Die Suid-Afrikaanse rolprent, Leading Lady, waarin die Afrikaanse sanger, Bok van Blerk ‘n rol vertolk, gaan in die VSA vrygestel word.
Starburst Promotion sê die sukses van die rolprent by die Seattle internasionale filmfees het daartoe gelei dat die Amerikaanse regte verkry is, het RSG berig.
Die regisseurs van die rolprent, wat op 28 November in Suid-Afrika vrygestel word, is Henk Pretorius en Llewelynn Greeff.
Die rolprent vertel die verhaal van ‘n Britse dramaskool-onderwyser wat ‘n Suid-Afrikaanse boer oorreed om haar te help om voor te berei vir ‘n rol as ‘n Afrikaanse oorlogsheldin.
Die Amerikaanse sterre, Katie McGrath van Jurassic World en Gill Bellows van Ally McBeal speel ook in die rolprent.
‘n Vryskutskrywer van Beeld, Johan Pienaar, is verplig om bemiddeling te ondergaan by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie weens ‘n haatblad teen Christene wat hy op Facebook bedryf. Pienaar en sy kamerade het maande lank op die Facebook-blad “Afrikaanse ateïste” Christene verguis, bespot en belaster op ‘n manier wat op beweerde haatspraak neerkom.
‘n Klag teen Pienaar is by die kommissie aanhangig gemaak deur mnr. David Spohr. Die kommissie het in die lig van die voorbeelde van anti-Christelike haatspraak besluit om die saak verder te ondersoek.
Mnr. Spohr het aan praag gesê: “In die brief lig hulle my in dat hy (Pienaar) nie reageer het op hulle versoeke om deel te neem aan ‘n bemiddelingsproses nie. Ek het besluit om redelik te wees en tot bemiddeling in te stem. Op dié stadium is hulle bevinding dat hy ‘n saak het om te antwoord.”
Pienaar het tot 28 Oktober kans gehad om op die kommissie se voorstel van bemiddeling te reageer, maar hy tot op hede nie geantwoord nie.
Die redakteur van Beeld, Adriaan Basson het op Twitter ontken dat Pienaar gereeld in Beeld skryf:
Maar Piet Croucamp, wat wel ‘n gereelde rubriek in Beeld skryf, het insgelyks ‘n afkeer van Christene, maar ook Afrikaners en is ‘n geesgenoot van Pienaar. Oor die afgelope week is Pienaar knaend op Twitter besig om die buikspreker Conrad Koch se laster en teistering van Steve Hofmeyr te verdedig. Hy het ook reeds in ‘n twiet na praag as ‘n “Nazi-organisasie” verwys.
“Dit lyk asof linkse fanatici nou besig is om heeltemal die kluts kwyt te raak,” sê dr. Roodt van praag. “Eers was dit Conrad Koch wat hom heeltemal te buite gaan en crimen injuria teen Steve pleeg. Nou is dit Beeld se vryskutskrywer wat my ook teister en deelneem aan ‘n lasterveldtog teen my.”
Naskrif: In ‘n vroeër weergawe van dié artikel is daar vermeeld dat Pienaar ‘n “Beeld-rubriekskrywer” is, wat nou gekorrigeer is na “vryskutskrywer”. Ons vra om verskoning vir die wanindruk.
Conrad Koch en sy pop Chester Missing het Donderdag voortgegaan om twiets te stuur oor Steve Hofmeyr ten spyte van ‘n tussentydse beskermingsbevel teen hom.
Koch het Hofmeyr in sy jongste twiet gedreig en gesê hy gaan hom “brand”.
Beeld het Donderdag berig dat Koch bevestig het dat hy ‘n telefoonoproep gekry het rakende die hofbevel, dus moet Koch bewus wees daarvan dat hy in die tronk kan eindig as hy nie met sy veldtog ophou nie.
Koch het gesê dit is “fundamenteel” verkeerd om regsoptrede teen ʼn satirikus te neem. Hy het nie kommentaar gelewer oor die uitgebreide, kwetsende veldtog wat hy teen Hofmeyr voer nie.
“Dit is absoluut mal. Steve spoeg rassistiese gal. As hy uitgedaag word, tree hy verwaand op,” het Koch aan die koerant gesê. “Al wat ek gedoen het, was om te twiet. Die prys van sy rassisme kom nou terug na hom toe.”
