Prys van basiese mandjie kos met 15% op

Die prys van ‘n basiese mandjie kos het in Mei met meer as 15% gestyg in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Dit blyk uit die jongste Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se maandelikse kosmandjieprys-verslag.

Die mandjie bestaan uit 22 items, insluitend dinge soos suiker, melk, eiers, gebakte bone, appels, brood, mieliemeel, stowevleis en hoender, onder andere.

Dit toon dat die koste van die mandjie, behalwe vir lemoene, met net meer as R80, vanaf bykans R520 in Mei 2015 tot meer as R600 Mei 2016 duurder geword het.

Hoenderporsies het die grootste toename getoon, van meer as 58% vir die jaar-tot-jaar prys, met aartappels volgende aan die beurt. Dit is 45% duurder as verlede jaar.

ANC in Kaap brand busse oor verkeerde nominasie

Die Golden Arrow-busdiens het die vernietiging van twee van sy busse op die N2 naby Kaapstad veroordeel. Hulle het hul busdienste opgeskort in die gebied.

‘n Woordvoerder van Golden Arrow, Bronwynne Dyke sê hulle hou die situasie fyn dop en is bekommerd omdat hul busse in die protesoptrede geteiken en aan die brand gesteek is.

Dyke sê hulle is egter verheug dat daar geen beserings is nie.

Twee mans sal binnekort in die hof verskyn nadat motoriste tydens die protesoptrede beroof is.

Die onrus het blykbaar uitgebreek uit ontevredenheid met die ANC se kandidatelys vir die komende verkiesing.

ANC-lede is ontevrede met die party se raadslidlys vir die 3 Augustus plaaslike regeringsverkiesings.

Oproeriges het gesê hulle wou dat die regerende party van hul frustrasies bewus raak.

Motoriste moes alternatiewe roetes gebruik wat gelei het tot verkeersknope.

Pendelaars is gestrand gelaat nadat die busse aan die brand gesteek is. Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die 200 betogers uiteen te jaag.

ANC-lid Nomalizo Ngcawana het gesê hulle het begin met oproer nadat hulle uitgevind het die kandidaat wat hulle genomineer het is nie geregistreer nie en in plaas daarvan verskyn Bongani Ngcombolo se naam op die kandidatelys.

Sy het gesê die ANC-taklede eis onmiddellike ingryping.

PRAAG stel binnekort nuwe veiligheidstoepassing vry

PRAAG wil ‘n oplossing bied vir die verswakkende veiligheidsituasie in Suid-Afrika met ‘n splinternuwe slimfoontoepassing.

Die polisie ontvang nasionaal nagenoeg 29 400 noodoproepe per dag by sy 22 beskikbare inbelsentrums. Dié oproepe is na die polisie se 10111-nommer om misdaad aan te meld.

Die aantal daaglikse oproepe wat ontvang word, is ongeveer 20 oproepe per minuut. Slegs mense in nood behoort te bel vir hulp, maar dit is dikwels moeilik om deur te kom na die polisie se noodlyn.

Inbellers wat inbel met vals inligting of poetsbakkers, skep voorts ‘n onnodige vermorsing van hulpbronne en tyd.

PRAAG beoog daarom om binnekort ‘n landwye noodtoepassing vry te stel waarmee mense in gevaar dadelik die heel naaste hulp sal kan ontbied.

Terwyl die polisie aanbeveel dat telefoonnommers van die naaste polisiestasie en mediese nooddienste byderhand is, is daar 08600 10111 as alternatief vir 10111, asook die nommer 112 vir selfone.

Die toepassing sal alle boodskappe na ‘n sentrale beheerkamer herlei vanwaar die nooddienste, buurtwagte en privaatveiligheidsdienste en GPF-lede uitgestuur kan word.

Selfs buitelandse toeriste sal teen betaling van die PRAAG-diens gebruik kan maak.

Beroemde Jan Hettema naby Pretoria vermoor

Die beroemde Springbokfietsryer en tydrenjaer Jan Hettema is gisteroggend te Boschkop net oos van Pretoria vermoor. ‘n Bende rowers het ingebreek en die 83-jarige Hettema doodgeskiet, terwyl hulle sy vrou ook aangeval en beseer het.

