Noord-Korea se jongste missieltoets skep eenheid in Asië

Noord-Korea het Woensdag ’n toetslansering van ’n langafstandmissiel onderneem wat 500 kilometer ver in die rigting van Japan getrek het.

Dit was die eerste keer dat ‘n Noord-Koreaanse missiel Japan se lugverdedigingidentifikasiesone binnegedring het, het die Japannese Eerste Minister Shinzo Abe gesê.

Die toets het eenheid geskep onder leiers in Asië. Die ministers van buitelandse sake van China, Japan en Suid-Korea het Woensdag die duikbootmissieltoets veroordeel.

Wapenontleders sê dit neem Noord-Korea ’n stap nader aan die verwesenliking van sy kernaanval-ambisies.

Die vlugafstand is deur Suid-Korea se gesamentlike militêre stafhoofde gemeet, wat sê dit het heelwat verder getrek as vorige toetslanserings. Dit dui volgens waarnemers op aansienlike vordering op tegnologiese gebied.

Suid-Korea se Yonhap-nuusagentskap het gister ’n militêre bron aangehaal wat sê die lansering is teen ’n akute helling gedoen, wat die missiel se afstand beperk het.

Indien dit teen die optimale helling afgevuur sou word, sal dit in staat wees om ’n afstand van 1 000 kilometer te bereik.

Maak 'n opvolg-bydrae