Volgens Beeld het Koch gesê sy twiets oor Hofmeyr is nie haatspraak nie, aangesien hy nooit iets haatdraends gesê het oor die sanger of vir mense gesê het om sy borge of die fees [Afrikaans is Groot] te boikot nie.
Intussen het RSG se Spektrum-nuusprogram drie agtereenvolgende onderhoude Donderdag uitgesaai waarin Hofmeyr se beweerde “rassisme” in mindere of meerdere mate veroordeel is.
Ene dr Llewellyn Curlewis, van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsie, het homself geredelik weerspreek deur te sê Hofmeyr moes nie die landdroshof genader het nie en daarna beweer dat die hooggeregshof slegs genader kan word indien alle remedies uitgeput is. Hy het ook “gewonder” of Roodt en Hofmeyr se verklarings in beëdigde vorm ingedien is, sonder om daaraan te dink dat die landdros nie die bevel sou toegestaan het indien dit nie die geval was nie.
Die prokureur het nog geen van die stukke rakende die kwessie onder oë gehad nie en dra geen kennis van die bevel nie, maar het nogtans nie geskroom om sy mening daaroor te gee nie. Hy het verklaar dit sal nie slaag nie.
‘n Byna vergete sanger het ook een of ander oordeel probeer fel, maar die pad byster geraak tydens die uitsending en vasgehaak op Hofmeyr se gewildheid, klaarblyklik in ‘n misplaaste selfreklamepoging.
Kallie Kriel van Afriforum het gesê hulle kan nie Hofmeyr se uitlatings oor rassekwessies ondersteun nie.
Hy het die “groepie” teen Hofmeyr veroordeel, maar gesê dit is beter om ras te vermy aangesien daar geen teenkanting was teen Dookoom of Julius Malema se rassisme deur Hofmeyr se kritici nie.
Die buikspreker Conrad Koch van Seepunt, Kaapstad is vandag deur die Randburgse landdroshof verbied om Steve Hofmeyr enigsins verder te teister, sy borge of vennote te kontak of bykomende lasterlike of kwetsende aamerkings oor hom te publiseer. Die tussentydse hofbevel geld vanaf 13:00 vandag tot 27 November om 08:30 wanneer Koch in dieselfde hof sal moet verskyn om te verduidelik waarom die bevel nie ‘n finale bevel gemaak behoort te word nie.
‘n Lasbrief vir Koch se inhegtenisname is reeds uitgereik en sal uitgevoer word indien hy die bevel, wat oral in die Republiek van Suid-Afrika van krag is, sou verontagsaam. Intussen het Koch, wat op Twitter as Chester Missing gespog het dat hy Steve Hofmeyr gaan ruïneer deur druk op sy borge, asook dié van Afrikaans is Groot te plaas, geweier om sy adres per telefoon aan ‘n polisiekaptein van Douglasdale, Johannesburg te verstrek. Dr. Dan Roodt, wat die bevel aan die polisiekantoor vir betekening op Conrad Koch gaan oorhandig het, was teenwoordig toe Koch versuim het om sy woon- of werksadres aan die polisie te verstrek.
PRAAG, wat oor die afgelope 48 uur vir Steve Hofmeyr bygestaan het om die aansoek te bring, was egter nie bekommerd oor Conrad Koch wat intussen vir die gereg probeer wegkruip nie. “Dis eenvoudig lagwekkend,” sê Dr. Dan Roodt. “Eers dreig hy vir Steve in gekruide taal en hou hom voor as die magtigste man in Suid-Afrika, maar nou kruip hy vir die polisie weg. Ons gaan in elk geval die hofbevel en dagvaarding aan hom per e-pos stuur en uiteindelik sal ons en die polisie hom wel opspoor.”
Indien die tussentydse interdik op 27 November in ‘n finale bevel omskep word, sal Conrad Koch voortaan oor ‘n misdaadrekord as teisteraar beskik. “Ons kon eenvoudig nie langer stilsit om te sien hoe Steve Hofmeyr, wat steeds die gewildste sanger in Afrikaans is en met wie ons al meer as ‘n dekade saam vir Afrikaans en Afrikanerregte stry, op kwaadwillige wyse en deur teistering benadeel word nie.”
