Afrikaans krepeer

english-onlydeur Leon Lemmer

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl verkondig deesdae dat Afrikaans sedert 1994 ‘n bloeitydperk beleef. Soos seker met alle plaaslike dinge, gaan dit glo sedert 1994 ook met Afrikaans beter as ooit tevore. Ek gaan aantoon dat dit onwaar is; dat die ATM se siening ‘n uitdrukking van politieke korrektheid en van ‘n polities gemotiveerde valse entoesiasme vir die nuwe Suid-Afrika is.

Dié beweerde taalherlewing word gepropageer op panele in die ATM se nuwe besoekersentrum. Die panele is afkomstig van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se Roots-simposium wat in 2009 gehou is. In die Jakes Gerwel-tradisie is toe op ‘n Engelse naam vir ‘n byeenkoms oor Afrikaans besluit. Dit gaan om die “viering van Afrikaans se ryke verskeidenheid” (Bolander, 4 deser, p 4); dus inklusiwiteit, diversiteit, multikulturaliteit. Volgens die ATM-webwerf “spoor dié uitstalling breedweg die geskiedenis van Afrikaans na, beginnende by sy Nederlandse/Europese wortels [die UWK se “roots”] en die Khoekhoe- [dus Khoi of bruin] en slawe-invloede daarop – ‘n geskiedenis wat daartoe gelei het dat verskeie taalkundiges Afrikaans as ‘n semi-kreooltaal bestempel.”

In ‘n vroeëre ATM-pamflet is beweer dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is. [Kreools: “Mengeltaal ontstaan tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel” -HAT]. Nou word dit darem (maar steeds onwaar) afgeskaal na “semi-kreool”. Die spel waarmee die ATM deurgaans besig is, is om die nie-wit aspekte van Afrikaans oor te beklemtoon en die oorheersende blanke of Afrikanerrol, indien nie te verswyg nie, sover moontlik onder te beklemtoon, soos hier onder duidelik blyk. Vandaar die ATM se versugting: “Ons wil mense help om anders na die Taalmonument te kyk” (LitNet 27 Nov). Afrikaans en sy monument is twee voorbeelde van wat veral Afrikaners vermag het. Afrikaners het ook in baie ander opsigte presteer. Lê dit op die weg van diegene wat tans in die Paarl beheer oor ons Afrikaanserfenis uitoefen om hierdie prestasies te verdoesel omdat die ANC die Afrikaner en Afrikaans deurgaans misken en vertrap?

Die teks van die uitstalling is geskep deur die ATM in oorleg met die Iziko-museums, die Genadendal-sendingmuseum en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Laasgenoemde twee is bruin instansies, terwyl Iziko die Xhosa-naam vir ‘n aantal Wes-Kaapse museums is wat histories (feitlik) niks met swartes te make gehad het nie. Soos Marthinus van Bart in sy boek, Kaap van slawe (2012), aantoon, is dit Iziko wat valslik voorgee dat dit (net) die Hollanders is wat slawerny aan die Kaap bedryf het en dat dit die goeie Engelse/Britte is wat slawerny afgeskaf het (p 17, 23). Die ATM, soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), probeer om die rol van Afrikaners en Standaardafrikaans sover moontlik te verdoesel; iets wat toegeskryf kan word aan bv die feit dat mense soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur in albei rade dien. Daar word in die uitstalling bv spesiaal van “Afrikaans as sendingtaal” gewag gemaak. Wat van die rol van die Afrikaanse kerke, veral die NG Kerk, in die geskiedenis van Afrikaans? Dit is enorm groot in vergelyking met dié van sendinginstansies.

Die soort ding waarmee die ATM hom by voorkeur besig hou, blyk uit die twee jongste voorbeelde. Op 5 deser is ‘n “erfenissimposium ter viering van ons slawe-erfenis” gehou. En op 7 deser was dit die agste jaar dat die ATKV se rieldanskompetisie by die momument plaasgevind het. Elias P Nel en Lynette Francis was die seremoniemeesters. Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV, het die byeenkoms aan Nelson Mandela opgedra (Die Burger, 9 deser, p 6). As sodanig is sulke byeenkomste nie noodwendig ongewens of skadelik nie. Wat hinder, is die volslae etniese eensydigheid van die ATM se bedrywighede. Waarom herhaaldelik rieldanse vir veral plattelandse bruines aanbied en nie volkspele en -sang vir Afrikaners nie? Sowel die ATM as die ATKV het hulle bestaan aan Afrikaners te danke, maar albei skram deesdae weg van die aanbieding van bedrywighede wat die indruk kan wek, of die verwyt kan ontlok, dat hulle hulle vir Afrikanerbelange beywer. Albei buig egter agteroor om bruin en swart kultuur te omarm.

