Pukke-raad sit glo oor rektor se termyn

Nuwe verwikkelinge rondom die termyn van die rektor van Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, Herman van Schalkwyk, is vandag na verwagting op ‘n raadsvergadering in Potchefstroom ter sprake.

Voorsitter van die raad, Johan Kruger, sê hy wil hom nie uitlaat oor wat bespreek gaan word nie.

Dit kom nadat die NWU-raad in Maart bekendgemaak het dat Van Schalkwyk se termyn as rektor van dié kampus op 31 Januarie 2016 sal verstryk.

Die raad het aangevoer die besluit is gemaak om die aangevraagde eksterne regsadvies wat aan hom voorgelê is, te aanvaar. Enige moontlike poging deur die raad om Van Schalkwyk se termyn te verleng sou onwettig wees.

Kruger sê geen finale besluite oor die NWU se vise-kanselier, Dan Kgwadi, en sy bestuurslui se strategiehersieningsproses en die moontlike verandering van die bestaande bestuursmodel gaan vandag geneem word nie.

Die raad het in Maart aanbeveel dat ‘n behoorlike ontleding deur die bestuur vandag oor die bestaande bestuursmodel se uitdagings asook die voorgestelde modelle self, gegee moet word.

Die de(kon)struksie van die Potchefstroomse universiteitskampus

Die mooi klinkende etiket “demokrasie” is eintlik maar net ‘n vyeblaar. Demokrasie is vir die ANC aanvaarbaar slegs omdat die oorgrote meerderheid kiesers swart is.

Om te verstaan wat op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) aan die gang is, is dit nodig om, soos in die geval van talle dinge in die nuwe Suid-Afrika, die tragedie van “ons oorgang na demokrasie” te verstaan. Dit is per slot van sake FW de Klerk en sy dwase gideonsbende wat die voortbestaan van hierdie laaste oorwegend Afrikaanse kampus vergiftig het. Omdat De Klerk en sy groepie meelopers die grondslag van een mens, een stem (met elke stem wat gelyke waarde in ‘n eenheidstaat sonder enige minderheidsregte het) mandaatloos vir die nuwe politieke bedeling aanvaar het, is die blanke (en veral die Afrikaner en Afrikaans) tot vertrapping en verswelging deur die politieke mag van swartes verdoem.

Na analogie van gelyke stemreg word daar geredeneer dat almal nou in alle opsigte gelyk is. Met dít as glyplank is daar ‘n sterk neiging om sommer almal wesenlik eenders te verklaar. Weens swartmag word hierdie teoretiese gelyk- en eendersheid egter in die praktyk verwater sodat swartes in groter mate as blankes gelyk en eenders is. Daarvolgens is net swartes Afrikane en broers en susters en word hulle by uitstek vir bevoordeling uitgesonder. Ons het nie demokrasie in die sin dat almal se belange in gelyke mate in ag geneem word nie. Die mooi klinkende etiket “demokrasie” is eintlik maar net ‘n vyeblaar. Demokrasie is vir die ANC aanvaarbaar slegs omdat die oorgrote meerderheid kiesers swart is. Sodanige bestel maak die benadeling van nie-swartes en natuurlik die bevoordeling van swartes deur swartmag moontlik.

Sentralisasie is die metode wat die ANC gekies het om so gou en maklik moontlik verswelging deur swartes en voorkeur vir hulle belange te bewerkstellig. Munisipaliteite is saamgevoeg in supereenhede, dikwels met swart name, op so ‘n manier dat daar genoeg hoofsaaklik nie-swart belastingbetalers is om die hoofsaaklik swart nie-belastingbetalers te subsidieer. Kader Asmal (1934-2011) het as onderwysminister (1999-2004) universiteite en technikons in supereenhede saamgevoeg sodat swartes student- en dosentgewys hoër onderwysinrigtings gouer kon domineer. Dat Asmal hiermee eerder ANC-politiek as die akademie wou dien, blyk uit sy openlike erkenning dat die Universiteit Fort Hare en die Universiteit van Wes-Kaapland hierdie amalgamasieproses vrygespring het omdat hierdie twee inrigtings reeds uitermate hulle ANC-lojaliteit tydens die “bevrydingstryd” bewys het. [Beterweter Asmal was in naam ‘n professor maar nooit ‘n volwaardige akademikus met ‘n doktorsgraad nie omdat hy eerder sy tyd in veral Engeland en Ierland met anti-apartheidsbedrywighede verwyl het.]

Die Asmal-amalgamasieproses was van die grootste onnoselhede wat sedert die onderhandelde rewolusie van 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het. Die duidelike verskille tussen universiteite en technikons is geïgnoreer. Die technikons is goedsmoeds “tegnologiese universiteite” genoem. Elkeen van die bestaande inrigtings het steeds ‘n rektor gehad. ‘n Verdere rektor, ‘n superrektor, is by elk van die saamgeflansde inrigtings aangestel. Daar kon kwalik verwag word dat sulke inrigtings meer ekonomies en doeltreffend sou funksioneer. Die teenoorgestelde is eerder die geval. Die superrektore ontvang astronomiese vergoeding; in baie gevalle soortgelyk aan, of beter as, dié van ‘n Zuma-minister. [Die vergoeding van ‘n visekanselier/superrektor behoort aan dié van ‘n professor gekoppel te wees en behoort myns insiens nie meer as 50% meer as dié van ‘n gewone professor te wees nie.] Aan die NWU is daar deesdae “die visekanselier [superrektor], die kampusrektore, die adjunk-visekanseliers … en die kampusse viserektore” (NWU-webwerf 19 deser). Toe Unisa en die Technikon SA (TSA) saamgesmelt het, het die Unisa-dosente stywe verhogings ontvang omdat die TSA-dosente voorheen beter as hulle vergoed is, ens. Maar die eintlike punt is: Inrigtings is bymekaar gedwing wat funksioneel glad nie bymekaar hoort nie.

‘Die PU is dus meer as enige ander universiteit in hart en niere ‘n Afrikaanse universiteit.’

Die Potchefstroomse Universiteit het in 1869 in Burgersdorp as ‘n teologiese opleidingskool vir die Gereformeerde Kerk begin. In 1905 is dit na die Transvaal verskuif, onder meer weens die verengelsingsbeleid in die Kaapkolonie (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 88). Dit het aanvanklik as die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) bekend gestaan. In 1951 het dit die onafhanklike Potchefstroomse Universiteit (PU) geword. Die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) is in 2005 weens Asmal se inmenging vernietig en het die hoofsaaklik Engelsmedium Universiteit Johannesburg geword. Naas die RAU is die PU die enigste universiteit wat van die begin af Afrikaans as voertaal gehad het. Die PU is dus meer as enige ander universiteit in hart en niere ‘n Afrikaanse universiteit. In 1966 het die PU se Vaaldriehoek-kampus in Vanderbijlpark tot stand gekom, wat sedert die jare negentig oorwegend swart en Engels geword het. In 2004 het die Potchefstroom- en Vaaldriehoek-kampus ingevolge die Asmal-manie met die swart en Engelse Universiteit Bophuthatswana (Unibo) in Mafikeng saamgesmelt. Op hierdie kunsmatige manier het die NWU tot stand gekom.

