ANC sê Internasionale Strafhof is die pad byster

Die ANC se Nasionale Hoofraad het besluit dat die regering sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof moet onttrek omdat die hof die pad byster is.

Betrekkige tussen Suid-Afrika en die hof is op sy laagste vlak nadat die regering nie ‘n hofbevel afgedwing het om die president van Soedan, Omar al-Basjir in hegtenis te neem nie.

Al-Bashir het die beraad van die Afrika-Unie in Sandton, Johannesburg bygewoon en daarna vertrek ten spyte van ‘n lasbrief wat teen hom uitgereik is.

Soedan se president is tot ‘n oorlogsmisdadiger deur die strafhof verklaar vir beweerde volksmoord en oorlogsmisdade tydens die konflik in Darfur in 2003 waarin 300.000 mense omgekom het.

Intussen het Indië Al-Basjir saam met 54 staatshoofde vir die derde Indië-Afrika-spitsberaad uitgenooi.

Hoewel die hof Indië versoek het om Al-Bashir in hegtenis te neem terwyl Indië nie die Roomse Statuut onderteken het nie, het die hof aangedui dat hulle verwag dat Indië die bekamping van die “wêreld se ergste misdade” sal bevorder deur hom kragtens Veiligheidsraadresolusie 1593 te arresteer.

Die kwessie sal glo op die volgende vergadering van die hof se beraad vir staatshoofde bespreek word.

Die ANC se nasionale-uitvoerendekomiteelid, Obed Bapela, het gepraat by ‘n mediakonferensie in Midrand nadat Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale ­betrekkinge en samewerking, die aangekondiging oor Suid-Afrika se onttrekking Sondag gemaak het.

Nkoana-Mashabane het ook bevestig dat Al­-Basjir op die gastelys is vir die Forum oor China-Afrika-samewerking (Focac) in Desem­ber in Johannesburg. China het oliebelange in Soedan en voorsien Al-Basjir van die nodige wapens en finansiering teen insurgente uit die onafhanklike Suid-Soedan.

Bapela sê ondanks die besluit om aan die hof te onttrek, bly die ANC ‘n voorstander van menseregte. Die ANC het vroeër die week gesê hy glo die hof dien geen doel vir die land nie.

Bapela, wat ook as voorsitter van die ANC se subkomitee oor inter­nasionale verhoudinge dien, sê Suid-Afrika kan hom nie meer met die Internasionale Strafhof vereenselwig nie. “Daar is redes wat ons met die res van die vasteland deel. Die strafhof het ongelukkig koers verloor.”

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê die regering moet sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof hersien.

Volgens hom is die hof bevooroordeeld teenoor arm lande, en werk dit nie in belang van die vasteland nie.

Mantashe sê hulle wil eerder die Menseregtehof op die vasteland versterk.

Dit kom vier maande nadat die regering Soedan se president gehelp het om landuit te vlug ondanks die feit dat die hof ’n lasbrief vir sy ­inhegtenisneming uitgereik het.

As die regering besluit om te onttrek, sal hulle formeel kennis moet gee van hul voornemens en Suid-Afrika se wet­gewing oor deelname sal herroep moet word. Intussen geld die lasbriefbepalings.

Nkoana-Mashabane sê Suid-Afrika het die kwessie reeds op die agenda geplaas vir die strafhof se beheerliggaam wat in Novem­ber vergader.

Afrikastate beskuldig die strafhof daarvan dat Afrikaleiers uitgesonder word, maar dat die oortredings van Westerse leiers nie raakgesien word nie.

As stigter-ondertekenaar van die Roomse Verdrag wat die hof tot stand gebring het, gaan Suid-Afrika se onttrekking die hof se geloofwaardigheid grondig aantas.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, sê oudpres. Thabo Mbeki het uit sy pad gegaan om die beeld te vestig van Suid-Afrika as ’n land “wat sensitief vir menseregte is en ons so ’n gerespekteerde lid van die internasionale ­wêreld te maak”.

Onder Mbeki se leierskap het die ANC-Jeugliga gereeld by saamtrekke “Kill a Boer” gesing.

Volgens die regering kan die permanente lede van die Veiligheidsraad, wat nie partye tot die Statuut van Rome is nie, ten volle deelneem aan besprekings oor die Internasionale Strafhof.

Verder het die Veiligheidsraad se permanente lede stappe geneem om te verseker dat hul amptenare en militêre personeel nie onderwerp sal word aan die jurisdiksie van die hof nie.

Kerkgangers vertrap mekaar in Pretoria

‘n Kerkdiens in Pretoria het in chaos geëindig toe byna 40 swart kerkgangers vertrap is tydens ‘n stormloop.

Die veertig is Sondagoggend beseer by die Tshwane Events Centre toe ‘n skare vorentoe gebeur het om toegang tot die perseel te kry.

ER24 se woordvoerder Werner Vermaak het gesê kort voor 08:00 is paramedici en ander ambulansdienste na die toneel ontbied. “Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle 40 mense met verskeie beserings aangetref,” het hy gesê.

