Universiteit Stellenbosch: die Botman-pad of ‘n nuwe begin?

Deel op

Sedert Russell Botman se dood word daar koorsagtig georganiseer met die oog op die aanstelling van die volgende rektor van die Universiteit Stellenbosch (US). Tot dusver was daar (behalwe op Praag) nog net lof vir Botman:

  • Op 21 Julie het die uitvoerende komitee van die US-raad vergader. Die openbare raadsmededeling daarna het net waardering vir Botman se nalatenskap gehad (US-webwerf 23 Julie).
  • Op die 22ste Julie, tydens die vierde Botman-huldigingsbyeenkoms, het die blanke waarnemende rektor, Leopoldt van Huyssteen, die mening uitgespreek dat die US op die Botman-koers moet bly (US-webwerf 22 Julie).
  • In ‘n hoofartikel het Die Burger geskryf: “Die US kan nie verkeerd gaan nie as hy min of meer hou by die visie en rigting wat Botman aangedui en nagestreef het” (30 Junie, p 1 en 10).
  • Die oorverligte Anton van Niekerk dink dat dit nie net die US is wat by Botman se nalatenskap baat nie. Botman het selfs “die wêreld ‘n beter plek agtergelaat” (Die Burger, 2 Julie, p 11).
  • Henry Jeffreys het ‘n beroep op die US-raad gedoen “om ‘n transformeerder van Botman se kaliber” as sy opvolger aan te stel (Die Burger, 2 Julie, p 10).
  • Jonathan Jansen het gesê: “Die US sal moet besluit of hy wil bou op die nalatenskap van Botman en of hy wil bly in die verlede” (Rapport, 6 Julie, p 2). “As Stellenbosch gaan terugval onder nuwe leierskap, terug in die verlede, gaan dit groot probleme in ons land veroorsaak” (Die Burger, 7 Julie, p 2).

Wat hier gebeur, is dat die US-raad en sommige US-personeellede, asook bruin ANC-aktiviste soos Jeffreys en Jansen, druk uitoefen vir die voortsetting van Botman se beleid van transformasie. Dit behels dat die US so vinnig en so veel moontlik moet verswart en verengels en dat akademiese gehalte in hierdie proses maar skade kan ly. Wat deur nie een van die bogenoemde instansies of persone (openlik) bepleit word nie, is die handhawing en daarna verbetering van die posisie van Afrikaans en blankes aan die US, om van Afrikaners nie te praat nie.

As die blankes wat pomp om die rektorspos uitgesluit word, kan ‘n mens sê dat die subteks in die bostaande is dat ‘n nie-wit rektor weereens aangestel moet word. Die aanstelling van ‘n wit US-rektor, al is hy/sy hoe oorverlig, sou as ‘n terugwaartse stap geëtiketteer word. Let daarop dat suiwer akademiese oorwegings (bv formele kwalifikasies, ondervinding, publikasies) nog glad te berde gekom het nie, al gaan dit in werklikheid om die top akademiese pos aan wat veronderstel is om ‘n akademiese inrigting te wees.

Dit dui myns insiens op ‘n siekte tot die dood toe. Dít terwyl daar oor die algemeen net lof vir ons “demokratiese” bedeling is. Ooreenkomstig die ANC se verwerplike beleid gaan dit in hierdie diskoers in die eerste plek en deurslaggewend om rassistiese en seksistiese oorwegings. Net soos deesdae gemaak word asof die Suid-Afrikaanse geskiedenis eers met die stigting van die ANC begin het, word die beginpunt van ‘n respektabele US teruggevoer na die aanstelling van Botman as die eerste “swart” rektor. Die punt is dat die Botman-US uit die ANC-oogpunt politieke respektabelheid verkry het, maar die US het sekerlik nie aan akademiese uitnemendheid gewen nie. Net soos iedere swart plaaslike staatshoof na Nelson Mandela aan ‘n ekoniese maar mitiese Mandela gemeet word, het die siek gewoonte posgevat om iedere US-rektor ná Botman aan ‘n swart Botman-beeld te meet; ‘n neiging wat akademies sekerlik katastrofiese gevolge inhou.

