praag.co.za

Tag: Dewetsdorp

  • Wit koshuismatrone met klip en baksteen doodgeslaan

    Die polisie in die Vrystaat het nog nie die naam van ‘n 50-jarige vrou, wie se lyk Dinsdagmiddag op die Jimmie Roos-jeugsorgsentrum se skoolterrein by Dewetsdorp gevind is, bekend gemaak nie.

    Volgens PRAAG se inligting was sy glo mevrou Barnard, die koshuismatrone.

    Polisiewoordvoerder, Yanda Ngcukana, sê die polisie is steeds op die toneel nadat twee skoolseuns glo omstreeks 14:20 op die vrou, wat verbonde is aan die skool, afgekom het. Sy was reeds dood.

    Die SAPD het intussen bevestig dat die twee leerlinge by die Jimmie Roos Jeugsentrum naby Dewetsdorp vir ondervraging in verband met die moord aangehou word.

    Volgens hom is die wit vrou ook ‘n bestuurder van ‘n gastehuis op die skoolterrein.

    Haar lyk is by haar bakkie tussen die gastehuis en ‘n dam wat op die terrein geleë is, gevind.

    Hy sê die seuns het twee mans in ‘n Land Cruiser-bakkie van die toneel sien wegry. Hulle het glo hulp ontbied.

    Ngcukana sê die slagoffer is met ‘n baksteen en ‘n groter klip teen die kop geslaan.

    Niks word uit die gastehuis of haar bakkie vermis nie. Hy sê haar selfoon is steeds op die toneel.

    Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

    Ngcukana sê haar familie moet eers in kennis gestel word.

    Johnny Erlank, wat onlangs as skoolhoof uitgetree het, help glo die polisie met hul ondersoek.

  • Brand by Dewetsdorp onder beheer

    ‘n Hewige veldbrand, wat Woensdag naby Dewetsdorp in die Vrystaat gewoed het, het nie ver versprei nie danksy ‘n vorige veldbrand.

    Johann Breytenbach, voorsitter van die Dewetsdorp-brandvereniging sê ‘n stuk grond wat reeds uitgebrand het, het verhoed dat die brand verder verprei. Dit is Woensdagmiddag onder beheer gebring.

    Breytenbach sê dit is in hierdie stadium onduidelik hoeveel hektaar weiveld vernietig is.

    Breytenbach sê die brand het op die plaas Deelpan ontstaan en in ‘n oostelike rigting na Hobhouse versprei. Die oorsaak is nog onbekend.

    Duisende hektaar weiveld het ‘n paar maande gelede in die gebied afgebrand weens ‘n wegholbrand.