Sy dogter Helena Hettema is insgelyks ‘n bekende Afrikaanse sangeres. Hettema is oorspronklik in Nederland in Leeuwarden gebore. Gister is daar ook vanuit die Nederlandse parlement navraag oor Hettema se moord gedoen.

Volgens Netcare 911 was Hettema reeds dood toe hul ambulans op die toneel aankom. ‘n Woordvoerder, Athlenda Mathe, sê: “Toe ons op die toneel aankom, het ons gevind dat die bejaarde man reeds gesterf het, as gevolg van die skietwond wat hy opgedoen het. Ons het hom op die toneel dood verklaar, waarna sy liggaam aan die Bosckop-polisie oorhandig is.”

Volgens berigte het Hettema en sy vrou Elsa hulle in die slaapkamer probeer toesluit nadat hy buite opgemerk het dat gewapende swartes met klapmusse op die perseel was. Die deur is egter afgebreek, waarna die boosdoeners Hettema na die kombuis geneem en in die gesig geskiet het.

Hettema het vyf keer die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap gewen. Hy het ook namens Suid-Afrika as fietsryer aan die Olimpiese Spele in 1956 in Australië deelgeneem.

 

 

 

Polisielid doodgeskiet na oproer

Die polisie is steeds opsoek na vier swart verdagtes, nadat ‘n polisiebeampte in Diepsloot (foto hierbo), noord van Johannesburg doodgeskiet is.

Die gebied het Maandag onder oproer deurgeloop wat tot openbare geweld gelei het.

Die Gautengse polisiewoordvoerder, Lungelo Dlamini sê die beampte en sy kollega was besig om ‘n motorband langs die pad te vervang toe hulle deur die verdagtes aangeval is.

Volgens Dlamini is die een polisiebeampte geskiet, en albei beamptes se vuurwapens is gesteel.

Die beampte is oppad na die hospitaal dood, en die aanvallers het te voet gevlug.

Die Gautengse polisie het intussen ‘n 36-jarige verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n man wat twee weke gelede buite die ANC se tak uitvoerende komitee vergadering in Pretoria doodgeskiet is.

Simon Modige is vermoor ‘n dag voordat Thoko Didiza aangekondig is as die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tshwane Metro.

‘n Gautengse polisiewoordvoerder, Noxolo Khweza sê die man word aangekla van moord, maar nog aanklagte kan bygevoeg word.

Khweza sê hulle gaan voort om gebiede in en om Pretoria waar gewelddadige betogings plaasgevind het, te monitor.

Man in Springs met R50 miljoen se goud betrap

‘n Onbekende man (31) is in hegtenis geneem in Springs Maandag vir die besit van onverwerkte goud ter waarde van R50 miljoen.

‘n Woordvoerder van die Valke in Noordwes, Tlangelani Rikhotso, sê die onverwerkte goud was versteek in die enjinkompartement.

Die verdagte is Maandagaand in hegtenis geneem in Springs, nadat Valkelede inligting ontvang het van ‘n voertuig wat gebruik word om goud te smokkel van Noordwes na Gauteng.

Blykbaar was die verdagte alleen in ‘n silwer Audi A6 op pad toe die Valke toegeslaan het.

Hulle het die voertuig deursoek en die onverwerkte goud in die Audi se enjinkompartement gekry.

Die verdagte verskyn vanoggend in die Springs-landdroshof.

Oorbevolking in SA-tronke onder die loep

Suid-Afrikaanse tronke is nommer een in Afrika en elfde in die wêreld in terme van oorbevolking.

Dit is een van die kwessies wat aan die lig gebring is deur die Gebiedskommissaris vir die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD), Nthako Nyapotse.

Hy het gepraat by ‘n rondetafelgesprek oor die verbetering van toestande vir gearresteerdes en aangehoue persone, wat by die Grootvlei-gevangenis buite Bloemfontein plaasgevind het.

Verdere statistiek toon dat daar tans sowat 159 000 gevangenes in die land is, maar dat daar slegs bedruimte vir 120 000 gevangenes beskikbaar is.

Nyapotse sê die DKD het strategieë geïdentifiseer om oorbevolking te evalueer.

