Bekende Afrikanerargitek oorlede

libertas
‘n Skaalmodel van Libertas

Die Afrikanerargitek dr. Irma Vermeulen (89) is Sondag in Pretoria oorlede.

Vermeulen was die dogter van Gerhard Moerdyk wat onder meer die Voortrekkermonument asook die presidentswoning Libertas en die indrukwekkende NG-Kerk Pretoria-Oos ontwerp het.

Libertas staan deesdae bekend as Mahlamba ndlopfu.

’n Gedenkdiens vir die ontslape pionier sal Vrydag 11:00 vanuit die NG kerk Pretoria-Oos gehou word.

Vermeulen het ’n doktorsgraad in stadsbeplanning verwerf en aan die Universiteit van die Vrystaat doseer.

Man en monument, ’n biografie oor haar beroemde vader, tesame met verskeie ander vakwerke, het uit haar pen verskyn.

Sy word oorleef deur vier kinders, ses kleinkinders en een agterkleinkind.

Byna tweederdes ry sonder motorversekering

motorsAl hoe meer Suid-Afrikaners kanselleer hul motorversekering na aanleiding van die hoër brandstofprys.

‘n Versekeringskenner, Christelle Fourie waarsku egter dat dit nie wys is nie, aangesien ‘n motor een van die grootste bates is wat ‘n mens besit.

Sy sê mense moet eerder probeer om hul premies te verlaag.

Na haar raming is meer as 70 persent van die motors op Suid-Afrikaanse paaie sonder versekering. – RSG

Kerry spook om vredesproses op koers te hou

vredemoDie Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, John Kerry sê hy het ‘n openhartige gesprek met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu gehad oor nuwe omstredenheid rakende Israelse vestings.

Kerry is werp alles in die stryd om sy inisiatief vir vrede in die Midde-Ooste op koers te hou.

Samesprekings word vandag in Jerusalem hervat. Kerry sê hy glo ook dat die Palestynse president, Mahmoud Abbas die samesprekings wil laat voortduur.

Sommige Palestyne het ‘n oproep gedoen om die onderhandelinge te boikot, nadat Israel planne bekendgemaak het om meer as 3 000 huise aan die Wesoewer en in Oos-Jerusalem te bou.

Kerry het benadruk dat Amerika dié planne as onwettig beskou. – RSG

Nege polisie sleepdood-verdagtes kry borg

sleepdoodDie nege polisiebeamptes wat van die moord op die Mosambiekse taxibestuurder Mido Macia beskuldig word, het Dinsdag in die Benoni-landdroshof borgtog gekry.

Die nege beamptes het weer om borg aansoek gedoen nadat hul regsverteenwoordigers aan die hof gesê hulle beskik oor nuwe bewyse. Die hof het vroeër borgtog aan die beamptes geweier.

Macia is op 26 Februarie aan ’n polisievoertuig vasgebind en in ’n straat in Daveyton aan die Oos-Rand gesleep. Hy het ure later in polisie-aanhouding gesterf.

‘n Selfoon-video-opname is van die insident gemaak.

Die beskuldigdes is Meshack Malele (45), Thamsanqa Ncema (35), Percy Mnisi (26), Bongumusa Mdluli (25), Sipho Ngobeni (30), Lungisa Ewababa (31), Bongani Kolisi (27), Linda Sololo (56) en Motome Walter Ramatlou (37). – Sapa

Drie plaasaanvallers vas

newcastleDrie mans wat van die moord op ’n boer van Newcastle beskuldig word, is Dinsdagoggend in hegtenis geneem, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.

Kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, het gesê die mans sal Woensdag in die Newcastle-landdroshof verskyn.

Die drie staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak, diefstal en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die 44-jarige Timothy Green is Sondagaand op sy plaas doodgeskiet. – Sapa

Rietvlei se renosters onthoring

rhinorandAlle wit renosters in die Rietvlei-natuurreservaat buite Pretoria is onthoring om hulle van stropers te beskerm, het die stad Tshwane Dinsdag gesê.
‘n Opgeleide wildvanger het die operasies uitgevoer en ‘n toepaslike permit vir die proses is uitgereik, het Selby Bokaba, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“Mikroskyfies is op die diere en horings ingeplant en DNS-monsters is geneem vir ‘n databank in Onderstepoort.”
Bokaba het gesê altesaam 1 722 renosters is tussen 2010 en 30 April 2013 gestroop. Drie jaar gelede het die metro twee renosters weens stroperery verloor.
“Wanneer renosters onthoring word, sal die horings op dieselfde manier as ‘n vingernael teruggroei. Die teruggroei van ‘n renosterhoring is tussen sowat vier en sewe sentimeter per jaar.” – Sapa

Vier vas vir wrede moord in Oranjeville

oranjevilleDie polisie het vier verdagtes in hegtenis geneem na die grusame moord op Vivien Ponté (57) in Oranjeville. Die vrou se verbrande lyk is Maandagoggend deur die polisie en bure ontdek.