Allerhande (en myns insiens dikwels ongure) ligte musiek is by die monument welkom, terwyl (tradisionele) boeremusiek selde geduld word. ‘n Mens sou verwag dat die ATM hom daarvoor sou beywer om die hoofsentrum vir bv boeremusiek en jukskei te wees. Ook om gereeld aan klassieke musiek ‘n platform te bied. Ook om eerder Afrikaanse taal- en letterkundiges, wat werklik iets nagelaat het, te huldig pleks van iets positiefs te probeer vind in wat die “slawe-erfenis” genoem word.

Enkele jare gelede is ‘n “slawefees” op Stellenbosch gehou. Die inisiatief het, soos verwag kon word, van Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), uitgegaan. Die burgemeester het hierdie fees op die koste van die plaaslike belastingbetalers aangebied. Hans Heese, destyds die US-argivaris en die historikus wie se lot dit was om iets van hierdie “slawefees” te probeer maak, het toe beweer die slawe-erfenis kan aan iedere gebou op Stellenbosch gesien word. Ek het ‘n huisie in Stellenbosch en sal bly wees as hy kom uitwys waar hy slawe-nalatenskap bespeur.

‘n Ander belangrike instansie vir Afrikaans is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) in Stellenbosch. Onlangs is genoem dat die WAT jaarliks meer as R3 miljoen moet insamel omdat sy staatsubsidie afgeneem het (Die Burger, 3 deser, p 6). Ten einde finansieel te oorleef, wend die WAT hom onder meer tot foefies waarvolgens mense bv Afrikaanse woorde kan borg . Soos in die geval van die ATM, was ek as Afrikaner tradisioneel geneig om simpatiek teenoor die WAT te staan, maar politieke korrektheid beduiwel ook in hierdie geval my betrekkinge. Toe die ANC aan die bewind gekom het, is die WAT se staatsubsidie baie gou drasties ingekort. Die bestaan van die WAT is as bevoorregting geëtiketteer omdat die swart tale nie iets het wat daarmee vergelyk kan word nie. Die ANC-regering het die vermetelheid gehad om nie net baie minder geld na die WAT te kanaliseer nie, maar ook om terselfdertyd te verwag dat die WAT sy kundigheid met Afrika-tale, die plaaslikes en dié in die res van Afrika, moet deel; dus hulle met “uitdagings” moet help.

Wat my dwars in die krop steek, is dat die WAT die nuwe opset verwelkom het. Optimisties is beweer dat die WAT goed sou oorleef pleks daarvan om die ANC se anti-Afrikaans- en anti-Afrikaner-gesindheid te veroordeel. Deesdae moet heelwat tyd en energie, wat voorheen aan deskundige woordeboektake bestee is, noodgedwonge na fondsinsameling gekanaliseer word. Die WAT het polities korrek selfs verder agteroor gebuig. Daar is onderneem om woorde wat nie die toets van politieke korrektheid kon deurstaan nie, dus wat nie-wittes aanstoot kon gee, nie in die WAT te publiseer nie. Voortaan sou die WAT dus nie meer ‘n omvattende skat van Afrikaanse woorde en uitdrukkings wees nie, maar ‘n selfgesensureerde inligtingsbron. Daar is veral twee areas waarin taalskeppers met hulle vindingrykheid uitmunt, naamlik ras/kleur/etnisiteit en seks. Die WAT het met sy besluit politieke (spesifiek ANC-) gedienstigheid bo suiwer taalkundige oorwegings verhef.

‘n Ander aanduiding in die Wes-Kaap van hoe dit met Afrikaans gesteld is, kom van die Kaapstadse metropoolraad. In die nuwe Suid-Afrika gee hierdie instansie voor om drietalig te wees. Wanneer Engelse eentaligheid nie soos gewoonlik seëvier nie, is die voorkeurhiërargie: Engels, Xhosa en Afrikaans. Dít terwyl die stadsraad die meeste van sy inkomste van Afrikaanssprekendes ontvang en swartes die fondse die meeste dreineer. Daar is tans ‘n uitstalling ter ere van Nelson Mandela in die burgersentrum in Kaapstad. Die brosjure van 40 bladsye is net in Engels. Toe die aandag van die DA/OD/PAC-burgemeester, Patricia de Lille, hierop gevestig is, het sy opdrag gegee dat die teks in Afrikaans vertaal moet word (Die Burger, 27 Nov, p 6). Of dit gedoen sal word en of ‘n Afrikaanse brosjure werklik gepubliseer gaan word, sal ons dalk nooit weet nie, want dit is te betwyfel of Die Burger so sterk oor die saak voel dat hy dit sal opvolg.

