Drie busse aan die brand gesteek

butterworthDrie busse is in Butterworth in die Oos-Kaap aan die brand gesteek, het die polisie Maandag gesê.

Die bestuurders van die City to City-busse het in ’n nabygeleë hotel oornag toe die busse omstreeks 01:00 Sondag aan die brand gesteek is, het kapt. Jackson Manatha gesê.

“Die polisie vermoed die busse is opsetlik aan die brand gesteek en het elektriese foute uitgesluit [as moontlike oorsaak],” het Manatha gesê.

’n Saak van opsetlike saakbeskadiging word tans ondersoek.

Die skade aan die busse word op ongeveer R4 miljoen geraam.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

VN loods aanval teen Hoetoe-rebelle in DRK

undrcDie Verenigde Nasies en die Kongolese leër het militêre operasies in die Demokratiese Republiek van die Kongo teen die Rwandese Hoetoe-rebellegroep, die FDLR ontplooi.

Die VN se nuwe ingrypingsmag wat Suid-Afrikaanse soldate insluit, sal in die oostelike deel van die land die aanval teen die rebelle loods.

Die FDLR het skuiling in die reënwoude se ruigtes geneem tussen die plaaslike bevolking.

Die groep is in die DRK sedert die Toetsies na ‘n rebellie beheer van Rwanda oorgeneem het.

Intussen het Suid-Afrika ook ‘n diplomaat van Boeroendi die deur gewys. Die rede vir Jean-Claude Sindayigaya se vertrek is nog nie duidelik nie, maar hy het reeds die land verlaat.

Boeroendi se minister van buitelandse sake het Saterdag bevestig dat een van sy land se diplomate geskors is uit Suid-Afrika.

Die stap kom nadat Suid-Afrika en Rwanda Vrydag in ‘n diplomatieke onderonsie slaags geraak het oor die hernude sluipmoordaanslag op ‘n uitgeweke Rwandese generaal in Johannesburg.

Kigali het ses Suid-Afrikaanse diplomate geskors, na Pretoria drie Rwandese amptenare 72 uur gegee het om die land te verlaat, het Rwanda se minister van buitelandse sake en diplomatieke bronne gesê.

Rwanda se minister van buitelandse sake het op Twitter gesê hulle is bekommerd dat Suid-Afrikaanse owerhede skuiling aan andersdenkendes bied wat verantwoordelik is vir terroriste-aanvalle in Rwanda.

Amptenare van buitelandse sake het geweier om kommentaar te lewer en gesê ‘n verklaring sal later uitgereik word.

Die uitsetting volg na ‘n hernude aanslag op oud-weermaghoof Faustin Kayumba Nyamwasa. Sy ​​teenwoordigheid in Suid-Afrika veroorsaak ‘n diplomatieke hoofpyn vir Pretoria.

Spanning het verdiep nadat Kigali se voormalige intelligensiehoof Patrick Karegeya dood aangetref is in ‘n Johannesburgse luukse hotel op Nuwejaar.

Geen arrestasies is nog gemaak ivm Karegeya se moord nie.

Sommige lede van die opposisie beweer dat die Rwandese regering agter die aanval sit.

Twee wit polisiebeamptes vas vir aanranding

kaapnigerieTwee wit polisiebeamptes is afgeneem waar hulle ‘n ongewapende swart Nigeriese man in ‘n Kaapstadse straat in hegtenis neem, het die polisiewaghond Opod Saterdag gesê.

Die Onafhanklike Polisiedirektoraat (Opod) het gesê die beamptes, tussen die ouderdomme van 42 en 45 jaar oud, sal in die hof sal verskyn op aanklagte van aanranding.

Vrydag is videomateriaal wat twee gewapende wit polisiemanne in uniform en privaatwagte viraal versprei, ook in Nigerië waarna swart en bruin openbare verontwaardiging teen polisiegeweld losgebars het.

“Die arrestasie nie sou gebeur het sonder die oplettendheid van die publiek nie,” het Moses Dlamini, die woordvoerder vir die polisiewaghond gesê.

Robert McBride is pas aangestel as hoof van Opod. Die voorval is deur bruin toeskouers uit ‘n gebou op kamera vasgelê wat toevallig ‘n baie goeie blik op die gebeure gehad het.

Opod se woordvoerder het gesê ander aanklagte kan bygevoeg word.

Die twee adjudant-offisiere sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die beamptes het blykbaar verlede Donderdag die man geskop en geslaan nadat hulle hom kaal uitgetrek het. Dit het ten aanskoue van ander lede van die publiek plaasgevind.

