Ondergang van Afrikaans?

In die jare sestig, sewentig en tagtig was daar ‘n tweetalige, blanke universiteit in Port Elizabeth en ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit vir bruines in Bellville. Albei is sedertdien getransformeer tot eentalige, multi-etniese, Engelse inrigtings. Daar was vyf tradisioneel Afrikaanse, blanke universiteite, naamlik te Pretoria, Johannesburg, Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch. Die universiteit in Johannesburg was die enigste met Afrikaans in sy naam: Randse Afrikaanse Universiteit. Dié naam is verander en swartes het die kampus dermate verswelg en verengels dat baie min van Afrikaans as onderrigmedium behoue gebly het. Die universiteite in Pretoria en Bloemfontein het nie veel beter gevaar nie omdat transformasie van die blankes ‘n minderheidsgroep gemaak en Engels die dominante onderrigtaal geword het. Potchefstroom en Stellenbosch is die enigstes wat die afgelope dekade steeds as oorwegend Afrikaanse universiteite gereken is.

Die Universiteit van Stellenbosch
Die Universiteit van Stellenbosch

‘n Deurlopende kenmerk van hierdie verengelsings- en verswartingsproses, met die gepaardgaande ontafrikaansing en ontwitting, is die hartlike samewerking van blankes, veral verloopte Afrikaners. By hulle neem ANC-gedienstigheid sulke afmetings aan dat die akademiese gehalte van die onderrig en dus die akademiese aansien van die universiteite ernstige skade ly. Ek wag steeds op praktiserende akademici om openlik teenkanting uit te spreek teen politieke korrektheid (bv rassistiese en seksistiese diskriminasie) by studentetoelatings, beurstoekennings en die aanstelling en bevordering van dosente. Akademiese korrektheid is saam met die blanke bewind begrawe.

Potchefstroom en Stellenbosch is die twee universiteite wat, naas Afrikaans as onderrigtaal, in die grootste mate hulle blankheid behou het. Aan albei universiteite was daar egter reeds in die tweede helfte van die vorige eeu oorverligte elemente wat die wesenlike boosheid van die ANC ontken het. Hierdie kanker het intussen terminale afmetings aangeneem met ‘n volskaalse aanslag op Afrikaansheid, om van blankheid en Afrikanerskap nie te praat nie. Dit word deesdae algemeen as evangelie aanvaar dat ‘n universiteit vir Afrikaners en selfs vir blankes nie mag bestaan nie. Die manier om hierdie moontlikheid nie net in die praktyk nie maar selfs bloot as ‘n (heilsame) idee uit te wis, is om die kern van die Afrikaner, naamlik Afrikaans, sover moontlik te vernietig.

Teen hierdie agtergrond kan die heel jongste verwikkelinge beoordeel word. Die jongste aanslag teen Afrikaans as akademiese taal het begin by wat die onwaarskynlikste instansie behoort te wees, naamlik die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat op Potchefstroom byeengekom en met Dan Kgwadi, die nuwe rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), vergader het. Die uittredende ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, het daarna heeltemal ongevraagd hierdie oproep gedoen: “Gun Kgwadi sy ruimte” (Rapport, Weekliks, 9 deser, p 7). Kgwadi het reeds ondubbelsinnig verklaar dat elk van die drie kampusse (Potchefstroom, Mafikeng en Vaaldriehoek/Vanderbijlpark) die demografie moet weerspieël, dus dat die Potchefstroom-kampus oorweldigend moet verswart en verengels. ‘n Kampus mag nie “‘n enklawe vir ‘n sekere groep word” nie. Le Cordeur hou hiervan. Potchefstroom en Stellenbosch mag dus nie Afrikaans- of blanke of Afrikaner-enklawes wees nie. Oorweldigende verswarting en verengelsing maak blykbaar nie van ‘n universiteit ‘n enklawe nie. Dit word seker bloot ‘n genormaliseerde Afrika-inrigting.

