Afrikaans die prooi van Afrikaanssprekendes

Deel op
erald_felix
TV-aanbieder Erald Felix: ‘n meer polities korrekte gesig vir Afrikaans

deur Leon Lemmer

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is ‘n Naspers-inisiatief om Afrikaans onder veral die bruin bevolking te bevorder. Die term “bemagtiging” het ‘n politieke en spesifiek ‘n ANC-konnotasie. Dit kom ook voor in die Afrikaanse Taalraad (ATR) se leuse: bemagtig, bevorder, beskerm. Die SBA se uitvoerende hoof het in ruime mate misbruik hiervan gemaak; eers Christo van der Rheede en nou Danie van Wyk. Die uitgangspunt is dat Afrikaans onder bruines bevorder kan word alleenlik as die SBA (1) hom distansieer van apartheid en by implikasie van nie-verloopte Afrikaners en (2) nie spesifiseer watter soort Afrikaans bevorder moet word nie. As gevra word of die SBA hom vir Standaardafrikaans beywer, is die antwoord negatief, want dit is die soort Afrikaans wat met blankes geassosieer word. Die SBA verkies om Afrikaans in al sy variasies te bevorder, wat vir Kaaps die deur wyd ooplaat; ook vir daardie soort Kaaps wat ‘n mengeltaal bestaande uit Afrikaans en matelose Engels is.

Onderliggend aan hierdie gesindheid is die foutiewe aanname van gelykheid. Na analogie van stemreg (een mens, een stem) word verkeerdelik veronderstel dat alle variasies van Afrikaans ewe goed is. Net soos dit voor die hand liggend behoort te wees dat mense in baie opsigte (bv aanleg, kennis, insig) nie gelyk is nie, is die variasies van Afrikaans nie almal ewe geskik om bv die oorlewing van Afrikaans te verseker nie. As verskansing teen verengelsing is Kaaps uitnemend ongeskik. Om politieke en etniese redes word juis hierdie ondermynendste vorm van “Afrikaans” nie deur die SBA bestry nie, maar veel eerder bevorder. Dit word gedoen deur nie duidelik af te baken wat as Afrikaans kwalifiseer nie. Die mengeltaal Kaaps, wat ‘n posisie tussen Engels en Afrikaans inneem, word nie net by Afrikaans gegroepeer nie, maar inderdaad daarby ingesluit.

Hierdie destruktiewe inklusiwiteit vind ook weerklank in die mense wat deesdae uitgesoek word om sogenaamd die heil van Afrikaans te bevorder; “die Wie-is-Wie van Afrikaans,” in die woorde van Michael le Cordeur (Praag 26 Januarie). Hierdie kiem of kanker, wat geen werklike weerstand teen verengelsing bied nie, kom nie net by die SBA voor nie, maar ook by die ATR, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), asook by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Hierdie mense “bevorder” Afrikaans deur (1) Standaardafrikaans, (2) die rol van blankes en (3) suiwer Afrikaans grootliks te ignoreer deur al drie doelbewus ongenoem te laat en (4) deur selfs te pleit vir die herstandaardisering van Afrikaans. Afrikaans moet daarvolgens sover moontlik ontwit word, want die meeste sprekers van al die variasies van Afrikaans is bruin. Dit gaan vir hierdie mense in die eerste plek nie om taalkundige oorwegings nie. Dit gaan om etnisiteit en politiek. Kwantiteit, nie kwaliteit nie, gaan glo die toekoms van Afrikaans bepaal. Daarom is ‘n paradigmaskuif van wit na bruin aan die orde van die dag.

Ek skryf na aanleiding van wat onlangs gepubliseer is. Die eerste is ‘n brief deur die bogenoemde Danie van Wyk in Die Burger (2 deser, p 10). “Almal het onder die juk van apartheid gely.” Sê wie? Van Wyk loof die Kaaplandse Professionele Onderwysunie (KPO) vir sy rol in die afskaffing van apartheid. Die ironie is dat daardie onderwysersvereniging juis hoogs onprofessioneel was. Daar is voorkeur aan politiek bo onderwys gegee. Daardie onderwysers is deur die “apartheidsregime” betaal om onderrig aan kinders te verskaf. Onder die UDF/ANC-vaandel van “liberation before education” het hulle skole ontwrig, gevandaliseer en selfs afgebrand. Hierdie mense, wat veronderstel is om opvoeders te wees, het ‘n bedenklike voorbeeld aan die leerlinge gestel en skoolkinders selfs tot misdade aangehits.