‘n Ingeligte en betroubare waarnemer op die US-kampus het my meegedeel dat daar nie ‘n kat se kans is dat ‘n blanke die volgende US-rektor sal word nie; nog minder ‘n Afrikaanssprekende. Dit kan dui op die mate waarin die akademiese lewe aan die US met ‘n mengsel van ANC-politiek en blanke ruggraatloosheid vergiftig is. Sommige van die jongste negatiewe geluide is afkomstig van Arnold Schoonwinkel, die US se viserektor vir onderrig. Hy het Botman se anti-blanke beleid aan sy bas gevoel toe Botman openlik verklaar het dat hy voorkeur aan ‘n nie-witte in hierdie pos sou gee. Die opdrag wat Schoonwinkel van Botman ontvang het, was dat hy sy werk op so ‘n manier moet doen dat ‘n nie-witte by hom kan oorneem. Myns insiens dui dit op rasgegronde denke by Botman.

In Schoonwinkel se artikel is daar bitter min nuwe inligting (Die Burger, 2 deser, p 11; gedeeltelik ook op die US-webwerf, 31 Julie*, en die volledige teks, 4 deser). Dié teks dui daarop dat Schoonwinkel skynbaar onkrities deel van die Botman-US is. Schoonwinkel objektiveer nie sy werksomgewing nie. By hom is dit eerder ‘n geval van behaaglike inburgering in sy hier en nou. Hy funksioneer skynbaar eerder as US-amptenaar as akademiese leier. [*Daar word verwys na ‘n hersiene taalbeleid – ongetwyfeld die skepping van die Botman-bewind – maar die publiek kan nie internettoegang daartoe verkry nie, wat waarskynlik verdere afskaling van Afrikaans impliseer. Daar is wel toegang tot ‘n taalgedragskode vir ondersteuningsdienste. Daarvolgens moet “Afrikaans in alle omstandighede gebruik word as die taal van interne kommunikasie.” Dat hierdie 2002-voorskrif verouderd is, blyk duidelik uit ‘n vorige skrywe van my (Praag 29 Julie). Die 2002-taalbeleid was vir die publiek toeganklik, maar die huidige hersiene een is nie. Dit hou wesenlike gevare vir Afrikaans in, maar geheimhouding geniet ongelukkig die steun van Christo Viljoen, die president van die US-konvokasie (Die Burger, 7 Julie, p 8).]

In Schoonwinkel se teks is daar eintlik twee temas. Enersyds handel die artikel oor taal. Daar is die gebruiklike relaas oor dubbel- en parallelmediumonderrig en tolking. In Schoonwinkel se tuisfakulteit, ingenieurswese, word klasse in óf Afrikaans óf Engels aangebied en dan in die ander taal getolk. In die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, wat ANC-politiek die sterkste teenstaan en groot klasse het, word onderrig in aparte klasse tot op honneursvlak aangebied. Schoonwinkel noem egter dat vir die US in sy geheel ‘n minderheid klasse slegs Afrikaans of slegs Engels is. Die fakulteit krygskunde het weens die ANC-regering se rassistiese beleid feitlik uitsluitlik swart studente, gevolglik is alle onderrig slegs in Engels. Geen universiteit wat in sy hart en niere Afrikaans is, sal met so iets vir lief neem nie. Dit toon onteenseglik dat ANC-gedienstigheid vir die US belangriker as Afrikaansgetrouheid is.

Van al die oorblywende fakulteite word gesê: “In die ander fakulteite kan studente ‘n program gedeeltelik in Afrikaans en gedeeltelik in Engels volg.” Dit is in hierdie fakulteite waar Engels die meeste veld ten koste van Afrikaans gewen het. Fakulteite soos medies (wat ‘n dekade lank ‘n fanatiese transformeerder, nogal ‘n Van der Merwe, as dekaan gehad het), lettere (Anton van Niekerk se tuisfakulteit) en teologie (Nico Koopman se tuisfakulteit) het sterk verengels; dermate dat ‘n student nie meer ‘n graad kan verwerf sonder om (veral) in Engels onderrig te ontvang nie.

