Potchefstroom: Die ondergang van die laaste Afrikaanse universiteitskampus

Deel op

Van die ergste dwaasheid oor Afrikaans kom soms van Afrikaans-professore. Jakes Gerwel (1946-2012) is ‘n klassieke geval. Hy het die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit tot ‘n eentalige Engelse inrigting getransformeer.

Minder bekend is die Afrikaans-verraad deur die skrywer Ronnie Belcher (1933-2006), eens ‘n hoogleraar in Afrikaans aan die UWK in Bellville en later aan die Universiteit van Bophuthatswana (Unibo) in Mafikeng. Sy argumente is eintlik ‘n samevatting van die drogredenasies wat steeds ten koste van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal geuiter word. Hy het dit teen die Universiteit Stellenbosch (US) as Afrikaanse inrigting gehad (Die Burger, 26.02.2002, p 7).

'n Betoging oor taal op die Potchefstroomse kampus
‘n Betoging oor taal op die Potchefstroomse kampus

Pieter Kapp (Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 81-82) verskaf die volgende opsomming.

“Belcher [het] die reg van Stellenbosch om Afrikaans te mag wees, ontken. Hy het geargumenteer dat die taaldebat aan die US uit pas met die tyd is en vasgekoppel is aan ‘n wit strewe van die verlede om Afrikaans uit te bou. Afrikaans het vandag ‘n baie groter verskeidenheid as vroeër en daarom kan die wit Afrikaanssprekende nie aanspraak maak op die tradisie van Afrikaans en Stellenbosch nie. Afskaling van Afrikaans is die gevolg van nuwe insigte in ‘n universiteit se aard en wese. In beginsel kan ‘n universiteit nie tot een taal beperk word nie. ‘n Universiteit is nie vir [‘n] spesifieke bevolking of taal nie, dit is vir die universitas. ‘n Universiteit dien nie net die gemeenskap waarin hy geleë is nie. Universiteite is deel van ‘n wêreldorde. Moedertaalonderrig geld nie vir universiteite nie. Akademiese voortreflikheid kan hoofsaaklik net deur Engels bereik word. Taal is ‘n saak van aanvraag en voorsiening. Markkragte is ‘n belangriker faktor as taalregte. Afrikaanse vaktaal is nie mededingend genoeg om internasionaal te wees nie. Die grootskaalse afskaling van Afrikaans aan die US sal nie [‘n] verskil maak aan die Afrikaansheid van Stellenbosch nie [!]. Topprestasie is al wat tel en Afrikaans kan net baat by Afrikaanssprekendes wat internasionaal presteer. Daar is baie dinge belangriker vir die behoud van Afrikaans as Afrikaansheid.”

Kapp skryf verder:

“Belcher het drie elemente in die openbare debat gebring wat tot ernstige verdraaiing van die debat sou lei. Hy het die taalstrewe aan ras gekoppel; hy het naïewelik vergeet dat Engelstalige universiteite geensins voldoen aan sy vereiste dat ‘n universiteit nie tot een taal beperk behoort te wees nie; en dat markkragte bepaal dat Stellenbosch Engels moet word omdat Engelse studente in groter getalle na Stellenbosch kom, terwyl hulle dié universiteit gekies het wetende dat hy Afrikaans is en moontlik ook omdat hy Afrikaans is, want daar word hulle werklik tweetalig” (p 82).

Ek het voorheen dikwels oor Afrikaans en ander US-sake geskryf en gaan die besonderhede nie hier herhaal nie. Die feit is dat die US tydens die rektorskap van Chris Brink en veral Russel Botman sterk verengels het. Dat dit strydig is met die stigtingsvoorwaarde van die stigtingsdonateur, Jannie Marais, skeel hierdie ANC-meelopers glad nie. Die US het dermate verengels dat daar die afgelope dekade al hoe meer die neiging was om Potchefstroom as die enigste oorblywende Afrikaanse kampus te beskou. Let wel, kampus; nie ‘n enkele Afrikaanse universiteit het oorleef nie. Ek weet van talle studente uit die Wes-Kaap wat vanweë die begeerte van onderrig in Afrikaans eerder op Potchefstroom as Stellenbosch studeer het.