“Ons verwyder kinders uit ons fasiliteite, na ‘n plek van veiligheid, maar daar is nie baie nie. Ons het sowat drie tans.

“Daar is ook ‘n hofbeslissing wat sê onwettige immigrante moet nie in ons fasiliteite aangehou word nie. Ons het ook die aantal aangehoudenes met borgtog laat afneem, in terme van Artikel 63 van die Wet op Kriminele Wet prosedures,” sê Nyapotse.

Tesourie: Zuma moet byna R8 miljoen opdok vir Nkandla

Die Tesourie se verslag rakende Nkandla is een stap nader aan die ontknoping van die sage.

Die Tesourie-verslag bepaal dat Zuma R7,8 miljoen moet terugbetaal vir opgraderings wat aan sy privaatwoning by Nkandla gedoen is.

Die verbeteringe wat geïdentifiseer is, sluit in die besoekersentrum, amfiteater, beeskraal, hoenderhokke en swembad, of die sogenaamde brandpoel.

In Maart het die Grondwethof die Tesourie 60 dae tyd gegee om die bedrag te bepaal wat Zuma moet terugbetaal nadat die hof bevind het dat Zuma versuim het om die grondwet te handhaaf en te eerbiedig.

Indien die Hof die aanbeveling aanvaar, het Zuma 45 dae om die geld terug te betaal.

Opposisiepartye het gesê die bedrag is nie voldoende nie aangesien dit minder as vyf persent is van die totale bedrag wat bestee is.

Die nasionale tesourie het Sondagaand bevestig dat hy die sperdatum van 28 Junie, soos bepaal deur die grondwetlike hof, sal nakom.

Dié hof het op 31 Maart bevind dat die openbare beskermer (OB) se bevindinge bindend is en het die tesourie gevra om die koste van die verbeteringe, wat nie met sekuriteit verband hou nie, te beraam wat deur die departement van openbare werke aangebring is.

Sowat R246 miljoen se opgraderings is aan die woning gedoen.

‘Britte moet besluit wie gaan uitrede onderhandel’

Brittanje moet besluit wie die land in onderhandelinge oor uittrede uit die Europese Unie (EU) verteenwoordig, het Frankryk se minister van buitelandse sake, Jean-Marc Ayrault (foto hierbo), voor sy vertrek na post-Brexit solidariteitsamesprekings in Praag gesê.

Ayrault sê dit is nie “outomaties” dat Brittanje soortgelyke toegang as Switserland na die EU-mark sonder die vrye beweging van kapitaal, goedere en dienste sal kry nie.

Tot nou toe het die Britse premier, David Cameron, nog nie artikel 50 van die Lissabon-verdrag in werking gestel nie. Hy wil vir drie maande wag tot sy regerende Konserwatiewe Party ’n nuwe leier aangewys het.

Die graderingsagentskap Standard en Poor’s het Brittanje se kredietgradering intussen met twee kerwe verlaag.

Die afgradering spruit voort uit die besluit om die Europese Unie te verlaat en die daaropvolgende daling in die waarde van die pond.

Standard en Poor’s het gewaarsku dat hy die gradering selfs verder kan verlaag. Die agentskap sê die negatiewe vooruitsigte weerspieël die risiko’s vir ekonomiese groei, fiskale beheer, en die rol van die pond as ‘n reserwe geldeenheid.

Daar is ook ‘n risiko vir die grondwetlike en ekonomiese integriteit indien daar nog ‘n referendum is oor Skotse onafhanklikheid.

Negentien polisiebeamptes wat glo smokkel voor

Negentien polisiebeamptes en twee beamptes van binnelandse sake sal na verwagting vandag weer in Zeerust in die hof verskyn.

Dit volg nadat hulle glo in November verlede jaar smokkelaars by die Kopfonteingrenspos tussen Suid-Afrika en Botswana gehelp het om onwettige sigarette die land in te bring.

Alle verdagtes is vroeër op R1 500 borgtog elk uitgelaat.

Hulle staar altesaam 54 aanklagte van bedrog en korrupsie in die gesig.

Plakkers maak amok by Bloemfontein

Die ringpad suid van Bloemfontein, wat die Reddersburg- en Dewetsdorp-paaie verbind by die Dinaweng-plakkerskamp, is vir verkeer gesluit.