Die Opod-woordvoerder het die lede van die publiek wat beeldmateriaal van die voorval opgeneem het, bedank.

Lyk van bejaarde by Klein Kariba opgespoor

Klein Kariba
Klein Kariba

Een van ‘n egpaar wat vermis geraak het tydens ‘n vloed by ‘n ATKV-oord, se liggaam is opgespoor.

Die bestuurder van die ATKV se Klein Kariba-oord in Limpopo, dr. Wim de Wet sê die liggaam van die vermiste Elizabeth Sparrow is nog nie gevind nie. Die bejaarde egpaar was dagbesoekers.

Die ramp is veroorsaak deur ‘n dam wat by ‘n hoërliggende oord gebreek het. De Wet sê die oord sal vir ‘n onbepaalde tyd nog gesluit bly.

Sparrow en haar man is Vrydag deur ‘n fratsvloed meegesleur. Hulle was in die onderdakswembad van die oord toe die vloedwater hulle saamgeneem het.

Binne sekondes het ‘n watermassa die oord getref en die restaurant, winkel en binneswembad oorstroom.

Kleiner geboue en strukture is saam met voertuie wat by die winkel geparkeer was, meegesleur,” het De Wet gesê.

Die 73-jarige Jack Sparrow se liggaam is Saterdag gekry.

Die soektog word tans bemoeilik deur opdrifsels wat uitgespoel het en wat nog nie opgeruim kon word nie.

Voorlopige beramings toon dat die skade tussen sowat 15 en 20 miljoen rand beloop.

Maleisië vermoed terreur by vermiste straler

Die vliegtuig wat vermis geraak het
Die vliegtuig wat vermis geraak het

Die MH370-straler van Maleisiëlugdiens wat tydens ‘n roetinevlug verdwyn het sonder om ‘n noodsein te stuur, laat ondersoekbeamptes vermoed dat ‘n skielike en katastrofiese voorval die einde van al die passasiers en bemanning beteken het.

Die families van die 239 passasiers van ‘n vlug van Kuala Lumpur na Bejing, wat vermis geraak het, is aangeraai om hulle vir die ergste voor te berei.

Daar is aanduidings dat die Boeing 777 wou terugdraai, omdat die straler van koers af gewyk het.

Die Pentagon het glo reeds die verdwyning ondersoek en die moontlikheid van ‘n ontploffing uitgeskakel, het die New York Times berig. Die Maleisiese owerhede verseg om te aanvaar dat dit nie ‘n terreuraanval was nie.

Die gebrek aan enige wrakstukke tot dusver wil aandui dat die vliegtuig op ongeveer 35.000 voet gedisintegreer het, het een die bron gesê.

As die vliegtuig ongeskonde uit so ‘n hoogte val, sal dit net na impak met die water in stukke breek, en sal soekspanne verwag om ‘n redelik gekonsentreerde patroon wrakstukke te vind, het die bron gesê.

Twintig werknemers van ‘n tegnologiemaatskappy in Austin, Texas was ook aan boord van die vlug. Twaalf van die Freescale Semiconductor se werknemers is uit Maleisië en agt uit China.

Die ondersoek na die voorval fokus nou op twee passasiers wat met gesteelde paspoorte gereis het. Daar is vier verdagtes wat glo op die vliegtuig was, en Maleisiese amptenare het reeds met die FBI en Interpol geskakel oor die vier se identiteite.

Die name van twee mans van Oostenryk en Italië was op die vlug se passasierslys, maar dit het aan die lig gekom dat hul paspoorte vroeër in Thailand gesteel is. Die twee mans is ongedeerd.

Die twee passasiers wat vals paspoorte gebruik het van onderskeidelik die Italianer en Oostenryker, het hul kaartjies saam gekoop by China Southern Airlines en met Thaise Bhat betaal, het CNN berig. Die ander twee verdagtes het glo ook hul kaartjies op dieselfde wyse gekoop.

Dit het die vermoede versterk dat die voorval met terrorisme verband hou.

Een van die vermiste passasiers se familielede het die selfoonnommer van die passiers geskakel, maar niemand het opgetel nie, het die Mirror Online berig.

Die Amerikaanse vloot het intussen ‘n skip en ‘n soekvliegtuig gestuur om by die multinasionale soekspan aan te sluit.

Die soektog na die wrak oor Suidoos-Asië duur steeds voort. Maleisië het 15 vliegtuie en nege skepe gestuur, terwyl Vietnam twee vlootskepe, twee vliegtuie en ‘n helikopter bewillig het om te help in die soektog.