Steve Hofmeyr was vanmiddag hoogs in sy noppies en het die goeie uitslag met ‘n ete in ‘n Sandtonse restaurant saam met Roodt gevier.
Die tussentydse bevel is kragtens die Wet op die voorkoming van teistering, 2011, toegestaan. Aanvanklik was daar ‘n probleem omdat dr. Dan Roodt die verklarings in Afrikaans ingedien het terwyl die landdros nie Afrikaans magtig was nie. Die verklarings is egter goedgunstiglik en inderhaas deur hom in sy eie handskrif vertaal, waarna die bevel toegestaan is.
“Ons sal ander dag weer oor Afrikaans as hoftaal baklei,” het hy gesê. “Intussen moes ons die proses stuit waardeur Steve Hofmeyr en Afrikaanse musiek deur kwaadwillige ekstremiste aangeval en verguis word.”
PRAAG en Hofmeyr oorweeg ook die moontlikheid om Conrad Koch vir laster te dagvaar weens onwelvoeglike uitlatings oor die sanger wat hy op Twitter gepubliseer het.
Die buikspreker Conrad Koch het in sy angsvallige pogings om Steve Hofmeyr in die openbaar te verkleineer, gesê dat Afrikanervroue en -kinders eintlik verdien het om in die Anglo-Boereoorlog deur die Britte uitgemoor te word. Dit volg op ‘n boek deur ‘n akademikus van die Universiteit van Kaapstad, Elizabeth van Heyningen wat beweer die Boerevroue en -kinders het nie omgekom vanweë ‘n gebrek aan voedsel en higiëne nie, maar vanweë hulle eie agterlikheid, “lae intelligensie” en “swak higiëne”.
Die twiet waarin Chester Missing alias Conrad Koch sê dat Afrikanervroue en -kinders verdien het wat hul gekry het.
Steve Hofmeyr het verlede week, voor sy optrede Saterdag by Afriforum se gratis musiekfees by die Voortrekkermonument, teenoor praag vermeld dat hy tans ‘n ongekende aantal doodsdreigemente ontvang. Vanoggend berig die media dat daar Saterdag spesiale veiligheidsmaatreëls vir die sanger en Afrikaanse aktivis getref is.
Die Johannesburgse dagblad Beeld, wat vroeër met ‘n veldtog teen die laaste Afrikaanse kampus op Potchefstroom begin het deur studente van “Nazi-rituele” te beskuldig, verkeer op die voorpunt van die aksie teen Hofmeyr omdat hy dit durf waag het om enkele weke gelede Die Stem te sing. Die ekstreemlinkse redakteur van Beeld, Adriaan Basson, neem Hofmeyr ook kwalik omdat hy onlangs beklemtoon het dat swartes weens hul deelname aan die stelsel en verskeie ander faktore mede-argitekte van apartheid was.
Tesame met Adriaan Basson, is die buikspreker Conrad Koch wat “namens” sy pop Chester Missing vir 144 000 volgelinge twiet, besig om mense teen Hofmeyr en Afrikaners in die algemeen op Twitter te probeer opsweep. Koch huiwer nie om vloekwoorde en lasterlike taal te gebruik nie en tipeer Hofmeyr om die beurt as “moroon”, “idioot” en “rassis”. Hier is ‘n voorbeeld van een van sy twiets waarin hy openlik dreig dat hy Hofmeyr gaan vernietig.
Steve, u dicktroll, by the time I am done with you even your dog will think you’re a c*nt. “@steve_hofmeyr: Koch’s campaign is backfiring
praag het vanoggend boodskappe met Hofmeyr uitgeruil waarin hy Koch daarvan beskuldig dat hy “regter, jurie en laksman speel”.
“Conrad Koch is besig om die swart publiek met sy verdraaiings, asook borge soos Williams Hunt en Pick n Pay, teen my af te speel,” meen Steve Hofmeyr.
Conrad Koch en sy mede-Boerehater, Zapiro
Williams Hunt op Port Elizabeth het ‘n week gelede hul borgvoertuig ‘n dag vroeë van Hofmeyr teruggevra nadat Koch hul telefoonnommer op Twitter gepubliseer het en sy volgelinge aangemoedig het om by die motorhandelaar beswaar teen Hofmeyr te maak. Tans spits Koch hom daarop toe om die Afrikaans is Groot-musiekfees, waar Steve Hofmeyr een van die genooide kunstenaars is, se borgskappe insgelyks te laat terugtrek. Hy plaas veral druk op Pick n Pay om sy borgskap aan dié Afrikaanse musiekfees te onttrek.