Van Wyk bestempel mense soos Franklin Sonn en Randall van den Heever, wat albei later deur die ANC met poste beloon is, as “gerespekteerde leiers.” Hy noem die name van Cheryl Carolus, Trevor Manuel, Jakes Gerwel, Dullah Omar en Allan Boesak as voorbeelde van bruin ANC-aktiviste wat as genooide sprekers by KPO-byeenkomste opgetree het. Van Wyk gee ‘n blik in die verderflike kern van die KPO: “Die KPO was ook die eerste onderwysorganisasie wat (in 1988) die Vryheidsmanifes aanvaar het as ‘n dokument en bron wat die beleid van die organisasie polities vorentoe sou neem en rig.” In hoeverre die gevolge respekteerbaar is, blyk bv uit die feit dat die genoemde Sonn suksesvol was met sy vertoë aan ‘n ANC-president om die genoemde Boesak se kriminele rekord te skrap.

[Ek dink dikwels daaraan hoe ons as kinders in die kerk en op skool “sente vir die sending” geskenk het, in die waan dat die geld mense sou oplewer wat Suid-Afrika ‘n beter plek sou maak; mense wat sou opbou en nie afbreek nie, wat beskawing sou bevorder en nie misdaad nie; bowenal mense wat nie snood ondankbaar sou wees nie. Die bedoeling van die NG Kerk se sendingaksie was nie om bevrydingsteoloë op te lewer nie. Ek kan my kwalik ‘n groter en onbetaamliker misoes voorstel as Sendingkerk-produkte soos Allan Boesak, Russel Botman en Nico Koopman. In al drie hierdie gevalle kan hulle ideologiese ontaarding en ontsporing teruggevoer word na veral ‘n enkele dosent in die fakulteit teologie van die Universiteit van Wes-Kaapland. Ek verwys na Jaap Durand, ‘n misleide, blanke Afrikaanssprekende. Daar is destyds tereg verwag dat sendingaksie beskawing sou bevorder. “Beskawing” is ‘n woord wat in die nuwe Suid-Afrika in onbruik verval het omdat ons daagliks deur onbeskaafdheid oorweldig word. Braam Hanekom, die NG-moderator van Wes- en Suid-Kaapland, wat graag verligte geluide maak, het pas verras deur op te merk dat die land ‘n verlies aan beskaafdheid ervaar (Die Burger, 4 deser, p 11).]

Mense wat die UDF/ANC-misdade en -geweld goedpraat, soos Van Wyk en Le Cordeur, is deesdae deel van “die Wie-is-Wie van Afrikaans.” Maar soos ek en andere al so dikwels aangetoon het, sou hulle nie daardie posisies beklee het en Afrikaans-skadelike invloed kon uitoefen as dit nie was vir die hartlike samewerking van misleide Afrikaanssprekende blankes nie. Deesdae is een van die hoofondermyners Wannie Carstens, wat leidende posisies in die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATR en ATM beklee en ook ‘n raadslid van die Universiteit Stellenbosch is.

Volgens eie erkenning is Carstens se Damaskus-ervaring te wyte aan ‘n gesprek wat hy in 2004 met Christa van Louw gehad het (LitNet Akademies 15.03.2013). Oor hierdie onderwerp sou ek nie Van Louw se dramatiserings sonder meer as geloofwaardig aanvaar nie. Ons lewe in ‘n tyd en in ‘n land waarin daar ideologies hewig oorlog gevoer word. Ten einde sinvol te dink en jou geestelike ewewig te behou, is dit nodig dat ‘n mens jou teen naïewe reaksie moet staal. Hierdie onderonsie het nie lig aan Carstens op die pad vorentoe verskaf nie, maar hom veel eerder ten minste kol-kol blind gelaat.

