Die gebeurtenis van die jaar

Deel op

mandela-in-beelddeur Leon Lemmer

Wat voorgestel word as die grootste gebeurtenis van die jaar, asook sy naloop, is hopelik darem nou grootliks verby. Ek gaan dus probeer om ‘n bietjie perspektief op die saak te gee. Die opvallenste aspekte is seker hoe groot die gedoe was, hoe lank halsstarig daarmee volgehou is en hoe eensydig en onkrities dit was. Ook hoe diegene wat dink hulle is iets en (in die demokratiese tradisie) ook dié wat nie iets is nie, dit nodig gevind het om ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi. Allerhande staaltjies oor persoonlike ontmoetings is vertel; in baie gevalle waarskynlik die resultaat van mite-skepping. ‘n Onvanpaste religieuse milieu is geskep, met selfs die reën wat as ‘n huilende hemel vertolk is. Alles is in grootmaat in druk en elektronies gerekordeer en gaan mettertyd as historiese waarhede aan bv skoolkinders opgedis word.

‘n Mens kon eenvoudig nie glo tot watter uiterstes daar oorgegaan is nie. Ek het op die televisie krieket probeer kyk. In die gras is geskryf dat ons dankie vir Nelson Mandela sê. Op die skerm regs bo is die Mandela-naam feitlik deurgaans aan die kykers opgedring. Wanneer daar nie spel was nie, is pro-Mandela-inligting uitgesaai. Dit is ironies dat tydens die “vryheidstryd” juis betoog is dat politiek uit sport geweer moet word. Op RSG is gespog wat daar twee dae lank ononderbroke met Mandela-verering volgehou is en daarna het nog talle sarsies gevolg. Van die aanbieders het met sommige van hulle opmerkings hulle volslae onkunde oor die geskiedenis uitgestal. Al wat deurslaggewend saak gemaak het, was dat alle inligting pro-Mandela moet wees.

Ek beperk die res van my teks tot wat in twee koerante gepubliseer is; ‘n keur van hoogte- of laagtepunte. Om die lengte van my skrywe binne perke te hou, handel die teks hoofsaaklik oor die eerste week van hierdie sage. Ek besef wel deeglik dat my samevatting ook onuitstaanbaar kan word. Om hierdie rede gaan ek uiters selektief te werk en lewer die minimum kommentaar. Ek hoop maar lesers se bogverklappers funksioneer. Ek moet byvoeg dat die soort advertensies wat oor Mandela deur bv sake-ondernemings gepubliseer is, heelwat lig op hierdie instansies se gesindheid werp. Dit help my om te besluit wie vorentoe my ondersteuning verdien, naamlik by voorkeur dié wat nie pro-Mandela-advertensies geplaas het nie. Ek het beoog om deurgaans na Mandela te verwys en nooit die troetelnaam “Madiba” te gebruik nie, maar sommige van die aanhalings het hierdie hoop verydel.

  • Rapport (8 deser) beweer in ‘n hoofartikel: “Waarskynlik dié belangrikste les wat hy ons geleer het, was sy jare lange weiering om enige voorwaardes vir sy vrylating uit die tronk te aanvaar.” Dus, Mandela, wat postuum as vredemaker en versoener voorgestel word, word geloof omdat hy nie geweld wou afsweer nie. Dit het Mandela in staat gestel om telkens as De Klerk en kie ‘n ANC-eis geweier het, die blanke regering met die hervatting van geweld af te dreig. Ook het Mandela se verknogtheid aan geweld hom 27 jaar in die tronk gehou; iets wat oor en oor vertel word om die blanke bewind as onmenslik wreed voor te stel. Waarom Mandela in die tronk was, word feitlik deurgaans heeltemal verswyg.

Daardie hoofartikelskrywer kom soms ook met die waarheid vorendag: “Daarom moet ons ook eerlik wees en erken dat baie van die land se huidige probleme hul oorsprong in die Mandela-era het … Vandag pluk ons die bitter vrugte hiervan en kan die vrot in talle staatsdepartemente terugevoer word na die Mandela-era.” Hierdie vrot strek veel wyer as staatsdepartemente. Mandela is wyd geloof as “die vader van die nasie,” terwyl daar oor etniese grense heen geen nasie is nie; net ‘n Suid-Afrikaanse bevolking, mildelik aangevul uit veral die res van Afrika. Myns insiens is die kern van Mandela se nalatenskap die geweldskultuur waarvan die einde nie in sig is nie. Hy is ongetwyfeld die vader van die plaaslike politieke geweld. Mandela het immers doelbewus die geweldsopsie gekies, selfs voordat die ANC en die SAKP daartoe bereid was. Hy het ook die Nobel-vredespryswenner Albert Luthuli oorgehaal om geweld te ondersteun.