Die momentum van verswarting en verengelsing van die NWU-kampusse is aanvanklik, bv wat bestuur en administrasie betref, veral op Potchefstroom teengewerk deur nie ‘n eenheidsmodel te aanvaar nie, maar ‘n federale model. In sodanige federale opset kon die Potchefstroom-kampus eerder ewolusionêr as rewolusionêr verander deur voort te gaan om langer hoofsaaklik Afrikaans en selfs blank te bly. Dit lyk na ‘n uiters billike hantering van ‘n benarde situasie. Universitêre onderrig word immers nie primêr aangebied om die politiek van die regering, wat universiteite met belastinggeld subsidieer, uit te leef nie. Dit is ook ‘n voor die hand liggende feit dat die drie kampusse op drie verskillende geografiese plekke ontstaan het om in die verskillende onderrigbehoeftes van verskillende groepe studente te voorsien. Wat om politieke redes kunsmatig saamgevoeg is, behoort myns insiens nie deur wetgewing en outoritêre burokratisering tot gelykheid en eendersheid gedwing te word nie. Op hierdie manier word die akademie nie ten beste gedien nie. Selfs al sou bv veelrassigheid, multikulturaliteit en meertaligheid sonder meer as bates beskou word, is daar verskillende maniere waarop elkeen van hulle binne die NWU tot hulle reg kan kom. Al drie hoef nie in dieselfde mate aan die drie kampusse opgedring te word nie.

Die PU was nie net ‘n baie ouer, meer gevestigde en groter inrigting as Unibo (gestig in 1979) nie, maar het ook akademies ‘n veel beter naam gehad. Ter bevoordeling van al drie kampusse het Potchefstroom die intellektuele en administratiewe sentrum van die NWU geword. In 1966 het Willem de Klerk in Potchefstroom met die verlig/verkramp-onderskeid vorendag gekom. Daarna het die oorverligte politieke studeerkamermenings van sommige PU-dosente dikwels opgeklink. Theuns Eloff (Dakar-ganger, 1987, en NWU-rektor, 2002-2014) dank sy aanstelling as rektor heelwaarskynlik aan die mate waarin daar ‘n verligte tradisie op die Potchefstroom-kampus was. Wat Eloff desnieteenstaande as rektor reggekry het, was om te sorg dat Afrikaans in groot mate op Potchefstroom as die onderrigmedium behoue gebly het en daarmee saam ‘n hoofsaaklik Afrikaanssprekende personeel (doserend en administratief). Engelse tolking van Afrikaanse lesings was die magiese manier waarop gesorg is dat die Potchefstroom-kampus tot dusver sy oorwegend Afrikaanse en selfs blanke/Europese karakter in die nuwe Suid-Afrika behou het. Vir ‘n ideologies (bv demografies) behepte ANC is dit heeltemal onaanvaarbaar.

Vier besoedelaars van die akademiese drinkwater

Twee dekades na ons politieke “bevryding” en ‘n dekade na die ontstaan van die NWU is hierdie opset in 2014 versteur toe daar vier besoedelaars in die Potchefstroomse akademiese drinkwater beland het, naamlik Hannelie Booyens, Adriaan Basson, Leon Wessels en Dan Kgwadi. Daarbenewens besmet Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, reeds sedert 2009 die plaaslike akademiese lewe met ANC-politiek. Ek kan hier hoogstens aanstip hoe dié sage ontvou het. Vir meer inligting kan na my vorige skrywes op Praag verwys word (15.12.2013, 2.03.2014, 8.06.2014, 24.08.2014, 30.11.2014, 24.01.2015).

Die ondergang van die laaste Afrikaanse universiteitskampus het in Desember 2013 in alle erns begin toe Hannelie Booyens, ‘n NWU-joernalistiekdosent, in Naspers-koerante beweer het dat ‘n groep NWU-studente aan die begin van daardie jaar tydens hulle koshuis-inlywingseremonie op die Potchefstroom-kampus ‘n Nazi-saluut gegee het. Booyens het ook vertel van ‘n swastika wat op ‘n sypaadjie in die sement gekerf is. Sy het bo-oor die swastika “Dankie, Madiba” geverf. Dit het ook bekend geword dat die kampusrektor, Herman van Schalkwyk, in Februarie 2013 op die NWU-webwerf inlywingspraktyke by twee ander koshuise as onaanvaarbaar veroordeel het.

Met hierdie getuienis as aanleiding het Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, ‘n span van vier joernaliste na Potchefstroom gestuur om inligting oor die kampuskultuur te versamel. Basson se vriendin, Booyens, was waarskynlik die hoofkontakpersoon op die kampus. Die motief was klaarblyklik om ‘n negatiewe beeld van toestande op die Potchefstroom-kampus, wat onder blanke leiding gestaan het, te skep in afwagting van die bewindsoorname van die eerste swart NWU-rektor, Dan Kgwadi, wat toe reeds as die opvolger van Eloff aangewys was. Na die publikasie van negatiewe berigte in veral Beeld het beskuldigings van bv fascisme, naziisme en rassisme opgeklink van bv die direkteur-generaal van hoër onderwys, die kommunis Gwebs Qoonde; die premier van Noord-Wes, Thandi Modise; die Higher Education Transformation Network, by monde van Hendrick Makaneta; Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA), voorheen bekend as die Komitee van Universiteitshoofde; en Kgwadi, wat bv beweer het dat (wit) rassisme op die kampus voorkom en dat die ontgroeningspraktyke “barbaars” is. Druk vir optrede is uitgeoefen met die oog op verandering van die “wantoestande”.

Nzimande het daarop aangedring dat die NWU-verslag aan hom oor die gebeure en toestande doen. ‘n Ondersoekspan onder die leiding van Leon Wessels (Praag 20.10.2013) is aangestel. Die ander vier lede (wat spoedig tot drie verminder is) is almal nie-wit. Ten einde die onverstoorde funksionering van die Wessels-span te verseker, het Eloff vroeër as rektor uitgetree en plek vir Kgwadi gemaak. Die teks van die Wessels-verslag is op die internet beskikbaar. Wessels en sy span het hulle onder meer laat lei deur die verslag oor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch wat deur ‘n ander Afrikaanssprekende nie-Afrikaner, Frederik van Zyl Slabbert, opgestel is.

