Die Nigeriese prediker, TB Joshua, het aangekondig dat hy binnekort na Suid-Afrika sal reis omdat hy die familielede van slagoffers en oorlewendes van die ramp by sy Sinagoge wil ontmoet. ‘n Gastehuis van die kerk in Lagos het inmekaargetuimel terwyl nog verdiepings aan die gebou toegevoeg is.
Joshua het aan sy gemeente by ‘n Sondagdiens gesê hy sal Suid-Afrika besoek, om “die martelaars van geloof” te kom ontmoet.
Die prediker het glo ook joernaliste omgekoop om positief oor die tragedie te berig, het ’n Nigeriese joernalis die naweek getwiet.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het verskeie twiets van Nicholas Ibekwe, ’n Nigeriese ondersoekende joernalis, hertwiet waarin dié beweer dat Joshua sowat 50 000 Niara (sowat R3 389) elk aan Nigeriese én internasionale joernaliste aangebied het.
Die prediker het uit die staanspoor die ramp aan ‘n “verdagte” vliegtuig toegeskryf wat hy bo die kerk gewaar het, in ‘n land waar Moslem- en Christenverskille al dekades lank vir politieke doeleindes aangewend word.
Suid-Afrika het reeds ‘n span na Nigerië gestuur om die liggame van Suid-Afrikaners te gaan opspoor en uitken.
Die eerste groep Suid-Afrikaners wat beseer is in die ineenstorting, word vanoggend in Suid-Afrika terug verwag.
Die Minister in die Presidensie, Jeff Radebe, sê altesaam 26 Suid-Afrikaners, waarvan sommige in ‘n kritieke toestand is, sal in die land aankom. Hulle was onder die sowat 350 Suid-Afrikaners wat pastoor TB Joshua se kerkdiens bygewoon het.
Minstens 86 mense is in die ramp dood, waarvan 84 vermoedelik Suid-Afrikaners is.
Intussen is konstruksiemaatskappy in die Oos-Kaap in pekel nadat ‘n Graad nege-leerder verlede week dood is toe ‘n onvoltooide skoolklaskamer by Tsolo ineengestort het.
Nog drie leerders van die Ligelihle Junior Sekondêre skool is ernstig beseer in die voorval.
Plaaslike leiers sê die konstruksiemaatskappy wat vir die bouwerk verantwoordelik was, moet boet. Die speaker van die Mhlontlo-munisipaliteit, Xolile Nkombela, sê hy het krake in al die mure gesien.
Nkombela sê indien dit van hom afgehang het, sou hy opdrag gegee het dat alles platgeslaan word.
‘n Direkteur van die konstruksiemaatskappy, Kenny Steady, het egter ontken dat die ineenstorting die gevolg was van swak vakmanskap.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.