Om hierdie feit te verdoesel, word die volgende Botmanisme voorgehou: “Studiemateriaal soos kursusraamwerke, klasaantekeninge, toetse en eksamens word in Afrikaans en Engels aangebied.” In die praktyk is dit nie ‘n sinvolle opsie vir die student om toetse en eksamens in Afrikaans af te lê as die dosent nie Afrikaans magtig is nie. Die rede waarom daar ‘n toenemende getal eentalige Engelse dosente is, is omdat die US nie meer van sy dosente vereis om Afrikaans magtig te wees nie. Hulle word hoogstens aangemoedig om iets aan die saak te doen. Die rede waarom dosente nie (en nooit) Afrikaans magtig hoef te wees (of te word) nie, is omdat gepoog word om, indien enigsins moontlik, nie-wit dosente aan te stel. Schoonwinkel noem dat die US dus ‘n “gemengde taalmodel” het waarin daar ook “ruimte vir Afrikaans” is. Daardie ruimte word tans amptelik op 60% gestel, maar hierdie persentasie is gebaseer op ‘n vleiende 50% Afrikaans en 50% Engels in gesamentlike klasse, wat egter in die praktyk hoofsaaklik in Engels aangebied word. Daar is al dikwels genoem dat die onderrig in Afrikaans baie laer as 60% is en dat Engels loshande die hoofonderrigtaal van die US geword het. Wat seker is, is dat die US weens politiek-gedrewe transformasie nie meer die Afrikaanse universiteit van weleer is nie.

Andersyds handel Schoonwinkel se artikel oor lippediens aan Botmanisme, dus oor Botman se “nalatenskap”. Vandaar die talle verwysings na hoop*, diversiteit, meertaligheid, toeganklikheid, inklusiwiteit en “die bevordering van die Afrikatale.” Daar is ook die herhaaldelike verwysing na “uitdagings”; ‘n woord wat kenmerkend van ANC-gesindheid is. Schoonwinkel onderskryf sonder meer die Botman-US se Visie 2030. Nêrens is daar ‘n aanduiding dat Schoonwinkel hom in enige opsig van Botman se nalatenskap distansieer nie.[*Botman se Hoopprojek ontleen veral aan kommuniste soos Paulo Freire (1921-1997) en Ivan Illich (1926-2002).]

Dit lyk vir my asof Schoonwinkel se artikel deur dieselfde motivering as Van Niekerk se bogenoemde skrywe onderlê word, naamlik om te sê: (1) ek is ook hier, (2) ek kan ‘n geskikte kandidaat vir die rektorskap wees, (3) ek steun die Botman-beleid ter afskaling/vernietiging van ‘n Afrikaanse en veral ‘n Afrikaner-US en (4) ek gaan nie (of wil nie, of kan nie) nuut oor die US dink en ‘n eie en akademies sinvoller benadering as Botman volg nie. Dit is dus soos om die nuwe Suid-Afrika sonder bevraagtekening te aanvaar. Wat ‘n tragedie.

Die Botman-bewind was wesenlik ‘n nie- (self anti-) akademiese era waarin ANC-politiek (feitlik) deurgaans voorrang bo gesonde akademiese oorwegings geniet het. Pleks van te beweer dat op die Botman-pad voortgegaan moet word, behoort daar akademiese Simsons op te staan wat aankondig dat ‘n nuwe begin nodig is. Die politieke pilare waarop die US tans staan, moet intuimel. ‘n Nuwe daeraad moet vir Afrikaans en die blankes, veral die Afrikaners, op die US-kampus aanbreek. Wat in werklikheid in volle swang is, is die groot kruip na die US-rektorskap.

Dit lyk asof daar deur die rektorskandidate en die meerderheid US-raadslede geredeneer word dat die gesindheid pro-Botman (en by implikasie pro-ANC) moet wees om die volgende rektor te kan word. Sodanige sentiment voorspel niks goeds vir Afrikaans nie. Nadat ek die voorafgaande geskryf het, is daar ‘n sinvolle brief deur JE de Kock, Stellenbosch, in Die Burger (11 deser, p 8) gepubliseer. Ek haal die brief volledig aan.

