Die direkteur van Binnelandse Sake se Inligtingsbestuurseenheid, advokaat Busisiwe Mkhwebane is aanbeveel om die nuwe Openbare Beskermer te wees.
Die ad hoc-komitee wat die aanbeveling moes maak het vanmiddag drie ure lank beraadslaag oor wie die beste kandidaat is.
Die ander vier kandidate, regters Sirazj Desai en Erica Weiner asook advokaat Muvhango Lukhamaine en professor Bongani Majola is uitgeskakel.
Daar was eenstemmigheid onder al die partye, buiten die DA, oor Mkhwebane se aanstelling. Dit moet egter nog deur die Nasionale Vergadering bekragtig word.
Gerugte wil hê dat sy ‘n Zuma-ondersteuner is.
Mkhwebane is ‘n advokaat wat in die hooggeregshof optree. Sy was vir sewe jaar ‘n senior ondersoekbeampte in die kantoor van die Openbare Beskermer.
Sy het ook vir die Departement van Binnelandse Sake se afdeling belas met immigrasiekwessies gewerk. Mkhwebane het glo verskeie kwalifikasies in korporatiewe reg.