Wannie Carstens is ‘n Afrikaans-dosent op Potchefstroom. Soos ek by vorige geleenthede aangetoon het, noop sy Damaskus-korset hom om Afrikaansvariasies te oorbeklemtoon, nie-Standaardafrikaans te verafgod en die ontstaan en eienaarskap van Afrikaans by voorkeur aan die Khoi-San en slawe en hulle nasate toe te skryf. Sy standpunt is eerder polities as histories-taalkundig korrek.

Maar ek wil hierdie keer die aandag op sy kollega, Hans du Plessis (van Griekwa-psalms-faam), vestig, wat onlangs oor “Afrikaans en rassisme” geskryf het (Maroela Media 4 Desember). Du Plessis wek die indruk dat hy polities meer redbaar as Carstens is. Tog is daar by Du Plessis dieselfde oorbewustheid van nie-wit Afrikaanssprekendes; dieselfde ongesonde neiging tot oorvergoeding van nie-wittes vir vermeende benadeling, gerugsteun deur grootliks onnodige skuldgevoelens. Die gevolg is dat die blankes se Afrikaans, Standaardafrikaans, die lydende party word, soos in 2014 bedroewend geïllustreer deur die dramatiese agteruitgang van die vooruitsigte van Afrikaans as onderrigtaal op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit (NWU).

Du Plessis noem tereg dat diegene wat vir die behoud van Afrikaans veg maklik van rassisme beskuldig word. “Gerugte van ons rassisme het egter een van die gedugste vyande van Afrikaans geword … wat is ‘n sagter teiken as die hart van ‘n identiteit, veral as die hart ‘n taal is.” Afrikaans is myns insiens inderdaad die kern van Afrikaner-identiteit, maar dan voeg Du Plessis onnodiglik en polities korrek by: “veral as die hart ‘n taal is wat nog swaar dra aan ‘n verlede van uitsluiting.” Dieselfde morele verootmoediging ondergrawe sy betoog as hy elke keer wanneer hy die sotlike beleid van elf amptelike tale ter sprake bring, dit nodig vind om ‘n lansie vir die “Khoi- en San-tale” te breek.

Dit herinner aan Leon Wessels wat hoogs in sy noppies was dat sy vriend Cyril Ramaphosa se Venda as ‘n amptelike taal erkenning geniet. Die erkenning van elf amptelike tale was vir Wessels een van sy “lekkerkry-oomblikke” (Vereeniging, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 329). Terselfdertyd het die armsalige Wessels die hoofresultaat van die huidige taalbedeling misgekyk: dat tien tale, veral Engels, aan status gewen en net Afrikaans op groot skaal aan status verloor het.

Destyds is al die grondwetlike onderhandelings gevoer toe die blankes, by uitstek Afrikaanssprekendes, op die agtervoet was weens die verradelike situasie (kyk hieronder) waarin hulle hulle bevind het. Wessels skryf: “Die ‘wit saak’ was verlore lank voordat die onderhandelings begin het” (p 59). Dit verklaar waarom iemand soos Karel Prinsloo, toe die hoof van die RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing) se sentrum vir Afrikaans, destyds sy entoesiastiese dankbaarheid uitgespreek het dat Afrikaans darem as een van die elf amptelike tale erken word.

Du Plessis verwys na “die idealistiese elftaaldroom.” Op die Potchefstroom-kampus het Afrikaans volgens hom die sondebok en slagoffer van bewerings van rassisme geword. “Hierdie feit het alles te make met die hegemonie [voorrang/oorheersing] van Engels in Suid-Afrika ná 1994. Daar is geen beter rede om Engels te verhef tot super amptelike taal nie as om te argumenteer dat Engels die enigste deurgang tot transformasie is. Asof al die nie-Afrikaanse kampusse in die land geen vorm van rassisme ken nie.” Du Plessis aanvaar “dat daar nie iets soos ‘n wit kampus in ‘n demokratiese Suid-Afrika mag bestaan nie, en op dieselfde grond, beslis ook nie ‘n swart of uitsluitlik Engelse kampus nie.”