Hermann Giliomee noem in dieselfde uitgawe van Rapport dat Mandela die dryfkrag agter ‘n sabotasieprogram was. Hy verwys bv na David James Smith se boek, Young Mandela, wat ‘n ander beeld van Mandela skets as die een wat sedert sy dood tot vervelens toe aan ons voorgehou word. Hierdie boek is plaaslik doodgeswyg. Die afgelope dae is telkens verwys na Mandela se aanspraak dat hy teen sowel wit as swart oorheersing gestry het. In werklikheid was Mandela sterk ten gunste van die tirannie van die meerderheid. Vir hom was swart meerderheidsregering ononderhandelbaar. Giliomee: “Lande soos Suid-Afrika met diep rasse- en etniese klowe vervul nie hul potensiaal met ‘n enkele magtige party nie … As ANC-leier en as uitvoerende president het [Mandela] nie besonder groot dryfkrag, insig in probleme of ondernemingsgees getoon nie.”

In dieselfde uitgawe van Rapport verwys PG du Plessis na die “siwwe en drupkrane van die openbare media” wat “die woorde, optredes en dade van openbare figure versuiker of vergal en vir ons naïewe konsumpsie kleur en voorberei … Die mens sonder swakhede moet nog gebore word – en dat ons met die beoordeling, heldeverering of verdoeming van openbare figure van ‘n afstand af onsself daagliks belieg.” Du Plessis verwys na “‘n wêreldwye geruis … van prysliedere en lofuitinge” deur mense met eie agendas en eie ego’s wat politieke munt uit so ‘n gebeurtenis wil slaan. Die resultaat van die grondwetlike onderhandelings kan saamgevat word as “van ons oorheersing na hul oorheersing.” “Vryheidsvegters maak nie almal goeie administrateurs nie en verlore kundigheid is verlore.” Onbegryplik beweer Du Plessis dat “die oorgang na die nuwe bestel bloedloos” was en selfs dat Mandela sy beweerde verset teen swart oorheersing “gestand gedoen het.”

  • In die res van my skrywe verwys ek kronologies na uitgawes van Die Burger. Die eerste uitgawe van Vrydag, die 6de, is te vroeg gedruk om berigte oor Mandela se dood te bevat. Die dag daarna is op die voorste bladsy losgetrek met afbeeldings van 36 voorblaaie van ander koerante, insluitende drie waar Mandela ‘n gebalde vuis vertoon. Hulle verskyn onder die vaandel: “Die wêreld groet Nelson Mandela” In hierdie en volgende uitgawes word Mandela telkens gekarakteriseer as “vegter, vredemaker, versoener” met die laasgenoemde twee wat oorbeklemtoon en die eerste een (bv as terroris en misdadiger) wat verdoesel word. In Rapport was die drie V’s (‘n sinspeling op “Victory”, dus die swartes se gewaande oorwinning oor die wittes): “vryheidsvegter, vredemaker, vader van ‘n nasie.” Die Burger beweer: die wêreld treur, die hele wêreld huil nou, die wêreld se oë is op Suid-Afrika, die wêreld vier Mandela, ens.

FW de Klerk beweer: “Daar was altyd ‘n opregte en eerlike bereidwilligheid [by Mandela] om die ander party te verstaan en tegemoet te kom – ook vir die wit minderheid in Suid-Afrika.” Hy verduidelik nie hoe hy dit reggekry het dat daar so min, indien enigiets, hiervan tereg gekom het nie.

Van Antjie Krog is ‘n gedig gepubliseer oor “‘n mens so edel”, “wie se dade onbeskaamd goedheid wou bring”, “die man wat ons van onsself gered het”.

Volgens Desmond Tutu bid “die nasie” tot “‘n God van bevryding … ‘n God wat ons nasie gelei het uit die plek van gevangeneskap na die tuiste van vryheid.” Mandela word “die vader van ons nasie” genoem, “iemand vir al ons mense” en hy is ‘n geval waar “heiligheid verskans is in werklike wesens.” Die publisiteitsoeker Tutu, wat beweer het dat hy uit die openbare lewe getree het, het sy teenwoordigheid ongevraag by Mandela-byeenkomste in Johannesburg en Qunu opgedring en gepoog om die maksimum publisiteit vir homself te ontlok.