Dit bring my by nog ‘n onlangse publikasie waarop ek die aandag wil vestig, naamlik Carstens se skrywe, “Hoekom Afrikaans?” (ATR-webwerf, 31 Mei). Hy wil “die spoke van die verlede … besweer.” Dit ly min twyfel dat daardie spoke almal wit is. Ek bly wonder hoe Carstens kan dink dat in sy teks iets staan wat oorspronklik genoeg is om publikasie te regverdig. Sy motivering was heel moontlik goebbelisties: hoe meer ‘n leuen herhaal word, des te meer/makliker word dit geglo. Carstens wil “‘n belangrike saak oor Afrikaans regstel: Afrikaans is nie die taal van net wit mense nie … Afrikaans is veel meer as die taal van wit mense, dit is veel eerder die taal van die bruin mense (soos die slawe uit die Ooste wat hulself met Hollands moes uitdruk en in hierdie proses gehelp het om die taal te laat ‘anders’ raak as die Hollands van die tyd).”

Carstens verwys nie net na die armsalige slawe nie. Hy haal ook Barack Obama se “Ja, ons kan!” aan. Voorheen het hy Martin Luther King jr goedkeurend aangehaal. Carstens se verwysingsveld bevestig sy verlooptheid. Sulke verwysings en aanhalings word tot vervelens toe by anti-blanke elemente aangetref. Die eintlike woorde van Carstens wat ek verpes, is: “Afrikaans … is veel eerder die taal van die bruin mense.” Dit kan waar wees as (soos hierbo aangedui) Afrikaans nie streng afgebaken word nie (bv as die mengeltaal Kaaps as Afrikaans geklassifiseer word) en die getal huidige sprekers dan suiwer kwantitatief beoordeel word. Sodra kwalitatiewe oorwegings toegelaat word, sink Carstens se stelling.

Histories blyk sy stelling ‘n onverdunde leuen te wees. As taalkundige behoort Carstens te weet dat onderskei moet word tussen, eerstens, die ontstaan van ‘n taal en, tweedens, die vestiging en uitbouing van daardie taal. Dit is moontlik dat die skewe gepraat van Hollands deur bv die slawe een van die faktore is wat aanleiding tot die ontstaan van Afrikaans gegee het. Deur hierdie enkele moontlikheid te verhef tot eienaarskap van die taal by verre nasate is om buitensporig polities korrek en bedenklik oorverlig en opportunisties te wees. By die ontstaan van Afrikaans kon nie-wittes ‘n (beperkte) rol gespeel het. Die vestiging, uitbouing en ook behoud van Afrikaans was en is grootliks aan blankes te danke. Wat verhoed Carstens en sy meelopers om hierdie feite openlik te erken? Politiek en nogmaals politiek, spesifiek ANC-gedienstigheid.

Uit hoofde van die poste wat hy beklee, kan Carstens ‘n daadwerklike bydrae tot die heil van Afrikaans lewer, mits sy oriëntasie sinvol is. Taalkundige oorwegings behoort voorrang bo ANC-gedienstigheid te geniet. As hoogleraar in Afrikaanse taalkunde behoort die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-universiteit (NWU) by uitstek sy sendingveld te wees; veral nou in die tyd van nood. Carstens en Le Cordeur is veronderstel om die voorste wagters op die Sionsmure vir Afrikaans te wees. Oor die maandelange anti-Afrikaans-veldtog teen die Potchefstroom-kampus het hulle, sover ek weet, nog geen openbare verklaring uitgereik nie. Hierdie wagters slaap, behalwe dat Carstens dit wenslik ag om te beweer dat Afrikaans “veel eerder die taal van die bruin mense is.” Iets radikaals is by hierdie wagters verkeerd. Dit verg radikale regstelling.

Veral Hannelie Booyens en Adriaan Basson het met hulle moedswillige mite van ‘n Nazi-saluut daarin geslaag om Potchefstroom as die laaste oorwegend Afrikaanse en blanke universiteitskampus op die vernietigingspad te plaas. Wat hulle verder bereik het, is dat daardie kampus nou geëtiketteer word as ‘n “onderdrukkende magstruktuur” wat uitgewis moet word (NWU-webwerf). Omdat Potchefstroom die afgelope jare heelwat kulturele vlugtelinge uit ander streke getrek het, is dit moontlik dat die beste (en meeste?) nie-verloopte Afrikanerstudente tans daar aangetref word. Hulle pleeg nie moord en doodslag nie en maak hulle nie skuldig aan misdaad nie. Daardie studente is moontlik voorbeeldiger as dié op ander kampusse. Desnieteenstaande word hulle vir kritiek uitgesonder. Die nuwe rektor, Dan Kgwadi, noem ontgroening “barbaars” en “gemors” (Beeld 5 deser). Kan dit naasteby geregverdig word? Is dit geregtigheid? Is besnydenis nie in groter mate barbaars nie?

