Die Marikanakommissie van Ondersoek het gehoor dat die meerderheid van die polisielede wat betrokke was by die skietery op 16 Augustus by Marikana, daarna gespanne en getraumatiseerd was.
Dit was deel van die getuienis van brigadier Adriaan Calitz wat die bevelvoerder was wat regstreekse bevele aan die polisielede op die dag van die skietery gegee het.
Calitz is gevra om te verduidelik waarom hy die polisielede op die skouer geklop het, na die skietery.
Calitz het verduidelik dat hy die lede se gemoedstoestand moes lig, aangesien daar gerugte was dat van hulle hulle werk sou verloor het.
Hy het daarop gewys dat hy as ‘n operasionele bevelvoerder met sy mense gepraat het en hulle daarop gewys het dat hulle niks verkeerd gedoen het nie en dat daar ‘n ernstige plig op hulle skouers rus.
Calitz het ook gesê die lede het ‘n 110 persent met hom saamgewerk en bevele uitgevoer. – RSG
Leiers van die Demokratiese Alliansie het Sondag na sy beleidskonferensie die noodsaaklikheid vir rasbeleid beklemtoon ten einde die “nalatenskap van apartheid” reg te stel.
By ‘n perskonferensie in Kaapstad, het die DA -leier, Helen Zille gesê die party erken dat daar “beduidende korrelasie tussen ras en benadeling” is, en dat haar party “onomwonde” die behoefte aan “regstelling” ondersteun.
Zille en ander partyleiers, het gesê die beleidskonferensie die naweek het beklemtoon dat “ras ‘n grondige rede” vir benadeling is. Dit beteken die ras van die benadeeldes – waarvan almal swart is – kan vrylik erken word.
Die party het voorgestel dat die groeiende rassedruk van binne die party duidelik geïdentifiseer word en verteenwoordig word in beleid. Maar Zille het ontken dat die debat “rasgedrewe” was.
“Daar was nie onmin of rassepolarisasie oor die kwessies nie,” het sy gesê. Daarmee het Zille te kenne gegee dat wit DA-leiers nie beswaar gemaak het teen die swart rassebeleid wat die party tans omhels nie.
Die DA het tradisioneel staatgemaak op ‘n rasblinde benadering tot ontwikkeling, waar die regering se doeltreffendheid en ‘n kultuur van vrye onderneming benadruk is, en sou lei tot die opheffing van armes.
Terwyl Zille die dramatiese ommeswaai in die party se beleidsrigting probeer onderspeel het, het die parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko haar kans waargeneem om die belang daarvan te beklemtoon.
Sy het gesê die erkenning van “ras” as ‘n belangrike filter in die DA se benadering tot regstelling sal voortaan hul beleid bepaal.
“Ek dink die groot ding wat uit die Federale Raad gekom het het in terme van leierskap was die vraag of die DA ras as ‘n wettige plaasvervanger vir benadeling aanvaar … en die antwoord was ‘ja’.”
Daar was berigte in die aanloop tot die konferensie dat swart lede van die Swart Koukus ‘n rassebeleid voorstaan.
Dit is na dese nie meer duidelik waar die party se benadering verskil van die ANC s’n nie.
“Ons uitdaging is om die balans tussen die behoefte aan rasseregstelling en ons verbintenis tot nie-rassigheid te behou,” het Zille erken.
Die minister van polisie, Nathi Mthethwa sê intussen hy’s vol selfvertroue dat die saak teen Radovan Krejcir waterdig is.
Hy het tydens ‘n New Age sake-toespraak in Midrand noord van Johannesburg gepraat. Mthethwa sê goeie werksverhoudinge tussen speurders het belowende uitslae opgelewer.
Die Tsjeggiese voortvlugtige en sy vennoot sal binne minute in die Palm Ridge landdroshof aan die Oos-Rand op aanklagte van poging tot moord en ontvoering verskyn.
Sy regspan het intussen ‘n klag van poging tot moord teen die polisie aanhangig gemaak. Hulle voer aan dat Krejcir gemartel is nadat hy Vrydagaand by sy huis in Bedfordview in hegtenis geneem is.
