Baas van e.tv bedank na sy skorsing

Die uitvoerende hoof van e.tv en eNCA, Marcel Golding het bedank.

Die TV-stasie het bevestig dat Golding sy bedanking ingedien het nadat hy ‘n aansoek in die Arbeidshof verloor het om sy skorsing ter syde gestel te kry.

Die maatskappy wat die televisiestasie besit, Hosken Consolidated Investments (HCI), het hom verlede week geskors.

Hy word daarvan beskuldig dat hy 24 miljoen rand se aandele in die elektroniese maatskappy Ellies Holdings sonder raadpleging gekoop het.

Barbara Hogan, voormalige ANC-minister en HCI-direkteur het terselftertyd bedank.

Hogan beweer dat ‘n ondersoek na die Ellies aandeel-transaksie op ‘n onprofessionele manier gedoen is en e.tv se hoofaandeelhouer, die SACTWU, die klerewerkersunie, (South African Clothing and Textile Workers’ Union) het probleme met e.tv se redaksionele praktyke.

Regter Anton Steenkamp het Maandag teen Golding beslis.

Regter Steenkamp het gesê die dissiplinêre aksie teen Golding is nie onwettig nie en hy moet hom wend tot regsmiddele soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge .

Golding beweer dat die dissiplinêre verhoor teen hom gevolg het nadat hy geweier het om aan politieke druk toe te gee.

Hy het na die aankondiging gesê hy is gedwing om te bedank vanweë ‘n stryd om redaksionele onafhanklikheid.

Tekstiel kry nog ‘n knou

Die bykans 1 400 afleggings by die tekstielvervaardiger Frame kon nie deur die departement van handel en nywerheid gekeer word nie. Die departement het in ’n persverklaring sy spyt uitgespreek daaroor.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, sowel as Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het albei probeer om die maatskappy te red luidens 'n verklaring.

Patel was voorheen aan die stuur van die Suid-Afrikaanse klere- en tekstielwerkersunie (Sactwu).

Hulle was albei “gemotiveer deur ’n begeerte om die behoud van strategiese produksievermoë en indiensname te fasiliteer in ’n globale en plaaslike omgewing wat gedeeltes van ons vervaardigingsektor onder groot druk plaas”.

Pogings deur die NOK om 'n buitelandse belegger te kry was onsuksesvol.

Stuart Queen, uitvoerende hoof van Seardel wat Frame besit, sê die laaste groep werkers sal die maatskappy teen die einde van Augustus verlaat.

Frame se werkmag sal nou met 'n verdere 1 400 werkers krimp tot 1 500. Die maatskappy het in ’n stadium aan 35 000 mense werk verskaf.

пескоструйныеЛобановский