Die Universiteit Stellenbosch het dit in 2003 wenslik geag om die Afrikaanssprekende nie-Afrikaner Frederik van Zyl Slabbert aan te stel om die kampuskultuur aldaar te ondersoek sodat dit in ooreenstemming met die wense van die ANC getransformeer kon word. Die NWU het ‘n soortgelyke gesindheid geopenbaar deur die Afrikaanssprekende nie-Afrikaner Leon Wessels aan te stel om die Potchefstroomse kampus te transformeer. Voorspelbaar het die myns insiens minder talentvolle Wessels en sy taakspan dit wenslik geag om hulle deur die Slabbert-aanbevelings te laat lei. Wessels is die enigste blanke lid in die taakspan, maar sy etnisiteit is geen faktor nie omdat dit deur oorverligtheid uitgewis is; ten minste wanneer hy in die openbaar optree. Die drie ander lede van die taakspan is nie-wittes.

Wat Wessels en kie aanbeveel en waarmee hulle die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, tevrede wil stel, is dat die drie kampusse van Noordwes-universiteit (Potchefstroom, Mafikeng en Vaaldriehoek) ‘n “enkele institusionele kultuur” moet hê. Dat hierdie drie fundamenteel verskillende kampusse weens die arbitrêre dwaasheid van Kader Asmal ‘n skrale tien jaar gelede in ‘n enkele universiteit saamgevoeg is, word glad nie in ag geneem nie. Die Wessels-bevinding is dat die oorwegend blanke, Afrikaanse kampus op Potchefstroom ongewens is; dat dit, soos die ander twee kampusse, oorwegend swart en Engels moet word. Dit is die soort ding wat ‘n mens van Wessels kan verwag in die lig (eintlik duisternis) van bv sy oorbereidwilligheid tot toegewings tydens die grondwetlike onderhandelings met die ANC.

Wessels is veral buitengewoon entoesiasties oor die elf amptelike tale waarmee ons sit. Om Cyril Ramaphosa ter wille te wees, het Wessels die splinter raakgesien deur die amptelike erkenning van die Venda-taal wonderlik te vind Die balk in die nuwe taalbedeling, dat Afrikaans die enigste amptelike taal is wat oneindige skade lei, het Wessels (doelbewus) nie raakgesien nie. Pleks daarvan was die aanvaarding van die nuwe taalbedeling vir hom ‘n “lekkerkry-oomblik” (Vereeniging, 2010, p 329; Praag 20.10.2013). Wessels sal hom na verwagting weer blind hou vir die skade wat blankes en Afrikaans vorentoe op Potchefstroom gaan ly. Die Dopperhemel van weleer sal nie voortgaan om ‘n toevlugsoord vir blanke kulturele vlugtelinge te wees nie. Swart mag gaan ook daar grootliks onverdiend seëvier.

Theuns Eloff het destyds as oorverligte predikant bekendheid verwerf. Sy openbare beeld het heel moontlik ‘n (deurslaggewende) rol by sy aanstelling as rektor gespeel. Nou lyk dit asof hy beter as enigiemand insien dat die NWU en spesifiek die Potchefstroom-kampus met bose magte te kampe het, met egte kommunisme (die miskende rooi gevaar) as die seëvierende demon. Klaarblyklik besef Eloff dat oordrewe verlooptheid Wessels se spesialiteit is; dat Wessels nie in staat is om objektiewe, akademies-sinvolle leiding aan so ‘n taakspan te gee nie.

Die aanduidings is dat die oud-polisieman Wessels die verkeerde spoor gevat en weer ten koste van Afrikaners en Afrikaans op groot skaal drooggemaak het. Vandaar die waarneming dat sy jongste manewales op ‘n skuldige gewete dui. Wessels het pas vorendag gekom met: “Afrikaans is nie ‘n prioriteit – ‘n soort godsdiens – vir almal nie” (Beeld 4 deser). Gehalte-onderwys is vir hom belangriker as die onderrigmedium. Maar om werklik by (puik) lesings te baat, moet die onderrigtaal tog sekerlik vir die student (optimaal) verstaanbaar wees.