Uitspraak sal teen laatoggend in die Suid-Gautengse hooggeregshof gelewer word oor ‘n aansoek om Krejcir na ‘n hospitaal te verplaas.
Ná sy hofverskynings vandag is Krejcir se probleme met die Suid-Afrikaanse gereg nog nie verby nie.
Hy het ses jaar gelede met ‘n vervalste paspoort uit die Seychelle in die land aangekom.
Hy veg tans om nie na die Tsjeggiese Republiek uitgelewer te word nie, waar hy ‘n elf-jaar tronkstrafvonnis moet uitdien.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ook twee weke gelede Krejcir se bates onder kuratorskap geplaas.
Die hooggeregshof in Pretoria het Krejcir tot volgende Maandag tyd gegun om ‘n saak te stel oor waarom sy bates nie permanent in beslag behoort te bly nie. – RSG
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het ‘n ooreenkoms tussen Iran en ses wêreldmagte oor Iran se kernprogram veroordeel.
Volgens Netanyahu is dit ‘n “historiese fout” wat Iran in staat sal stel om kernwapens te vervaardig.
Israel is fel gekant teen die opheffing van sanksies teen Iran.
Netanyahu het aan sy kabinet gesê dat sy regering nie gebind word deur die ooreenkoms in Genève nie.
Hy het die dreigement van militêre optrede teen Iran herhaal.
Volgens die VSA het die ooreenkoms ‘n einde gemaak aan alle vordering aan Iran se kernprogram. Die ooreenkoms gaan ook blykbaar Iran se uraanvoorraad neutraliseer.
President Barack Obama het Netanyahu intussen geskakel, om hom te probeer paai oor gevoelens dat dié land Israel verraai het. Israel is afhanklik van Amerikaanse hulp. – RSG
Die Mpumalanga Departement van Gesondheid sê hulle sal ondersoek instel nadat die Embhuleni-hospitaal, naby Badplaas, glo die afgelope week vrot vleis aan pasiënte bedien het.
Daar word beweer dat die yskas waarin vleis gehou word, verlede week gebreek het.
Die hospitaal is nie skaam vir omstredenheid nie. Vroeër hierdie maand, was personeel wat by die hospitaal inwoon vir meer as ‘n weesonder elektrisiteit.
Departementele woordvoerder, Ronnie Masilela sê dat hulle het mense gekry om te kom en vinnig te kyk na die vrieskas wat ‘n probleem het, sodat dit reggestel kan word.
“Ons sal kyk na die geheel. Dit lyk asof die Embhuleni-hospitaal aandag moet kry, so ons sal beslis die aandag wat dit verdien, gee sodat ons nie soortgelyke probleme kry nie.” – SABC
Een van die vier mans wat betrek word by ‘n motorkaping in die Johannesburgse middestad, wat op kringtelevisiekamera vasgelê is, sal Maandag om borgtog aansoek doen.
Siphelele Mdlalose (29), Khanyisani Ngubane (24), Mhlonishwa Mchunu (36) en Ntobeko Hlatshwayo (29) is Donderdag in hegtenis geneem.
Die polisie het op ʼn Rav4 en ʼn Toyota Corolla beslag gelê en ondersoek die mans se betrokkenheid by minstens vier kapings wat op kringtelevisiekamera vasgelê is.
In die een kapingvideo kan daar gesien word hoe ʼn gesin in ʼn Rav4 geteiken word op die hoek van Commisioner- en Crownstraat.
Die gesin word uit hul motor gepluk en van hul besittings beroof voor die kapers met die motor vlug. – Sapa
Die polisie in Mpumalanga moes ‘n bejaarde swartvrou na veiligheid bring om haar te beskerm teen ‘n woedende skare.
Inwoners van Waterval het gedreig om haar lewendig te verbrand.
