Selfmoordbomaanval deur kind in Irak gefnuik

Dramatiese videomateriaal het na vore gekom van die Irakse polisie wat ‘n selfmoordplofgordel van ‘n kind afhaal, vermoedelik voor nog ‘n selfmoordbomaanvalpoging van ISIS.

Die beeldmateriaal toon hoe sekuriteitspersoneel ‘n sigbaar ontstelde seuntjie in toom hou, terwyl hulle sorgvuldig die gordel van die bolyf die jeugdige in Kirkuk afsny.

Nadat die band verwyder is, word die seun opgeraap en weggeneem.

Koerdistan24, ‘n nuusstasie in Irbil, Irak, het Sondag die beelde uitgesaai.

Owerhede het gesê hulle glo die 15-jarige het ‘n week gelede van Mosul na Kirkuk gekom, ISIS se belangrikste vesting buite Sirië.

Die arrestasie in Kirkuk kom ‘n dag nadat ‘n kind ‘n Koerdiese troue in Turkye in ‘n selfmoordaanval geteiken het.

Meer as 20 van die slagoffers was kinders onder 14, het ‘n Turkse amptenaar gister gesê.

Die aanvaller wat Saterdagaand láát op ’n feesviering in die suidoostelike stad Gaziantep toegeslaan het, was tussen 12 en 14 jaar oud, het Turkye se pres. Tayyip Erdogan verklaar.

Die selfmoordbomaanvaller het laatnag op die troue toegeslaan. Daar was ’n enorme ontploffing tussen die mense was wat nog gedans het.

Bloed en liggaams­dele was daarna besaai oor die terrein, sê ooggetuies. Brand- en bloedvlekke was sigbaar teen die mure in die nou stegie waar die aanval plaasgevind het.

ISIS het ‘n geskiedenis van die misbruik van kinders deur middel van propaganda, maar meer onlangs word hulle aangewend as wapens op die voorste linies en om burgerlikes te teiken.

Die terroriste-groep beskik oor ‘n leër van kindersoldate – gesteel van hul families en geïndoktrineer om die “saak” te bevorder.

Hierdie sogenaamde kleintjies van die kalifaat word ingelyf in die veldtog van geweld, met kinders so jonk as 8 wat deelneem volgens VN-verslae.

“Ons het verslae van kinders, veral kinders wat verstandelik gestremd is, wat gebruik word as selfmoordbommers, waarskynlik sonder dat hulle self verstaan ​​wat gebeur of wat van hulle verwag word,” sê Renate Winter, ‘n VN-kinderregtespesialis.

Noord-Korea se jongste missieltoets skep eenheid in Asië

Noord-Korea het Woensdag ’n toetslansering van ’n langafstandmissiel onderneem wat 500 kilometer ver in die rigting van Japan getrek het.

Dit was die eerste keer dat ‘n Noord-Koreaanse missiel Japan se lugverdedigingidentifikasiesone binnegedring het, het die Japannese Eerste Minister Shinzo Abe gesê.

Die toets het eenheid geskep onder leiers in Asië. Die ministers van buitelandse sake van China, Japan en Suid-Korea het Woensdag die duikbootmissieltoets veroordeel.

Wapenontleders sê dit neem Noord-Korea ’n stap nader aan die verwesenliking van sy kernaanval-ambisies.

Die vlugafstand is deur Suid-Korea se gesamentlike militêre stafhoofde gemeet, wat sê dit het heelwat verder getrek as vorige toetslanserings. Dit dui volgens waarnemers op aansienlike vordering op tegnologiese gebied.

Suid-Korea se Yonhap-nuusagentskap het gister ’n militêre bron aangehaal wat sê die lansering is teen ’n akute helling gedoen, wat die missiel se afstand beperk het.

Indien dit teen die optimale helling afgevuur sou word, sal dit in staat wees om ’n afstand van 1 000 kilometer te bereik.

