Zambiese president gaan in Londen dood

Die Zambiese president Michael Sata is in Londen dood, waar hy besig was om behandeling vir ‘n onbekende siekte te ontvang, berig drie private media-instellings in Zambië.

Die berigte op die private Muzi-televisiekanaal, asook die Zambia Reports- en Zambian Watchdog-webwerwe beweer dat dié Afrikaland se kabinet binnekort bymekaar sou kom.Tot dusver het regeringsamptenare nog niks te kenne gegee nie.

Plaas brand af na weermagoefening

Drie jaar nadat duisende hektaar ná ’n militêre oefening­ op die plaas Otjisazu­ in die Okahandja-distrik vernietig is, het die plaas wat aan die Osire Kari-weermagbasis grens, Vrydag weer onder vlamme deurgeloop.

Die keer is sowat 90% van die plaas deur die vuur verswelg, het die Republikein berig.

Die Namibiese weermag is in 2011 skriftelik deur Otjisazu se eienaar, dr. Hartmut Weimann, in ’n skrywe aan brig.genl. Shilungila en brig.genl. B. Kadila ingelig van sy kommer oor die afvuur van missiele en ligfakkels tydens militêre oefeninge. Dit het gevolg nadat sowat 8 000 hektaar weiding in die ­omgewing ná ’n grofgeskutoefening verwoes is.

Weimann het in sy skrywe vir geskikte en ­voldoende voorsorgmaatreëls voor ’n oefening gepleit om ’n herhaling van ’n soortgelyke voorval en skade te voorkom.

Volgens hom het die basis nie oor die nodige en voldoende ­brandtoerusting beskik om sulke situasies te hanteer nie. ’n Beroep is toe gedoen vir funksionele toerusting by Osire Kari, die ­skoonmaak van ­oorgroeide brandpaaie langs die grense en by die skietbane en dat militêre p­ersoneel geskikte opleiding in brand­bestryding kry. Weimann het ook gemaan dat die NDF vir enige verliese of skade verantwoordelik gehou sal word.

Tydens Vrydag se brand, wat tot 90% van Otjisazu se weiding vernietig het, het weermagpersoneel sonder ­watertenks of brandtoerusting ­opgedaag om die vlamme te help blus. Van jasse tot stokke is glo deur die personeel gebruik om die vlamme te probeer doof.

Volgens ’n ­ooggetuie wat vanaf ­Okahandja ­onderweg was, het hy gesien hoe ses “rooi fakkels” afgeskiet word en hoe brande op die ses verskillende plekke ontstaan waar dit in die veld geland het.

Buiten NDF-­personeel het bure van die ­omgewing ingespring om die brand tot bedaring te probeer bring.

Benewens die ­duisende hektaar weiding wat vernietig is, het die wildwerende heining op Ojtisazu­ ook deur­geloop. Die totale skade van die brand moet nog beraam word.

Numsa gaan sosialistiese front teen ANC monster

Numsa se besluit om ’n sosialistiese verenigde front te vorm teen die ANC, is die begin van die “herskikking” van die Suid-Afrikaanse politieke landskap sê swart opposisiepartye.

Numsa sal glo nie vrywillig bande met die vakverbond Cosatu verbreek nie.

‘n DA-woordvoerder het dié verwikkelinge in die drieparty-alliansie as “nodig” beskryf  “om die herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek te versnel”.

Bantu Holomisa, UDM- leier, het ook die nuwe sosialitiese front teen president Zuma verwelkom.

“Die wittebrood is verby en ons sien uit na wat hulle [die nuwe politieke groep] in Desember na die tafel bring. Dit is goed vir demokrasie.”

Numsa beskou Zuma as die hoofteiken vir hul ontevredenheid.

Cosatu beskou die feit dat Numsa lede werf buite hul ledebasis as ongrondwetlik. Die vakverbond is steeds deel van die drieparty-alliansie.

Indien Numsa van die alliansie wegbreek, sal dit moontlik tot ’n skeuring in Cosatu lei.

Die ANC se aanspraak dat hy die werkersklas verteenwoordig, sal verwater word daardeur, meen sommige ontleders.

Cyril en TAC tel die VIGS-strydbyl op

Adjunk-president Cyril Ramaphosa sê die land het wegbeweeg van die ontkenning van VIGS.

Ramaphosa sê groot vordering in die stryd teen die pandemie gemaak.

Hy het gepraat by die bekendstelling van die 21ste internasionale VIGS-konferensie, wat na 16 jaar weer in Julie 2016 in Suid-Afrika gehou word.

