Boere wat plaasaanvallers skiet, dalk aangekla

Twee boere wat twee vermeende plaasaanvallers Saterdag naby Leeudoringstad in Noordwes doodgeskiet het, gaan waarskynlik vervolg word.

Johan Janse van Rensburg, van die plaas Droëkraal, en sy twee vermeende swart moordenaars, is tydens Saterdag se voorval dood.

Die swart aanvallers het glo met die boer se lyk gevlug nadat hulle hom doodgemaak het.

Van Rensburg het met beeste geboer. Van sy werkers wat ook glo by die voorval betrokke was, is ongedeerd.

Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê ‘n ondersoek na die skietery sal gedoen word en dat twee moorddossiere geopen sal word.

“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die hof besluit of die boere, die slagoffer se bure, van enigiets aangekla gaan word,” het Mokgwabone gesê.

Die twee het uit selfverdediging opgetree, maar ‘n moordklag is nogtans aanhangig gemaak tot die vervolgingsgesag of howe besluit of hul optrede geregverdig kan word.

Boere van die plaaswagstelsel het ‘n hakkejag teen die swart verdagtes van stapel gestuur, waarna ʼn oor-en-weer-skietery plaasgevind het.

Twee van die rowers is op die toneel dood en ʼn derde persoon (24) is in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die rondgaande hof in Leeudoringstad verskyn.