VSA stel sanksies in teen LRA

Amerika het vandeesweek aangekondig dat sanksies teen die seuns van Joseph Kony, leier van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) se Lord’s Resistance Army (LRA) ingestel is.

Die Amerikaanse tesourie sê Salim en Ali Kony is geteiken omdat hulle namens die LRA en hul pa optree, het AFP berig.

Dit volg nadat sanksies in Maart teen Kony senior ingestel is omdat hy burgerlikes in die Sentraal-Afrikaanse Republiek teiken deur opdrag vir dade van geweld en ontvoering te gee en verantwoordelik is dat duisende mense haweloos gelaat is.

Die LRA, wat in 1987 vir die eerste keer in die noorde van Uganda na vore getree het, het ‘n vreesaanjaende reputasie verwerf vir barbaarse aktiwiteite in die noorde van Uganda, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van Kongo en SAR.

Die groep het meer as 100 000 mense vermoor, meer as 60 000 kinders ontvoer en baie van hulle gedwing om kindersoldate te word, sê die Verenigde Nasies.

Nuwe OB aangewys deur ad hoc-komitee

Die direkteur van Binnelandse Sake se Inligtingsbestuurseenheid, advokaat Busisiwe Mkhwebane is aanbeveel om die nuwe Openbare Beskermer te wees.

Die ad hoc-komitee wat die aanbeveling moes maak het vanmiddag drie ure lank beraadslaag oor wie die beste kandidaat is.

Die ander vier kandidate, regters Sirazj Desai en Erica Weiner asook advokaat Muvhango Lukhamaine en professor Bongani Majola is uitgeskakel.

Daar was eenstemmigheid onder al die partye, buiten die DA, oor Mkhwebane se aanstelling. Dit moet egter nog deur die Nasionale Vergadering bekragtig word.

Gerugte wil hê dat sy ‘n Zuma-ondersteuner is.

Mkhwebane is ‘n advokaat wat in die hooggeregshof optree. Sy was vir sewe jaar ‘n senior ondersoekbeampte in die kantoor van die Openbare Beskermer.

Sy het ook vir die Departement van Binnelandse Sake se afdeling belas met immigrasiekwessies gewerk. Mkhwebane het glo verskeie kwalifikasies in korporatiewe reg.

Duitsers aangemoedig om kos en water te berg

Duitsland het sy bevolking aangemoedig om kos en water te berg ter voorbereiding vir moontlike terroriste- of kuberaanvalle, in die eerste burgerlike verdedigingstrategie sedert die einde van die Koue Oorlog.

Die plan is die eerste breë opdatering sedert 1995, toe ‘n aftakeling van die federale burgerlike verdedigingstrukture bepleit is in die nasleep van Duitse hereniging.

Die 69-bladsy dokument waarsku dat “die veiligheidsbeleidomgewing weer verander het”, en sê dat Duitsland gereed moet wees in geval van ‘n “bestaansbe​​dreigende ontwikkeling”.

Kritici beskuldig egter kanselier Angela Merkel se koalisie van panieksaaiery voor belangrike deelstaatverkiesings in September.

En die bevolking het op sosiale media oor die strategie gespot, met die hutsteken #hamsterkaeufe (eekhoringspens) en foto’s van die harige knaagdier wyd sirkuleer op Twitter.

Die minister van Binnelandse Sake Thomas de Maiziere verwerp die kritiek. Hy het gesê “terwyl ons almal hoop dat ons gespaar sal word van ‘n groot krisis, moet ons voorbereid wees op ‘n ramp.

“Dit is net verantwoordelik, sinvol en paslik koelkop om voorbereidings vir ‘n rampscenario te tref,” het hy gesê, want “elke land in die wêreld doen dit”.

Hy erken egter “‘n aanval op Duitse grondgebied wat konvensionele verdediging noodsaak, is onwaarskynlik,” maar Europa se grootste ekonomie moet “voldoende voorberei in die geval van ‘n bestaans​​bedreigende ontwikkeling in die toekoms wat nie uitgesluit kan word nie”, hetbdie strategie dokument gesê.