Hulle sê die vrou is ‘n heks en verantwoordelik vir die tragiese busongeluk op die Molotopad twee weke gelede. Dertig mense is dood in die ongeluk met ‘n bus en twee vragmotors.
Een van die Molotopadgebruikers, Anastacia Terane, het aan IOL gesê die oorsake van ongelukke op dié, sowel as ander paaie, word toegeskryf aan toordery en geheimsinnige verskynings wat oor die pad kom en bestuurders verlei.
Sy meen dit is omdat Suid-Afrika nog nie verander het na Apartheid nie, en mense steeds openbare vervoer moet gebruik om te gaan werk. Sy sê die bestuurders is ook oormoeg.
Gebedsessies is reeds voorheen gehou op die Molotopad om die voortgesette slagting te verminder.
Die inwoners het die bejaarde vrou se huis afgebrand en die polisie moes haar inderhaas na veiligheid bring nadat die skare aangedring het dat sy die bestuurder getoor het.
Die aanval op die bejaarde kom nadat talle Putcobusse, geskut is in ‘n gesamentlike-multi-dissiplinêre padblokkade op die Molotopad buite Pretoria.
Honderde pendelaars was gestrand as gevolg van die operasie en dié stap het waarskynlik gemoedere verder opgejaag.
Die minister van vervoer, Dipuo Peters het polisie en verkeersbeamptes vergesel by die padblokkade, voordat sy ‘n aankondiging oor die e-tolstelsel verlede Woensdag gemaak het.
Peters sê die operasie sal voortgaan op verskeie plekke: “Ons sal op strategiese punte wees om seker te maak dat ons kyk padwaardigheid van voertuie, soos na die lisensievoorwaardes van bestuurders en seker maak dat motoriste die korrekte permit het om op die pad te wees. Ons wil ook seker maak dat ons met die passasiers in aanraking kom en hulle bewus maak van die feit dat dit ook hul verantwoordelikheid is om hul bestemming in een stuk te bereik.”
Die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het uitspraak voorbehou in ‘n dringende hofaansoek wat deur die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir se prokureurs gebring is om hul kliënt vir mediese behandeling te laat neem.
Die hof het tot in die vroeë oggendure betoë van die staat aangehoor waarom die aansoek nie toegestaan moet word nie, het RSG berig.
Krejcir beweer dat hy in polisie-aanhouding gemartel is. Die regter sal Maandagmiddag ‘n beslissing gee.
Krejcir is Vrydag in Bedfordview in hegtenis geneem na ‘n voorval wat na bewering in Junie plaasgevind het.
Dit is steeds onduidelik of die Tsjeggiese voortvlugtige in die Palm Ridge landdroshof sal verskyn. Vroeër is berig dat hy saam met ‘n medebeskuldigde in die Albertonse landdroshof aan die Oos-Rand sal verskyn.
Een van Krejcir se prokureurs, Ulrich Roux sê ‘n dokter het Krejcir ondersoek nadat hy blykbaar elektriese skokke toegedien en gewurg is.
Die dokter het bevind dat Krejcir se bloedmonsters tekens van spierskade en moontlike nierversaking toon.
Die staat sê egter hy is bewus van Krejcir se kroniese siekte en dat hy in polisie-aanhouding daarvoor behandel kan word.
Die besonderhede van waar Krejcir aangehou word, word steeds geheim gehou, aangesien die polisie volgens die kommissaris, Riah Phiyega sy veiligheid wil verseker.
Iran se onderhandelaar ná die ooreenkoms bereik is
Iran en ses wêreldmoondhede het ‘n ooreenkoms bereik oor Teheran se omstrede kernprogram, na vyf dae van intensiewe onderhandelinge in Geneve in Switserland.
Die doel van die samesprekings was om ‘n tussentydse ooreenkoms vir ses maande op te stel, om alle partye tyd te gee om te onderhandel vir ‘n volledige skikking.
Israel het die verwikkeling skerp gekritiseer.
Volgens die ooreenkoms sal Iran sy kern-aktiwiteite verminder in ruil vir beperkte en geleidelike vermindering van sanksies. – RSG