Die swart mans is Dinsdag aangekeer in die Metsimaholo-lokasie. Die aanvallers is vasgetrek nadat die polisie inligting en bewysstukke wat op die toneel gekry is, opgevolg het.

Konst. Peter Kareli het namens Sasolburg se polisie bevestig dat vier mans van tussen 23 en 27 aangekeer is.

Een van die swartes het glo naweke vir Ponté in die tuin gewerk. Hulle het van Ponté se besittings by hulle gehad.

Sy is vermoedelik verkrag, vasgebind en verwurg, waarna die boosdoeners die vertrek aan die brand gesteek het.

Die verdagtes sal Vrydag in die Sasolburg-landdroshof verskyn.

Watergraf vir bemanning na duikboot ontplof

INS Sindhurakshak
INS Sindhurakshak

‘n Indiese vlootduikboot met sowat 18 bemanningslede aan boord het Woensdagoggend ná ‘n ontploffing aan die brand geslaan en gesink.

Die ontploffing het net ná middernag in die kilo-klas INS Sindhurakshak gebeur.

Die ongeluk kom in dieselfde week as wat Indië met ‘n plaaslik vervaardigde vliegdekskip se konstruksie begin. Dit word vir voltooiing in 2017 beplan.

Die land het ook pas aangekondig dat die reaktor op Indië se eerste tuisgeboude kernduikboot nou in werking is.

“Die Sindhurakshak vandag is miskien die ergste ongeluk wat ‘n Indiese vlootduikboot nog ooit gehad het,” sê die verdedigingsdeskundige en voormalige kommodoor Uday Bhaskar.

Narendra Vispute, woordvoerder van die vloot, het gesê pogings word aangewend om vas te stel of die bemanningslede veilig is.

Die Indiese nuuskanaal NDTV het gesê ‘n harde ontploffing is aangemeld. Sowat 12 brandweerwaens het na die hawe in Moembai gehaas en brandbestryders het sowat twee uur lank gespook om die brand te blus.

Vispute het gesê die oorsaak van die ontploffing word ondersoek. Geen verdere inligting is bekend gemaak nie.

Onderhoudswerk aan die 16 jaar oue Russies-vervaardigde duikboot is onlangs gedoen. – AFP

Babalyk in Ceres gevind

crimesceneDie lyk van ‘n baba is in Ceres in die Wes-Kaap gevind, het die polisie gesê.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê inwoners het die kind se lyk Maandag omstreeks 17:00 ontdek.

“‘n Saak van moord word ondersoek en ‘n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van die dood te bepaal. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.

Van Wyk het persone met inligting gevra om die polisie te kontak. – Sapa

Regering stel plaaswerkers se werk in gevaar

landbouwerkTLU SA het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersen, versoek om haar uit te spreek oor haar kollega van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se ideologiese proses om blanke grondeienaars van hulle regmatige eiendom te ontneem.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, noem minister Nkwinti se planne “konstruktiewe ontneming van blanke grondeienaar, indien dit nie doodgewone gewettigde grondgryp is nie”.

Mnr. Meintjes het Minister Joemat-Petterson in ‘n brief gevra of haar kollega se beleid dan regeringsbeleid is, en of sy, in wese ook as die minister wat ‘n direkte belang by voedselsekerheid het, kan saamgaan met daardie ideologiese benadering wat kommersiële landbou totaal gaan vernietig.

Terselfdertyd is Minister Nkwinti per brief ingelig dat totdat hy en sy departement die ordentlikheid aan die dag lê om op korrespondensie te reageer, TLU SA nie deel sal wees van die NAREG-proses of enige van sy ministeriële werksessies nie, en dat TLU SA sy optrede nie erken as deel van openbare deelname proses nie en dat dit ook nie voldoen aan administratiewe vereistes nie.

Mnr. Meintjes het ‘n beroep gedoen op Minister Joemat-Petterson om toe te sien dat die planne en voorstelle van grondhervorming, nie soveel reg aan werkers gee dat voedselsekerheid in gedrang kom nie, want in terme van daardie voorstelle sal boere uiteindelik geen besluite meer op hulle eie plase kan neem sonder arbeiders se goedkeuring nie.

“Hierdie voorstelle plaas die Regering effektief in beheer van alle landbou-eiendomme. Dit  is ‘n kommunistiese benadering wat gevolg word, en sal TLU SA geen ander keuse hê as om boere aan te moedig om  binne die korste moontlike tyd maatreëls in plek te kry om sonder arbeid hulle bedrywe voort te sit,” sê mnr. Meintjes.

Sou hierdie voorstelle in wetgewing vervat word sal dit die totale ekonomie negatief beïnvloed en voorspel ons hongersnood in Suid Afrika.