‘n Bejaarde vrou het ernstige bekkenbeserings opgedoen. Sy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem en verkeer steeds in ‘n ernstige toestand.

‘n Kerkbyeenkoms word elke Sondag op die perseel gehou en ‘n skare swartes het buite die geslote hek saamgedrom toe hulle begin stoot het van agter om toegang te verkry.

Die hek het uiteindelik oopgebars en diegene wat geval het, is deur die stormlopers vertrap.

Vliegtuig met DA-adjunk steeds soek

Die soektog na die vermiste mikroligte vliegtuig waarin die DA se adjunk-leier in Noordwes, Petro Nel in Nepal gevlieg het, het vanoggend hervat.

Die voormalige DA-leier in die provinsie, Chris Hattingh, sê Nel is op vakansie in Nepal en het vir ’n besigtigingsvlug, wat veronderstel was om ’n uur te duur, geneem.

Die vliegtuig, wat vroegoggend in Pokhara opgestyg het, het egter nie soos geskeduleer teruggekeer nie.

Hattingh sê die gebied waar die vliegtuig weggeraak het is geweldig bergagtig.

Die loods is van Rusland. Die owerheid in Nepal is in kontak met Nel se man.

Upington-dwelmverdagte bly in aanhouding

Die man wat by Upington in hegtenis geneem is nadat dwelmmiddels, met ‘n straatwaarde van R4,85-miljoen in sy besit gekry is, moet weer op 20 Oktober in die hof verskyn.

Spamandla Ndlovu is Maandag deur die Pababello-polisie by sy huis vasgekeer. Mandrax-tablette, sakkies tik en ‘n sak met plofbare materiaal is onder meer gekonfiskeer. Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Marina Brewis, sê hy bly in aanhouding.

Die drie mans wat Sondag in ‘n ander klopjag in die gebied deur die polisie in besit van dagga ter waarde van meer as R338 000 gearresteer is, het Maandag in die hof verskyn.

Martin Phillips en Tabang Molefe is uit op borgtog van R500 elk en moet weer op 4 November in die hof verskyn.

Die klag teen ‘n derde verdagte is laat vaar.

Cheeky Watson bestuur glo OP-rugby in die afgrond

Die toekoms van die Southern Kings en die Oostelike Provinsie se Super Rugby-deelname is in die gedrang met ‘n finansiële oorsig van Uniepresident Cheeky Watson se bedroewende bestuur.

Die afgelope paar maande was daar geen tekort aan verslae van die spelers nie betyds betaal word nie en stakings wat dreig.

‘n Aantal spelers het die naweek wit armbande gedra ter ondersteuning van die spelers wat nie betaal is nie.

Oostelike Provinsie Rugby, SARU en SARPA het Donderdag ‘n gesamentlike verklaring vrygestel om te bevestig dat die toekoms en gebrek aan finansiële stabiliteit van OP-rugby ondersoek word.

Hoëvlak samesprekings tussen die Oostelike Provinsie Rugby, die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) en die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) het plaasgevind in Port Elizabeth Donderdag.

SARU President, Oregan Hoskins, het egter gesê hy het “volle vertroue in die huidige leierskap” van Cheeky Watson, ten spyte van die finansiële insinking onder sy bestuur.

Hoskins het beide sake-en rugby-ondersteuners aangemoedig om die Oostelike Provinsie se Rugbyunie te ondersteun ter voorbereiding vir hul hertoetrede tot Vodacom Super Rugby volgende jaar.

Ander kwessies wat bespreek is sluit in demografie en borgskappe.

Hoskins sê die Oostelike Provinsie is steeds die teelaarde vir swart rugbyspelers en die Kings sal ‘n belangrike rol speel in die ontwikkeling van toekomstige swart Springbokke.

Petrolbomaanval op passierstrein in Kaapstad lei tot vertragings

‘n Petrolbomaanval op ‘n passasierstrein van die Kaapse Skiereiland by Muizenberg het gelei tot spoorvertragings.

‘n Woordvoerder van Kaapstad, Richard Bosman het bevestig dat die treinwaens aan die brand gesteek is.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Bosman sê daar sal vanoggend vertragings tussen Kaapstad en Vishoek wees, maar daar is ‘n busdiens waarvan pendelaars gebruik kan maak.

Pendelaars moes ontruim word en ten minste drie waens is vernietig in die brand.

Geen beserings is aangemeld nie.

Bosman sê ‘n saak van brandstigting word ondersoek.

“Daar was net drie jeugdiges wat ‘n petrolbom na die trein gegooi het, wat veroorsaak het dat dit aan die brand geslaan het. Die sekuriteitswagte het die stad se wetstoepassers gewaarsku. Hulle het hulle agternagesit en drie jeugdiges is in hegtenis geneem en word tans aangehou by die Muizenberg-polisiestasie.”

Intussen sê Metrorail se Riana Scott tegnici werk sonder ophou om die omvang van die skade te bepaal.