“Baie dankie, prof Schoonwinkel, vir normaals ‘n verduideliking oor die ‘voorneme en strategie (aan die US), wat onder meer Visie 2030 insluit.’ Ons het dit al tot vervelens gehoor. Intussen word al hoe meer in die briewekolomme deur US-dosente, Maties en hul ouers gekla omdat min onderrig nog in Afrikaans aangebied word. Gaan lees maar weer in Donderdag Aktueel van 31 Julie wat die FW de Klerk-stigting [Praag 5 deser] te sê het oor die Grondwet*, wat aandui dat dit ‘duidelik, prakties en billik is dat minstens een uit die vier universiteite in die Wes-Kaap, wat hoofsaaklik Afrikaans is, Afrikaans as sy hooftaal van onderrig kan gebruik – op ‘n nie-rassistiese en nie-diskriminerende grondslag.’ Stellenbosch het nou ‘n gulde geleentheid om ontslae te raak van sy sogenaamde Hoop-projek en straatfeeste waar gekleurde poeier oor deelnemers uitgegooi word**. Word weer ‘n universiteit wat toegespits is op akademiese belang. Om uitnemendheid van diversiteit afhanklik te maak, is nêrens wetenskaplik bewys nie. Doen asseblief by die keuse van ‘n volgende rektor die regte ding in die belang van Stellenbosch en die doel waarvoor hy gestig is***.”

* Dit is ironies dat FW de Klerk en sy stigting die grondwet as reddingsboei gebruik om De Klerk se nalatenskap positief te probeer voorstel. Leon Wessels vertel in sy boek, Vereeniging: die onvoltooide vrede (2010), dat De Klerk dit in 1996 sterk oorweeg het om in die parlement teen hierdie einste grondwet te stem (p 279).

** Amanda Gouws was verlede jaar teen die einde van Russel Botman se Diversiteitsweek in ekstase omdat sy met gekleurde poeier in iedere kleur van die reënboog (behalwe wit natuurlik), bemors is. Haar enigste grief was dat die meeste van haar mede-dosente nie aan hierdie sotterny deelgeneem het nie.

*** Dié verwysing is na Jannie Marais se stigtingskenking waarvolgens die US ‘n Afrikaanse Universiteit moet wees. Hierdie onverbiddelike voorwaarde word deesdae feitlik deurgaans doodgeswyg.

Op 15 deser skryf Koos du Toit van Stellenbosch, daardie verbete vegter vir Afrikaans, in Die Burger (p 12) dat hy twyfel of die US sy stigtingsvoorwaarde sal verwesenlik. Anders as wat ek, JE de Kock en Koos du Toit dink, is daar in die US-raad skynbaar min aanhang vir ‘n gesonde, radikale breuk met die Botman-era. Dit is pas deur die US se raadsvoorsitter, George Steyn, bevestig. Dit is Steyn wat na die dood van Russel Botman die gerug versprei het dat Botman gehoop het dat sy kleinkinders in Afrikaans aan die US sal kan studeer (US-webwerf 29 Junie). Dít terwyl Botman sy eie kinders op so ‘n manier grootgemaak het dat hulle eerder Engels as Afrikaans wil wees. Steyn is die opvolger van Edwin Hertzog, wat gesê het dat hy tevrede sou wees as die US 80% Engels en 20% Afrikaans is (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 152). Hertzog het as sakeman by Mediclinic en Steyn by Pep Stores uitgeblink. Kwantitatief verstaan hulle vraag en aanbod by konkrete dinge baie goed, maar albei trap klei as dit kom by die kwalitatiewe evaluering van meer abstrakte verskynsels soos taal, kultuur en ideologie. Die water word dan te diep vir hulle.