Op 2 deser het Jason Lloyd in sy rubriek op LitNet oor die agteruitgang van Afrikaans aan die Universiteit Kwa-Zulu-Natal (UKZN) geskryf. Afrikaans word voortaan daar slegs as ‘n eerstejaarsvak geduld. Dit is dus nog ‘n plek waar Afrikaans nie meer floreer nie. Die bruin Lloyd redeneer net soos die mense van die ATM en ATR (waarna hierbo verwys is), dus dat ons benadering tot taalsake ooreenkomstig die politiek gemodelleer moet word. Die lot van die land word deesdae deur die meerderheid kiesers/inwoners bepaal. Oor Afrikaans is Lloyd se gevolgtrekking dat “bruines dus die toekoms van dié taal is”, want die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin. Soos in die politiek word kwalitatiewe oorwegings geen ruimte gegun nie.

Gerhard van Huyssteen (43) is die nuwe voorsitter van die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Deesdae is dit in die mode om hoog op te gee oor “eerstes”. Van Huyssteen is glo die jongste TK-voorsitter en Frank Hendricks (61) van die UWK is die ondervoorsitter en die eerste bruine wat in die TK-bestuur dien. Aangesien Van Huyssteen, soos Carstens, die voorsitter van die SA Akademie, aan die Universiteit Noordwes verbonde is, lyk dit asof die Taalkommissie voortaan die inklusiewe, diverse, multikulturele stempel van Carstens gaan dra. Die SA Akademie gaan op 17 Januarie ‘n seminaar in Pretoria hou met as tema “Afrikaans: Almal se taal!”

Die lyk asof Standaardafrikaans op die vooraand van (verdere) verwatering staan. Distansiëring van die tradisionele Afrikaner blyk uit Van Huyssteen se opmerking dat “laers … uitgedien” is en dat die Kaaps-woord “skanghagha” (in orde) en die Kaapse Maleierwoord “magoe” (die tweede vrou van ‘n Moslemman) as Afrikaans erken moet word. Van Huyssteen was te jonk toe Afrikaans op sy hoogtepunt was. Daarom is hy “nie bekommerd oor Afrikaans … nie” (Die Burger, 26 Nov, p 3). Op grond van eerstehandse ervaring kan Van Huyssteen nie die trotse verlede van Afrikaans vergelyk met die toestand waarin Afrikaans sedert 1994 verval het nie. Hy beweer dat die TK apolities maar polities sensitief en verantwoordelik is. Hy dink “dat Afrikaans armer sal wees sonder Kaaps” (LitNet 27 Nov). Oor die wesenlike bedreiging wat die mengeltaal Kaaps, met sy oorvloedige besoedeling met Engels, vir die toekoms van respektabele Afrikaans inhou, uiter hy polities korrek geen woord nie.

Naas die sluiting van die Departement Afrikaans aan die UKZN en die sigbare agteruitgang van Afrikaans as onderrigtal aan die universiteite te Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria (by al die ander universiteite is Afrikaans as onderrigtaal sedert 1994 ‘n verlore saak) was die Potchefstroomse kampus van die Universiteit Noordwes (UNW) ‘n ligbaken. Afrikaanse klasse word daar in Engels vertaal pleks van hulle te vervang met klasse wat in Engels aangebied word. Die rede vir hierdie relatiewe voorspoed van Afrikaans op Potchefstroom, of mindere agteruitgang, kan toegeskryf word aan die deurlopende teenwoordigheid van ‘n blanke rektor. Daardie era sal op 31 Mei eindig wanneer Theuns Eloff uittree. Net die Universiteit Kaapstad, wat al meer as een swart rektor gehad het, sal dan ‘n wit rektor hê. Die akademie is een van vele terreine waar swartes wêreldwyd nie by wittes kan kersvashou nie. Tog word dit deesdae wys geag dat die akademiese leiding aan ons universiteite (feitlik) deur die bank van swart rektore uitgaan. Die UNW kry volgende jaar nie ‘n bruin rektor soos die ander drie pasgenoemde historiese Afrikaanse universiteite nie, maar ‘n swart rektor, Dan Kgwadi (46). ‘n Tswana en Sewendedag-Adventis, sal dan die septer swaai in wat tot dusver as die Dopperhemel bekend gestaan het.