Lede van die Mangaung se verkeersdepartement het die pad aan weerskante versper en herlei verkeer na alternatiewe roetes.

Dit kom ná voortslepende oproer oor ANC-kandidate wat vir die verkiesing aangewys is.

Plakkers het Maandag twee minibusse aan die brand gesteek en die pad met klippe versper.

‘n Inwoner het vanoggend aan OFM-nuus gesê die situasie was Maandagaand omstreeks 10:00 buite beheer toe oproeriges ‘n motor aan die brand gesteek het. Die situasie is egter vanoggend kalm.

Die uitgebrande wrakstukke staan steeds in die pad, met klippe wat op sekere plekke nog nie uit die pad verwyder is nie.

Die polisie kon nog nie bevestig of enigiemand in hegtenis geneem is nie.

Solidariteit: Joernaliste se skorsing in belang van hele SA

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (foto hierbo), is “die skorsing van joernaliste by die SAUK in belang van alle Suid-Afrikaners”.

Solidariteit verteenwoordig twee van die geskorste SAUK-joernaliste, Foeta Krige en Suna Venter, maar met dié stelling van Hermann aan Netwerk24 het die twee min hoop om ooit weer heraangestel te word.

Die twee wou berig oor ‘n betoging voor die SABC deur ‘n Soros-front genaamd Right2Know.

Die probleem is egter dat die organisasie byna geen steun onder Suid-Afrikaners geniet nie en blykbaar alleen staatmaak op joernaliste wat hul goedgesind is om gratis bemarking vir hulle te doen.

Krige, uitvoerende regisseur van Kommentaar en die nuusprogramme Monitor en Spektrum, Venter, senior RSG-regisseur, en Thandeka Gqubule, die SAUK se sakeredakteur, is Donderdagmiddag geskors.

Hulle het tydens ‘n nuusvergadering gekla omdat die SABC nie Right2Know-veldtog wil dek nie.

Hermann, wat soms voorgee dat hy Afrikaners verteenwoordig, het sy tevredenheid uitgespreek dat die kwessie alle rasse betrek maar die skorsings as “kraak in die grondwetlike bestel” gekritiseer.

“Ons dink die probleem is by die oorspronklike opdrag wat gegee is. Die probleem is nie by die werknemers nie, maar hoër op. Dis ‘n opdrag wat nie uitgevoer kan word nie en wat ons demokrasie sal benadeel.”

Die opdrag word egter heel vlot uitgevoer en die SABC het nog geen berig oor Soros se handlangers uitgesaai nie.

Hermann is klaarblyklik bekommerd dat die huidige diktatuur nog nie genoeg van ‘n tirannie is nie. Hy het landsburgers aangemoedig om te sorg dat mag in die uitvoerende gesag se hande bly.

“Die hele idee van ‘n grondwetlike staat word beveg. Elke burger het ‘n plig om te keer dat ons in ‘n situasie beland waar die oorspronklike mag nie in die uitvoerende gesag lê nie,” het Hermann aan Media24 gesê.

Pretoria-opstand: Familie blameer ANC vir dood van hul seun

Die familie van ‘n 19-jarige swarte, Thabiso Daniel wat Dinsdagnag in Mamelodi doodgeskiet is, het die skuld vir die geweld voor die deur van die regering gelê, nadat die dodetal tot ses gestyg het.

Hulle sê indien die regte prosedures gevolg is met die aankondiging van die burgemeesterskandidaat, sou die geweld nie uitgebreek het nie.

Niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie.

Veiligheidswagte by die Mabopane Central City-winkelsentrum in die noorde van Pretoria sê twee liggame is agter die sentrum gevind.

Daar word vermoed dat die oorledenes in die kruisvuur beland het toe ‘n skare van die winkels begin plunder het.

Dit bring die dodetal tydens die geweld nou op ses te staan.

Geel merkers is deur misdaadtoneelondersoekbeamptes van die polisie aan die agterkant van die winkelsentrum naby aan Pick n Pay se stoorkameringang geplaas wat dui daarop dat ‘n noodlottige skietery by die winkelsentrum plaasgevind het.

