Weste stap uit Uganda se presidentsinhuldiging oor al-Basjir

Amerikaanse, Europese en Kanadese verteenwoordigers het uit die inhuldiging van die Ugandese president, Yoweri Museveni in Kampala gestap.

Die Westerse lande het uit protes teen die teenwoordigheid van die Sudanese leier, Omar al-Basjir, die byeenkoms verlaat en omdat die Ugandese president die Internasionale Strafhof beledig het in sy toespraak.

Museveni het in sy verwelkomingstoespraak aan die begin van sy vyfde ampstermyn kritiek uitgespreek teen die ISS en hulle “‘n spul nuttelose mense” genoem.

Al-Basjir het die plegtigheid bygewoon ten spyte van ‘n internasionale lasbrief teen hom op klagtes van menseslagting.

Amnestie Internasionaal sê al-Basjir moet verantwoording doen vir menseregte-skendings en Uganda moet sy internasionale verpligtinge nakom.

‘n Onlangse hofuitspraak in Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse regering skerp gekritiseer oor die Soedannese leier se teenwoordigheid.

‘n Lasbrief is uitgereik om Al-Basjir in hegtenis te neem, maar Suid-Afrika het versuim toe hy hom verlede jaar in Johannesburg bevind het vir ‘n Afrika Unie-beraad.

Indië het ook geweier om die president in hegtenis te neem tydens sy besoek aan Nieu-Delhi in Oktober verlede jaar het die Internasionale Strafhof gesê.

Indië is nie ’n stigter-ondertekenaar van die Verdrag van Rome waardeur die hof tot stand gebring is nie, maar die hof voer aan dat Indië ’n plig het ingevolge ’n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad.

Al-Basjir se immuniteit is volgens die internasionale reg opgehef, maar Afrikalande steur hulle nie aan die hof se uitsprake nie.

Al-Basjir het ongehinderd in Indië opgedaag vir ’n Indië-Afrika-beraad en is vriendelik deur premier Narendra Modi ontvang. Die twee het intussen samesprekings gehou.

Indië is die tweede grootste handelsvennoot van Soedan na China. Verskeie Indiese olie-, gas- en konstruksiemaatskappye werk in Soedan.

In Maart verlede jaar het die president ook Egipte besoek waar hy aan ‘n internasionale ekonomiese konferensie deelgeneem het en hy het China ook besoek sedert die lasbrief uitgereik is.

ANC-appèl teen bepalings van Roomse Statuut misluk

Die ANC is oor die vingers getik nadat die Appèlhof teen hulle beslis het omdat hulle Soedan se president Omar al Basjir laat gaan het.

Die Suid-Afrikaanse appèlhof in Bloemfontein het dié week beslis dat die regering se oortreding van ’n plaaslike hofbevel, dat Al-Basjir die land nie mag verlaat nie, onwettig was.

Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die Internasionale Strafhof (IS) se Roomse Statuut, waarin misdade wat onder die jurisdiksie van die hof val gelys word asook die prosedures en die meganismes vir lande om saam te werk met die hof.

Die IS in Den Haag het voorheen lasbriewe vir die Soedanees se inhegtenisneming op grond van misdade teen die mensdom uitgereik.

Die volbank van vyf Suid-Afrikaanse appèlregters het beslis dat die regering se besluit strydig was met Suid-Afrika se internasionale verpligting en daarom onwettig was.

Die hof het beslis dat die Suid-Afrikaanse regering onder ‘n verpligting was om gehoor aan die lasbrief te gee, maar die ANC-regime het op sy beurt in hofstukke aangevoer dat dit “onwettig” is om ’n dienende president in hegtenis te neem.

Al-Basjir het in Junie verlede jaar die hasepad gekies nadat die hooggeregshof in Pretoria gelas het hy mag nie die land verlaat nie.

Al-Basjir was in Suid-Afrika vir ’n konferensie van die Afrika-Unie.

Die Appèlhofbesluit is mosterd na die maal, aangesien Soedan se leier oral kuier en hom nie steur aan die Strafhof se lasbriewe nie. Hy was onlangs in Egipte en kuier in China.

ANC sê Internasionale Strafhof is die pad byster

Die ANC se Nasionale Hoofraad het besluit dat die regering sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof moet onttrek omdat die hof die pad byster is.

Betrekkige tussen Suid-Afrika en die hof is op sy laagste vlak nadat die regering nie ‘n hofbevel afgedwing het om die president van Soedan, Omar al-Basjir in hegtenis te neem nie.

Al-Bashir het die beraad van die Afrika-Unie in Sandton, Johannesburg bygewoon en daarna vertrek ten spyte van ‘n lasbrief wat teen hom uitgereik is.

Soedan se president is tot ‘n oorlogsmisdadiger deur die strafhof verklaar vir beweerde volksmoord en oorlogsmisdade tydens die konflik in Darfur in 2003 waarin 300.000 mense omgekom het.