Die ononderhandelbare uitgangspunt van die Wessels-verslag is ‘n enkele, gelykmakende, verenigende bestuursmodel vir die drie kampusse. Die hele NWU moet dus ‘n enkele institusionele kultuur kry. Die Potchefstroom-kampus mag glo nie ‘n “apartheidsenklawe”, soos Nzimande dit genoem het, wees nie. Die klimaat op die Potchefstroom-kampus is glo “toxic” (p 22) en daar word in die verslag veronderstel dat studente inderdaad ‘n Nazi-saluut met “racial undertones” (p 19) gegee het. Die redenasies is deurgaans gebaseer op die veronderstelling dat die ou Suid-Afrika sleg was en die nuwe Suid-Afrika goed is. Wannie Carstens was een van die dosente waarmee die Wessels-span ‘n onderhoud gevoer het. Carstens het pas beswaar geopper as ‘n private Afrikaanse universiteit ‘n Afrikaner-assosiasie sou hê (Netwerk24, 22 deser). Dit herinner aan die opmerking van sy oud-kollega, Hans du Plessis, dat Afrikaans “besig [is] om Afrikanernasionalisme te oorleef” (Maroela Media 4.12.2014).

Die samevoeging van die drie kampusse word soos volg geregverdig:

“The rationale behind the university merger was to transform the university landscape in South Africa in order to end the apartheid era racial and tribal configuration of universities and Technikons. Under the old dispensation, the higher education sector was segregated according to racial, ethic and linguistic communities. The success of merger would, therefore, be measured by the success of each institution’s ability to integrate and eradicate any vestiges of the colonial and apartheid legacy” (p 22).

Dit gaan dus wesenlik om politiek en nie akademie nie.

Die huidige federale model, waarvolgens ‘n mate van outonomie en eiesoortigheid aan bv die Potchefstroom-kampus gegee is, word veroordeel.

“This model will consequently encourage campus insulation [rather] than integration, thus undermining the very reason for which the merger was established. This model privileges campus diverse identities in student and academic life and undermines common institutional identity and culture … Campus structures could be used to undermine and resist any transformation effort” (p 22).

Van die Wessels-aanbevelings is dat die inwoners van elke koshuis die demografie moet weerspieël, taaldiversiteit bevorder moet word en selfs dat daar twee keer per jaar oor die stand van menseregte aan die NWU-raad en die minister van hoër onderwys verslag gedoen moet word. Daar word voorgestel dat ‘n jaarlikse gedenklesing oor bv menseregte op al drie kampusse aangebied word en dat dit na Thabarg Makhoang vernoem word. Hy het in 2012 in die swembad op die Potchefstroom-kampus verdrink enkele dae na sy aankoms as eerstejaarstudent. [Dit is Wessels-logika. Daar is nie ‘n kat se kans dat ‘n blanke, wat in geen opsig as student presteer het, met ‘n jaarlikse gedenklesing deur ‘n universiteit vereer sal word nie.] Dat politiek bo akademie verhef word, blyk ook uit die aanbeveling dat die universiteit se visie, missie en waardes hersien moet word “to foreground [!] transformation, integration and multi-cultural diversity” (p 24).

Dit bring ons by die onverkwiklike hede. Wat beklemtoon moet word, is dat die situasie vloeibaar is in dié sin dat die fyner besonderhede kan verander of nog uitgewerk moet word. Daar is nog ‘n probleem: “Sedert sy bewindsoorname het Kgwadi in dubbel-pratery uitgeblink” (Leopoldt Scholtz, Die Burger, 19 deser, p 18). Oor wat breedweg gaan gebeur, kan daar egter geen twyfel wees nie omdat dit volgens Kgwadi ononderhandelbaar is. Met die Wessels-verslag se enkele institusionele kultuur as grondslag en die sentiment wat deur Nzimande en mede-kommuniste en ANC-gesindes uitgespreek is, gaan die drie kampusse gelyk- en sover moontlik eendersmakend getransformeer word. Soos wat Russel Botman hom ten doel gestel het om die Universiteit Stellenbosch onherkenbaar tot iets anders as ‘n blanke (en veral Afrikaner) en ‘n Afrikaanse universiteit te transformeer, gaan Kgwadi dieselfde aan die NWU doen, met die klem op die vernietiging van wat eens kenmerkend van die Potchefstroom-kampus van weleer was, naamlik Afrikanerkultuur.

Kgwadi kan onmoontlik self die beoogde nuwe struktuur uitdink, wat by voorbaat ‘n “suksesmodel” vol “uitdagings” genoem is. Dit word wyd aanvaar dat dit ‘n skema afkomstig van ander ANC-gedienstige elemente, ook van buite die NWU, is. Scholtz verwys na “‘n duidelike politieke bondgenootskap” tussen Kgwadi en Nzimande. Dit gaan, in die ANC-idioom, om die sentralisering van (swart) mag. Die gelykmakingsproses behels onder meer die aanstelling van ‘n enkele superdekaan vir elke fakulteit, met hierdie superdekaan wat dan gesag oor al drie kampusse uitoefen. Dit is moontlik, maar myns insiens onwaarskynlik, dat die drie kampusrektorsposte afgeskaf sal word, want die bedrywighede van bv die superdekane moet op elke kampus gekoördineer en toegepas word. In die owerheidsektor in die nuwe Suid-Afrika word hoë poste immers eerder geskep as afgeskaf.

‘n Groot probleem is dat die drie kampusse histories op verskillende maniere ontwikkel het om in uiteenlopende behoeftes aan onderrig te voorsien. As gelyk- en eendersheid op die kampusse afgedwing word sodat onderrig in dieselfde fakulteite en vakke by almal verskaf moet word, sal groot en duur verskuiwings van personeel en studente genoodsaak word, om van die voorsiening van die nodige infrastruktuur en ander fasiliteite nie te praat nie. Die nuwe struktuur kan chaotiese en akademies uiters nadelige gevolge hê, maar dit is wat gebeur as ‘n universiteit hom deur nie-akademiese oorwegings laat lei. Dit spreek ook eintlik vanself dat “kulturele vlugtelinge,” veral blanke Afrikaanssprekende studente, nie meer so geredelik uit ander provinsies na Potchefstroom sal kom soos veral die afgelope twee dekades die geval was nie. Finansiële ondersteuning vir die neo-NWU uit die privaatsektor, bv van alumni, sal na verwagting ook sterk afneem.

Van die gevoeligste senuwees in die Kgwadi-eenmakingsproses is die posisie van Afrikaans as onderrigtaal. By implikasie sal al drie kampusse wat onderrigmedium betref in dieselfde mate tweetalig (Afrikaans en Engels), of meertalig, of (meer waarskynlik) eentalig Engels moet word. Op die oomblik is die Vanderbijlpark- en veral die Mafikeng-kampus oorweldigend Engels en die Potchefstroom-kampus in steeds afnemende mate oorwegend Afrikaans. Wat taalgewys gaan gebeur, is nogal voorspelbaar. Nzimande het gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse … universiteite het nie” (Die Burger, 23.07.2014, p 2). Wessels het gesê: “Afrikaans is nie ‘n prioriteit – ‘n soort godsdiens – vir almal nie” (Beeld, 4.06.2014). Kgwadi het Afrikaans ‘n “hindernis” genoem (Rapport, 2311.2014, p 1); die gewilde argument dat Afrikaans, maar nie Engels nie, glo as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Kgwadi roem daarop dat die NWU se taalbeleid dinamies en buigsaam is. Hy noem dit “funksionele meertaligheid” (NWU-webwerf 25.11.2014). Die minagtende vyandigheid teenoor Afrikaans as onderrigtaal en die voorkeur vir Engels is in ANC-geledere goed gevestig:

“Asmal het in 2002 dit duidelik gestel dat die taalgelykheidsbeginsel in die onderwys ondergeskik is aan ander voorskrifte soos toegang vir agtergeblewenes tot onderwys (access) en transformasie van die onderwys (equity)” (Steyn, p 456).