Op sy beurt het Steve Hofmeyr gewaarsku dat daar “vele afleggings kan geskied as gevolg van Conrad Koch se veldtog. Sowel Links as Regs kan die maatskappye begin boikot. Williams Hunt het in ‘n benoude twiet hul houding verander deur skielik te verkondig dat hulle “Steve weer sal borg” nadat inwoners van PE en boere in omliggende streke te kenne gegee het dat hulle eenvoudig hul voertuie sal teruggee en daardie takke sal boikot oor hul ondeurdagte boikot teen my.”
Pick n Pay is insgelyks huiwerig om die hele Afrikaanse publiek te vervreem deur die sensuurveldtog deur Beeld en Conrad Koch teen Steve Hofmeyr te steun. Steve Hofmeyr sê: “Pick n Pay, een van die borge van Afrikaans is Groot het laat weet dat hy nie met individuele kunstenaars onderhandel nie maar alleen met ‘n agentskap.”
By Saterdag se musiekfees by die Voortrekkermonument het Steve Hofmeyr, tesame met ‘n skare van 20 000 mense, weereens Die Stem gesing, ondanks die heftige kritiek wat Beeld en ander linkse media reeds weke lank teen Hofmeyr en die meer patriotiese Afrikaners monster.
Nadat Hofmeyr aanvanklik Die Stem by die Innibos-kunstefees op Nelspruit gesing het, het Vodacom intussen laat weet dat hy voortaan van die organiseerders sal verwag dat hulle in die konktrakte van kunsternaars die sing van Die Stem sal verbied.
Intussen het Conrad Koch vanoggend op Cape Talk verskyn waar hy gesê het:
“Steve Hofmeyr het die grens oorgesteek en verdien daarom om geöstrajeer te word toe hy gesê het dat swartmense self die argitekte van apartheid was. Ek kan nie met Steve Hofmeyr argumenteer nie, want ek het ‘n meestersgraad in antropologie. Die rede waarom Hofmeyr geloofwaardigheid het, is omdat groot maatskappye hom daardie geloofwaardigheid gee. Hofmeyr sê dat swartes nie ontwikkel genoeg was om aan ons samelewing deel te neem nie.”
Koch het op sy woernaal in nog ‘n aanval op Steve Hofmeyr geskryf:
Steve said: “If the world doesn’t buy into African systems, mentality and reputation, it isn’t always their fault”. Let’s start with the awkward fact that he stole his entire language from black people. Afrikaans was first written in Arabic by an Iman translating the Koran. Salaam alaikum, Oom Steve. [beklemtoning bygevoeg – red.]
Dit wil voorkom asof Koch ‘n voorstander is van Afrosentrisme, ‘n Amerikaanse doktrine wat deur Martin Bernal verwoord is. Daarvolgens het Europeërs en blankes hul kennis, wetenskap en tegnologie oor die eeue heen van swartmense in Afrika “gesteel”, net soos blanke boere hul grond “gesteel” het.
Volgens Koch tydens sy CapeTalk-onderhoud, sou Steve Hofmeyr se optredes lankal verbied gewees het indien hy gesê het “dat Jode die argitekte van apartheid was of dat ons seks met bokke in die openbaar moet hê. Wat Steve Hofmeyr sê, is absoluut weersinwekkend, hy ondersteun die stereotipes van kolonialisme en is besig met volledige (full-blown) rassisme.”
Koch se veldtog word ook deur bekende lede van staatsveiligheid en veral die misdaadintelligensie-eenheid ondersteun. ‘n Polisieman op Stellenbosch wat gereeld smeerveldtogte teen Afrikaanse openbare figure het verwoed saam met Conrad Koch begin twiet, asook die name van dr. Dan Roodt se kinders op Twitter vrygestel in ‘n sinistere poging om hom te intimideer weens die steun wat hy tot dusver aan Hofmeyr op Twitter en elders gebied het.
In sy kommentaar het dr. Dan Roodt gesê: “Pleks daarvan dat die misdaadintelligensie-eenheid plaas- en ander moorde probeer oplos, is hulle besig met lasterveldtogte en intimidasie van Afrikaanse skrywers en kunstenaars.”