Bun Booyens, die redakteur van Die Burger, het ‘n onderhoud met Steyn gevoer en ‘n artikel daaroor gepubliseer (Die Burger, ByNaweek, 9 deser, p 12-13). Dit lyk asof die teks in groot mate op grond van ‘n internetonderhoud bestaande uit ‘n reeks vrae en antwoorde tot stand gekom het. Enersyds kry ek die indruk dat Bun Booyens in die gesonde Afrikanergesindheid van sy naamgenoot, sy pa (1916-2010), geskool is. Andersyds het Booyens jr my teleurgestel omdat hy hom polities korrek daarvan weerhou het om werklik indringende opvolgvrae aan Steyn te stel. Hy het Steyn toegelaat om met spreekwoordelike moord weg te kom, waardeur die US vorentoe akademies grondig benadeel kan word.

Steyn se voorganger, Hertzog, het dit onomwonde gestel: Afrikaans is “nie die voorwaarde vir die voortbestaan van die US nie” (Kapp, p 114). Volgens Hertzog hoef die US dus nie ‘n Afrikaanse universiteit te wees nie. Die donateur Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde kan dus maar geïgnoreer word. Russel Botman het hierin ‘n gulde geleentheid vir die verengelsing van die US gesien. Een van Botman se opdragte aan die US se Sentrum vir Inklusiwiteit was dat vasgestel moet word hoe Marais se stigtingsvereiste omseil kan word (Praag 13 Julie). Histories kan daar geen twyfel oor die bedoeling van Marais wees nie. Die Engelse Victoria Kollege is in 1918 in die US omskep en Engels as onderrigtaal is binne enkele jare uitgefaseer. Afrikaans moet dus volgens die letter en gees van sy stigting die enigste (of dan sekerlik die hoof-) onderrigtaal wees. In die Botman-era (2007-2014) is Afrikaans egter deur Engels as die hoofonderrigtaal verdring. Wat met reg van die US se raadsvoorsitter en van enige US-rektor vereis kan word, is nie ‘n vae versekering dat daar ongespesifiseerde “ruimte” vir Afrikaans is en dat gepoog word om die “aanbod” in sowel Afrikaans as Engels uit te brei nie, maar dat Afrikaans vanselfsprekend tot in die oneindige die hoof- (en verkieslik die enigste) onderrigtaal sal wees.

Kom ons kyk hoe vaar Steyn met die oog hierop in sy onderhoud met Booyens. Heel aan die begin stel hy my reeds diep teleur. Steyn sien niks radikaal verkeerd en onakademies in Russel Botman se polities (spesifiek ANC-) gedrewe beleid nie. “Russel se nalatenskap is die baan waarop hy ons universiteit geplaas het. Ons beplan nie ‘n koersverandering nie.” Steyn wend klaarblyklik geen poging aan om die Botman-era objektief te betrag en ‘n noodsaaklike koersverandering te visualiseer nie. Steyn kyk en sien en dink alles is wel: “Die raad is eenparig daaroor dat die US deurlopend moet verander of transformeer”. Volgens Steyn moet dit op die Botman-manier gedoen word. Blykbaar mag ‘n mens die nalatenskap van die eerste “swart” US-rektor net so min bevraagteken as die nalatenskap van die eerste swart Suid-Afrikaanse president.

As Botman-lojalis kla Steyn vervolgens weer oor die voorbladsyberig in Die Burger (23 Junie) waarvolgens daar moontlik ‘n mosie van wantroue in Botman in die US-raad gestel sou word. In ons era van politieke korrektheid kom dit blykbaar neer op heiligskennis. Weer dreig Steyn raadslede met die bewering dat dit “‘n ernstige oortreding van die gedragskode vir raadslede” sou wees as sulke kritici uit die raad praat. Hulle word as publisiteitsoekers geëtiketteer. Myns insiens sou ja-broers, heuningsmeerders en ANC-gedienstiges nie so vermaan word nie.