Kgwadi begeer nie net verandering/transformasie nie, maar “deep transformation” (Maroela Media 12.01.2015). Dit hou die wesenlike gevaar in dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal of selfs afgeskaf gaan word; des te meer as die aanbieding daarvan eweredig oor drie kampusse versprei en sodoende verskraal word. Die moontlikheid is reeds genoem dat die besluit oor watter onderrigtaal of -tale in ‘n fakulteit gebruik gaan word, afgewentel kan word na sy superdekaan. Iets soortgelyks het aan die Universiteit Stellenbosch in die Chris Brink-era (2002-2007) gebeur, waardeur Afrikaans in sommige fakulteite kwaai afgeskaal is. Aan enige universiteit waar sowel Afrikaans as Engels as onderrigtaal gebruik word, is dit Afrikaans wat op die lange duur aan die kortste end trek. Die enigste situasie waarin Afrikaans verseker van sy voortbestaan is, is wanneer dit die enigste onderrigtaal aan ‘n universiteit of op ‘n kampus is. Die oproepe vir “ontbondeling” wat deesdae opklink, dus dat die Potchefstroom-kampus weer uit eie reg ‘n outonome Afrikaanse universiteit moet word, sal Afrikaans se posisie verskans. Dít druis egter lynreg in teen wat Kgwadi en sy ANC-meelopers verlang.

Adriaan Basson gaan ongestoord voort om die laaste Afrikaanse kampus op die vernietigingspad te plaas. Beeld se nuusredakteur, Pieter du Toit het op Twitter gesê:

In die Wessels-verslag word verkeerdelik beweer dat tuislanduniversiteite (soos Unibo) van owerheidsweë histories minder as ander universiteite (soos die Potchefstroomse Universiteit) gesubsidieer is. Op ‘n soortgelyke manier beweer Beeld/Basson valslik dat dit Afrikaanse universiteite is wat so bevoordeel is (Beeld, 20 deser). In albei gevalle is dit ‘n poging om die agterstand van Unibo in vergelyking met PU of die huidige Potchefstroom-kampus te rasionaliseer. Hierdie verskil in bv fasiliteite kan enersyds toegeskryf word aan die meerdere finansiële steun wat die PU oor ‘n langer tyd van die privaatsektor geniet het. Andersyds het van die tuislanduniversiteite veral sedert die jare tagtig, toe hulle bestuur in al hoe groter mate aan die betrokke etniese groepe toevertrou is, kwaai onder wanadministrasie en korrupsie gely. Daar moet ook in die gedagte gehou word dat die studiegeld aan tradisioneel nie-wit universiteite laer as dié aan tradisioneel blanke universiteite was en is. Daarby word die studiegeld in die geval van veral swart studente in baie gevalle nooit (ten volle) betaal nie, sodat groot luukshede kwalik by sulke universiteite vir swartes verwag kan word.

Nadat vier nuwe universiteite vir nie-wittes, asook die oorgeneemde Fort Hare (dus drie universiteite uitsluitlik vir swartes en een elk vir bruines en Asiate), in 1960 tydens die Verwoerd-bewind begin funksioneer het, is hulle jare lank (anders as wat Basson beweer) bevoordeel met ekstra subsidiëring, wat as “vestigingskoste” bekend gestaan het. In ‘n poging om geskikte blanke dosente na die swart universiteite in die tuislande te lok, is ‘n “gebiedstoelae” maandeliks by iedere sodanige wit dosent se salaris gevoeg. Ek weet waarvan ek praat. Selfs Basson kan nie beter weet nie, want ek het dit eerstehands ervaar. Ek was deel hiervan.

Sedert 1960 is talle ander nuwe universiteite vir swartes gestig en bedryf, wat die volgende stelling van Basson as ‘n opsetlike en gemene leuen aan die kaak stel: “Universitêre onderwys was die voorreg van ‘n eksklusiewe groep (lees wit) uitverkorenes” (Beeld 21 deser). Basson gaan oor tot hierdie uiterste wanvoorstellings weens sy voorkeur vir egalitarisme bo elitisme en ook om sy bedenklike hipotese te staaf dat die NWU ‘n “skisofreniese instelling” is. As student aan die Universiteit Stellenbosch en ook sedertdien het Basson stemming teen (tradisionele) Afrikaners en Afrikaans gemaak (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 226-227). Deesdae spits hy sy dislojaliteit toe op die Potchefstroom-kampus.

Van Schalkwyk het tereg opgemerk dat Beeld se beriggewing “nie objektief of gebalanseerd en dus regverdig was nie” (NWU-webwerf 12 deser). Van die afkeurendwaardigste skryfsels wat sedert Hannelie Booyens se 2013-“onthullings” gepubliseer is, is Pieter du Toit, Naspers/Media24 se noordelike nuushoof, se rubriek, “Waar moet jou kind studeer?” (Die Burger, 24 deser, p 14). “Kultuur” en “Afrikaans” is volgens Du Toit retoriek wat as kodewoorde deur verdagmakers soos Van Schalkwyk en sy geesgenote gebruik word; mense wat reken dat daar steeds iets soos die “swart gevaar” is: “Asof ons nog in die 1980’s met grys skoene en paisley-dasse is.” Du Toit impliseer dat die Universiteit Kaapstad (UK) ‘n beter plek is om te studeer as die Potchefstroomse kampus omdat hulle aan die UK met geregtigheid (seker met verwysing na onder meer ontlastinggooiing) ons (gemeenskaplike) Suid-Afrikaanse identiteit herevalueer.

In dieselfde koerant (p 2) ondersteun Frene Ginwala, ‘n vorige speaker van die parlement, die verwydering van die Rhodes-standbeeld op die UK-kampus. “‘n Proses van konsensus en inklusiwiteit … is kort ná 1994 ingespan om duisende simbole [‘kunswerke, skilderye en standbeelde’] van apartheid en kolonialisme by die parlement te verwyder.” Hulle word nou onder meer in ‘n kelder bewaar. Ginwala: “Inklusiwiteit, konsensus en lewensvatbare oplossings was destyds die wagwoord.” Deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis van voor 1990 van openbare sigbaarheid uit te sluit, word “inklusiwiteit” dus bereik; inklusief in die sin dat alles van voor 1990 ongewens verklaar is en verwyder moet word. Inklusiwiteit word uitsluiting. Dit is dus nie net die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat herskryf word nie; woorde se betekenis word ook getransformeer. Rassediskriminasie word regstelling genoem, ens. Dieselfde nuwe soort inklusiwiteit word klaarblyklik aan die NWU nagestreef: Alles wat die PU was, bv as draer van Afrikanerkultuur, moet plek maak vir wat swartes verlang.

