Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het by ‘n nuuskonferensie gesê alle voorbereidings vir 2014 se senior sertifikaat-eksamen is afgehandel.
Altesaam 688 660 matrieks het vir die eksamen geregistreer. Die meeste kandidate, 550 127 is voltydse leerlinge; net 138 550 is deeltyds.
Die matrieks gaan in 6 740 eksamenlokale reg oor die land eksamen skryf en 65 000 eksaminatore sal ‘n wakende oog oor kandidate wat die eindeksamen aanpak, hou.
Van die sleutelpunte wat ook bespreek is, sluit in:
• Die bekendstelling van tegnologie in skole wat die gehalte van onderrig sal verbeter, meen die minister.
• Die kurrikulum behoort vir die volgende sewe jaar dieselfde te bly, want “ons is wel op die regte pad”, sê Motshekga.
• Die departement sal begin om profiele met persoonlike inligting en vakkennis van onderwysers op te stel.
• Volgende jaar sal 3 700 leerlinge van gr. 1 af ’n Afrika-taal leer. Dit sal later na ander grade uitgebrei word.
Die matrikulante in Kuruman sal egter nie die matriekeindeksamen skryf nie, nadat skole in die John Taolo Gaetsewe-distrik reeds sedert 4 Junie vanweë diensteoproer ontwrig is.
Sowat 17 000 leerlinge, onder wie 496 matrikulante, het geen onderrig gekry nie. Oproeriges eis dat ‘n pad geteer word. Die leerlinge gaan wel hul eindeksamen in Maart aflê.

Selfs die skotse referendumuitslag is meer geloofwaardig as ZA matriekresultate.
“ons is wel op die regte pad”, sê Motshekga.
Net jammer julle ry in die verkeerde rigting …