Le Cordeur dink Kgwadi is maar “net van mening dat Afrikaans nie sommige studente moet verhoed om suksesvol aan die NWU te studeer nie. Hy het ‘n reuse-uitdaging (soos ook die geval was met [Russel] Botman) om ‘n heilsame balans te vind tussen die eise van die minister [van hoër onderwys, Blade Nzimande] aan die een kant en Afrikaanse ouers wat die beste vir hul kinders verlang aan die ander.” Wat Le Cordeur weet maar nie openlik erken nie, is dat hy en Kgwadi en wyle Botman ANC-kornuite is vir wie ANC-gedienstigheid baie swaarder as die heil van Afrikaans en blankes en veral Afrikaners weeg. Hy weet in hoe ‘n groot mate Afrikaans tydens die Botman-bewind aan die Universiteit Stellenbosch (US) agteruit geboer het. Daar is twee here wat nie gelyktydig gedien kan word nie: die ANC en Afrikaans.

As US-dosent en as ATR-direksielid is Le Cordeur veronderstel om die belange van Afrikaans te bevorder. Pleks daarvan steun hy blindelings elemente soos Kgwadi en Botman, wat albei Afrikaans glad nie goedgesind is/was nie. Le Cordeur het om etniese en politieke redes ook net die hoogste lof vir sy Afrikaans-dosent, Jakes Gerwel, die vernietiger van Afrikaans as onderrigmedium aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Le Cordeur gaan selfs verder. As ATR-voorsitter het hy telkens pleidooie vir die mengeltaal Kaaps (en nie vir Standaardafrikaans nie) gelewer en verkleinerend na Standaardafrikaans as maar net een van die variëteite van Afrikaans verwys. Kaaps beskou hy as ‘n soort Afrikaans, terwyl dit onmoontlik is om dit sonder kennis van Engels te verstaan. Kaaps bevorder dus die verswelging van Afrikaans deur Engels. Dit is al baie lank duidelik dat Le Cordeur se teenwoordigheid in die ATR nie geduld behoort te word nie.

Teen al die getuienis in probeer Le Cordeur ons oortuig dat Afrikaans danksy Kgwadi in Potchefstroom op die wenpad is: “Diegene wat huil oor die dood van Afrikaans in Potch [moet] weet hulle huil by die verkeerde begrafnis.” Dit is dieselfde stiksienigheid en kenmerkende logika wat in 2012 veroorsaak het dat Le Cordeur en sy mede-ANC-kornuit en etniese genoot, Henry Jeffreys, Nederlandse parlementslede probeer wysmaak het dat in die nuwe Suid-Afrika alles wel met Afrikaans is. Die twee blanke afgevaardigdes het die teenoorgestelde beweer (Praag 18.12.2012).

Kgwadi is gebore en getoë in die Noordwes-provinsie maar probeer glo nou eers Afrikaans leer. Onderliggend aan hierdie onvermoë is ‘n linkse politieke gesindheid. Dieselfde anti-Afrikaanse en anti-Afrikaner-sentiment was duidelik by Botman waarneembaar. Die akademiese en taalnood waarin die NWU nou verkeer, kan toegeskryf word aan die blanke senaatslede/dosente wat vir Kgwadi gestem het, pleks van die blanke rektorskandidaat (‘n uitgelese akademikus) te steun. Die sotlike argument was: dit is tyd vir ‘n nie-wit rektor; waarom dan nie sommer ‘n swarte nie. Onlangs het dit aan die lig gekom dat Theuns Eloff as NWU-rektor Leon Wessels oorgehaal het om die ondersoek na ontgroeningspraktyke op Potchefstroom te lei. Blyk Wessels se huidige gesindheid teenoor Afrikaans en Afrikaners dan nie duidelik genoeg uit sy boek, Vereeniging (2010), nie (Praag 20.10.2013), of het Eloff dit nie gelees of gewoon nie die implikasies verstaan nie?