Ons universiteite verkeer in ‘n akademiese resessie

Die akademiese toneel in die nuwe Suid-Afrika word oorheers deur rolspelers soos Asmal, Nzimande en Kgwadi; mense vir wie politiek myns insiens belangriker as akademie is. Geen wonder dat akademiese standaarde die afgelope twee dekades so dramaties gedaal het nie. Ons universiteite verkeer in ‘n akademiese resessie. In so ‘n opset word ‘n deurwinterde, volwaardige akademikus soos Herman van Schalkwyk nie waardeer en selfs nie geduld nie. Die Potchefstroomse krisis is doelbewus geïnisieer deur verloopte, blanke Afrikaanssprekendes soos Booyens, Basson en Wessels, terwyl veral die Potchefstroom-kampus onherstelbare akademiese skade lei weens daardie blanke dosente wat in die NWU-senaat eerder vir Kgwadi as Van Schalkwyk as rektor gestem het.

In 2009 was Van Schalkwyk die ander rektorskandidaat toe Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat aangestel is. Die rede waarom die akademies sterker Van Schalkwyk nie aangestel is nie, is omdat die raadsvoorsitter, Faan Hancke, lank voor die tyd die versekering gegee het dat die volgende rektor nie-wit sal wees. Sedert 2010 is Van Schalkwyk die Potchefstroomse kampusrektor. In 2014 is Kgwadi (wat toe die kampusrektor op Mafikeng was) en nie Van Schalkwyk nie tot NWU-rektor verkies omdat Kgwadi deur die meerderheid senaatslede gesteun is. Ek het voorheen in besonderhede aangetoon waarom algemeen aanvaar word dat Kgwadi akademies glad nie in dieselfde liga as Van Schalkwyk is nie (Praag 15.12.2013). Kgwadi het myns insiens by uitstek om nie-akademiese (bv etniese) redes die NWU-rektor geword. Pas is bekend gemaak dat Van Schalkwyk se huidige aanstelling aan die einde van Januarie 2016 sal verstryk. Het iemand al gesê dat kolossale onreg teen Van Schalkwyk gepleeg word en daarvoor om verskoning gevra?

Daar is eintlik geen moontlikheid dat Van Schalkwyk, as hy aansoek doen, in sy huidige pos as kampusrektor heraangestel sal word nie: “Enige aansoeker om die rektorspos moet egter die steun van die vise-kanselier [rektor] van die NWU (prof Dan Kgwadi) hê” (Die Burger, 23 deser, p 1). Kgwadi se standpunt is glo “dat dit óf hy óf Van Schalkwyk is en dat daar nie plek vir hulle albei is nie.” By die aanstelling van “senior bestuurswerknemers” is Kgwadi ook in ‘n magsposisie. Op 25 November het hy op die NWU-webwerf geskryf dat hy vir al hierdie poste “die aanstellingsgesag” is. Kgwali is vir ‘n periode van ses jaar as die NWU-rektor aangestel. Dit lyk dus asof die Wessels/Kgwadi-eenheidsmodel die huidige federale model gaan vervang. Dit sal van die NWU ‘n mikrokosmos van die nuwe Suid-Afrika maak. Die NWU sal uitmunt in politieke korrektheid, terwyl akademiese korrektheid tweede viool sal speel. Dit beteken dat Afrikaans, soos Scholtz dit stel, ook op Potchefstroom op “die agtervoet” gaan wees, om van Afrikanerkultuur in die breë nie te praat nie.

Dit alles kan teruggevoer word na die grondwet wat indiwiduele regte erken, maar geen groepsregte nie. In die praktyk het swartes (en net swartes) egter as dominerende meerderheidsgroep al die groepsregte wat hulle kan verlang. Op hierdie manier word al ons universiteite en baie ander dinge in hierdie land verswart en verengels. Let op hoe swartes tans hulle wil op die Universiteit Kaapstad afdwing. Sowel die Kaapse as die Potchefstoomse universiteit is deur blankes daargestel en uitgebou. Deesdae maak mense wat tradisioneel glad nie op daardie kampusse hoort nie, aanspraak daarop dat die universiteite volgens hulle voorkeure verander moet word. Die blankes se voorkeure en belange word geensins deur hierdie swartes en die ANC en selfs die universiteitsowerheid in ag geneem nie. Die grondslag vir swart mag is hulle getalle en hulle kry hulle sin weens hulle (potensiële) gewelddadigheid. As swartes beweer iets gee aanstoot, moet dit opsluit verwyder word. As blankes in so ‘n proses veronreg word, is dit skynbaar van geen belang nie.

Nelson Mandela en Desmond Tutu stook nie meer onrus en sabotasie nie. Joe Slovo en Chris Hani voer nie meer militêre terreurbendes aan om dood en verwoesting te saai nie. Nzimande lei deesdae ‘n subtieler terreurkampanje; ‘n veldtog van kulturele vandalisme en sabotasie. In die visier is Afrikanerkultuur en Afrikaans. Met die oog hierop lei Kgwadi die brigade op Potchefstroom.

Die betekenis van ‘n woord in die titel van hierdie rubriek, de(kon)struksie, behoort nou duidelik te wees. Akademici soos Eloff en Van Schalkwyk het die NWU gedekonstrueer in relatief outonome dele, naamlik die drie kampusse, wat elk sy natuurlike publiek optimaal akademies bedien. Mense soos Nzimande en Kgwadi, daarenteen, is besig met ‘n vernietigingsproses. Hulle oogmerk is die destruksie van Afrikanerkultuur (moontlik wyer: Europese kultuur) aan die NWU en veral op die Potchefstroom-kampus, insluitende Afrikaans as universitêre onderrigtaal (en ook wyer, want Afrikaans sal dan ook as bv skoolonderrigmedium kwyn).

Swartmag-manna in Potchefstroom

Het Obama in akademiese drag ook die Nazi-saluut gegee? Maar Beeld en Hannelie Booyens sê niks...
Het Obama in akademiese drag ook die Nazi-saluut gegee? Maar Beeld en Hannelie Booyens sê niks…

deur Leon Lemmer

Nelson Mandela is op Donderdag, 5 Desember, dood. Op Vrydag, 13 Desember, toe die Mandela-histerie op sy hoogtepunt was, is ‘n rubriek deur Hannelie Booyens gepubliseer. Ek het daaroor soos volg geskryf:

“Van die bedenklikste teks wat die afgelope tyd in Die Burger (en Beeld) gepubliseer is, is afkomstig van Hannelie Booyens, ‘n joernalistiekdosent, wat al die pro-Mandela-koerantvoorbladsye wil lamineer en monteer in die gange van die Skool vir Kommunikasiestudies van die Noordwes-universiteit [NWU]; klaarblyklik omdat sy ‘n groot Mandela-bewonderaar is.