In werklikheid is die tradisioneel swart universiteite egter steeds oorweldigend swart met uitsluitlik Engels as onderrigtaal. Ook die tradisioneel blanke Engelse universiteite is steeds eentalig Engels. Minister Blade Nzimande fokus nie hierop nie, maar op Afrikaans as onderrigtaal aan tradisioneel Afrikaanse universiteite, terwyl geeneen van hulle meer uitsluitlik Afrikaans is nie. In werklikheid het almal van hulle in groot mate verengels. Noudat die US gelyke status aan Afrikaans en Engels toegeken het, word een van die drie kampusse van die NWU, naamlik Potchefstroom, vir verguising geteiken en word druk vir verswarting en verengelsing uitgeoefen.

“Die gronddwaling lê vir my in die verabsolutering van die kollektiewe droom dat elke instelling in Suid-Afrika die nasionale demografie moet reflekteer. Die afdwing daarvan op alles en almal is niks anders as fundamentalisme nie. Dit is tog onprakties: ‘n kampus in Venda sal noodwendig ‘n oorwig Vendasprekers hê, soos wat ‘n universiteit in die hart van ‘n Sesotho-gemeenskap oorwegend Sesotho sal wees.”

Wat Du Plessis eintlik sê, is dat elke universiteit ‘n natuurlike publiek het wat hy bedien op grond van bv sy geografiese ligging en die moedertaal van die studente wat uit daardie omgewing kom. In ‘n Afrikaanse omgewing mag/moet die universiteit dan Afrikaans as onderrigtaal hê. Hy beskou die ANC se demografie-argument as fundamentalisties. Dit is ‘n eufemisme en moet eerder rassisme genoem word. Dit gaan vir die ANC-regering klaarblyklik om die bevoordeling van swartes en die benadeling van wittes, veral Afrikaanssprekendes en dus ook Afrikaans.

Du Plessis skram daarvan weg om aan die ANC die skuld vir hierdie wesenlike rassisme te gee. Hy soek die skuld by die elftalebeleid.

“Die kern van ons probleem … is myns insiens in wese geleë in ons erkenning van elf amptelike tale … die enigste praktiese uitkoms van ons elftaalbeleid is die vestiging van Engels as die enigste taal van transformasie. Eintlik is dit niks anders nie as ‘n dekmantel vir die verskansing van die hegemonie van Engels. Alles wat nie Engels is nie, is ‘n hindernis in die weg na transformasie.”

Hierdie argument is myns insiens nie suiwer nie. ‘n Elftalebeleid is inderdaad onprakties en lei noodwendig daartoe dat voorkeur aan minder tale (een of twee) gegee word. Die ANC het op ‘n enkele taal besluit om hom te distansieer van die tweetalebeleid van die ou Suid-Afrika; soos wat hy hom by voorkeur sover moontlik distansieer van alles wat aan die ou Suid-Afrika herinner. Die ANC het op Engels as voorkeurtaal besluit nie net omdat dit ‘n wêreldtaal is nie, maar ook omdat swartes (meesal) min moedertaaltrots het en veral omdat die ANC om die dood nie Afrikaans as ‘n effektiewe amptelike taal duld nie. Vergelyk Swapo se erkenning van Engels as die enigste amptelike taal van Namibië, al is daar baie meer Afrikaans- as Engelssprekende Namibiërs. My beswaar teen Du Plessis se stelling in die vorige paragraaf, dat Engels die enigste taal van transformasie is, is dat die ANC enigeen van die elf amptelike tale, selfs Afrikaans, sal misbruik om sy (rassistiese) oogmerke te bereik; al is dit waar dat hoofsaaklik Engels vir hierdie doel aangewend word. Terloops, die Wes-Kaap en Munisipaliteit Kaapstad se taalhiërargie was tydens ANC-bewind (en is tydens DA-bewind) Engels, Xhosa, Afrikaans, al word die meeste belasting van Afrikaanssprekendes gevorder.