Booyens verwys na Blade Nzimande se stelling dat daar nie meer plek vir Afrikaanse universiteite is nie. Nzimande se “uitspraak strook eenvoudig nie met ons Grondwet nie,” is Steyn se reaksie. “As hy bedoel het daar is nie plek vir Afrikaner-universiteite nie, is dit natuurlik iets anders en sal ek hom gelyk gee, want Stellenbosch is lankal nie meer die ‘volksuniversiteit’ wat vroeg in die vorige eeu moes help om die Afrikaners op te hef nie. Dit kan en wil ons vandag nie wees nie.” Hier eggo Steyn die Botman-standpunt dat die US lankal die “laer” verlaat het (Rapport 28.04.2013; Praag 29.04.2013). Dit herinner ook aan Botman se snedige verwysing na die “volksvaders” (US-webwerf 16 Mei; Praag 23 Junie).

Opvallend is Booyens se versuim om hier opvolgvrae te stel. Daar is glo nie plek vir ‘n Afrikaner-universiteit nie. Is daar in dieselfde mate ook nie plek vir ‘n ANC- of kommunistiese US nie? Sowel ANC- as kommunistiese ideologie word tans in oorheersende mate aan bv die US en die Universiteit Vrystaat bedryf, soos ek in talle vorige skrywes op Praag aangetoon het. Waarom is dít toelaatbaar pleks van amptelike en daadwerklike ideologiese neutraliteit? Daar word eenvoudig veronderstel dat die Afrikaners verkeerd en die swartes (oftewel die ANC) reg het.

Hierna wil Booyens graag “so duidelik as moontlik” uitsluitsel oor die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal aan die US hê. Steyn stel dit dadelik dat “akademiese uitnemendheid” belangriker as taal is. “Ons sal dit slegs kan bereik en volhou as die US die beste dosente én beste studente lok en behou. Dit sou absurd wees om te dink dat ons dit met slegs Afrikaanssprekende dosente en studente kan behaal.” Dit is ‘n stekie na die eens akademies voortreflike Afrikaanse US. Hier gee Steyn ‘n gaping so wyd soos die Here se genade aan Booyens, maar hy wend geen poging aan om dit te vat nie. Ons is hier by die kern van die akademiese verrotting aan die US. Afrikaans word voorgehou as iets wat akademiese uitnemendheid belemmer, terwyl dit vir egte akademici met historiese insig duidelik behoort te wees dat die suiwer Afrikaanse US van weleer akademies voortrefliker was as wat die huidige een is.

Dit kan ook kwantitatief met verwysing na bv die mediese fakulteit gemeet word. Die ou US het net kandidate met gemiddeld A-matrieksimbole tot studie vir die MBChB-graad toegelaat. Deesdae is ‘n minderheid kandidate van sodanige akademiese kaliber. Geen wonder dat Suid-Afrikaanse mediese opleiding al hoe minder erkenning in die buiteland geniet nie. Eenogig sien Steyn Afrikaans as ‘n belemmering vir akademiese uitnemendheid, terwyl die hoofoorsaak vir die US se tanende akademiese aansien politiek, spesifiek ANC-politiek soos verpersoonlik deur Russel Botman, is. Maar dít is juis die pad waarop Steyn die US wil hou.

Dat die US tans die beste dosente en studente trek, is ‘n mite. Die huidige verderflike beleid is juis dat nie-akademiese oorwegings, soos etnisiteit en geslag, (dikwels) ‘n deurslaggewende rol by personeelaanstellings en -bevorderings en by studente-toelatings en beurstoekennings speel. Met so ‘n beleid kan geen universiteit akademies respektabel wees nie. Steyn noem bv dat die US “spesiale werwing [doen] om personeeldiversiteit te bevorder.” Daardie verlangde etniese en geslagsdiversiteit is suiwer polities gemotiveerd. Daar is geen bewyse dat sodanige diversiteit ‘n universiteit akademies verbeter nie. Gebrek aan homogeniteit kan in werklikheid soveel chaos veroorsaak dat die universiteit nie behoorlik kan funksioneer nie.