Die Viëtnamese soektog het glo brandstofspore op die water opgemerk en enkele wrakstukke wat ‘n aanduiding mag wees van waar die straler ondergegaan het. Die Amerikaanse owerhede het gesê die vonds is niksseggend.

Die WSJ het berig dat dit die deur en stertgedeelte van die straler kan wees. Volgens die Amerikaanse ambassade se verteenwoordiger in Hanoi, Jacky Ly Thang, het die Amerikaanse ondersoekspan tot die gevolgtrekking gekom dat die voorwerpe wat 100 kilometer suidwes van die Viëtnamese eiland Tho Chu opgespoor is, geen verband met die vermiste vliegtuig hou nie.

Die vliegtuig was op pad van Maleisië na China, waar daar verlede week 33 mense dood en 143 beseer is in ‘n terreuraanval in die suid-westelike stad van Kunming.

Die aanval, waarin ‘n bende amok gemaak het by ‘n Chinese stasie, is deur pro-separatiste Moslemterroriste van die Xinjiang streek wat grens aan Pakistan en Afghanistan geloods.

Die Chinese media het die aanval as die land se eie “9/11” beskryf.

 

 

Afwesigheid in parlement en wetgewer onder skoot

sleepers
Die wat wel opdaag, slaap

Lede van die parlement en wetgewers kan hul plekke verloor of beboet word as hulle belangrike vergaderings misloop.

Die parlementêre woordvoerder Luzuko Jacobs het gesê ‘n beleid ten opsigte van bywoning is deur die gesamentlike veelpartyreëlskomitee aanvaar.

Hy het gesê lede kan hul setels verloor as hulle vir 15 of meer opeenvolgende sittingsdae in die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies afwesig gemerk word.

Uitsonderings sal gemaak word indien hulle toestemming ontvang het.

LP’s wat komiteevergaderings misloop wat toesig oor staatsdepartemente hou, kan ook beboet word met R1000 vir elke dag wat hulle afwesig is.

Hulle het onder skoot gekom vir die versuim om sittings by te woon waar omstrede wetsontwerpe nie bespreek word nie, as gevolg van ‘n gebrek aan ‘n kworum.

Die verskynsel van afwesige lede het ‘n gereelde kenmerk in die afgelope twee jaar geraak.

Een ANC-LP wat nooit in die Nasionale Vergadering teenwoordig is nie, is Winnie Madikizela -Mandela.

Dit sal van die speaker in die parlement afhang om die nuwe instrument doeltreffend te gebruik.

Stappe teen die skuldige LP’s kan uiteindelik tot hul skorsing uit die parlement lei.

Die hoofsweep van die ANC in die parlement, Stone Sizani sê die beleid sal slegs ‘n sukses wees mits dit in samewerking met die bestaande elektroniese moniteringstelsel gebruik word.

Sizani het by monde van sy woordvoerder gesê dat al die partye moet instem dat die moniteringstelsel geaktiveer word, sodat parlementslede se bywoning behoorlik gevolg kan word.

Die stelsel is reeds by die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aangebring.

Eskom belowe geen kragonderbrekings dié week

Ben Martins
Ben Martins

Met gerugte dat beurtkrag die ANC in die komende verkiesing kan benadeel, het Eskom intussen die versekering gegee dat daar geen kragonderbrekings sal wees hierdie week nie.

Eskom se woordvoerder, Andrew Etzinger sê beurtkrag word nie in die vooruitsig gestel nie, alhoewel die kragnetwerk steeds onder druk verkeer.

Dit is nie bekend hoe die kragvoorsiener in die vraag sal voldoen nie. Eskom moes noodgedwonge vier dae gelede beurtkrag instel om die ineenstorting van die kragnetwerk te verhoed.

Hulle het reeds twee keer ‘n noodtoestand afgekondig omdat die steenkoolvoorraad nat geword het as gevolg van die deurdringende reën die afgelope week. Dit is egter nie die enigste rede vir die kragtekort nie, het ontleders gesê.

Die minister van Energie, Ben Martins het gesê dat Suid-Afrika dringend alternatiewe hulpbronne, behalwe steenkool vir kragvoorsiening moet oorweeg.

Hy het gesê die land is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om aan die stygende vraag na elektrisiteit te voldoen.

Martins het tydens die bekendstelling van ontwikkelingsprojekte in Port Elizabeth dié pleidooi gelewer.

Hy het ook gerugte ontken dat Suid-Afrika die beste gehalte steenkool uitvoer en van swakker gehalte steenkool vir sy eie behoeftes afhanklik is.