“Van een ding is ek ten slotte oortuig: Afrikaans gaan selfs die nuwe aanslag oorleef. Dit is juis die geskiedenis wat my dit laat glo. Oor vier eeue het die taal die aanslae van Engels en Nederlands oorleef; dit is selfs gaandeweg besig om Afrikanernasionalisme te oorleef. My groot bekommernis lê egter daarin dat die hele herrie om Afrikaans en rassisme daartoe gaan lei dat Afrikaans en sy gebruikers in ‘n intellektuele tuisland ingedwing gaan word.”

Weereens oortuig Du Plessis se redenasie nie. Hoedanig gaan Afrikaans se oorlewing wees, bv op universiteitskampusse? Sy verwysing na “vier eeue” wek die indruk dat hy, soos sy kollega Wannie Carstens, die ontstaan van Afrikaans by die Khoi-San, selfs voor Jan van Riebeeck, en later by die slawe gaan soek; dus die polities korrekte mode-neiging om die rol van nie-wittes te beklemtoon en dié van wittes te onderbeklemtoon of selfs te ignoreer. Du Plessis se verwysing na Afrikanernasionalisme en ‘n intellektuele tuisland dui myns insiens op ongesonde oorverligtheid. Dit is juis by nasionalistiese nie-verloopte Afrikaners dat Afrikaanslojaliteit in sy behoudendste en suiwerste vorm aangetref word. ‘n Afrikanertuisland kan vorentoe die beste en selfs enigste reddingsgordel vir Afrikaans blyk te wees.

Francois Venter, voorheen die dekaan van die fakulteit regte op die Potchefstroom-kampus, het ‘n ope brief aan Dan Kgwadi, die rektor van die NWU, gepubliseer (Maroela Media, 12 deser). In sy skrywe gaan dit om veel meer as net die stand van Afrikaans. Venter skryf bv teen die agtergrond van die onbillike aanvalle op Potchefstroom in Beeld, waarvoor die redakteur, Adriaan Basson, verantwoordelikheid moet aanvaar. Daar is ook die verdoemende bevindings van ‘n ondersoekspan, waarvoor die voorsitter, Leon Wessels, verantwoordelikheid moet aanvaar. Dié verslag “is so profoundly flawed that [the NWU] Council had to prohibit its publication.” Dan is daar die aanstelling van Kgwadi as rektor, waarmee ‘n heeltemal vreemde kulturele element die hart van die Potchefstroom-kampus binnegedring het. Dit is soos die wolf in die bed van Rooikappie se ouma. Hierdie tragiese gebeure het by die vooroordeel en moedswilligheid van Basson begin, is aangedik deur Wessels as ANC-gedienstige en het as resultaat ‘n NWU-rektor wat kwalik hoog as akademikus aangeslaan kan word. Die hele toekoms van Potchefstroom as eerbare akademiese inrigting is in die gedrang. Venter suggereer tereg “that the process is being guided by external forces.” Dit kom neer op “giving the ANC the power to erode university autonomy in the name of ‘transformation’.”

Tot sy eer het Venter die moed van sy oortuiging om sake te probeer beredder terwyl talle van sy geesgenote en mede-akademici swyg. Dat alles nie wel op die kampus is nie, word bevestig deur die Hombré-voorval (NWU-webwerf 23 deser). Venter wys daarop dat Kgwadi nog nie daarin geslaag het om sy steun op Potchefstroom te vermeerder nie. Enersyds is dit omdat Kgwadi ontwykend, vaag, dubbelsinnig en selfs obskuur oor sy voornemens is, bv wat betref transformasie en die onderrigtaal. Andersyds kan daar vyandigheid by Kgwadi teenoor Potchefstroom as ‘n tradisioneel blanke en Afrikaanse kampus wees. Kgwadi was voorheen die rektor van die swart en Engelse Mafikeng-kampus.