Henry Jeffreys beweer Mandela was 27 jaar “in die tronke van apartheid.” Hy ontken daarmee eintlik Mandela se misdade. Soos hy so graag dikwels doen, vertel Jeffreys van sy eie UDF-aktivisme. Hy beweer die opvoedkundige Funda Centre “was op die rand van bankrotskap weens geld wat na apartheid gekanaliseer is.” In sy artikel stel hy nie net Mandela as ‘n held voor nie, maar ook homself as ‘n mede-held. Mandela het aandag aan Jeffreys se kind gegee pleks van hom met ernstiger sake besig te hou. Jeffreys vind dit fantasties. Hy sien nie deur Mandela se strategie nie. Mandela het geweet Jeffreys is ‘n joernalis wat as ‘n meningsvormer funksioneer. Mandela het dieselfde laai met Richard Stengel, die redakteur van Time en die skrywer van Long Walk to Freedom, uitgehaal deur skynbaar belangstellende aandag aan Stengel se kinders te gee.

  • Op Maandag, die 9de, het Die Burger op sy voorbladsy uitbasuin: “Die wêreld is op pad”; darem nie die heelal en sommer die hemel ook nie.
  • Dinsdag, die 10de, is die hoofopskrif: “Die groot totsiens.” Kgalema Motlanthe beweer dat Mandela sowel sondaar as heilige was. Mandela het glo baie vir Suid-Afrika, Afrika en die wêreld beteken.

Desmond Tutu het gesê Mandela was ‘n “geskenk van God wat gestuur is om Suid-Afrika van ‘n bloedbad te red.” Hy het nie gesê hoe hy dit te wete gekom het nie. “God het … gewys hy is lief vir Suid-Afrika en het vir ons ‘n wonderlike geskenk gestuur – Nelson Mandela.” Daar is glo “bykans ‘n universele liefde vir Mandela … Madiba het uit die tronk gekom en hy het Suid-Afrika soos ‘n towenaar van ‘n giftige ruspe in ‘n pragtige vlinder verander.” Dit is die beeldspraak waarmee Tutu die ou en nuwe Suid-Afrika karakteriseer; dus die verskil tussen blanke en swart bewind. “Ons lewe nou in ‘n wonderlike, multikulturele reënboognasie.””Tutu het die wreedheid beskryf wat Mandela in die gevangenis moes verduur en wat uiteindelik sy longe en sig beskadig het.” Tutu het nie genoem in watter ander Afrika-land iemand 27 jaar in die tronk sou deurbring en daarna eintlik heel gesond tot verby die ouderdom van 95 jaar sou lewe nie.

Helen Zille is vasbeslote om Mandela se werk voort te sit. Ons vryheid is glo aan Mandela te danke.

Russel Botman het verseker dat die Universiteit Stellenbosch (US) ‘n huldigingsbyeenkoms hou. Hy het Mandela met die Bybelse Samuel vergelyk wat die volk moes lei. Soos altyd is dit vir Botman onmoontlik om politiek en godsdiens te skei. “Ons as burgers moet bou op die toekoms wat Madiba vir ons wou hê.”

Jonathan Jansen beweer die staat het jare lank ‘n “terreurveldtog” teen Mandela se vrou en kinders gevoer. Die terreurveldtogte van Mandela se MK en dié van die UDF/ANC en PAC bly egter onvermeld. Soos Botman aan die US, het Jansen dit nodig gevind om ‘n Mandela-byeenkoms op die kampus van die Universiteit Vrystaat (UV) te hou. Sowel Botman as Jansen het duidelik geen sensitiwiteit vir die vereiste ideologiese neutraliteit van ‘n universiteit nie. Vir Jansen was die hoogtepunt van die UV-byeenkoms toe ‘n wit NG-predikant gesê het: “Vergewe my en my mense vir wat ons gedoen het.” Volgens Jansen “was die gees van Mandela in die predikant vaardig.” Die ander party, bv die ANC, word klaarblyklik as onskuldig beskou en hoef dus vir niks verskoning te vra nie. Die predikant het vergiffenis gevra vir wat die wittes gedoen het. Sluit dit ook in al die konstruktiewe werk wat hulle sedert 1652 in hierdie droewe land gedoen het?