“Sy is hoogs ontsteld dat honderde Potch-koshuisstudente, bv dié van Veritas, as deel van hulle ontvangs- en bekendstellingsritueel ‘n saluut gegee het wat haar aan die Nazi-saluut herinner. Dit is glo ‘n aanstootlike simbool van Ariese meerderwaardigheid en van ‘benouende denke’, ‘veral as dit gebeur op ‘n oorwegend wit en Afrikaanse kampus.’ Booyens sien seker uit na die verwagte verswarting en verengelsing van hierdie kampus.

“Sy vertel dat sy vroeg Vrydagoggend [6 Desember, na Mandela se dood die vorige aand], dus die dag toe die jongste Mandela-ophef in al sy felheid begin het, met verf en ‘n kwas na ‘n sypaadjie is waar daar ‘n swastika in die sement uitgekerf is. ‘Oor dié teken van haat het ek ‘n wit vredesduif geskilder met dié woorde: “Dankie, Madiba!”‘ Dit is ironies dat dit juis sy is wat in ‘n kampuspublikasie (13 Jun) teen impulsiewe gedrag gemaan het. Sy het sekerlik nie besin oor hoe die kampus sou lyk as almal op haar manier uitdrukking aan hulle politieke oortuigings gee nie. Aangesien daar tans nog orde op die kampus gehandhaaf word, hoop ek die universiteitsowerheid tree ferm teen haar op” (Praag 22 Des).

Hannelie Booyens, 'n selverklaarde linkse aktivis en 'Madiba-aanbidder'
Hannelie Booyens… ‘uiters links’ en ‘n Madiba-aanbidder

Let op dat Booyens teen die einde van die jaar verwys het na wat na bewering aan die begin van daardie akademiese jaar op die Potchefstroom-kampus van die NWU gebeur het. Dit is dus ‘n ou koei wat uitgegrawe is. Dit is gedoen enersyds weens Booyens se uiters linkse politiek en andersyds weens haar militante feminisme waarvolgens ou wit mans met grys skoene nie weet hoe om ‘n universiteit te bestuur nie. Dit is te betwyfel of hierdie jong mens veel van naziïsme verstaan, want selfs haar kennis van Suid-Afrika se onlangse geskiedenis, bv die terroriste se bedrywighede, is so gebrekkig dat sy onmeetlike waardering vir Mandela het. Mandela was in murg en been ‘n geweldenaar wat nooit geweld as politieke middel afgesweer het nie. Booyens verkies egter om hom met ‘n vredesduif te assosieer of simboliseer.

Booyens se skrywe is waarskynlik die oorsprong van die storm wat pas oor die NWU losgebars het. Wat sy reggekry het, is om die wit bestuur van die NWU sleg voor te stel. Die huidige veldtog teen die Potchefstroomse kampus van die NWU word gevoer in afwagting op die swart rektor, Dan Kgwadi, wat Theuns Eloff op 1 Junie sal vervang. Wat blykbaar beoog word, is dat wanneer Kgwadi om nie-akademiese redes (Praag 15 Des) beheer oorneem, dit moet lyk asof sy bewind ‘n verbetering op die tradisionele wit beheer gaan wees. Maar hierdie “verbetering” gaan van ‘n politieke, dus pro-ANC, aard wees. Akademies gaan dit sekerlik nie ‘n verbetering wees nie.

Vanjaar se bohaai het op 11 Februarie begin, ná die studente se ontvangs- en bekendstellingsprogram, toe die Potchefstroomse kampusrektor, Herman van Schalkwyk, op die NWU-webwerf berig het dat daar onbehoorlike praktyke by die manskoshuis Over de Voor en by die dameskoshuis Karlien was. Die betrokke huiskomiteelede is van hulle pligte onthef. Van sulke mense word verwag dat hulle hulle verantwoordelikhede teenoor die universiteit moet nakom. As daar menseregteskendings is, sal die kampusbestuur glo nie skroom om op te tree nie. Ooreenkomstig die mode word daar van koshuisstudente verwag om verpligte menseregtesessie by te woon. Heel teen die einde verwys Van Schalkwyk na “groetgebare … wat aanstoot kan gee.” Teen die betrokkenes is daar glo reeds opgetree.

Dit is bekend dat van die verantwoordelikste poste in die nuwe Suid-Afrika deur onbekwame, onverantwoordelike en, in sommige gevalle, misdadige elemente beklee word. Dit sou hoogs onbillik wees as Booyens se uitlatings die NWU aan die giere van diesulkes uitlewer. Diegene wat deesdae daarop roem dat hulle aan die “bevrydingstryd” deelgeneem het, het hulle nie net aan wandade skuldig gemaak nie, maar dikwels ook aan (ernstige) misdade. Daar kan geredeneer word dat die ANC se sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie (op bevooroordeelde wyse) hierdie mense se misdaadrekords uitgevee het. Die feit bly dat hierdie mense se moraliteit sodanig was, en dalk steeds is, dat hulle bereid was of is om misdade te pleeg. ‘n Mens moet dus nie so dwaas wees om ‘n instansie soos die NWU aan beoordeling en verguising deur sulke ANC-elemente bloot te stel nie. Maar dit is presies wat weens die Booyens-geïnisieerde Nazi-saluut-storie gebeur het.

Maar daar is naas Booyens nog Afrikaanssprekende blankes wat gesorg het dat hierdie onbeduidende inisiasiegebruik tot iets verskrikliks deur die ANC opgeblaas kon word. Dit word wesenlik ‘n herhaling van die Reitz-voorval aan die Universiteit Vrystaat waarmee daardie rektor, Jonathan Jansen, hom met anti-blanke retoriek gate uit geniet het. Dit herinner ook aan Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch, se skandalige poging om daardie universiteit se eertydse departement volkekunde met Nazi-bedrywighede te assosieer. Al drie gebeure is tot die uiterste misbruik om blankes as Nazi-gesinde rassiste voor te stel.

Die eerste aanduidings van waarheen sake gedryf word, het op 21 Februarie in ‘n berig in Die Burger (p 3) gekom; ‘n berig wat sekerlik van Beeld oorgeneem is. Beeld het ‘n span van vier joernaliste saamgestel om die Potchefstroomse kampus van die NWU te diskrediteer. Kritiese lesers van die Naspers-koerante weet dat sulke joernalisspanne nooit na die toneel van bv ‘n plaasmoord gestuur word nie. Oor plaasmoorde word dikwels nie berig nie, of daar word doelbewus bitter min publisiteit aan gegee. As blankes van moord verdink word (Waterkloof-4, Griekwastad, Oscar Pistorius, ens), word geen onkoste egter deur Media24 ontsien nie en word dag na dag oor ‘n lang tyd omvattend oor die saak deur talle joernaliste berig. Die indruk word inderdaad deur hierdie koerante gewek dat die buitensporig hoë getal moorde wat in die nuwe Suid-Afrika gepleeg word aan wittes te wyte is.