Kgwadi beoog “deep transformation which will strengthen the university’s contribution to social cohesion and nation building”. Venter se kommentaar hierop is:

“Sosiale samehorigheid en nasiebou (wat dit ook al mag beteken) sal nie onder die dekmantel van die skepping van ‘n “baie meer geïntegreerde universiteit” bevorder word deur die eliminering of uitskakeling van goed-presterende bestuurders nie en deur hulle dan te vervang met ‘n gesentraliseerde en potensieel oorgrote institusionele bestuur wat (onmoontlik) getaak word om die belange van personeel wat oor 300 kilometer versprei is, te dien. Dit spreek vir sigself dat die personeel op die drie kampusse onvermydelik onder uiteenlopende omstandighede en omgewings werk. Dit is ook voor-die-hand-liggend dat geen mate van “sosiale integrasie” of aanpassing van akademiese en bestuurstrukture die verskillende omstandighede en omgewings wat op en om die drie kampusse bestaan, sal verwyder nie. Daar moet ook op gelet word dat dit universeel erken word dat ‘n universiteit nie primêr oor bestuur gaan nie, maar oor wetenskapsbeoefening.”

Dit lyk asof Kgwadi, soos die ANC en ander kommunistiese instansies, hou van die sentralisering van mag. Venter noem dit “blunt socialist-like centralisation.” Hy skryf voorts:

“Indien u demografiese transformasie vir die NWU as “nodig” beskou, kan ‘n mens maar net wonder wat u beskou as die vereistes vir “dieper transformasie” wat voldoende sal bydra tot “maatskaplike kohesie en nasiebou”. Dit is per slot van rekening onbetwisbaar dat ‘n voldoende hoeveelheid gekwalifiseerde personeel en studente wat vir normale toelating kwalifiseer nie gedurende u ampstermyn (en langer) gevind sal kan word om “demografiese transformasie”, ‘n ooglopende rasse-eufemisme, te bewerkstellig nie.”

“Wat taal betref wil dit voorkom of daar ‘n direkte skakel bestaan tussen die minister van hoër onderwys se ongrondwetlike idee dat geen ander taal nie as Engels die onderrigmedium aan alle universiteite moet wees, en u eie betreklik vae beklemtoning van “‘n geïntegreerde kultuur, sosiaal geïntegreerde kampusse en billike toewysing van hulpbronne” (soos gestel in u boodskap in Eish! van 7 Desember 2014). Die ongesproke logika onderliggend aan u stellings oor hierdie aangeleentheid skyn te wees dat die “probleem” van Afrikaans met die verloop van die tyd “opgelos” sal word deur die aantreklikheid vir Afrikaanssprekendes van die NWU as voorkeur leer- en werkomgewing te verminder deur ondersteuners van die huidige reëlings uit bestuursposisies te verwyder.”

Wat Kgwadi beoog, is “a much more integrated university with socially integrated campuses.”

Klaarblyklik gaan dit vir Kgwadi primêr om ‘n nie-akademiese pre-okkupasie, naamlik oordrewe gedwonge rasse-integrasie (“deep transformation”) waartydens Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal of selfs afgeskaf gaan word.

Venter stel dan hierdie belangrike feit:

“Objektief gesproke dui die statistiek en die realiteit duidelik daarop dat die Potchefstroomkampus veel minder die karakter van ‘n “historiese wit universiteit” (wat dit ook al mag beteken) dra as die “historiese swart” aard van die Mafikengkampus. Dit bring mee dat hernude pogings tot transformasie tot ‘n sosiaal-geïntegreerde kampus (wat dit ook al mag beteken) primêr in Mafikeng nodig is en nie op die sondebok van die paneelverslae, die Potchefstroomkampus, nie.”