Die UNW het drie kampusse: Mafikeng, Vaaldriehoek (Vanderbijlpark) en Potchefstroom, met laasgenoemde as die akademiese kern. By die ander tradisioneel Afrikaanse universiteite is die vervanging van die wit rektor deur ‘n nie-witte bewerkstellig deur die universiteitsraad te intimideer en te transformeer, bv met aanstellings deur die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande. In die geval van UNW is die blankes in die senaat steeds in die meerderheid. Van hulle, soos die transformasiegesinde teoloë Theuns Eloff en Johannes Froneman, het dit egter wys geag om tot die gevolgtrekking te kom dat dit nou tyd vir ‘n swart rektor is. Eloff verlaat eersdaags hier sinkende Afrikaans-/Afrikaner-skip en hoef dus nie met die destruktiewe gevolge van die nuwe opset saam te leef nie. Daarby bestendig die aanstelling van ‘n swart opvolger Eloff se beeld as ‘n oorverligte mens. Die meerderheid senaatslede het glo ten gunste van Kgwadi gestem. In daardie sin verdien die UNW die rektor wat hy op 1 Junie gaan kry. Maar die akademie en Afrikaans verdien dit nie en gaan ‘n dure prys betaal.

Toe Jonathan Jansen as rektor van die Universiteit Vrystaat aangestel is, was Herman van Schalkwyk (47), ‘n landbou-ekonoom en dekaan, akademies sekerlik die sterkste kandidaat, maar die raadsvoorsitter, Faan Hancke, het hom vooraf uitdruklik tot ‘n transformasie- (dus nie-akademiese) aanstelling verbind deur die versekering te gee dat die volgende rektor ‘n nie-witte sal wees. In 2010 het Van Schalkwyk die rektor van die Potchefstroom-kampus geword. Pas het hy weer om nie-akademiese redes die onderspit om die rektorskap gedelf; hierdie keer teen Kgwadi, wat myns insiens akademies ‘n liggewig is. Selfs taalkundig is Van Schalkwyk Kgwadi se meerdere, want afgesien van deeglike tweetaligheid (Afrikaans en Engels) is hy Sotho goed magtig. Kgwadi is Tswana en Engels magtig. Hy beweer hy gaan nou Afrikaans leer, maar dit spreek boekdele vir sy gesindheid jeens Afrikaans dat hy, wat op die platteland in die noord-weste grootgeword het, nou gaan begin om “die taal” te leer. Net dit toon reeds die revolusionêre verandering wat die Potchefstroom-kampus in die gesig staar. Kgwadi sê: “Change will have to come” (City Press 8 deser). Daardie verandering sal minstens tweeledig wees: die Potchefstroom-kampus sal verswart en verengels.

Van Schalkwyk het uitstekende akademiese kwalifikasies: ‘n baccalaureus- (1990), honneurs- (1991), magister- (1992) en doktorsgraad (1995), almal verwerf aan die Universiteit Pretoria (UP) en almal in landbou-ekonomie. Hy was dosent aan UP (1993-1996), mede-professor (1996-1997), professor (1998-2003) en dekaan (2003-2010) aan die Universiteit Vrystaat en van 2010 af rektor van die Potchefstroomse kampus. Hy het ‘n indrukwekkende navorsings- en publikasierekord. Kyk gerus sy cv op die internet.

