Die Golden Arrow-busdiens het die vernietiging van twee van sy busse op die N2 naby Kaapstad veroordeel. Hulle het hul busdienste opgeskort in die gebied.
‘n Woordvoerder van Golden Arrow, Bronwynne Dyke sê hulle hou die situasie fyn dop en is bekommerd omdat hul busse in die protesoptrede geteiken en aan die brand gesteek is.
Dyke sê hulle is egter verheug dat daar geen beserings is nie.
Twee mans sal binnekort in die hof verskyn nadat motoriste tydens die protesoptrede beroof is.
Die onrus het blykbaar uitgebreek uit ontevredenheid met die ANC se kandidatelys vir die komende verkiesing.
ANC-lede is ontevrede met die party se raadslidlys vir die 3 Augustus plaaslike regeringsverkiesings.
Oproeriges het gesê hulle wou dat die regerende party van hul frustrasies bewus raak.
Motoriste moes alternatiewe roetes gebruik wat gelei het tot verkeersknope.
Pendelaars is gestrand gelaat nadat die busse aan die brand gesteek is. Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die 200 betogers uiteen te jaag.
ANC-lid Nomalizo Ngcawana het gesê hulle het begin met oproer nadat hulle uitgevind het die kandidaat wat hulle genomineer het is nie geregistreer nie en in plaas daarvan verskyn Bongani Ngcombolo se naam op die kandidatelys.
Sy het gesê die ANC-taklede eis onmiddellike ingryping.