Wat ons hier mee te make het, is die ANC-ingesteldheid waarvolgens daar vir wittes in die nuwe Suid-Afrika, pleks van die veel geprese vryheid, gedwonge integrasie is. Sodanige integrasie word nie afgedwing in bv swart woongebiede of op swart kampusse nie, maar wel in tradisioneel wit woonbuurte en op tradisioneel wit kampusse. Swartes is gevolglik vry om volgens eie voorkeur te kies tussen ‘n monokulturele swart omgewing of ‘n geïntegreerde multikulturele milieu. Wittes word nie daardie keuse/vryheid gegun nie. Verpligte integrasie in die vorm van verswelging deur swartes word aan wittes opgedring. In so ‘n geïntegreerde omgewing bepaal swartes wat mag wees, bv watter onderrigtaal gebruik word.

“Indien dit u strategie is om u doelwitte te bereik deur die marginalisering en uitwerk van die bestuur van die Potchefstroomkampus en deur die vervreemding van die akademiese en administratiewe personeel en studentegemeenskap op die kampus, doen ek aan die hand dat u die vernietigende uitwerking daarvan op die NWU as geheel, op die ekonomie en infrastruktuur van Potchefstroom en op die voortgesette ondersteuning van nasionale versoening onder die groot steungemeenskap en die alumni van die Universiteit sal hê, oorweeg. Die vervreemding van hierdie mense het die ware potensiaal om die NWU op die pad na selfvernietiging as ‘n instelling van uitnemendheid te plaas, soos dit in die verlede en tans nog waargeneem kan word by sommige ander onderwysinstellings wat onder dwang ooreenkomstig die NDR aan “transformasie” onderwerp word.”

Venter formuleer vyf moontlike standpunte van Kgwadi. Daarna kom hy elke keer met voorstelle oor hoe Kgwadi sy netelige situasie met ‘n akademies verantwoordelike stellinginname kan beredder. Maar hulle sal alleenlik werklikheid kan word as Kgwadi nie ‘n ideologiese pion van die ANC-regering, by name Blade Nzimane, is nie:

“…sou ek u graag wil aanmoedig om nie te probeer om u of enige ander ideologiese posisie op die NWU-gemeenskap af te dwing nie, maar om verdraagsaam te wees ten opsigte van sienings wat anders, of selfs opponerend tot u sienings is en om die behoud van die talente van personeel en die studentegemeenskap van die Potchefstroomkampus te verseker.”

Venter se slotvoorstel het betrekking op Afrikaans as onderrigtaal:

“…(V)erklaar dan asseblief onomwonde in die openbaar dat u Afrikaans as onderrig- en leertaal van die NWU sal beskerm en verdedig, want dit bly steeds ‘n sleutelelement van die vermoë van die kampus om tot die sukses van die NWU as geheel by te dra.”

Dit is te betwyfel of Venter ‘n (duidelike of bevredigende) antwoord sal ontvang. Hoewel Venter se ope brief op 12 deser gepubliseer is, lees Kgwadi se verklaring, gedateer 25 November, op die NWU-webwerf soos ‘n antwoord op die sake wat Venter aangeroer het. Naas die verdagmakery kan die lesers gerus voorts let op die klem wat op “funksionele meertaligheid” pleks van Afrikaans geplaas word en die mate waarin Afrikaans as onderrigtaal op Potchefstroom reeds deur Engels weggekalwe is. Deurdat die taalbeleid deur Kgwadi as dinamies en buigsaam gekarakteriseer word, kan sonder gevaar van dwaling voorspel word dat die Engelse aanbod al hoe groter en die Afrikaanse aanbod al hoe kleiner sal word, onder meer weens demografiese manipulasie, oftewel gedwonge rasse-integrasie in die vorm van verswelging deur swartes.

Kgwadi:

“In onlangse mediaberigte is die huidige voorstelle rakende die transformasietrajek en die voorstelle met betrekking tot die toekoms van die taalbeleid by die universiteit … verkeerd oorgedra en weergegee. Dit is onverantwoordelik aangesien die mediaberigte voortspruit uit vertroulike universiteitsdokumente waarvan die inhoud opsetlik wanvoorgestel word met die doel om verwarring en ontsteltenis te veroorsaak … die huidige bestuur van die universiteit het geen voorneme om die taalbeleid van funksionele meertaligheid te verander nie. Hoewel ons moet seker maak dat die beleid nie toegang bemoeilik vir mense wat nie vlot is in Afrikaans nie, is dit nie waar dat dit ons bedoeling is om die onderrigmedium na slegs Engels te verander nie.