“Die verspreiding van wapens van massavernietiging en hul afleweringstelsels, kan konflik dryf deur terreurmiddele en kuberaanvalle kan ‘n direkte bedreiging vir Duitsland en sy bondgenote wees,” het hy gesê.

Die afhanklikheid aan beide die krag en IT-netwerke, het de Maiziere gesê die regering se strategie vir noodplanne rig om sleutel energie- en waterinfrastruktuur te beskerm.

Hulle moedig mense aan om genoeg kos te berg vir 10 dae, en water vir ten minste vyf.

Onluste oor gratis universiteite by vier kampusse in Oos-Kaap

Onluste oor eise vir gratis onderwys vir arm swart studente veroorsaak ontwrigting by vier universiteitskampusse in die Oos-Kaap.

Die bestuur van die Walter Sisulu Universiteit het ‘n hofinterdik aangevra om orde te probeer handhaaf tydens lesings, te verhoed dat eiendom beskadig word of personeel geïntimideer en aangerand word, het die Daily Dispatch berig.

Studente van die Universiteit se Mthatha, Butterworth en Oos-Londen kampusse is in hegtenis geneem vir openbare geweld, huisbraak en diefstal, opsetlike saakbeskadiging en die besit van petrolhouers.

WSU se registrateur Khaya Maphinda het in ‘n beëdigde verklaring in die Grahamstadse Hooggeregshof gesê: “Personeel het gevlug die kampusse uit vrees vir hul persoonlike veiligheid en die veiligheid van hul voertuie, en het nie teruggekeer nie.”

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) is ook lamgelê deur oproer, met lesings en toetse wat uitgestel is nadat sowat 300 Cosas-studente ‘n ingang na die Suidkampus afgesper het.

Studente is gewaarsku om die kampus Woensdag te vermy.

Die Verteenwoordigende Studenteraad het op Twitter gesê dat ‘n massavergadering met studente Dinsdag geëindig het met ‘n besluit om ‘n voorstel in te dien by die presidensiële kommissie van ondersoek vir hoër onderwys om ‘n verhoging van 0% te vra.

Die vergadering het ook gevra dat akademiese aktiwiteite voortgaan en diegene wat toetse gemis het, toegelaat word om te skryf.

Die Herald het NMMU-bestuur aangehaal wat sê dat geen verhoging in fooie die instelling finansieel sal ruïneer.

“Soos met alle universiteite, staar die NMMU finansiële beperkings in die gesig staar. Geen toename in fooie as (opsie) is nie volhoubaar nie,” het woordvoerder van die universiteit Zandile Mbabela gesê.

Rand daal na Valke op Gordhan neerswiep

Die DA het sy kommer uitgespreek oor berigte dat die minister van Finansies, Pravin Gordhan (foto), versoek is om môre by die Valke aan te meld en sê die stryd word nou op ‘n hoër vlak gevoer.

Volgens die brief wat Gordhan ontvang het, het die Valke hul ondersoek van vroeër vanjaar voltooi.

Dit hou verband met ‘n sogenaamde spioenasie-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens waarby Gordhan betrokke sou wees.

Die eenheid het na bewering gespioeneer op politici, onder wie President Jacob Zuma. Gordhan het voorheen reeds deur sy regsverteenwoordiger op die kwessie gereageer.

Die Inkomstediens, SAID het intussen ‘n rekenmeestersfirma Grant Thornton aangestel om ‘n forensiese ondersoek te onderneem na die modernisering- en tegnologieprogram wat in werking gestel is tussen 2007 en 2014 onder Gordhan.

Die Valke het reeds aangedui dat Gordhan, sy voormalige adjunk by die SAID Ivan Pillay, en drie ander senior voormalige amptenare krimineel aangekla kan word.

Die rand het intussen tot sy laagste vlak in drie weke teenoor die Amerikaanse dollar gedaal.