  • Die Burger se pro-Mandela-veldtog het teen Woensdag, die 11de, nog glad nie stoom verloor nie. Met klaarblyklike verwysings na bv die Amerikaanse swart burgerregtebeweging het Barack Obama Mandela die “grootste [of die laaste groot] bevryder van die 20ste eeu” genoem. Die koerant het dit kritiekloos gerapporteer. Obama het Mandela met sy ander helde, Mohandas Gandhi, Martin Luther King jr en Abraham Lincoln, vergelyk. Obama: “Nadat hy uit die tronk vrygelaat is, sonder ‘n gewapende stryd [let op hoe slu systap Obama jare lange Mandela- en MK-/ANC-terrorisme], het Mandela, soos Lincoln [wat in ‘n sin die Amerikaanse Burgeroorlog veroorsaak het], sy land bymekaar gehou … ek wil vir die jongmense van Afrika en die wêreld sê: Julle kan sy lewenswerk jul eie maak.” Obama het Mandela nageboots deur soms sy vuis in die lug rond te swaai, iets wat kenmerkend van swart “versoeners en vredemakers” soos King en Mandela was.

Jacob Zuma het Mandela as “Suid-Afrika se grootste seun” bestempel, ‘n vryheidsvegter en ‘n vredemaker. “Die afgestorwe president se groot liefde vir vrede kan oral in Afrika gesien word” [!].”Die struggle (teen apartheid) was Madiba se lewe”. Mandela het glo die grondslag gelê “vir ‘n beter lewe vir ons almal.”

Die ANC-aktivis Henry Jeffreys verwys in sy rubriek na Mandela as “‘n geliefde en unieke grootse leier … die groot vredemaker, die groot versoener … die vader van die nasie.” Hy noem “hoe geseënd hierdie geliefde maar dikwels gekweste ou landjie was om ‘n leier van Mandela se kaliber te kon hê om ons uit die politieke woestyn van apartheid te kon lei.” Les bes gee Jeffreys waaragtig voor dat Mandela verseker het dat ons nie onder swart oorheersing gebuk gaan nie.

Ilse Bigalke is ‘n onredbaar linkse joernalis van wie geen neuraliteit of objektiwiteit verwag moet word nie. Haar artikel is onder die opskrif “Só ween die wêreld” gepubliseer. ‘n Mens wonder wat die onvindingryke Die Burger sou gedoen het as daar nie ‘n misbruikbare woord soos “wêreld” bestaan het nie. Mandela word uitgebeeld as “ons morele kompas” wat “nie net Suid-Afrika getransformeer [het] nie, maar die mensdom self” en as “‘n leier vir alle seisoene en vir alle mense.” Obama: Mandela “behoort nie meer aan ons nie, maar aan die engele.” [Op 19 deser het Bigalke erken hoe gretig sy al die pro-Mandela-propaganda verslind het. Dit is die soort mens wat toegelaat word om teen betaling as meningsvormer te funksioneer. Adam Small, daarenteen, het reeds op die 16de genoeg van die “gekke oordrewenheid” gehad.]

Nico Koopman, ‘n bevrydingsteoloog, vind aansluiting by die huil-tema met: “Dit is veral opvallend hoeveel kindertjies ween oor die verlies van ‘n goeie oupa. En die leed van gestremde persone kan nie geïgnoreer word nie.” Pratig gestel, nè? “Mandela het as ‘n kosbare mens van God die evangelie van versoening beliggaam … Madiba het die wêreld van interpatie kom leer;” dus dat ons “na regmakende versoening, na versoenende geregtigheid” moet soek. “Dit is dus belangrik dat ons aanmekaar terugkyk na Madiba se persoon en voorbeeld … Die Madiba-stories ondermyn wat lelik en verontmenslikend is, en roep in aansyn wat mooi en edel is.”