Die tragiese, sinnelose en barbaarse moord op die bejaarde mnr. Janse van Vuuren is die jongste op die telbord teen diegene wat ‘n nuwe, verbeterde Suid-Afrika aan Afrikaners probeer smous.
Die plaasaanval Donderdagaand om ongeveer 23:00 op die plaas Nuwejaarsbos, het die groter gemeenskap weer geruk. Die plaas is tussen Odendaalsrus en Kroonstad.
Vyf swart plaasaanvallers het mnr. Janse van Vuuren oorval toe hy masjiene by sy melkstal gaan afskakel het. Hulle het sy vuurwapen van hom afgeneem en hom daarmee doodgeskiet.
Die boosaards is na sy huis waar hulle sy 16-jarige kleindogter voor haar ma en sussie verkrag het. Die aanvallers het met mnr. Janse van Vuuren se bakkie, selfone, kontant en vuurwapens gevlug.
Die bakkie is verlate langs die pad gevind en die aanvallers is nog op vrye voet.
Terwyl die land in rep en roer is oor die moord op die kaptein van Bafana Bafana, Senzo Meyiwa, sal hierdie gruweldaad weereens ongesiens verbygaan in die oë van die owerhede.
Hierdie moorde is weereens ʼn bewys dat kriminele boosaards, onder aanmoediging van buitelandse NGO’s, geen respek vir Afrikaners se mees basiese reg op lewe het nie.
Ook die strawwe wat swart moordenaars opgelê word, dien klaarblyklik nie meer as afskrikmiddel nie, maar as aanmoediging vir ‘n etniese suiweringstog.
Daar sal geen beloning vir die inhegtenisneming van hierdie barbaarse moordenaars uitgereik word nie, en owerhede sal nie aan hul grondwetlike verantwoordelikhede herinner word nie, selfs nie deur ‘n media-instelling wat feitlik oor ‘n totale nuusmonopolie beskik nie, naamlik Media24.
Die voorsitter van die Louis Trichardt-voorsittersvereniging (VV), André Naudé het die skikking verwelkom om die dorp se naam in ere te herstel.
Hy sê inwoners sal nou daarop fokus om die erfenis van die dorp te bewaar.
Volgens die skikking sal Makhado in Limpopo weer as Louis Trichardt bekendstaan.
Die minister van kuns en kultuur en die Geografiese Pleknaamraad het gister buite die hof met die vereniging geskik.
Die Hooggeregshof in Pretoria het daarna die besluit om die dorp se naam na Makhado te verander, ter syde gestel.
Die skikking volg nadat die Pleknaamkomitee nie ‘n rekord van voldoende konsultasie oor die naamsverandering kon verskaf nie.
Naudé sê die komitee het dit nie in ag geneem dat die dorpsnaam reeds meer as 110 jaar oud is nie.
Die minister (eerste respondent), die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (tweede respondent) en die Makhado Munisipaliteit (derde respondent) het die stryd om Louis Trichardt se naam na Makhado te verander, Donderdagoggend gewonne gegee.
Die naam Louis Trichardt is in die Staatskoerant van 14 Oktober 2011 (Staatskoerant 34670, Kennisgewing 851) as Makhado gepubliseer.
Ná aanleiding hiervan het die Voorsittersvereniging (VV) ‘n hersieningsaansoek gebring om dié publikasie tersyde te stel.
Ná maande se gespook om dokumentasie uit die respondente te kry oor die Minister van Kuns en Kultuur se besluit om die naam te verander, het die VV ‘n aansoek gebring om die drie respondente te verplig om op 30 Oktober 2014 die nodige dokumentasie te verskaf.
“Ons het hulle verplig om die dokumentasie beskikbaar te stel waarvolgens die Minister se besluit geneem het om die naam te verander. Hulle kon dit nie beskikbaar stel nie. Hulle het geweet ons gaan die bevel kry en het besluit om die handdoek in te gooi. Hulle het besef hulle kan nie met die saak voortgaan nie, want hulle het nie die dokumentasie gehad waarop die minister se besluit gebaseer was nie,” het Naudé gesê.
Die drie respondente het by wyse van ‘n ooreenkoms die handdoek ingegooi en die publikasie van die naam Makhado in die Staatskoerant is deur regter Da Silva tersyde gestel.