Die geldeenheid het in oornaghandel met bykans drie persent verswak teen die vernaamste internasionale geldeenhede na die nuus dat die Gordhan-ondersoek sal voortgaan.

Drie EU-leiers sê Brexit sal nie Europa breek nie

Die leiers van Italië, Frankryk en Duitsland het dié week volgehou dat Brittanje se skokbesluit om die Europese Unie te verlaat, nie die einde van die ekonomiese magsblok sal beteken nie.

Italië se eerste minister, Matteo Renzi, die Duitse kanselier, Angela Merkel en Frankryk se pres. Francois Hollande het Maandag op die vliegdekskip, die Guiseppe Garibaldi, byeengekom om oor die Europese Unie (EU) se toekoms en Brittanje se uittrede uit die EU te beraadslaag.

Die vliegdekskip, een van die geboorteplekke van die droom vir ‘n verenigde en geïntegreerde Europa, was by die Italiaanse eiland, Ventotene, vasgemeer. Die leiers het onderneem om die EU te versterk ná Brittanje se vertrek.

“Baie het gedink dis verby met die EU ná Brexit, maar dit is nie hoe sake staan nie, het Renzi gesê.

Die EU is volgens hom die “antwoord” vir Europa se probleme en verseker “vrede, welvaart en vryheid”.

Volgens Merkel is die EU uit sommige van die “donkerste oomblikke van die Europese geskiedenis” gebore, ‘n verwysing na die Tweede Wêreldoorlog.

Sy sê die tyd het aangebreek om ‘n “beter bladsy” in Europese geskiedenis te skryf.

Hollande van Frankryk het gewaarsku dat Europa gevaar loop om gefragmenteer te word en dat verdeeldheid voorkom moet word.

Dit het ‘n “nuwe impuls” op drie fronte naamlik die ekonomie, verdediging en veiligheid nodig en werk- en opvoedkundige geleenthede moet vir jong mense geskep word.

In ‘n simboliese gebaar het die Italiaanse premier sy gaste na die graf van Altiero Spinelli, ‘n stigtersvader van die ideaal van Europese integrasie, geneem. Renzi het gesê die vergadering was daarop gemik om ‘n gemeenskaplike siening oor die EU se toekoms te vorm vóór ‘n spitsberaad van die oorblywende 27 lidlande op 16 September in Bratislawa begin.

Europa se ekonomiese vooruitsigte, djihadistiese aanvalle, die toestroming deur migrante, die Siriese konflik en betrekkinge met Rusland en Turkye was ook op die leiers se sakelys.

Hillary lyk gedaan, sukkel met bottel agurkies

Gerugte dat Hillary Clinton nie fisies geskik is vir die Withuis nie, wil nie gaan lê nie.

Maar die Demokratiese presidentskandidaat sê hierdie uitsprake kom van van die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, en is deel van sy “mal strategie” en ‘n “alternatiewe realiteit”.

Clinton wil waarskynlik graag die aandag aflei van die nuus wat aanhoudend deursyfer oor kriminele bedrywighede rakende haar epos.

Trump het na die Clinton Foundation verwys in ‘n toespraak in Akron, Ohio, as ‘n “speel vir deel” toegangsroete vir buitelandse entiteite en regerings om invloed te koop in die VSA.

Hy het gesê haar optrede was krimineel en die gehoor het gedreunsing dat sy toegesluit moet word. Clinton verteenwoordig die korrupsie wat hoogty vier in Washington, waar invloed en besluite gekoop word, het hy gesê onder groot toejuiging.

Trump het ook verwys na haar Moslem-raadgewer, Huma Abedin, en haar ma wat ‘n fundementalistiese Moslem is. Albei dien op die redaksie van ‘n tydskrif wat fundementalisme bevorder.

Abedin se man, Anthony Weiner, ‘n ongeneeslike sekspes, het geen beheer oor homself nie, het Trump gesê. Hy het bygevoeg dat dié soort mens onder meer met staatsgeheime vertrou is.