“Ons kan bevestig dat minstens drie waens beskadig is. Ons spanne sal werk om te probeer om die diens te herstel. Ons glo dat die oorhoofse toerusting nie beskadig is nie, maar hulle moet dit ondersoek.”

Onbeskermde staking kan Johannesburg donker laat

Die munisipale werkersvakbond SAMWU het gewaarsku dat sy staking wat aanstaande Maandag begin, daartoe sal lei dat die hele Johannesburg en sy voorstede in duisternis gehul sal wees.

Die vakbond sê hy het Johannesburg City Power ingelig van sy voorneme om met ‘n volskaalse staking te begin, het RSG berig.

City Power sê die staking is onbeskermd. SAMWU voer aan dat City Power en sy Raadsvoorsitter nie aandag gegee het aan kwessies wat verband hou met korrupsie teen City Power se besturende direkteur nie.

City Power sê SAMWU se optrede sal neerkom op sabotasie. City Power sê hy is ‘n Nasionale Sleutelpunt en enigeen wat dreig om die kragnetwerk onwettig af te skakel, kan vervolg word.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het ook nie ‘n sertifikaat uitgereik aan SAMWU nie wat die staking onwettig maak.

City Power sê hulle het sonder sukses by talle geleenthede SAMWU gevra om sy bewerings van korrupsie teen die besturende direkteur te staaf.

Amerika kry welverdiende rugbyloesing

Suid-Afrika is met 16 punte bo-aan groep C van die Rugby Wêreldbekertoernooi wat in Brittanje gehou word.

Daarmee is die Bokke se plek in die kwarteindronde in Londen verseker.

Die Springbokke het Amerika Woensdag ‘n pakslae gegee van 64-0 en altesaam nege drieë gedruk, terwyl ‘n strafdrie ook toegeken is.

Die VSA se afrigter, Mike Tolkin, het 12 veranderinge aan sy beginspan aangebring, wat kennelik ‘n duur fout was.

Die belowende senter, Damian de Allende is as Speler van die Wedstryd aangewys nadat hy ‘n drie gedruk het.

Die veteraanspeler, Bryan Habana, het ‘n driekuns behaal, maar kon nie die rekord vir drieë in ‘n Wêreldbekerstryd van die All Black Jonah Lomu verbeter nie.

Die Springbokke sal in die volgende ronde teen Wallis of Australië te staan kom.

In sy laaste wedstryd het Georgië sy wedstryd teen Namibië naelskraap met 17-16 gewen.

Die Namibiërs se span het hoofsaaklik uit Afrikaners bestaan wat verbete verdedig het.

Jacques Burger, die Namibiese kaptein wat aan die voorpunt van die Namibiese fisieke aanslag was, is egter vroeg in wedstryd beseer en moes van die veld af.

Die span se Walliese afrigter Phil Davies het sewe veranderinge aangebring aan sy span. Die

Die hoop van die Namibiese span was die haker Torsten van Jaarsveld, een van die staatmakers met sy akkurate ingooiwerk.

Die Vrystaat Cheetahs se Curriebeker-kaptein het vanjaar se Superrugbyreeks as die haker met die meeste suksesvolle ingooie afgesluit.

Brand by Dewetsdorp onder beheer

‘n Hewige veldbrand, wat Woensdag naby Dewetsdorp in die Vrystaat gewoed het, het nie ver versprei nie danksy ‘n vorige veldbrand.

Johann Breytenbach, voorsitter van die Dewetsdorp-brandvereniging sê ‘n stuk grond wat reeds uitgebrand het, het verhoed dat die brand verder verprei. Dit is Woensdagmiddag onder beheer gebring.

Breytenbach sê dit is in hierdie stadium onduidelik hoeveel hektaar weiveld vernietig is.

Breytenbach sê die brand het op die plaas Deelpan ontstaan en in ‘n oostelike rigting na Hobhouse versprei. Die oorsaak is nog onbekend.

Duisende hektaar weiveld het ‘n paar maande gelede in die gebied afgebrand weens ‘n wegholbrand.

Twee verkragters in George op vrye voet

‘n Tienjarige meisie is een van twee slagoffers wat hierdie naweek in die bruin woongebied by George, Pacaltsdorp verkrag is.

Volgens luitenant Lorraine Heyns van die Pacaltsdorp-polisie was die 10-jarige slagoffer Vrydag 2 Oktober alleen by die huis toe die verdagte na bewering die deur oopgedwing het en haar verkrag het.

Die voorval het om 22:00 in die Syferfonteinlokasie plaasgevind. Die verkragter is steeds op vrye voet.

In nog ‘n voorval is ‘n vrou (36) op die sportterrein in Pacaltsdorp in die vroeë oggendure van Sondag 4 Oktober verkrag.

Volgens inligting wat die polisie ontvang het, het die slagoffer vir ‘n vriendin in Beachweg gewag toe ‘n man haar nader en met ‘n mes dreig. Hy het haar na die sportterrein gedwing en verkrag.

Die verdagte is steeds soek.