Die drie respondente het ook aangebied om al die verspilde koste van die applikante (VV) te betaal. Dit is ook deel gemaak van die hofbevel.
Die supermarkketting Pick n Pay en Land Rover bevind hulle tans midde-in die stryd rondom die sanger Steve Hofmeyr aangesien daar druk deur anti-Afrikaanse elemente op hulle toegepas word om hulle aan die “Afrikaans is groot”-fees te onttrek weens Steve se deelname daaraan.
Conrad Koch, die vloekende, linkse buikspreker met sy pop Chester Missing, het vandag ‘n rubriek in The Times met die titel “Dear white supremacists…” gepubliseer waarin hy Pick n Pay en Land Rover aanmaan om nie net Hofmeyr nie, maar sommer die hele Afrikaanse fees te boikot.
Koch se eerste “oorwinning” was toe hy die motorhandelaar Williams Hunt kon oorreed om Steve Hofmeyr se geborgde bakkie in Port Elizabeth te onttrek vanweë sy “apartheidtwiet” waarin hy gesê het dat swartmense die “argitekte (of mede-argitekte) van apartheid” was.
Nadat Conrad Koch die telefoonnommer van Williams Hunt op sy Twitter-rekening geplaas het, het die handelaar blykbaar verskeie onstoke oproepe van linkses ontvang wat eis dat hy sy borgskap van ‘n voertuig vir Hofmeyr moet onttrek. Omdat die handelaar “neutraal” wou bly, het hy Hofmeyr gevra om die voertuig ‘n dag vroeër terug te gee.
Pick n Pay het op Koch se oproep gereageer deur te sê:
“Pick n Pay se reputasie deur rassisme in die openbaar en sterk teen te staan, spreek vanself. Ons is ‘n gekontrakteerde borg van Afrikaans is Groot en ondersteun Afrikaanse musiek, maar nie individue nie. Ons is nie betrokke by die organisasie of die proses om kunstenaars te kies nie.”
Koch, wat as buikspreker bekend is met sy pop, “Chester Missing”, het geantwoord: “Het julle verbind met ‘n apartheidsontkenner. Dit gee sy sienings geloofwaardigheid.”
Land Rover het nog nie in die media gereageer nie.
Die vreugdevure brand vandag hoog in die dorpie Louis Trichardt waar die 10 jaar lange hofstryd teen die ANC-munisipaliteit se naamsverandering vandag op ‘n oorwinning uitgeloop het: die dorp kry sy ou, vertroude Voortrekkernaam weer terug!
Die hooggeregshof van Gauteng in Pretoria het vandag uitspraak in die guns van die dorp se voorsittersvereniging gegee en die munisipaliteit beveel om die dorp se naam te herstel.
‘n Naambord van Louis Trichardt wat in 2007 na ‘n uitspraak van die Appèlhof herstel is, maar intussen weer verander is
Die ANC, maar ook die polities korrekte media in Suid-Afrika, het begin om in 2003 die naam “Makhado” vir die dorp te gebruik. In dié jaar is daar ook ‘n summiere naamsverandering in die Staatskoerant gepubliseer, sonder dat die dorp se inwoners daaroor geraadpleeg is.
Louis Trichardt is na die Voortrekkerleier met dié naam vernoem, wat ook dagboek van sy trek gehou het en daarom ook ‘n groot bydrae tot die Afrikanergeskiedskrywing gelewer het.
Louis Trichardt se voorsittersvereniging, wat ‘n petisie met 87 500 name opgestel het, het namens die inwoners die stad van die sogenaamde “Makhado” gedagvaar.
Onder andere het die voorsittersvereniging in die hof aangevoer dat die inwoners nie geraadpleeg is nie en dat die Pleknaamraad geen aanbeveling teenoor die destydse minister van kuns en kultuur gemaak het alvorens die naam van die borde verwyder is nie.
As deel van die protesaksies, is ‘n standbeeld van “hoofman Makhado” op die dorp destyds oranje, wit en blou geverf en ook “ontvoer” sodat die stadsraad dit op ‘n veilige plek moes aanhou en konstant moes bewaak. Op ‘n stadium is die weermag en die nasionale intelligensiediens “ontplooi” om die verwers vas te trek, dog sonder sukses.