Hillary, wat nie gesond lyk nie, het tydens ‘n opname van ABC se Jimmy Kimmel Live gesê. “Ek moet in ‘n alternatiewe realiteit instap en soos jy weet, vrae beantwoord of ek lewendig is en so aan.”

Clinton sê sy bevraagteken nie Trump se gesondheid nie en glo hy is “so gesond soos ‘n os.”

“Dit het een van hul temas geword,” sê sy. “Maak seker of ek lewendig is.”

Sy het daarna ‘n bottel agurkies met groot moeite oopgedraai – in haar “realiteit” – om te wys hoe gesond sy is. Maar die bottel was reeds vir haar oopgemaak want die kenmerkende geluid van die vakuum onder die deksel wat gebreek word, was hoorbaar afwesig.

Dit is die eerste keer dat Clinton teengekap het oor gerugte oor haar gesondheid, wat kommer wek onder haar eie ondersteuners.

Baie van die spekulasie spruit uit harsingskudding wat Clinton in Desember 2012 opgedoen het nadat sy flou geword het, ‘n episode wat haar dokter later aan ‘n maagvirus en ontwatering toegeskryf het, maar sy moes lank ‘n spesiale bril dra vir dubbelvisie na bloeding op die brein.

Dit word egter verswyg.

Dit is nou al byna ‘n jaar wat Clinton weier om enige mediakonferensies te hou.

Tobruk stem teen Libië se VN-regering

Opponente van Libië se eenheidsregering, wat die ondersteuning van die Verenigde Nasies geniet, het Maandag teen ’n mosie van vertroue in die Tripoli-bewind gestem in ’n rare sessie van die parlement wat in die ooste van die land gevestig is.

Die stemmery is ’n vars terugslag vir die regering van nasionale eenheid, wat vir maande na dié parlement se bekragtiging streef, terwyl dit probeer om invloed en gesag tot buite sy basis in die hoofstad uit te brei.

Die stemmery was die eerste sedert Januarie toe die parlement die aanvanklike lys ministers wat deur die eenheidsregering voorgestel is, verwerp het en die eerste sedert die eenheidsregering in Maart vanjaar aan bewind gekom het.

Parlementêre sessies in Tobruk is herhaaldelik uitgestel of geblokkeer, met teenkanting teen die eenheidsregering wat in die ooste van die land aan die toeneem is.

Ondersteuners van die regering, van wie baie nie Maandag se sitting bygewoon het nie, het voorheen gekla dat opponente met fisieke geweld dreig ten einde te verhoed dat stemmery plaasvind.

Altesaam 161 afgevaardigdes het die sitting bygewoon met 61 wat teen die mosie gestem het, 39 wat buite stemming gebly het en net een wat ten gunste van die mosie gestem het.

Die eenheidsregering is die gevolg van ’n VN-onderhandelde ooreenkoms wat in Desember onder­teken is. Die ooreenkoms was daarop gemik om ’n einde aan konflik te maak, wat opgevlam het toe ’n gewapende alliansie in 2014 beheer oor instansies in Tripoli oorgeneem het en die nuutverkose parlement na die ooste van die land uitgewyk het.

Westerse magte maak op die eenheidsregering staat om Libië se veiligheidsvakuum die hoof te bied, olieproduksie te herstel en die stroom migrante te keer wat die Middellandse See vanuit Libië onder­weg na Europa oorsteek.

Magte lojaal aan die eenheidsregering het byna die hele kusstad Sirte van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) herower, maar die regering­ sukkel om elders ’n impak te hê.

Die regering­ se onvermoë om die krisis op te los, kragonderbrekings en ander probleme het bygedra dat die regering wyd steun verloor het.

Die minister van buitelandse sake van die Libiese tussentydse regering in Tobruk het in ‘n verklaring gesê die VN-gesant vir Libië, Martin Kobler (foto bo) moet vervang word met ‘n meer neutrale en doeltreffende figuur.