Gelukkig het Le Cordeur se jongste manewales die kumulatiewe effek gehad dat ‘n ATR-direksielid die swaard teen hom opgeneem het. Alana Bailey se reaksie is onder die opskrif, “Gaafheid sal nie die taal red” nie, gepubliseer (Rapport, Weekliks, 16 deser, p 7). Sy skryf dat sy nie durf saamstem met Le Cordeur nie. Sy haal Kgwadi aan waarvolgens hy beweer dat Afrikaans die sondebok is wat veroorsaak dat sommige (swart) studente nie suksesvol studeer nie. Dit weerspreek Kgwadi se “versekering aan die ATR dat die huidige taalbeleid onveranderd gaan bly.” ‘n Mens soos Le Cordeur word myns insiens maklik mislei omdat sy linkse politiek hom hoogs vatbaar vir misleiding maak. Hy het geen werklike aanvoeling of simpatie met ‘n Afrikaner- en Afrikaanse “enklawe” nie.

Bailey verduidelik wat transformasie behels: dat die demografiekaart gespeel word en alle Suid-Afrikaanse universiteite daarvolgens dus oorweldigend swart en Engels moet wees. Die ander tale word “stelselmatig doodgewurg.” Le Cordeur weet dit, maar sy liefde vir die ANC dring hom om ander mense, insluitende die ATR-direksielede, te probeer mislei. Bailey formuleer van haar argumente soos volg: “Die bewese voordelige reg tot moedertaalonderrig word telkens op die ideologiese altaar geplaas juis met die argument dat almal baat vind by die transformasie. Gemeenskappe hanteer mekaar en mekaar se tale nie met wedersydse erkenning en respek nie, maar word almal getransformeer tot ‘n posisie van gelyke diskriminasie en ontmagtiging. Só word verskeidenheid in die land saam met akademiese uitnemendheid weens die voordele van toegang tot moedertaalonderrig vernietig. Die gunsteling-strategie om teenstanders van transformasie se monde te snoer is om hulle valslik van rassisme en eksklusiwiteit te beskuldig.”

Kgwadi sien benadeling by swartes raak, maar wat van die wit, Afrikaanse kinders in die Abraham Kriel-kinderhuis op Potchefstroom? Wat gebeur, “is dat Afrikaans so op kampusse gemarginaliseer word dat diegene van alle ras- en inkomstegroepe wat minder vaardig in Engels is, al hoe minder tersiêre studie-opsies het. Hulle kan kies uit meer as 30 universiteitskampusse met Engels as onderrigmedium, met net Potchefstroom wat nog oorwegend Afrikaans is.”

“Diegene wat die transformasie-agenda dryf, erken nie die verskil tussen eksklusiwiteit en minderheidsregte nie … Die regte van die minderheid tot byvoorbeeld moedertaalonderrig word erken, en sou geen ander gemeenskap dit ingelyks opeis nie, beteken dit nie dat dit regverdig is dat dié gemeenskap se eis ontken mag word nie. As alle tale nie tot hoëfunksievlak ontwikkel nie, gee dit nie aan enigeen die reg om die tale wat wel dié status bereik het, weer tot laefunksievlak te laat degenereer nie.” Wat op die spel is, is “die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal en toegang tot moedertaalonderrig vir die taal se sprekers.”

Hierna het Heilna du Plooy, ‘n Afrikaans-dosent aan die NWU, tot die debat toegetree met ‘n artikel onder die opskrif, “Ideologiese kultoertjies is gevaarlik” (Rapport, Weekliks, 23 deser, p 7). Sy vertel van haar ondervinding in ‘n ministriële taakspan waarin die ideologiese grondslag dermate ‘n oorheersende rol gespeel het dat geen insette iets daaraan kon verander nie. Dit is myns insiens die groot probleem in hierdie konteks: dat Afrikaanssprekende blankes tot eie voordeel (of ter wille van die vrede, of weens doodgewone slapheid) en sonder gesonde weerstand hulle deur die heersende ideologiese stroom laat meevoer.

Dit gebeur nie met Du Plooy nie omdat sy genoeg ideologiese insig toon. “Die 20ste eeu was een van groot ideologieë wat ‘n geweldige invloed op die gang van die geskiedenis gehad het. Enigeen met net effense insig in die kommunisme, nasionaal-sosialisme en selfs apartheid sal bewus wees van hoe sterk ‘n ideologie kan wees, hoe dit mense kan meesleur en veral hoe dit met verloop van tyd deurskynend word – hoe mense dit nie meer raaksien vir wat dit is nie.”