Ramaphosa sê hoewel daar aanvanklik ontkenning en ‘n gebrek aan deursigtighed was, is aansienlike vordering gemaak.

Hy het ook gesê die stryd is egter nog nie ten volle gewen nie.

Die nie-regeringsorganisasie, The Treatment Action Campaign het intussen sy misnoeë oor van die viering van Wêreld Vigsdag uitgespreek.

Die groep sê die viering is ‘n belediging vir mense wat die virus onderlede het.

Wêreld Vigsdag word jaarliks op 1 Desember gevier.

Die organisasie meen Suid-Afrika het niks om te vier nie, aangesien die land met die meeste MIV-positiewe mense ter wêreld spog.

Die TAC sê miljoene rande word vermors om die dag te gedenk, terwyl een uit elke vyf klinieke in die land sukkel om genoeg mediese voorraad aan te hou.

Khama wen Botswana-verkiesing

Botswana se hoofregter Maruping Dibotelo sal Ian Khama na verwagting vandag inhuldig vir sy tweede termyn as president.

Khama se regerende BDP-party het 37 setels in verlede week se verkiesing ingepalm, met die opposisiepartye wat net 20 setels kon wen.

Dit is egter die meeste setels wat opposisiepartye nog sedert Botswana se onafhanklikheidswording in 1966 kon behaal.

Khama sal as die vierde president ingehuldig word.

Hy is die seun van die eerste president Sir Seretse Khama en ‘n wit Britse ma.

Derde swart sportster sterf

‘n Swart vrouebokser Phindile Mwelase is dood nadat sy vir twee weke in ‘n koma was, het die sport- en ontspanningsministerie Maandag gesê.

Die professionele bokser Mwelase (31) is by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria Saterdag oorlede, het die ministerie in ‘n verklaring gesê.

Die ligte weltergewigbokser is op 10 Oktober uitgeslaan in die stryd teen Liz Butler in Pretoria.

Afrikaanse bokser Liz Butler
Afrikaanse bokser Liz Butler

“Minister Fikile Mbalula het weer van die afsterwe van nog ‘n belowende sport talent van hierdie land verneem nadat Mwelase die stryd verloor het weens haar ontydige dood op 25 Oktober,” het die ministerie gesê.

Volgens boxrec.com het Mwelase se loopbaan oor vier gevegte gestrek, waarin sy ‘n gelykopuitslag behaal het en drie verliese gely het (insluitende die uitklophou wat gelei tot die koma).

Haar dood het die aantal van sportsterftes op drie sedert Vrydag te staan gebring.

Die Olimpiese silwermedaljehouer vir 800m Mbulaeni Mulaudzi is dood in ‘n motorongeluk Vrydag.

Bafana Bafana se kaptein en doelwagter Senzo Meyiwa is doodgeskiet in Vosloorus Sondag.

Klaar met Afrika

Dit was hul tweede besoek aan Namibië, ’n wonderlike land wat hulle vertrou het. Maar nou is hulle klaar met Afrika. Hulle gaan ook hul vriende aanraai om weg te bly.

So het die egpaar Josef en Johanna Stapfler­ Vrydag aan die Republikein gesê voordat hulle drie dae ná hul aankoms in Namibië weer op ’n vliegtuig terug na Frankfurt was. Die Stapflers­ was die vorige middag by Omaruru se Franke-­toring die slagoffers van ’n man wat asof van nêrens verskyn het, hulle afgedreig en hulle toe liederlik­ aangerand het.

Ná hul aankoms in Windhoek het die egpaar in hul gehuurde motor een aand in ’n lodge net suid van Karibib geslaap. Donderdagaand­ het hulle soos bespreek in ’n bergherberg wes van Omaruru geslaap nadat hulle die vorige dag aangerand­ is. Vrydag was dit vir hulle terug Windhoek en huis toe. Hul Namibiese­ toer van 18 dae wat hulle ook na Damaraland en die Zambezi­streek sou bring, het net drie dae geduur.

Die egpaar in hul vroeë veertigerjare­ was ontnugter en teleurgesteld­.
Na behandeling in die staatshospitaal­ op Omaruru het die Stapflers self vertel wat Donderdagmiddag net voor die etensuur­ by Omaruru se Franke-­toring­ met hulle gebeur het. Hulle wou die Franke-­toring as ’n historiese­ erfenisbaken­ besoek. Daar gekom, was die deur gesluit.