Intussen het Indië Al-Basjir saam met 54 staatshoofde vir die derde Indië-Afrika-spitsberaad uitgenooi.

Hoewel die hof Indië versoek het om Al-Bashir in hegtenis te neem terwyl Indië nie die Roomse Statuut onderteken het nie, het die hof aangedui dat hulle verwag dat Indië die bekamping van die “wêreld se ergste misdade” sal bevorder deur hom kragtens Veiligheidsraadresolusie 1593 te arresteer.

Die kwessie sal glo op die volgende vergadering van die hof se beraad vir staatshoofde bespreek word.

Die ANC se nasionale-uitvoerendekomiteelid, Obed Bapela, het gepraat by ‘n mediakonferensie in Midrand nadat Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale ­betrekkinge en samewerking, die aangekondiging oor Suid-Afrika se onttrekking Sondag gemaak het.

Nkoana-Mashabane het ook bevestig dat Al­-Basjir op die gastelys is vir die Forum oor China-Afrika-samewerking (Focac) in Desem­ber in Johannesburg. China het oliebelange in Soedan en voorsien Al-Basjir van die nodige wapens en finansiering teen insurgente uit die onafhanklike Suid-Soedan.

Bapela sê ondanks die besluit om aan die hof te onttrek, bly die ANC ‘n voorstander van menseregte. Die ANC het vroeër die week gesê hy glo die hof dien geen doel vir die land nie.

Bapela, wat ook as voorsitter van die ANC se subkomitee oor inter­nasionale verhoudinge dien, sê Suid-Afrika kan hom nie meer met die Internasionale Strafhof vereenselwig nie. “Daar is redes wat ons met die res van die vasteland deel. Die strafhof het ongelukkig koers verloor.”

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê die regering moet sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof hersien.

Volgens hom is die hof bevooroordeeld teenoor arm lande, en werk dit nie in belang van die vasteland nie.

Mantashe sê hulle wil eerder die Menseregtehof op die vasteland versterk.

Dit kom vier maande nadat die regering Soedan se president gehelp het om landuit te vlug ondanks die feit dat die hof ’n lasbrief vir sy ­inhegtenisneming uitgereik het.

As die regering besluit om te onttrek, sal hulle formeel kennis moet gee van hul voornemens en Suid-Afrika se wet­gewing oor deelname sal herroep moet word. Intussen geld die lasbriefbepalings.

Nkoana-Mashabane sê Suid-Afrika het die kwessie reeds op die agenda geplaas vir die strafhof se beheerliggaam wat in Novem­ber vergader.

Afrikastate beskuldig die strafhof daarvan dat Afrikaleiers uitgesonder word, maar dat die oortredings van Westerse leiers nie raakgesien word nie.

As stigter-ondertekenaar van die Roomse Verdrag wat die hof tot stand gebring het, gaan Suid-Afrika se onttrekking die hof se geloofwaardigheid grondig aantas.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, sê oudpres. Thabo Mbeki het uit sy pad gegaan om die beeld te vestig van Suid-Afrika as ’n land “wat sensitief vir menseregte is en ons so ’n gerespekteerde lid van die internasionale ­wêreld te maak”.

Onder Mbeki se leierskap het die ANC-Jeugliga gereeld by saamtrekke “Kill a Boer” gesing.

Volgens die regering kan die permanente lede van die Veiligheidsraad, wat nie partye tot die Statuut van Rome is nie, ten volle deelneem aan besprekings oor die Internasionale Strafhof.

Verder het die Veiligheidsraad se permanente lede stappe geneem om te verseker dat hul amptenare en militêre personeel nie onderwerp sal word aan die jurisdiksie van die hof nie.

Nigerië nader Internasionale Strafhof oor SA se xenofobie

‘n Nigeriese menseregte-organisasie het die Internasionale Strafhof (ICC) in Den Haag genader om ‘n klag van haatspraak teen die Zoeloekoning Goodwill Zwelithini te ondersoek.

Dié hof ontvang maandeliks duisende sulke klagtes wat tans op niks uitloop nie.

Na vele klagtes teen slegs Afrika-staatshoofde ontvang is, is die instelling gekritiseer as ‘n politieke instrument sonder regskrag, veral nadat Kenia se Uhuru Kenyatta in die spervuur gekom het weens verkiesingsgeweld maar Libië se vermoorde leier nooit die kans gegun is om sy saak te stel nie.

Hillary Clinton het selfs openlik in ‘n onderhoud na die Amerikaanse inval in Libië gekraai dat internasionale regspleging begrawe is: “Ons het gekom, ons het gesien, hy’s dood”.

Die klag werp insgelyks ‘n skadu oor Suid-Afrika se regstelsel aangesien die ICC deur die Roomse Statuut gedwing word om alleen klagtes te ondersoek in lande waar die regstelsel nie funksioneer nie.