Myns insiens is dit ‘n gebrek van ideologiese insig wat die ondergang van die blanke politieke bewind veroorsaak het. Dit is hierdie selfde tekortkoming wat die einde van Afrikaanse universiteite en skole verhaas. Du Plooy skryf tereg dat “ons ons nou net in ‘n ander ideologiese stelsel bevind – ‘n ideologie wat deur ‘n bepaalde party deurgevoer word en met sy getalle-oorwig besluite opdwing wat sy ideologiese invloed op ons lewe steeds enger en meer beangstigend maak.”

“In die afgelope 20 jaar het die kulturele ruimte van Afrikaanssprekende mense onteenseglik drasties ingekrimp as gevolg van die ideologiese knyptang waarin die onderwys, die uitsaaiwese en universiteite geplaas is … Dit kan … mooi en heiliger as heilig klink om te sê universiteite, soos die Noordwes-universiteit, moet vir almal toeganklik wees, dat ‘n unitêre stelsel nodig is en dat verengelsing onafwendbaar is om goeie resultate te bereik. Maar waarheen moet Afrikaanssprekende studente (van alle kleure) gaan? … Hieroor wil ek in my hande huil … Daar is genoeg prestasies in Afrikaans bereik om dit ‘n bate vir die land te maak.”

“Ek weet … as die gebruik van Afrikaans op universiteitsvlak verklein, Afrikaans op alle vlakke van onderwys afgeskaal sal word … Dit is waarom ek so ongemaklik raak as mense [soos Le Cordeur en Kgwadi] mooi broodjies bak en leë, vertroostende woordjies gebruik, want ek weet dit mis die punt, dit ontwyk die probleem, dit is naïef en eintlik gevaarlik. As jy jou woorde reg kies, kan alles skadeloos lyk – maar daar is hopelik nog mense wat vir hulleself dink.”

Op 24 deser is ‘n beeld- en klankinsetsel op die ATR-webwerf gepubliseer van ‘n televisie-onderhoud wat op die 19de met Anne-Marie Beukes, die nuwe voorsitster van die ATR, gevoer is. Sy is gepreokkupeer met Afrikaans by nie-wit sprekers. Beukes bevestig my vermoede/vooroordeel dat geen reddende krag van haar op die ATR sal uitgaan nie. Oor die taalkrisis op Potchefstroom en Stellenbosch het daar teen die 24ste nog geen reaksie (behalwe Le Cordeur en Bailey se bogenoemde skrywes) van die ATR gekom nie. Dit het eers daarna gebeur en toe op versoek. (Daaroor berig ek volgende keer.) ‘n Mens kan maar net hoop dat Bailey genoeg steun vir haar standpunt in die ATR sal ontvang sodat hierdie instansie tot ‘n volwaardige Afrikaanse taalraad omvorm kan word.

Op 22 deser het die US-raad uitsluitlik oor die nuwe taalbeleid vergader. Geen beduidende inligting oor die voorstelle is vooraf openbaar gemaak nie. Die tragedie is dat die voorsitter van die Konvokasie, Christo Viljoen, anders as sy voorganger, Pieter Kapp, die taalstryd uit die openbare oog wil hou. Dít terwyl dit uit Kapp se boek baie duidelik blyk hoe daar tydens die rektorskap van Chris Brink en Russel Botman gelieg, bedrieg en agteraf ten koste van Afrikaans gekonkel is (Praag 6 April). Mense met eerstehandse kennis beweer reeds lank dat Afrikaans nie meer die hoofonderrigtaal aan die US is nie.