My hipotese is dat Booyens met haar rubriek van verlede jaar, en/of deur aanhitsing sedertdien, Adriaan Basson oortuig het dat hier ‘n geleentheid is om die enigste universiteitskampus waar Afrikaanssprekende blankes nog in beheer en Afrikaans steeds die onderrigtaal is, naamlik Potchefstroom, so sleg moontlik voor te stel. Geen besware word teen die twee ander NWU-kampusse (Mafikeng en Vaaldriehoek) geopper nie, hoewel dit in albei gevalle akademies baie slegter as in Potchefstroom gaan. Sedert Booyens se genoemde rubriek van verlede jaar is verdere rubrieke van haar gepubliseer. Haar gesindheid en standpunt het dus guns in Media24-geledere gevind.

Daar is nog ‘n feit wat my hipotese onderskraag dat Booyens die bron van die huidige debakel is. In die berig van 21 Februarie staan daar: “‘n Dosent het onlangs ook op ‘n uitgekerfde swastika in sement afgekom. Met oudpres Nelson Mandela se dood het sy ‘n duif daaroor geverf.” Let op dat Booyens se naam (doelbewus) verswyg word; ook dat na die duif verwys word, maar die inskripsie “Dankie, Madiba!” word (doelbewus) verswyg. Booyens was hoogs waarskynlik dié kontakpersoon toe die joernaliste naarstiglik op soek na ‘n smeerstorie op die Potchefstroom-kampus besoek afgelê het.

In die berig word genoem dat The Higher Education Transformation Network “die universiteit as ‘n rassistiese instelling uitmaak. Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het ‘n dringende interdik aan die NWU toegestaan om ‘n Facebook-inskrywing waarin die swastika saam met die NWU se naam verskyn, te verwyder.” Herman van Schalkwyk besef dat die veldtog teen die NWU heeltemal oordrewe is: “Hy vind sprake van ‘n ‘Nazi-neiging’ op die kampus ‘belaglik’.”

Op 22 Februarie berig Die Burger (p 6) dat die departement hoër onderwys “geskok” oor die “Puk-groet” is. Die direkteur-generaal, Gwebs Qoonde, ‘n kommunis, het gesê hierdie saluut “druis in teen die grein van die demokratiese grondwet;” iets wat natuurlik elke keer beweer word as daar iets is waarvan die ANC nie hou nie. Dié departement het belowe om ‘n mediakonferensie oor hierdie saak te hou. Theuns Eloff, die NWU-rektor, “het gesê die ophef wat daar oor die groet gemaak word, is heeltemal gek … dis teleurstellend dat dit so buite verband geruk is.” Maar sowel Eloff as Van Schalkwyk “het gesê die instelling bied onvoorwaardelik verskoning aan en alle moontlike maatreëls is in plek om te verhoed dat dit weer gebeur.” Hierdie twee akademici weet dit is ‘n sotlike veldtog wat teen die NWU gevoer word, maar hulle besef ook dat die ANC ‘n (onverdiende) magsposisie in die nuwe Suid-Afrika beklee wat met die geringste aanleiding tot die uiterste teen wittes misbruik word.

In ‘n ander berig op dieselfde bladsy word genoem dat die kampusbestuur in die etensuur met studente oor die beriggewing gepraat het. “Die studente wat die amfiteater volgesit het, het uitgebars van die lag toe hulle hoor ‘n persepsie is in die media geskep dat ‘n Nazi-kultuur op kampus heers.” Ou videogrepe word glo in die pers gebruik. Rikus Fick, die studentedekaan, het gesê: “Ons vra onvoorwaardelik om verskoning as ons aanstoot gegee het.” Voorheen was die wittes goed genoeg om die land te ontwikkel. Waarvoor anders is hulle in die nuwe Suid-Afrika geskik, behalwe om as slaansak te dien en om om verskoning te vra?

Op 23 Februarie het News24 berig dat The Higher Education Transformation Network die minister van hoër onderwys versoek het om die bestuur van die NWU oor te neem. Die woordvoerder, Hendrick Makaneta, het gesê dat hulle bly is dat hulle nou grafiese bewyse van die “racist practices” het. Dat dit verouderde fotomateriaal is, maak geen verskil as hierdie swartes ‘n stok soek om blankes mee by te kom nie.

Thandi Modise, die premier van die provinsie Noord-Wes, het gesê die provinsiale regering monitor die gebeure op die Potchefstroom-kampus. “She said it was disturbing, because the incident demonstrated that segments of our young, white people were still vulnerable to ethnic and racial indoctrination.” Die beskuldigings het dus al tot indoktrinasie geëskaleer. Soos gebruiklik word net wittes rassiste genoem, hoewel daar op die foto’s ook swartes is wat die saluut gee.

Die Burger het op 24 Februarie (p 6) berig dat die NWU gevaar loop om deur Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys en die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, onder administrasie geplaas te word. Theuns Eloff, wat oor drie maande as rektor uittree en dus nie veel langer deur die ANC-regering geïntimideer kan word nie, het gesê die saluut is niks nuuts nie. “Die Romeine het dit al gedoen en die studente doen dit al jare lank. Die meeste weet nie van die Nazi-konnotasie nie.”

Op die 25ste het die aangewese rektor van die NWU van hom laat hoor (Die Burger, p 2). Dan Kgwadi se standpunt is, soos verwag kon word, soos dié van die ANC-regering. Hy “meen die Nazi-saluut is geheel en al nie in ooreenstemming met die burgerlike samelewing en sy aktiwiteite nie.” Daardie “burgerlike samelewing” verwys seker na wat in die nuwe Suid-Afrika graag “die mense” (“the people”), dus die swartes, genoem word. Hulle woord is deesdae mos wet. Volgens wet “kan Nzimande by die NWU … ingryp deur ‘n bepaalde opdrag aan die instelling te gee oor aksies wat by die instelling geneem moet word.” Nzimande het ‘n verslag van die NWU aangevra.

Dit lyk asof daar in die praktyk weinig sprake van akademiese vryheid en universitêre outonomie in die nuwe Suid-Afrika is. Op 28 Februarie was Kgwadi se standpunt op RSG dat (wit) rassisme op die Potchefstroom-kampus voorkom. Let ook op hoe Kgwadi sonder meer van die veronderstelling uitgaan dat dit ‘n Nazi-saluut is. Dit lyk nie asof daar veel objektiwiteit, akademiese en wetenskaplike gesofistikeerdheid en doodgewone insig van hom verwag kan word nie.