Twee boere wat twee vermeende plaasaanvallers Saterdag naby Leeudoringstad in Noordwes doodgeskiet het, gaan waarskynlik vervolg word.
Johan Janse van Rensburg, van die plaas Droëkraal, en sy twee vermeende swart moordenaars, is tydens Saterdag se voorval dood.
Die swart aanvallers het glo met die boer se lyk gevlug nadat hulle hom doodgemaak het.
Van Rensburg het met beeste geboer. Van sy werkers wat ook glo by die voorval betrokke was, is ongedeerd.
Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê ‘n ondersoek na die skietery sal gedoen word en dat twee moorddossiere geopen sal word.
“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die hof besluit of die boere, die slagoffer se bure, van enigiets aangekla gaan word,” het Mokgwabone gesê.
Die twee het uit selfverdediging opgetree, maar ‘n moordklag is nogtans aanhangig gemaak tot die vervolgingsgesag of howe besluit of hul optrede geregverdig kan word.
Boere van die plaaswagstelsel het ‘n hakkejag teen die swart verdagtes van stapel gestuur, waarna ʼn oor-en-weer-skietery plaasgevind het.
Twee van die rowers is op die toneel dood en ʼn derde persoon (24) is in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die rondgaande hof in Leeudoringstad verskyn.
’n Motorhandelaar het die motor wat hulle vir Steve Hofmeyr in Port Elizabeth geborg het, teruggevat na ‘n georkestreerde veldtog deur Media24 en ‘n paar histeriese wit ANC-aanhangers.
‘n Handjievol wit Boerhaters het hulle rasgenote aangemoedig om die handelaar te kontak oor Hofmeyr se “rassisme”.
Williams Hunt het vir Hofmeyr, wat verlede Donderdag en Vrydag konserte in die Wes- en die Oos-Kaap gehad het, ’n bakkie geborg. Hulle het die bakkie Vrydag teruggevat.
Volgens Trevor Villet, bestuurder van die Williams Hunt-tak in Port Elizabeth, het hulle Vrydag klagtes oor die twiet gekry.
“Iemand het mense glo op Twitter gevra om ons te bel om te kla oor die borgskap,” het Villet gesê.
“Ons het ’n ooreenkoms met van die gewilde Afrikaanse sangers dat ons vir hulle ’n motor sal leen vir twee of drie dae wanneer hulle hier optree.”
Villet het gesê hulle het besluit om die voertuig eerder terug te neem omdat hulle nie by enige negatiewe publisiteit betrokke wil raak nie en “neutraal” wil bly.
“Ons wil nie betrokke raak nie en ons wil nie kant kies in ’n Twitter-rusie nie.”
Daarmee het WilliamsHunt hul gewaande “neutraliteit” vir ‘n openbare veldtog téén Steve verruil.
‘n Stortvloed van sy ondersteuners het daarna te kenne gegee dat hulle niks met die handelaar te doen wil hê nie.
Hofmeyr het deur die loop van die naweek verskeie mense geantwoord en die hutsmerk #RealArchitectsOfApartheid gebruik.
Hofmeyr was Maandag verbaas deur die georkestreerde venyn: “Dit kom my voor (dat) almal se politiese, geloofs(-) en seksuele voorkeure gevrywaar is deur die Grondwet, behalwe myne. Ek dog ons is oor verbannings in die 80’s. Lyk my nié.”
Grond in die staat se hande, is ‘n ongesonde praktyk wat die land en Landbou net skade berokken.
Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President, het gereageer op die bekendmaking van gruwelike verwaarlosing op ’n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word. Skynbaar het talle varke en hoenders van dors gevrek terwyl plante in groentetonnels ook van droogte gevrek het. Daarbenewens het dit aan die lig gekom dat die Mamahlola farm naby Tzaneen, wat 10 jaar gelede aan die Banareng Ba-Ga-Letsoalo-gemeenskap gegee is en sedertdien onder administrasie van die regering geplaas is, nie sy werkers kan betaal nie aangesien dit wanbestuur word.
“Dit is ‘n bekende feit dat grond wat in private besit is, oor die algemeen beter bestuur word aangesien dit as deel van ‘n sake-onderneming beskou word wat winsgewend moet wees.