‘n Beampte op die terrein het bevestig dat die Onafhanklike Polisie Direktoraat se ondersoekbeamptes ook die toneel ondersoek het.

Die direktoraat raak gewoonlik betrokke as die polisie by beweerde moorde of ongerymdhede teen burgerlikes betrek kan word.

Daar was berigte dat Central City gisteraand geplunder is en dat meer polisielede daar ontplooi is. Die polisie het vroeër ontken dat hulle skerppuntammunisie gebruik het teen oproeriges.

Die ANC in Gauteng het nietemin erken dat van sy lede betrokke is by die gewelddadige oproer in die swart gebiede van die Tshwane-metrogebied.

Meer as 40 mense verskyn more in die hof in verband met openbare geweld.

Die omstrede burgemeesterskandidaat, Thoko Didiza sal haar eerste mediaverskyning aanstons maak.

Die geweld word op die huidige burgemeester, Kgosiento Ramokgopa wat nie as kandidaat gekies is nie, blameer.

Sakeondernemings in Mamelodi wat aan buitelanders behoort, is steeds gesluit en volgens bronne het die meeste buitelanders die gebied verlaat omdat hulle vir hul lewens vrees.

Dinsdagnag het betogers winkels geplunder, geboue beskadig en busse aan die brand gesteek. Geen geweld is vandag aangemeld nie.

Volgens swart Twittergebruikers het plunderaars ingebreek om rekenaars uit skole te steel.

Die situasie in Giyani in Limpopo bly egter gespanne ná verskeie winkels geplunder en afgebrand is in ‘n vlaag van gewelddadige oproer.

Die onrus het begin nadat ‘n inwoner na bewering deur buitelandse winkeleienaars vermoor is.

Die oorledene en twee beweerde medepligtiges is aangerand toe hulle glo bedrog by ‘n onderneming gepleeg het.

Intussen is vyf mense in hegtenis geneem in verband met die moord en verskyn in die plaaslike landdroshof.

Varkpes in SA tref uitvoer

Die grense van buurlande is vroeër vandeesmaand gesluit vir die invoer van lewende varke en varkvleis uit Suid-Afrika nadat Afrika-varkpes uitgebreek het.

Honderde varke het reeds weens die siekte gevrek wat deur ‘n virus tussen varke oorgedra word. Geen behandeling of inenting teen die siekte bestaan nie en diere vrek eenvoudig daarvan.

Daar het al herhaaldelike uitbreke van die siekte in Suid-Afrika voorgekom. Die virus kan deur wilde varke, soos die vlakvark en bosvark, gedra word sonder dat hulle simptome van die siekte toon.

Om hierdie rede het baie uitbreke van die siekte al voorgekom waar wilde en mak varke in aanraking met mekaar kon kom.

Besmette varke van ‘n plaas by Koffiefontein in die Vrystaat is glo op ‘n veiling verkoop wat daartoe gelei het dat die siekte versprei het.

Die plaaseienaar het die uitbreking aangemeld.

Dr. Rob Fouché, staatsveearts in Bloemfontein, het aan Netwerk24 gesê hulle sal ‘n ondersoek loods om vas te stel wat die oorsprong van die besmetting was.

Die Suid-Afrikaanse departement van landbou, bosbou en visserye sê besmette varke is ook in die ­Ipelegeng-woonbuurt naby ­Schweizer-Reneke in Noordwes bevestig.

Die verbod op die uitvoer van varke en varkvleis na Namibië sal van krag bly totdat die uitbreking in Suid-Afrika iets van die verlede is, sê die ministerie.

Varkboere uit Noordwes moes Dinsdag met vol vragte varke na hul onderskeie plase terugkeer nadat die weeklikse varkveiling in Bloemfontein weens die uitbreek van Afrika-varkpes afgestel is.

Hulle sê hulle sukkel om kos op die tafel te sit as die veilings afgestel word.

Hoewel daar entstowwe teen Europese varkpes beskikbaar is, beskerm dit nie die varke nie teen die Afrikavarkpes nie.

Die enigste manier om die siekte uit te roei, is om alle siek varke en ander wat met die siektes in aanraking was, te slag, die karkasse te vernietig en die hokke deeglik te ontsmet.