Brand by Dewetsdorp onder beheer

‘n Hewige veldbrand, wat Woensdag naby Dewetsdorp in die Vrystaat gewoed het, het nie ver versprei nie danksy ‘n vorige veldbrand.

Johann Breytenbach, voorsitter van die Dewetsdorp-brandvereniging sê ‘n stuk grond wat reeds uitgebrand het, het verhoed dat die brand verder verprei. Dit is Woensdagmiddag onder beheer gebring.

Breytenbach sê dit is in hierdie stadium onduidelik hoeveel hektaar weiveld vernietig is.

Breytenbach sê die brand het op die plaas Deelpan ontstaan en in ‘n oostelike rigting na Hobhouse versprei. Die oorsaak is nog onbekend.

Duisende hektaar weiveld het ‘n paar maande gelede in die gebied afgebrand weens ‘n wegholbrand.

Zuma kondig einde van grondeienaarskap aan

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand in sy staatsrede aangedui dat die beginsel van gewillige koper/verkoper van grond betref, binnekort iets van die verlede sal wees.

Hy het ook gesê buitelanders sal verhoed word om grond in Suid-Afrika te besit, alhoewel hulle steeds in aanmerking sal kom vir langtermynlenings.

“Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit sal in die verband vanjaar by die parlement ingedien word. Grond het ‘n kritieke faktor geword om die onregte van die verlede reg te stel.”

Volgens die voorgestelde wetsontwerp sal daar ‘n plafon wees vir grondeienaarskap, naamlik slegs 12 000 hektaar.

Zuma het gesê die tweede tydperk om grondeise in te dien is verlede jaar heropen. Hy het gesê 36 000 grondeise is nasionaal ingedien. Die nuwe sperdatum is in 2019.

“Ons ondersoek ook die 50/50-beleidsraamwerk, wat voorstel dat grond aan mense wat op plase woon en werk oorgedra word. Vyftig boerderyondernemings sal geïdentifiseer word as deel van ‘n loodsprojek.”

Zuma het gesê meer as 90,000 hektaar is deur die grondhervormingsprogram aan kleinboere, plaasbewoners en huurarbeiders toegeken. “Die proses om die kantoor van die waardeerder-generaal op die been te bring is onderweg en dit word gedoen in terme van die Wetsontwerp op Eiendomswaardering,” het Zuma gesê.

“Wanneer die wet eers geïmplementeer is sal dit ‘n einde bring aan die staat se afhanklikheid van die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper.”