“Waar die staat grond bestuur, moet ‘n amptenaar met geen wesenlike of persoonlike belang die bestuur behartig. Die wins of verlies is nie vir sy eie rekening nie met die gevolg dat dit hom nie werklik raak nie.
“Waar die Minister van Finansies in sy tussentydse begroting aangekondig het dat sekere staatsbates gedeeltelik verkoop gaan word om die staat uit sy finansiële verknorsing te help, is dit onder daardie omstandighede juis nou wenslik om ook staatsgrond te verkoop sodat daar kommersieel op geboer kan word, in plaas dat dit verwaarloos word soos die Spaarwater- en Tzaneen-gevalle, waarin daar boonop R15 miljoen belastinggeld gepomp is (by Spaarwater) sonder ‘n enkele sent opbrengs daaruit,” sê mnr. Meintjes.
Boonop is dit ook so dat heelwat grond wat as gevolg van die restitusieproses van eienaarskap verwissel het, steeds in naam van die Republiek van Suid-Afrika geregistreer is. Daardie grond se titelaktes behoort onverwyld aan die nuwe begunstigdes daarvan oorgedra te word sodat hulle die geleentheid kan kry om voluit kommersieel daarop te produseer. Sonder eiendomsreg op daardie grond, sal die begunstigdes daarvan nooit ten volle suksesvol kan boer aangesien hulle nie toegang tot kapitaal het nie, sê mnr. Meintjes.
“Terselfdertyd moet die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, kennis neem van hierdie verwikkeling. Hier is nie ‘n persepsie van onvermoë nie, hier is die werklikheid van onvermoë, en in dié geval onvermoë van ‘n staatsinstelling wat deur die ANC beheer word.”
Die Universiteit van Kwazulu-Natal het besluit om feitlik alle taaldepartemente behalwe Engels en Zoeloe af te skaf. Afrikaans en Nederlands, Duits en Italiaans sal van aanstaande jaar af nie meer aangebied word nie.
Slegs Frans, wat gedeeltelik deur die Franse regering gesubsidieer word, sal steeds aangebied word, maar dan slegs op een van die twee kampusse, hetsy in Durban, hetsy in Pietermaritzburg.
Hiermee sit die Universiteit van Kwazulu-Natal ‘n neiging voort wat reeds in die vroeë negentigerjare by Wits begin het, toe die Afrikaanse departement aldaar insgelyks gesluit is. Lede van die Afrikaanse departement by Wits, wat hulself as polities “links” gekategoriseer het, het heelhartig daaraan meegewerk en dit selfs versoek.
Tans is dit min of meer dieselfde geval aan die Universiteit van Kwazulu-Natal waar die waarnemende hoof van die Skool vir Kunste, waaronder die taaldepartemente ressorteer, professor Johannes Smit, kennelik ook ‘n Afrikaner is. Hy wou nie met die media oor die besluit praat nie.
Die Natal Witness het verlede maand ook berig dat die musiekdepartement weens ‘n gebrek aan befondsing genoodsaak sal wees om te sluit.
‘n Woordvoerder vir die universiteit, Lesiba Seshoka, sê “die evaluering van modules is ‘n interne aangeleentheid wat wye akademiese raadpleging geniet”.
“Duits, Afrikaans en Italiaans bereik nie die vereiste studentegetalle nie. Ons sal egter aanhou om die diens aan alle studente te lewer wat steeds by ons studeer.
“Soos beste praktyk vereis, sal UKZN aanhou om sy strategiese werksaamhede te hersien om aan studente erkende graadprogramme te lewer.”
Soos ander universiteite in die land, was die Universiteit van Kwazulu-Natal die slagoffer van Kader Asmal se kwaadwillige samesmeltings kort ná die millenniumwisseling. Die universiteit sukkel nog om van sy samesmelting met die voormalige universiteite van Durban-Westville en Natal te herstel.
Die universiteit word sedert die samesmelting deur die Afrikanistiese professor Malegapuru Makgoba geregeer. Hy tree einde vanjaar af, waarna hy deur Albert van Jaarsveld, tans die uitvoerende hoof van die Nasionale Navorsingstigting, vervang sal word.
Die akademici wat deur die sluitings geraak word, is blykbaar teleurgesteld dat dié besluit nie kon wag totdat Van Jaarsveld oorneem nie. Niemand was egter bereid om in die openbaar kommentaar te lewer nie.