Geen name by matriekuitslae 2014

Matriekuitslae wat in koerante gepubliseer word, gaan slegs die identiteitsnommer en eksamennommer van leerlinge bevat, het die departement van basiese onderwys Dinsdag gesê.

Dié stap sal groepe waartoe uitblinkers en mislukkings behoort verdoesel.

Die besluit is geneem na taakspan se aanbeveling dat die huidige konvensie om individuele leerlinge se name te publiseer, hersien moet word, het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.

Die besluit is Maandag tydens die Raad van Onderwysministers se vergadering geneem dat die uitslae sonder name gepubliseer sal word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die vergadering in Pretoria gelei.

Matriek 2014: Eksamen begin vandag

Die matrieks van 2014 begin vandag met hul eindeksamen.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het vanjaar se matrieks sterkte toegewens.

Meer as 550 000 voltydse matrieks skryf vandag die eerste Engelse vraestel.

Dit is die eerste vraestel wat matrieks onder die nuwe curriculum sal aflê.

Matriek 2014: Departement is slaggereed

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het by ‘n nuuskonferensie gesê alle voorbereidings vir 2014 se senior sertifikaat-eksamen is afgehandel.

Altesaam 688 660 matrieks het vir die eksamen geregistreer. Die meeste kandidate, 550 127 is voltydse leerlinge; net 138 550 is deeltyds.

​Die matrieks gaan in 6 740 eksamenlokale reg oor die land eksamen skryf en 65 000 eksaminatore sal ‘n wakende oog oor kandidate wat die eindeksamen aanpak, hou.

Van die sleutelpunte wat ook bespreek is, sluit in:

•  Die bekendstelling van tegnologie in skole wat die gehalte van onderrig sal verbeter, meen die minister.

•  Die kurrikulum behoort vir die volgende sewe jaar dieselfde te bly, want “ons is wel op die regte pad”, sê Motshekga.

•  Die departement sal begin om profiele met persoonlike inligting en vakkennis van onderwysers op te stel.

•  Volgende jaar sal 3 700 leerlinge van gr. 1 af ’n Afrika-taal leer. Dit sal later na ander grade uitgebrei word.

Die matrikulante in Kuruman sal egter nie die matriekeindeksamen skryf nie, nadat skole in die John Taolo Gaetsewe-distrik reeds sedert 4 Junie vanweë diensteoproer ontwrig is.

Sowat 17 000 leerlinge, onder wie 496 matrikulante, het geen onderrig gekry nie. Oproeriges eis dat ‘n pad geteer word. Die leerlinge gaan wel hul eindeksamen in Maart aflê.