Drie jaar nadat duisende hektaar ná ’n militêre oefening op die plaas Otjisazu in die Okahandja-distrik vernietig is, het die plaas wat aan die Osire Kari-weermagbasis grens, Vrydag weer onder vlamme deurgeloop.
Die keer is sowat 90% van die plaas deur die vuur verswelg, het die Republikein berig.
Die Namibiese weermag is in 2011 skriftelik deur Otjisazu se eienaar, dr. Hartmut Weimann, in ’n skrywe aan brig.genl. Shilungila en brig.genl. B. Kadila ingelig van sy kommer oor die afvuur van missiele en ligfakkels tydens militêre oefeninge. Dit het gevolg nadat sowat 8 000 hektaar weiding in die omgewing ná ’n grofgeskutoefening verwoes is.
Weimann het in sy skrywe vir geskikte en voldoende voorsorgmaatreëls voor ’n oefening gepleit om ’n herhaling van ’n soortgelyke voorval en skade te voorkom.
Volgens hom het die basis nie oor die nodige en voldoende brandtoerusting beskik om sulke situasies te hanteer nie. ’n Beroep is toe gedoen vir funksionele toerusting by Osire Kari, die skoonmaak van oorgroeide brandpaaie langs die grense en by die skietbane en dat militêre personeel geskikte opleiding in brandbestryding kry. Weimann het ook gemaan dat die NDF vir enige verliese of skade verantwoordelik gehou sal word.
Tydens Vrydag se brand, wat tot 90% van Otjisazu se weiding vernietig het, het weermagpersoneel sonder watertenks of brandtoerusting opgedaag om die vlamme te help blus. Van jasse tot stokke is glo deur die personeel gebruik om die vlamme te probeer doof.
Volgens ’n ooggetuie wat vanaf Okahandja onderweg was, het hy gesien hoe ses “rooi fakkels” afgeskiet word en hoe brande op die ses verskillende plekke ontstaan waar dit in die veld geland het.
Buiten NDF-personeel het bure van die omgewing ingespring om die brand tot bedaring te probeer bring.
Benewens die duisende hektaar weiding wat vernietig is, het die wildwerende heining op Ojtisazu ook deurgeloop. Die totale skade van die brand moet nog beraam word.
