wit, marxistiese en Afrikaans, asook die studenteleier van die Ekonomiese Vryheidsvegters op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Hy beskou Julius Malema as ‘n “uitstekende leier” en sê:

“Die media slaag daarin om ‘n sterk swart stem te demoniseer. Ek dink dat hy ‘n uitstekende leier is en presies die soort leier wat die land nodig het, en meen dat hy ‘n “goeie spreker is

“Hy ken politiek, is ‘n uitmuntende orator en wat ek van hom hou, is dat hy verstaan dat die waarheid radikaal is, hy praat die waarheid.”

Tot dusver het die 23-jarige Oelofse nog nie sy leier ontmoet nie, maar wil baie graag.

Jaco Oelofse, leier van die EFF se gevegseenheid by Tuks
Jaco Oelofse, leier van die EFF se gevegseenheid by Tuks

Wat die grondkwessie betref, voel hy dat alle grond aan die “regmatige eienaars” terugbesorg moet word aangesien dit “met geweld gesteel is. Daar moet geen vergoeding (vir boere) wees nie, dit moet net aan die regmatige eienaars teruggegee word.”

“Maar,” sê die filosofiestudent aan Tuks wat onder invloed van marxistiese denkers gekom het, “dit beteken nie dat blankes nie ook deel van die land kan wees nie, maar voordat ons kan praat van die land met blankes deel, kom ons fokus liewers daarop om blankes te kry om die grond te deel.”

Volgens Oelofse mag blankes ook deel wees van Suid-Afrika.

Sedert Oktober 2013 is hy lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters en ‘n lid van die “studentegevegseenheid” aan die UP.

Benewens filosofie, studeer Oelofse ook staatsleer. Hy meen “daar is geen ander keuse as nasionalisering nie”.

Hoe het dit gebeur dat hy die marxisme omhels het? In die onlangse verlede is Tukkies gesuiwer van nie-marxistiese akademici deur veldtogte teen hulle te voer, onder meer deur dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg wat ‘n dosent in die filosofiedepartement laat vervolg het weens kritiek wat sy op feminisme en marxisme uitgespreek het.

Oelofse het toenemend in sy studies die radikale menings van sy dosente, wat deesdae meesal van Wits, Kaapstad, Natal en ander radikale Engelse kampusse afkomstig is, omhels. “Soos wat ek in my studies gevorder het, het my belangstelling in radikale teorie toegeneem,” sê hy. “Ek vereenselwig my met ‘n radikale party wat die belang van die lydendes, die armes en die stemloses op die hart dra. As ‘n gay persoon glo ek ook dat die EFF die regte party is, aangesien hulle by verre die mees progressiewe beleid oor geslagtelikheid en seksualiteit het. Die EFF veg vir gelyke behandeling vir almal, ons kan nie groepe aan die rand van die samelewing uitsluit nie.” Volgens hom is daar, afgesien van die EFF, geen ander studentevereniging wat blanke oorheersing, die patriargie, seksisme en homofobie met soveel “radikale ambisie” beveg nie.

Hy het ook “die patriargale, heteroseksuele kulture by koshuise, wat mense met ander seksuele voorkeure uitsluit”, gekritiseer.

Jaco besef dit is idealisties om diskriminasie heeltemal uit te skakel.

“Op universiteit kan ons ten minste die ruggraat van rassisme breek.”

Tydens die studenteverkiesing verlede Woensdag op 3 September, het Afriforum Jeug egter 50% van die stemme verkry. Die stemverdeling lyk soos volg:

AfriForum Jeug het 6 uit die 12 setels verkry, insluitend twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad.

Die uitslag van die verkiesing is soos volg:
• AfriForum Jeug: – 50% (6 setels)
• Radical Youth Coalition – 8.3% (1 setel)
• South African Student Congress (SASCO) – 8,3% (1 setel)
• Democratic Alliance Student Organisation (DASO) – 8.3% (1 setel)
• Onafhanklike kandidate – 25,1% (3 setels)

Die EFF Tuks-gevegseenheid het egter die adjunkpresidentskap van die studenteraad ingepalm. Oeloefse meen dit is “goed vir ‘n organisasie wat maar sedert Februarie op die kampus aktief is”.

Nogtans voel hy teleurgesteld met die uitslae, aangesien hy nie Afriforum se verkryging van die transformasieportefeulje kan aanvaar nie.

Hy meen dat die EFF oor die algemeen goed op die kampus aanvaar word en studente nader hulle gedurig om aan te sluit.

“Ons het ‘n radikale vonk in Tuks-studentepolitiek veroorsaak.”