Kgwadi het die volgende grade: BSc (Fisika en Chemie, 1990, Universiteit Bophuthatswana, Mafikeng), MSc (fisika, 1992, Ball State University, Munchie, Indiana, VSA), PhD (“physics education”, 2002, Universiteit Potchefstroom) en MPhil (“environmental law and management”, 2003, Universiteit van die Noorde/Limpopo, by Pietersburg/Polokwane). Myns insiens loop daar ‘n duidelike akademiese foutlyn deur sy formele kwalifikasies. Hy het sy baccalaureus en een van sy magistergrade aan plaaslike swart universiteite, wat nie die akademiese aansien van die tradisioneel blanke universiteite het nie, verwerf. Terwyl Van Schalkwyk vir sy magistergraad ‘n volwaardige verhandeling voltooi het, het Kgwadi sy twee magistergrade waarskynlik (veral) op grond van klaswerk (dus nie navorsing en die dokumentering van daardie navorsingsresultate nie) verwerf. In die VSA het staatsuniversiteite (meesal) nie die akademiese aansien van private universiteite nie. Daarby word Ball State University nie as een van die beste staatsuniversiteite gereken nie. Wat ook hinder, is dat Kgwadi nie deurgaans in fisika studeer het nie. Sy een magistergraad is in ‘n ander vakrigting en sy doktorsgraad is eerder oor as in fisika; dus (blykbaar) oor fisika-onderrig (‘n randeier en sagte opsie) pleks van in bv kernfisika. Vergelyk ook die tydsverloop in die jaartalle waarin Van Schalkwyk en Kgwadi hulle grade voltooi het. Van Schalkwyk is klaarblyklik ‘n akademikus in murg en been, terwyl Kgwadi periodiek ook akademies probeer vorder het.

Kgwadi se akademiese ondervinding vergelyk swak met dié van Van Schalkwyk. Kgwadi was van 1999 tot 2002 ‘n dosent aan die Vaal Technikon. In 2005 het hy rektor van die Mafikeng-kampus van die Universiteit Noordwes geword. Die hinderlikste aspek is dat Kgwadi blykbaar geen (noemenswaardige) navorsings- en publikasierekord het nie. Nog ‘n ding waarvoor ek hom verkwalik, is dat hy in Centurion (voorheen Verwoerdburg, wat eens daarop geroem het dat geen swartes in sy munisipale gebied bly nie) woon en in Mafikeng en nou Potchefstroom werk. Sodanige trekarbeid is nie bevorderlik vir optimale beroepsfunksionering nie. Ek stel dit as my oortuiging dat geen egte akademikus om akademiese redes Kgwadi bo Van Schalkwyk as rektor sou verkies het nie. “In universiteitsgeledere word ook gesê Kgwadi is akademies nie naasteby in dieselfde klas as Van Schalkwyk nie” (Rapport 1 deser). Soos in so baie gevalle in die nuwe Suid-Afrika, het ras/kleur/etnisiteit ongetwyfeld ‘n deurslaggewende rol by Kgwadi se onlangse aanstelling gespeel. Soos Jonathan Jansen, verkies Kgwadi om hierdie feit te ontken. In albei gevalle was Van Schalkwyk op hoogs onbillike wyse die verloorder. Dit is die soort gruwelike onreg waaroor geen bevrydingsteoloog ooit sy bek rek nie.

Kgwadi is vir ses jaar as UNW-rektor aangestel. Daar word beweer dat hy goeie werk as kampus-rektor in Mafikeng gedoen het. Sy nuwe situasie is egter anders, want hy gaan nou die uitvoerende hoof van die hele universiteit wees en dus nie meer tweede viool speel nie. Hy sal ook voortdurend transformasiedruk uit swart geledere ervaar. Moenie verwag dat hy hom danig daarteen gaan verset nie: “Ek meen, ek het eers my menswaardigheid as student in Amerika ontdek, dáár bevry geraak” (Rapport 1 deser). Dan beklemtoon hy ons eendersheid (“ons is almal Suid-Afrikaners”), ons “diversiteit” en “dat die universiteit toegankliker moet word vir álle Suid-Afrikaners.” Hy verwys in hierdie verband na die grondwet wat die status van 10 van die 11 amptelike tale (en veral Engels) verbeter het. Net Afrikaans het oneindig baie aan status ingeboet. Kgwadi: “‘n Taal se regte kan egter nie ten koste van mense se reg tot toegang wees nie … ‘n Instansie soos die Noordwes-universiteit met al sy hulpbronne kán nie uitsluitend of eksklusief wees nie” (Die Burger, 29 Nov, p 8). Dit is die bekende refrein wat ook by die ander tradisioneel Afrikaanse universiteite voor hulle afskaling van Afrikaans as onderrigmedium gehoor is.

As ‘n mens oor die voorafgaande in sy geheel besin, is dit waar dat Afrikaans sedert 1994 ‘n opbloei beleef, soos die ATM beweer? Is daar niks om oor bekommerd te wees nie, soos Van Huyssteen beweer? Of is Afrikaans besig om sienderoë agteruit te boer weens die hartlike samewerking van sommige Afrikaanssprekendes asook instansies wat veronderstel is om Afrikaans te bevorder?

Lees ook Skoppensboer se rubriek, ‘n Seder val in Potchefstroom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.