
‘n Indiese vlootduikboot met sowat 18 bemanningslede aan boord het Woensdagoggend ná ‘n ontploffing aan die brand geslaan en gesink.
Die ontploffing het net ná middernag in die kilo-klas INS Sindhurakshak gebeur.
Die ongeluk kom in dieselfde week as wat Indië met ‘n plaaslik vervaardigde vliegdekskip se konstruksie begin. Dit word vir voltooiing in 2017 beplan.
Die land het ook pas aangekondig dat die reaktor op Indië se eerste tuisgeboude kernduikboot nou in werking is.
“Die Sindhurakshak vandag is miskien die ergste ongeluk wat ‘n Indiese vlootduikboot nog ooit gehad het,” sê die verdedigingsdeskundige en voormalige kommodoor Uday Bhaskar.
Narendra Vispute, woordvoerder van die vloot, het gesê pogings word aangewend om vas te stel of die bemanningslede veilig is.
Die Indiese nuuskanaal NDTV het gesê ‘n harde ontploffing is aangemeld. Sowat 12 brandweerwaens het na die hawe in Moembai gehaas en brandbestryders het sowat twee uur lank gespook om die brand te blus.
Vispute het gesê die oorsaak van die ontploffing word ondersoek. Geen verdere inligting is bekend gemaak nie.
Onderhoudswerk aan die 16 jaar oue Russies-vervaardigde duikboot is onlangs gedoen. – AFP