“Daar bestaan ‘n algemene wanopvatting (by diegene wat wil hê dat ten minste één kampus in die land Afrikaans moet wees) dat Afrikaans die enigste onderrigmedium op die Potchefstroomkampus is. Dit is reeds vir ten minste ses jaar lank nie die geval nie. Afrikaans is die vernaamste onderrigmedium op voorgraadse vlak, en ‘n groot persentasie van die modules word gelyktydig in Engels in getolk. In sommige gevalle – vir grondige opvoedkundige redes – geskied onderrig in die finale jaar van die graadprogram in Engels.

“Parallelmedium-onderrig vind ook in Afrikaans en Engels plaas, somtyds op aandrang van professionele akkrediteringsliggame. In ‘n ander geval word ‘n graadprogram in Engels aangebied omdat daar baie min Afrikaanssprekende studente is wat ingeskryf is vir die betrokke program. In gevalle waar akademiese personeel nie vaardig is in Afrikaans nie, word lesings in Engels aangebied, met gelyktydige tolking in Afrikaans in. Dit sou ook uiters onverantwoordelik wees om studente van die geleentheid te ontneem om blootstelling te kry aan die idees van diverse vakkundiges ter wille van ‘n spesifieke ideologiese posisie. In sommige klasse maak Afrikaanssprekende studente nie gebruik van gelyktydige tolking in Afrikaans nie, want hulle is ten volle tweetalig in Afrikaans en Engels. Nagraadse onderrig geskied ook grotendeels in Engels, en dit is reeds vir ten minste 10 jaar lank die geval.

“Dit behoort duidelik te wees uit bogenoemde beskrywing van die taalbeleid dat dit buigsaam en funksioneel is en dinamies reageer op die taalbehoeftes van studente. Ek en die institusionele bestuur van die universiteit het al verskeie kere ons steun vir funksionele meertaligheid uitgespreek …

“In die hersieningsproses van die universiteit se visie, missie en waardes moet transformasie, integrasie en multikulturele diversiteit ook in ag geneem word. Om uitvoering hieraan te gee, het die institusionele bestuur besluit om die ampstermyne van vastetermynkontrakaanstellings van senior bestuurswerknemers tot drie jaar te beperk, waar die visekanselier [rektor/Kgwadi] die aanstellingsgesag is. Die insinuasie dat dit ‘n gevolg van transformasie (in die sin van indiensnemingsgelykheid) is, is moedswillig, indien nie kwaadwillig nie. Dit is bloot ‘n verantwoordelike benadering tot die proses van strategieontwikkeling wat tans aan die gang is.”

Wat het die (dreigende) ondergang van die laaste Afrikaanse universiteitskampus veroorsaak? Die onmiddellike aanleiding was die aanstelling van Kgwadi as rektor. Die weg hiertoe is geopen deur die voorafgaande stemming in die NWU-senaat. Hoewel die blankes daar in die meerderheid is, het sommige van die wit akademici besluit dat dit tyd vir ‘n swart rektor was, terwyl (feitlik) al die nie-wit senaatslede waarskynlik vir Kgwadi gestem het. Die punt is dat dit suiwer akademies gesproke nooit tyd vir ‘n rektor van ‘n bepaalde kleur is nie. ‘n Rektor behoort primêr na akademiese verdienste verkies te word. Daar is algemene eenstemmingheid dat Kgwadi akademies glad nie in dieselfde liga as die ander (wit) rektorskandidaat is nie, soos onder meer duidelik blyk as hulle publikasierekords vergelyk word. Al die pro-Kgwadi-akademici in die NWU-senaat moet medeverantwoordelikheid vir hierdie ramp aanvaar en veral dié op die Potchefstroom-kampus omdat hulle die toekoms van Afrikaans as onderrigmedium daar waarskynlik vir altyd beduiwel het.

