SINK nooit deur US-raad goedgekeur nie

Die sogenaamde “Sentrum vir Inklusiwiteit” by die Universiteit van Stellenbosch, wat soveel opslae met sy kontroversiele uitsprake oor transformasie aan die US gemaak het, het in werklikheid nooit amptelik bestaan nie.

Die sentrum (SINK) is die geesteskind van die viserektor Julian Smith, tans met sogenaamde “studieverlof”, al kan administratiewe amptenare soos hy nie kwalifiseer vir studieverlof nie.

Smith se pos as Viserektor Gemeenskapsinteraksie word afgeskaf, en as hy terugkeer is dit die einde van sy kontrak en sal hy na verwagting met pensioen aftree. Dit is ondenkbaar dat hy na die Departement Drama kan gaan as “professor”, waar hy nominaal ‘n leerstoel beklee, net sodat hy as “professor” aangespreek kan word.

SINK se instelling as Sentrum aan die US is nooit deur die universiteitsraad goedgekeur nie. Om as sentrum te kwalifiseer, moet ‘n behoorlike reglement deur die Senaat goedgekeur sowel as die universiteitsraad goedgekeur word.

Dit het nooit gebeur nie. Botman het die proses probeer omseil deur te beweer dat SINK bloot ‘n bestuursaangeleentheid is, maar die universiteitsraad het dit op sy voorlaaste vergadering nie aanvaar nie.

Die probleem is: Wat doen die US nou met ‘n “direkteur” van SINK, naamlik dr Lwellyn MacMaster?

Hy was, net soos Botman, een van die dosente wat in 1990 vanaf die Fakulteit Teologie aan UWK na US oorgeplaas is, sonder dat hulle ooit aan die akademiese keuringsproses onderwerp was.

MacMaster se kontrak verstryk einde vanjaar, en die hoop is dat hy dan nie weer enige pos aan die
US sal beklee nie. Plannetjies word glo beraam om hom weer by die Fakulteit Teologie te huisves, waar hy as ‘n liggewig akademikus beskou was.

Monica du Toit, die ander amptenaar van SINK, se posisie is nog onseker.

John Kennerson

Watergraf vir bemanning na duikboot ontplof

INS Sindhurakshak
INS Sindhurakshak

‘n Indiese vlootduikboot met sowat 18 bemanningslede aan boord het Woensdagoggend ná ‘n ontploffing aan die brand geslaan en gesink.

Die ontploffing het net ná middernag in die kilo-klas INS Sindhurakshak gebeur.

Die ongeluk kom in dieselfde week as wat Indië met ‘n plaaslik vervaardigde vliegdekskip se konstruksie begin. Dit word vir voltooiing in 2017 beplan.

Die land het ook pas aangekondig dat die reaktor op Indië se eerste tuisgeboude kernduikboot nou in werking is.

“Die Sindhurakshak vandag is miskien die ergste ongeluk wat ‘n Indiese vlootduikboot nog ooit gehad het,” sê die verdedigingsdeskundige en voormalige kommodoor Uday Bhaskar.

Narendra Vispute, woordvoerder van die vloot, het gesê pogings word aangewend om vas te stel of die bemanningslede veilig is.

Die Indiese nuuskanaal NDTV het gesê ‘n harde ontploffing is aangemeld. Sowat 12 brandweerwaens het na die hawe in Moembai gehaas en brandbestryders het sowat twee uur lank gespook om die brand te blus.

Vispute het gesê die oorsaak van die ontploffing word ondersoek. Geen verdere inligting is bekend gemaak nie.

Onderhoudswerk aan die 16 jaar oue Russies-vervaardigde duikboot is onlangs gedoen. – AFP