Die sosio-ekonomiese regte en aanspreeklikheidsprojek (Serap) het gevra dat die ICC-aanklaer Fatou Bensouda die beweerde medepligtigheid of nalatigheid van Suid-Afrika se polisie in die voorkoming van die xenofobiese aanvalle ondersoek.

Die minister van polisie Nkosinathi Nhleko was glo teenwoordig toe die koning sy toespraak voorgelees het.

Zwelithini het by ‘n byeenkoms in Pongola, KwaZulu-Natal in Maart gesê “buitelanders moet hul tasse pak en huis toe gaan”. Hy het egter bygevoeg dat die owerhede nie sal ondersteun wat hy sê nie.

Die koning het later gesê hy het “onwettige immigrante” bedoel. Hy blameer ook ‘n derde mag vir die geweld.

Die koning is nie bang om sy sê in Zoeloe te sê nie. In 2012 het hy verklaar dat diegene wat betrokke is in gay verhoudings “vrot” is, maar later die skuld op swak vertaling gepak.

Serap het gesê Zwelithini se stellings kan nie kragtens enige wet geregverdig word nie, en “misdade teen die mensdom is dikwels die gevolg van opmerkings soos Zwelithini s’n”.

Serap is klaarblyklik heeltemal tevrede met die aanhitsing teen blankes ten spyte van vrome verklarings oor “haatspraak”:

“…The Canadian Supreme Court held that hate speech may constitute persecution, even if it does not result in the commission of acts of violence. In arriving at this conclusion, the court considered that a link was demonstrated between the speech at issue and the widespread or systematic attack against the civilian population. Thus, the post-World War II jurisprudence generally establishes that hate speech not urging an audience to commit imminent violence can constitute persecution.”

Nigerië se waarnemende hoëkommissaris Martin Cobham en sy adjunk Uche Ajulu-Okeke is Saterdag gevra om terug te keer uit Suid-Afrika vir konsultasies oor die aanvalle.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge het in reaksie gesê die onttrekking is “‘n ongelukkige en jammer stap” en “vreemd”.

Woordvoerder Clayson Monyela het egter verklaar dat Suid-Afrika verbind bly tot die skep van ‘n sterk band en bilaterale verhoudinge met Nigerië.

Hy het Nigerië daaraan herinner dat Suid-Afrika uiterste geduld aan die dag gelê het met die repatriasie van 84 ontslape burgers wat omgekom het in die Nigeriese kerkramp.

Die 84 was deel van ‘n groep van 116 wat dood is toe ‘n gastehuis van die Sinagoge Kerk onder leiding van TB Joshua, in September verlede jaar ineengestort het weens swak bouwerk.

Dinsdag het die minister in die Presidensie Jeff Radebe gesê Suid-Afrika het ‘n hartlike verhouding met Nigerië.

Polisie soek inligting oor wit polisiehoof se marteldood

Gerrit Myburgh
Gerrit Myburgh

Die Gautengse polisie het ‘n beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat kan lei tot verdere arrestasies in verband met die moord op die voormalige Heidelbergse polisiedistrikskommissaris Gerrit Myburgh.

Die polisie het Woensdag bevestig dat hulle ‘n saak van moord en huisroof ondersoek nadat die gefolterde liggaam van die voormalige polisiehoof op sy kleinhoewe gevind is.

Gerrit ‘Billy’ Myburgh (79), is glo met ʼn strykyster en kookwater gemartel voordat hy vermoedelik met sy eie klere verwurg is.

Die 77-jarige het glo alleen op sy kleinhoewe gewoon toe hy Maandag vermoor is.

Polisie het gesê dat sy liggaam is ontdek deur sy niggie en ‘n familievriend wat hom wou gaan besoek.

Sy half-naakte liggaam is in ‘n plas bloed in sy slaapkamer gekry. Albei sy hande en voete was vasgebind met klere.

Die SAPD het nie dié martelmoord geregistreer as ‘n haatmisdaad nie hoewel die huidige regime as ‘n ondertekenaar van die Roomse Statuut verplig word om dit te doen.

Dit sal slegs ondersoek word as ‘n gewone geval van moord en huisbraak.

Die polisie se Katlego Mogale het gesê die huis is geplunder en vier vuurwapens word vermis, asook Myburgh se motor.

Myburgh se voertuig, ʼn swart Mazda 3, is tydens die voorval gesteel, maar later verlate naby Heidelberg opgespoor.

“Die voertuig is aan die brand gesteek en was heeltemal uitgebrand toe die polisie Dinsdagoggend in die vroeë oggendure daarop afgekom het,” het Mogale bygevoeg.

Volgens ʼn polisiebeampte, wat anoniem wou bly, is drie vuurwapens en ʼn polisiesabel van die toneel gesteel. Mogale kon dit vroeër egter nie bevestig nie en sê hulle wag nog vir die man se familie om vas te stel of daar iets uit die huis vermis word.