Maar die onderliggende rede vir die onverkwiklike verswarting en gevolglike verengelsing van die Potchefstroom-kampus en die aaklige werklikheid van ‘n bemoeisieke, fanaties-kommunistiese minister van hoër onderwys moet teruggevoer word na die mandaatlose politieke magsoorgawe van FW de Klerk. Daar is by my geen twyfel nie dat “die geskiedenis”, oftewel toekomstige historici, geen (morele) regverdiging vir sy drievoudige verraad sal vind nie.

  • De Klerk het op 15 Augustus 1989 as staatspresident by PW Botha oorgeneem. Op 20 September 1989 was daar ‘n algemene verkiesing. In die aanloop tot hierdie verkiesing het De Klerk en die ander Nasionale Party-kandidate geen woord gerep van planne om bv die ANC te ontban en met kommuniste en geweldenaars (wat weier om geweld af te sweer) te onderhandel oor politieke magsdeling nie. De Klerk het klaarblyklik nie vertroue in die mening van die meerderheid blanke kiesers gehad nie. Die noodlottige stappe wat hy op 2 Februarie 1990 aangekondig het, bv die ontbanning van die ANC en die plaaslike Kommunistiese Party, was (heeltemal) mandaatloos.
  • Nadat allerhande mooi broodjies gebak is, was daar op 17 Maart 1992 ‘n referendum waarin die meerderheid blanke kiesers ten gunste van politieke magsdeling gestem het. Dit was ‘n gulde geleentheid vir die kiesers om van hulle kant af geen vertroue in De Klerk te stel nie, maar die propaganda van die massamedia het ‘n oorweldigende en noodlottige impak gehad. De Klerk het voortgegaan deur mandaatloos magsdeling in algehele magsoorgawe te omskep. Om die blankes te sus het hy selfs beweer dat daar in die resultaat van sy onderhandelings moerse wigte en teenwigte ingebou is. Later het dit geblyk dat hierdie wigte en teenwigte (grootliks) fiktief is.
  • Een van die deurslaggewende redes waarom De Klerk in die 1992-referendum meerderheidsteun ten gunste van sy beoogde magsdeling ontvang het, is omdat hy belowe het dat die finale ooreenkoms na afloop van sy onderhandelings aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê sou word. Mandaatloos het hy besluit om dit nie te doen nie en geredeneer dat sy algehele magsoorgawe eintlik maar dieselfde as sy beloofde magsdeling (bv eie woongebiede en skole vir blankes) is. Die eintlike rede waarom hy sy plegtige belofte verbreek het, is omdat hy geweet het dat daar geen moontlikheid was dat sy brousel deur die blanke kiesers aanvaar sou word nie. Die Nasionale Party het immers sedert 1990 minstens drie tussenverkiesings teen die Konserwatiewe Party verloor. De Klerk is heel moontlik ook deur die ANC met die hervatting van geweld afgedreig. Nelson Mandela het bv op sy kenmerkende arrogante manier verklaar dat hy die referendum vir slegs blanke kiesers in 1992 sou toelaat, met die implikasie dat dit die laaste keer sou wees dat net blankes stemreg het. Van die 1992-referendum tot die “eerste demokratiese verkiesing” op 27 April 1994 het die blanke kiesers net so min soos die swartes inspraak in hulle toekoms gehad. Hulle lot was in die hande van ANC-gedienstiges soos Roelf Meyer, Leon Wessels en natuurlik FW de Klerk.

Wat op die Potchefstroom-kampus en tewens aan al die tradisioneel Afrikaanse universiteite gebeur, vind aansluiting by wat in die res van die nuwe Suid-Afrika plaasvind. Dit alles is die uitkoms van De Klerk se drievoudige mandaatlose verraad. Wie kon voorspel dat ‘n Dopper die Dopperhemel sou vernietig?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.