Hulle was reeds terug by hul gehuurde voertuig­ toe hul aanvaller­ langs hul kar uitgeslaan het.

Die man het beduie dat hy honger was en geld of enigiets anders soek. In daardie stadium was Johanna se sak met hul kosbare reisgoed nog om haar nek. Sonder enige argument het die man haar sak gegryp en het ’n struweling­ ontstaan.­ Die volgende oomblik het die man haar met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan. In sy een hand was ’n kannetjie­. Johanna het gemeen dit kon die een of ander spreimiddel bevat en het vir haar oë gekeer. Toe Josef bygekom het, het hy ’n hou in sy ribbes gekry. Hy was nogtans sterk genoeg om op straat hulp te soek terwyl sy bebloed by hul voertuig gestaan het.

Oor hul skielike huis toe gaan was die egpaar dit eens: “Ons wil nie meer hier wees nie”.

In die sak waarmee hul aanvaller die hasepad gekies het, was allerlei kaarte van die egpaar, sowat tweehonderd euro en ’n klompie Namibiese dollars. Behalwe die sak en die inhoud daarvan is ander goed nie uit die gehuurde motor gesteel nie.

Baas van e.tv bedank na sy skorsing

Die uitvoerende hoof van e.tv en eNCA, Marcel Golding het bedank.

Die TV-stasie het bevestig dat Golding sy bedanking ingedien het nadat hy ‘n aansoek in die Arbeidshof verloor het om sy skorsing ter syde gestel te kry.

Die maatskappy wat die televisiestasie besit, Hosken Consolidated Investments (HCI), het hom verlede week geskors.

Hy word daarvan beskuldig dat hy 24 miljoen rand se aandele in die elektroniese maatskappy Ellies Holdings sonder raadpleging gekoop het.

Barbara Hogan, voormalige ANC-minister en HCI-direkteur het terselftertyd bedank.

Hogan beweer dat ‘n ondersoek na die Ellies aandeel-transaksie op ‘n onprofessionele manier gedoen is en e.tv se hoofaandeelhouer, die SACTWU, die klerewerkersunie, (South African Clothing and Textile Workers’ Union) het probleme met e.tv se redaksionele praktyke.

Regter Anton Steenkamp het Maandag teen Golding beslis.

Regter Steenkamp het gesê die dissiplinêre aksie teen Golding is nie onwettig nie en hy moet hom wend tot regsmiddele soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge .

Golding beweer dat die dissiplinêre verhoor teen hom gevolg het nadat hy geweier het om aan politieke druk toe te gee.

Hy het na die aankondiging gesê hy is gedwing om te bedank vanweë ‘n stryd om redaksionele onafhanklikheid.

Matriek 2014: Eksamen begin vandag

Die matrieks van 2014 begin vandag met hul eindeksamen.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het vanjaar se matrieks sterkte toegewens.

Meer as 550 000 voltydse matrieks skryf vandag die eerste Engelse vraestel.

Dit is die eerste vraestel wat matrieks onder die nuwe curriculum sal aflê.

Britse koerant hits twis aan tussen Bob se opvolgers

Grace Mugabe se ambisie om die volgende president van Zimbabwe te word, sal die regering in die land laat “skeur”, het die Guardian berig.

Britse koerante en meningsvormers is gretig om dié verwikkeling aan te moedig en poog reeds maande lank om leiersfigure teen mekaar op te steek.

Die Guardian beweer dat Grace, die vrou van die huidige president Robert Mugabe, by ‘n saamtrek buite Harare Donderdag, gesê het sy kan president wees as sy wil want sy is ‘n burger van land.

Volgens die koerant het Grace met ‘n “venynige tirade teen die huidige Zimbabwiese vise-president Joice Mujuru” losgetrek.

Grace het Mujuru glo beskryf as “ondankbare, magshonger, dom, korrupte, dwase, verdelende en ‘n skandelike persoon,” en haar beskuldig van samewerking met wittes om die land se post-onafhanklikheid te ondermyn.

Zimbabwe se adjunkpresident, Mujuru het die bewerings verwerp dat sy beplan om president Robert Mugabe te ontsetel, voor die regerende party se kongres in Desember.

Sy het bewerings in Britse koerante ontken dat sy Mugabe uit die kussings wil lig.

Grace Mugabe het Mujuru intussen aangeraai om te bedank.

Mujuru en die minister van justisie, Emmerson Mnangagwa word beskou as die voorste aanspraakmakers om die 90-jarige Mugabe op te volg.