Potchefstroom was skynbaar die kampus wat akademies die minste deur transformasie benadeel is, danksy ‘n blanke rektor. Sedert die toelatingsvereistes vir nie-wit studente verlaag is en dosente by voorkeur op grond van ras en geslag aangestel en bevorder word, het die akademiese gehalte aan die ander vier eens Afrikaanse universiteite (Johannesburg, Pretoria, Stellenbosch, Vrystaat – elkeen met ‘n nie-wit rektor) kommerwekkend gedaal. Wessels se verwysing na gehalte-onderwys maak dus geen sin nie, want die praktyk getuig van die teenoorgestelde.

Soos wat in talle ander gevalle gebeur het, bv by die aanwysing van Kgwadi as rektor, sou die transformasie van die Potchefstroom-kampus nie sonder die samewerking van verloopte Afrikaners plaasgevind het nie. Verloopte Afrikaners bly die kernprobleem van Afrikaners en Afrikaans.

Ten slotte iets anders oor Afrikaans. Johan van Zyl van Koringberg skryf soms die rubriek Van Alle Kante in Die Burger. Ek onthou dat hy hom by geleentheid in so ‘n mate aan mengeltaal skuldig gemaak het dat ek die redakteur gevra het om Van Zyl te verplig om sy rubrieke in Afrikaans te skryf. In sy jongste skrywe (28 Mei, p 10) erken Van Zyl dat hy tot taalonsuiwerheid geneig is. Maar selfs hy het nou geduld met geradbraakte Afrikaans verloor.

Hy haal ‘n radio-aanbieder aan: “Ons het vanaand baie lekker musiek in stoor.” Hoewel in twee tale uitgesaai word, het die stasie ‘n Engelse naam, Smile 90.4FM. Van Zyl noem ook die volgende voorbeelde van taalgebruik deur radio-aanbieders en nuuslesers: die “strydige” bendes op die Kaapse Vlakte, die beskuldigde wat “na verwagting” Saterdag sy broer doodgesteek het en die stommiteit “vandag merk die begin van Ramadaan.” Ek verpes dit veral as polisie- en verkeerswoorvoerders “was” pleks van “is” gebruik: “In die ongeluk was drie mense dood.”

Op 3 deser (p 10) het Lizma van Zyl, die genoemde radiostasie se hoof van nuus en aktualiteit (‘n gewigtige betiteling) met ‘n brief op Johan van Zyl se opmerkings gereageer. Dit lyk asof die anonieme omroeper deesdae met vrug op slawe- of Khoi-oorsprong aanspraak kan maak. Daar word verwys na sy “warmte en ‘n eg Kaapse stem,” wat die taalfoute “troef”. Die betrokke omroeper “is ‘n gesinsman met ‘n passie vir Afrikaans en dié provinsie. Hy is vol empatie vir hierdie streek se mense … hy het … ook ‘n graad van Stellenbosch.” Só word daar om die bos geskryf, pleks van te noem dat die omroeper bruin en Kaaps is en daarom op spesiale behandeling, of ten minste buitengewoon omsigtige kommentaar, geregtig is.

‘n Gevoelige senuwee is dus deur Johan van Zyl raakgeboor. Dit verduidelik die goor reaksie wat hy ontlok het. Daar word verwys na Johan se “snedige opmerkings” en Lizma bevraagteken “of die puristiese aanslag regtig soveel waarde en steeds van toepassing is.” Ons is mos nou in die bevrydings- en loslit-era. By Smile 90.4FM word deurmekaar geboer: “Ons verteenwoordig die heerlike mengelmoes wat ons mooiste Kaap so uniek maak. Ons is ook trots om die aanbieder op wie jy so ‘n venynige aanval geloods het in ons span te hê.”

Die vraag wat ek in die midde wil lê, is wanneer begin Carstens, Le Courdeur en hulle meelopers om iets te doen om die voortbestaan van agbare Afrikaans te verseker? Daar moet nie geredeneer word dat sommige Afrikaanssprekers voorheen benadeel is (vanselfsprekend deur slegte wittes) en daarom nie aanstoot gegee mag word nie. Ek en baie van my mede-Afrikaners word tans benadeel en vind geradbraakte Afrikaans hoogs aanstootlik. Ons deurleefde gevoelens word gekrenk. Is ons belange nie ook agtingswaardig nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.