 

Gau-gau by jou bestemming

gaugauMet die ontploffing in Gautreinpassasiers, het die Gautengse LUR vir Vervoer, Ismael Vadi aangekondig dat wysigings ingestel sal word.

Dié veranderinge vir die Gautrein sal die druk op die verhoogde getal passasiers verlig, het Vadi gesê.

Busroetes wat aan die begin van verlede jaat uitgebrei en verleng is, het bygedra tot meer passasiers.

Met spitstye sal agt-rytuigtreine ingestel word omdat die huidige vier waens wat in gebruik is, sukkel om die verkeer te dra.

Meer as 80.000 mense maak daagliks van die trein gebruik.

Die bedryfstyd tussen die OR Tambo-lughawe en Sandton sal met ‘n ekstra 30 minute verleng word.

Parkeergeriewe in Sandton sal tot middernag oopbly omdat passasiers wat sukkel weens vlugvertragings, nie anders by hul voertuie kan uitkom nie.

Planne om ritte na townships in Pretoria en Soweto in te stel sal ook aanstons aangekondig word. word. , terwyl die

Swaar reën demp Krugerwildtuin, Oscar

natDaar is nog geen einde in sig vir die deurdringende reën wat dae reeds oor die noordelike en oostelike dele van die land uitsak nie, het RSG berig.

Dit reën reeds ‘n week lank in Gauteng en Mpumalanga. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê inwoners van dié twee provinsies moet hul regmaak vir ‘n nat naweek.

Kanse vir reën wat oor Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Kwa Zulu-Natal sal uitsak Sondag is 80 persent.

Die Nasionale Krugerwildtuin het die hek by Krokodilbrug en vier ander kampe weens oorstromings gesluit.

Volgens ‘n woordvoerder van die wildtuin, William Mabasa, word die meeste paaie en brue in die suide van die wildtuin geraak deur vloedgevaar en is dit gesluit om moontlike ongevalle te voorkom.

Die swaar reën in Pretoria sal waarskynlik lede van die publiek ontmoedig om die Oscar Pistorius-verhoor by te woon.

Die saak word Vrydagoggend halftien in die Noord-Gautengse hooggeregshof hervat. Mense het Donderdag sowat drie banke in die aangrensende hofsaal volgesit, maar minder word Vrydag verwag.

Die nat toestande bied ook tegniese uitdagings vir fotograwe en die uitsaai-media van regoor die wêreld. Die sewende staatsgetuie, dokter Johan Stipp sal binnekort verder kruisondervra word.

Intussen word berig dat Michelle Burger en haar man Charl Johnson die meeste aandag in die aanlyn-media kry. Volgens die media monitoreringsmaatskappy, Data Driven, kry die egpaar sowat 70 persent van die aandag.

Die twee was lank in die getuiebank en het onder kruisondervraging deurgeloop. Kevin Lerena, wat getuig het oor die voorval toe Pistorius ‘n vuurwapen in ‘n restourant laat afgaan het, het elf persent media aandag gekry.

Dr. Johan Stipp se getuienis oor hoe Pistorius Reeva probeer bybring het, het agt persent gekry.

Die media gebruik ook die woord skuldig, met verwysing na die saak, tien keer meer as onskuldig.

Polisie plunder saam by Pienaar

Kruideniersware afgelewer
Gesteelde kruideniersware afgelewer

Polisielede het blykbaar die plundertogte by Pienaar as ‘n geleenteheid gesien om self deel te neem.

Vier polisiebeamptes is Donderdag in verband met diefstal en regsverydeling in Mpumalanga hegtenis geneem. Kruideniersware is glo tydens die onlangse onrus in Pienaar gesteel.

Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die beamptes, tussen 30 en 34 jaar, staan tereg op aanklagte van diefstal, die besit van gesteelde goedere en regsverydeling.

Inwoners van Pienaar naby Nelspruit die polisie Woensdag in kennis gestel dat twee polisiebakkies kruideniersware by ʼn huis in die area aflaai.

Toe die polisie by die toneel opdaag, het ‘n vrou wat daar woon aan die polisielede gesê dat die vier beamptes die kruideniersware by haar huis afgelaai het. Sy het nie geld gehad om hulle te betaal nie.

Die beamptes wou R2 500 vir die kruideniersware ter waarde van R4 000 hê. Toe sy aan die konstabels sê dat sy nie die geld het nie, het hulle gesê hulle sal die geld later by haar kom haal.

Die vrou is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere. Die verdagtes het hulself Donderdag aan die polisie oorgegee.

Hulle sal na verwagting Vrydag in die Kabokweni-landdroshof verskyn.​