Daarna grawe Steyn die gat waarin hy hom bevind nog dieper. “Daar is ook die vereiste dat finale kortlyste ‘n kandidaat uit die benadeelde groepe moet bevat … ons kan en moet beslis meer doen op hierdie terrein;” dus in selfs groter mate akademiese aanstellings en bevorderings op nie-akademiese (etniese en geslags-) gronde doen. Let daarop dat hierdie opdringing van sogenaamde benadeeldes nie ‘n aanbeveling of riglyn is nie, maar ‘n vereiste. Diegene wat voorheen benadeeldes genoem is, word die huidige bevoordeeldes en die wat na bewering voorheen bevoordeel is, word met Steyn en die US se komplimente die huidige benadeeldes.

Wat gebeur in die praktyk wanneer sulke kortlyste by aanstellings en bevorderings finaal oorweeg word? Daar word benadeel-gesentreerd te werk gegaan. Daar word nie in die eerste plek gekyk watter een van twee wit kandidate akademies die beste is nie, maar veel eerder waarom die US ter wille van transformasie (dus politiek) nie daarmee kan wegkom deur die voorheen benadeelde kandidaat aan te stel nie. Daarmee word die demografiese profiel van die US verbeter, maar nie die akademiese profiel nie. Só word akademiese uitnemendheid sekerlik nie gedien nie. Dit is hieroor dat minstens een US-raadslid, Rhoda Kadalie, die integriteit gehad het om te bedank. Die tragedie is dat dit klaarblyklik die resep is waarvolgens die volgende rektor aangestel gaan word. Booyens het gevra vir ‘n “profiel van die ideale kandidaat” maar polties korrek het hy versuim om te vra of Steyn die versekering kan gee dat etnisiteit en geslag geen (deurslaggewende) rol gaan speel nie. Maar dit laat my dink aan hierdie wysheid: Moenie vrae vra as jy nie bereid is om leuens aan te hoor nie.

Hoe kom ‘n mens uit die penarie as waar daar voorheen studente met A-matriekgemiddeldes was daar nou ‘n see van studente met bv C-gemiddeldes sit? Een manier is om soos Jonathan Jansen te redeneer: dat ‘n swarte met een A-simbool in matriek akademies net so goed soos ‘n witte met sewe A-simbole is. Steyn verkies om dieselfde dwaalleer op ‘n ander manier aan te hang. Die US soek nie die studente met die beste bewese akademiese skoolrekord nie. Nee, “die US moet die studente met die meeste potensiaal lok.” Dit is ‘n morele verpligting weens “die skade wat in die verlede aangerig is.” Dit is dus die slegte wittes se skuld dat nie-akademiese oorwegings tans die septer oor akademiese oorwegings swaai. Waar dit om politiek en moraliteit gaan, neem rasionaliteit die wyk.

Ek het dit al aan ‘n rektor gestel: Wys my ‘n swarte waarvan in so ‘n milieu gesê word dat hy nie potensiaal het nie. ‘n Swarte word per definisie iemand met onderdrukte potensiaal. Hierdie potensiaal-mite het ernstige implikasies. Byvoorbeeld, ‘n student met gemiddeld ‘n C-simbool vernietig die kans van ‘n kandidaat met gemiddeld ‘n A-simbool om bv medies te studeer. Dit is bekend dat sommige studente hulle potensiaal bereik en ander nie. Daar is egter geen meganisme waarvolgens nie-presteerders vinnig uit die stelsel verwyder word en met bewese akademiese presteerders vervang word nie. Daar word eerder redeneer dat die voorheen benadeeldes se vermeende potensiaal later sal inskop. Hoewel hulle deesdae vrygeborenes is, word daar geredeneer dat wittes hulle oor ‘n lang tyd hels erg benadeel het, gevolglik is dit te begrype dat die potensiaal eers na aansienlike tydsverloop sal begin blom. Daar is ook ‘n strategie wat gevolg kan word sodat dit bloot lyk asof die potensiaal loskom: verlaag die akademiese standaarde. In elk geval: diegene wie se potensiaal nie ontluik nie, word nie met kandidate met bewese akademiese gehalte vervang nie, maar met nog voorheen benadeeldes met beweerde potensiaal. Waarvan daar geen sprake is nie, is vergoeding aan diegene wat deur hierdie huidige bose politieke stelsel benadeel word; onder meer omdat hierdie verderflike beleid in ‘n kleed van hoë moraliteit gehul word.