Die kern van die saak is: “Die nuwe Taalbeleid gee gelyke status aan Afrikaans en Engels.” Ondervinding het oor en oor bewys dat sodanige gelyke status nie volhoubaar is nie. Al probeer die US die publiek mislei, beteken die nuwe taalbeleid dat die US mettertyd eentalig Engels gaan word. Die ideaal van Chris Brink en Russel Botman gaan verwesenlik word. Die nuwe amptelike gelyke status van Afrikaans en Engels geld net voorgraadse onderrig. By nagraadse onderrig en navorsing word die oorheersing van Engels, insluitende eentaligheid, sienderoë toegelaat. Studente word bv nie aangemoedig om magisterverhandelings en doktorale proefskrifte in Afrikaans te skryf nie. Dosente word ook nie versoek om by voorkeur in Afrikaans te publiseer nie. Op die hoogste akademiese vlak het Afrikaans dus reeds stiefstatus. Ook word geen woord gerep oor die administratiewe taal van die US nie. Dáár sal die gelyke status nie afgedwing word nie en sal daar na verwagting baie gouer as in die klaskamers algehele verengelsing intree. Hiervoor verskaf die ANC-regering ‘n skynbaar waterdigte maar valse argument: om alles in twee tale te doen, is nie kostedoeltreffend nie, daarom word alles uitsluitlik in Engels gedoen, want almal verstaan mos Engels.

‘n Voorbladsyberig in Rapport (23 deser) handel oor die nuwe US-taalbeleid. Hermann Giliomee se mening is heeltemal tereg: “Die besluit maak die deur wawyd oop vir die volskaalse gebruik van Engels as enigste onderrigtaal … ‘Die proses van verengelsing sal nou net versnel.'” Daar word ook berig oor Kgwadi wat Afrikaans as ‘n “hindernis” op Potchefstroom beskou, dat hy glo nie aan die beleid van “meertaligheid” [ook ‘n gewilde US-term] gaan torring nie, maar ook dat hy hou van die “buigsaamheid” van die NWU se amptelike taalbeleid. Dit is eintlik baie duidelik dat sowel Stellenbosch as Potchefstroom ANC-gedienstig en onomkeerbaar op pad na verswarting en Engelse eentaligheid is.

Op die daarop volgende bladsy stel Rapport sy standpunt. Ook daar word teruggekrabbel. Pleks van op twee Afrikaanse universiteite (Stellenbosch en Potchefstroom) aan te dring, soos in die nuwe Suid-Afrika die gewoonte was, pleit Rapport dat een universiteit (eintlik kampus), naamlik Potchefstroom, Afrikaans moet wees. Ook hier word die US reeds as Afrikaanse universiteit afgeskryf. Dit is hierdie einste US-raad wat môre gaan besluit wie die volgende US-rektor gaan wees. Daar is naarstiglik na ‘n Botman-kloon gesoek.

Maar hoe reageer Die Burger, eens die vaandeldraer van Afrikaans in die suide, op die amptelike afskakeling van Afrikaans aan die US? Eikestadnuus het reeds op 20 deser (p 4) berig dat die US-raad oor die taalbeleid gaan vergader. Die Burger het dit eers op die 22ste (p 5) gedoen. ‘n Mens sou dink hierdie koerant sou, as hy steeds is wat hy was, ‘n voorbladsyberig en ‘n hoofartikel oor die raadsbesluit publiseer. Nie een van die twee het gebeur nie. Vir Die Burger is die heil van Afrikaans nie meer ‘n prioriteit nie.

wanniecarstens_engelsIn die uitgawe van die 24ste (p 2) word inligting soortgelyk aan dié op die US-webwerf (kyk hierbo) onder die positiewe opskrif, “US sê ja vir meertaligheid,” verskaf. Ook word die ydele hoop verkondig dat “die posisie van Afrikaans versterk [gaan] word.” Die indruk wat die aanbieding en inhoud van die berig op my gemaak het, is dat Afrikaans, waar dit saak maak, bitter min opregte vriende oor het. Daar het geen protes van ‘n enkele Afrikaans-dosent aan die US opgeklink nie. Daarteenoor het Heilna du Plooy op Potchefstroom ‘n agtingswaardige voorbeeld gestel. Sover bekend swyg haar kollega, Wannie Carstens, steeds, selfs al moet hy teen hierdie tyd die benadeling van Afrikaans weens politieke korrektheid op die kampus ervaar en dit ook aan sy eie bas voel.

Oor wat na die 24ste gebeur het, skryf ek volgende keer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.