Die storie van die Nazi-saluut is, soos hierbo aangedui, blykbaar deur Booyens begin. In Die Burger (25 Feb, p 16) verduidelik ‘n leser waarom beweer word dat die saluut uit die Romeinse tyd kom. Benito Mussolini het dit via die skrywer Gabriele D’Annunzio (1863-1938) vir gebruik deur die Italiaanse fasciste oorgeneem. “Hitler en die Nazi’s het dit weer afgekyk van die Italiaanse fasciste … aangesien die Romeinse Ryk die suksesvolste wêreldryk nóg was, het dit besonderse byval by Hitler se beskouing van die geskiedenis gevind. As die yl Romeinse verbintenis wel aanvaar word, is Nzimande mos nou eintlik geskok oor ‘n kultuur wat die wêreld ‘n veel ryker plek gemaak het as Hitler en sy Nazi’s. Dis tog ook so jammer hy sien nie die skreiende ironie in sy eie uitgediende Kommunistiese Party (asook ons regerende party en die grootste spul unies) se mildelike gebruik van die term ‘comrade’ vir mekaar nie. Die term is tog gebore in die Russiese revolusie en ‘n staat wat die wêreld nie net aan die hel van kommunisme blootgestel het nie, maar ook leiers soos Joseph Stalin wat man alleen die dood van meer van sy eie mense veroorsaak het as enige iemand voor of ná hom.”

Op 26 Februarie het Die Burger (p 5) berig dat Gwebs Qonde op ‘n nuuskonferensie gesê het dat die NWU nie met verduidelikings moet kom nie, maar moet optree. Uit hierdie aanmatigende houding van kommuniste soos Nzimande en Qonde blyk dat hulle meen die verhouding tussen die departement hoër onderwys en universiteite is dié van baas teenoor klaas. Ek vind dit bedroewend dat geen universiteit nog die akademiese integriteit gehad het om bewaar teen hierdie soort kommunistiese dominansie te maak nie. Tradisies wat vir “sommige op die oppervlak na kulturele en spanbou-geleenthede lyk, dra by tot ‘n kultuur van uitsluiting en die voortbesrtaan van stereotipes oor ras, geslag en seksualiteit,” aldus Qonde. Met kenmerkende kommunistiese sluheid het Qonde “die NWU gekap oor bewerings van intimidasie en viktimisering van studente en personeel wat uitpraat oor onaanvaarbare praktyke. ‘Die universiteit moet verseker dit gebeur nie en nié op ‘n heksejag gaan nie’.” Dit is ‘n duidelike poging om tugstappe teen diegene wat die NWU diskrediteer en onrus stook by voorbaat te probeer saboteer.

In ‘n berig in Beeld (27 Feb) spreek Hoër Onderwys Suid-Afrika (Hesa – voorheen die Komitee van Universiteitshoofde) hom sterk uit teen die NWU-gebeure. “‘Universiteite moet menswaardigheid en menseregte beskerm en bevorder. Dit moet ook beslissend optree waar sulke waardes in die gedrang gebring word’ … Hesa is daartoe verbind om met sy lede (universiteite) saam te werk om institusionele kulture te bou wat teen rassisme en seksisme is en sosiale insluiting en respek vir diversiteit bevorder … Hesa verwelkom die erns waarmee die NWU-leiers die kwessies op sy kampus gepak het en hoop dat daar op aksies besluit sal word wat die waardes van die Grondwet versterk.” Dit is duidelik dat Hesa die ANC se standpunt onderskryf. Dít verbaas nie, want binne drie maande sal net een blanke rektor (van die Universiteit Kaapstad) inspraak in Hesa hê.

Aan die begin het ek genoem dat Booyens beswaard oor beweerde Ariese meerderwaardigheid is. As ‘n mens objektief na die geskiedenis kyk, is daar heelwat wat op die moontlike meerderwaardigheid van sekere (etniese) groepe, bv die Duitsers en Jode, kan dui. Wat sekerlik waar is, is dat alle groepe, geoordeel aan hulle prestasies, nie ewe talentvol of voortreflik is en in daardie sin gelyk of eenders kan wees nie.

As dit belangrik geag word dat ons ons van fascisme moet distansieer weens sommige fasciste se wanprestasie, geld dit soveel te meer vir kommunisme. Fascisme was vir ‘n baie korter tyd as kommunisme ‘n beduidende faktor in die geskiedenis. Fascisme het die dood van baie minder mense as kommunisme veroorsaak. Nou kom Nzimande, die plaaslike hoofkommunis, en spreek sy verontwaardiging oor die gebruik van ‘n beweerde Nazi-saluut uit. Die Nazi’s het net in die buiteland dood en verwoesting gesaai. Die Nazi-saluut behoort dus plaaslik minder verontwaardiging te ontlok as die kommunisme, wat weens bv die UDF/ANC se terroristiese bedrywighede baie plaaslike mense op aaklige wyse gedood en vermink het. Die ANC-saluut, die swaai van ‘n gebalde vuis in die lug, wat so kenmerkend van die “vredesikoon” Nelson Mandela was, behoort as veel meer afkeuringswaardig as die Nazi-saluut beskou te word. Verder is daar ook die ANC se sterk standpunt teen Israel, wat sekerlik heelwat meer as ‘n skeut anti-semitisme bevat.

Deel van die destruktiewe rekord van die ANC is die afbrand van die biblioteek van die Universiteit van Zoeloeland. Talle kere is in die pers berig dat Nzimande daarop roem dat daardie daad van brandstigting volgens eie erkenning sy hoofbydrae tot die “bevrydingstryd” was. Dit is my oortuiging dat iemand wat so ‘n veragtelike daad gepleeg het hom lewenslank vir die bekleding van ‘n openbare pos gediskrediteer het. Myns insiens sou so iemand in geen beskaafde land in ‘n kabinetspos aangestel word nie; allermins in dié van hoër onderwys. Hoe kan Nzimande met enige morele gesag die leviete aan ‘n universiteit oor enige saak voorlees as hy skuldig is aan die vernietiging van soveel akademies waardevolle inligting en hy miljoene der miljoene rand se staatsgeld in vlamme laat opgaan het?

Maar daar is ook ‘n les in die klein vuurtjie wat Booyens gestook het en deur wittes soos die Naspers-joernaliste verder aangeblaas is. Daardie vuur moet in die kiem gesmoor gewees het. Kyk watter momentum het dit in die ANC se hande opgebou. Die ANC weet reeds dekades lank hoe om blankes met vuur en swael te beveg.

Die oorgawe of ondergang van blankes geskied nie sonder die medewerking van blankes nie. Swartmag regeer die land weens die ruggraatlose magsoorgawe van FW de Klerk, wat die hartlike samewerking van verloopte Afrikaners soos Roelf Meyer en Leon Wessels gehad het. Potchefstroom, as die laaste wesenlik blanke en Afrikaanse universiteitskampus in die land, gaan van 1 Junie af vinnig verswart en verengels weens die hartlike samewerking van blankes. Hoewel blanke akademici steeds in die meerderheid in die NWU se senaat is, het die meerderheid senaatslede ten gunste van die akademiese liggewig Dan Kgwadi (eerder as die egte akademikus Herman van Schalkwyk) as rektor gestem. Dit is in die akademiese belang van die NWU én in die openbare belang dat hierdie besluit dringend heroorweeg word.