Steyn het hom nie “so duidelik as moontlik” oor die toekoms van Afrikaans uitgelaat nie. Wat hy veel eerder gedoen het, is om regmatige kommer te wek. Wanneer daar die begeerte is om swartes in sport te bevoordeel, word kwotas afgedwing. Maar Steyn sê: “‘n Kwotastelsel vir Afrikaans sal faal … Gestel ons het 100 plekke beskikbaar … en reserveer ‘n kwota van 50% vir Afrikaanssprekendes. Nou doen daar 50 Afrikaanssprekendes en 150 Engelssprekendes aansoek. Ons word dan volgens die kwota gedwing om al 50 Afrikaanssprekendes te aanvaar, maar net die beste derde van die Engelssprekendes. Die negatiewe impak op gehalte spreek vanself.” Wat hieruit blyk, is dat Steyn die mite aanhang dat daar nie genoeg Afrikaanssprekende matrikulante is om ‘n Afrikaanse US aan die gang te hou nie. Kapp het hierdie argument in sy boek besweer (Praag 6 April).

Die punt is dat Engelssprekendes maar bevoordeel mag word, want hulle word in die konteks van die US met nie-wittes geassosieer. Wat nie mag gebeur nie, omdat dit polities inkorrek sou wees, is om Afrikaanssprekendes en by implikasie wittes te bevoordeel. Wat Steyn gerieflikheidshalwe nie noem nie en ook nie deur Booyens daartoe verplig word nie, is om te erken dat hierdie taalkwota-probleem nie aan die Afrikaanse US van weleer bestaan het nie. Dit is die invoering van onderrig in Engels wat die Afrikaanse akademiese drinkwater aan die US besoedel het.

Wat ook duidelik is, is dat die sakeman Steyn vraag en aanbod verstaan en net daarvolgens die balans tussen Afrikaanse en Engelse onderrig wil besleg. Hy noem dat daar tans eweveel studente is wat hulleself as Afrikaans of Engels identifiseer. Wat hy polities korrek nie noem nie, is dat ‘n groot skeut van die wat voorgee om Engels te wees Afrikaanssprekende bruines is wat ruim bydra tot die ondergang van Afrikaans aan die US. Nêrens is daar ‘n aanduiding dat Steyn sensitief is vir Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde nie. Nog minder word hy beïnvloed deur die trotse geskiedenis van die Paarl (die Genootskap van Regte Afrikaners, die Taalmonument) en Stellenbosch (die US) as die bakermat van Afrikaans. Dit gaan vir hom om siellose vraag en aanbod. Volgens Steyn moet die US nie net op die transformasiepad volhard nie, maar moet transformasie ook versnel word. Dit beteken dat vinniger verswarting en verengelsing die US en die dorp Stellenbosch se voorland is; ‘n wens wat Botman in 2007 as sy begeerte in sy intreerede as rektor uitgespreek het.

Steyn is deur die donateurs tot die US-raad verkies. Die gewoonte het posgevat om ‘n sakeman tot raadsvoorsitter te verkies omdat universiteite deesdae as sake-ondernemings beskou word. Dit is ‘n gevaarlike tendens, want universiteite is veronderstel om in die eerste plek akademiese inrigtings te wees. Daarom behoort ‘n deurwinterde akademikus (bv ‘n konvokasielid) veeleerder die raadsvoorsitter te wees, sodat akademiese belange voorop gestel kan word. Aan die US is dit duidelik dat die donateurs en konvokasielede in verskillende rigtings trek. Groot sake-ondernemings as donateurs wil veral om nie-akademiese redes die US transformeer (dus om gewild en in die mode te wees), terwyl die konvokasielede veel meer akademies, konserwatief en tradisiegebonde is.

Steyn se teks, bv “Ons sal uiteraard ook die impak op koste oorweeg,” impliseer myns insiens dat die “aanbod” van Afrikaans aan die US behoue sal bly hoogstens so lank dit bekostigbaar geag word. Daar is geen sprake dat die Engelkse “aanbod” nie bekostigbaar sal wees nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.