  • Donderdag, die 12de, is Die Burger se hoofopskrif: “Madiba: In stilte gegroet.” Die Uniegebou se amfiteater, waar Mandela in staatsie gelê het, sal voortaan die Nelson Mandela-amfiteater heet. JBM Hertzog se standbeeld voor die Uniegebou word sonder protes (eintlik met instemming, dus weens die tans gebruiklike toegewing van blankes) verskuif na ‘n minder prominente plek. Die 9 meter hoë Mandela-beeld word die hooffokus. Dié verskuiwing simboliseer die feit dat diegene onder wie se leiding die land opgebou is (Hertzog se “Suid-Afrika eerste”), deesdae moet trustaan vir “swartes eerste.” In die wittes se plek tree die swartes na vore wat die land wou vernietig en besig is om dit reg te kry. Hoewel daar in die ANC diegene is wat wou hê dat Mandela met sy kenmerkende gebalde vuis uitgebeeld word, is besluit om hom liewer verwelkomend met uitgestrekte arms voor te stel; ‘n messias of verlosser, soortgelyk aan die Christus-beeld in Rio de Janeiro. Twee Afrikaanssprekende beeldhouers, Ruhan Janse van Vuuren en André Prinsloo, is hiervoor verantwoordelik. In dieselfde gees werk die DA en ANC in die Paarl saam om Jan van Riebeeck-weg, waarin Mandela gestap het toe hy in 1990 uit die Victor Verster-gevangenis vrygelaat is, Mandela Freedom-weg te noem.

Helen Zille het gesê Mandela se gesig simboliseer “wat ons moet word in Suid-Afrika – een nasie.” Maar dan kan Mandela mos nie reeds die vader van die nasie wees nie? Wes-Kaapse ANC-lede het ook van hulle laat hoor. Marius Fransman: “Hoe wil ons hê ons kinders moet wees? Ons wil hê almal moet soos Mandela wees.” Dus geweldenaars? Lynne Brown: “Die enigste manier om Madiba se nalatenskap te bewaar, is om vir die verdruktes en armes te veg.” Al was Mandela stinkryk?

Vir die ANC-aktivis Russel Botman was dit nie genoeg dat daar ‘n Mandela-byeenkoms op die US-kampus gehou is nie. Hy het opsluit ook ‘n artikel vir publikasie aangebied. Hy beeld die blanke bewind as hardvogtig uit omdat Mandela as gevangene nie toegelaat is om sy ma en sy kind se begrafnis by te woon nie. “Intussen is Madiba self oorlede, en te oordeel na die nasie se reaksie, is dit hoe die meeste mense voel: dat sy dood ‘n gat in ons hart laat.” Botman reken “die pas van verandering [agteruitgang? is] veels te stadig.” Botman verwys na Mandela wat ‘n “HOP van die siel” bepleit het. Een van Botman se groot etniese helde, Trevor Manuel, is die mede-outeur van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Botman se oorspronklike bydrae is dat ons nou ‘n “NOP van die siel” nodig het. Botman se omruiling van HOP en NOP berus egter op ‘n misvatting. Mandela het in 1999 in die parlement na ‘n “RDP (reconstruction and development plan) of the soul” verwys (Die Burger, 21 deser, p 15).

  • Op Vrydag, die 13de, het Die Burger ruimte gehad vir hierdie opmerking van Julius Malema: “Nelson Mandela se ware karakter was die een vóór 1994 toe mense hom ‘n terroris genoem het.” Hoe volslae gewelddadig of terroristies Mandela was, blyk uit sy oortuiging dat 14-jariges stemreg moet hê, oënskynlik omdat sulke jeugdiges uitstekend as “bevryders”/terroriste kan funksioneer. Daar is geen ander “bydrae” wat hulle op daardie ouderdom kan lewer nie. Die verlaging van die stemregouderdom sou die land ook in selfs groter mate as tans die prooi van swart mag gemaak het.

In sy rubriek poog Leopold Scholtz “om ‘n objektiewe beoordeling van Madiba se plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te gee.” Hy toon in historiese perspektief aan hoe kommunisties en gewelddadig Mandela en die ANC was. Scholtz noem dit terrorisme. Hy wys ook op hoe anti-wit die jong Mandela was, maar wit kommuniste het hom mettertyd oortuig van hulle bruikbaarheid vir sy doel, naamlik die onverwerping van die blanke bewind. [In beginsel het Mandela geen beswaar teen kommunisme gehad nie. Sy beswaar was suiwer rassisties. Hy wou nie hê dat wit kommuniste, plaaslik en in Moskou, die lot van swartes bepaal nie (Long walk to freedom, 1995, p 115, 123-124, 132). Mandela se beswaar teen die doodstraf was op ‘n soortgelyke manier rassisties. Hy was teen die doodstraf omdat hoofsaaklik swartes tereggestel sou word.] Scholtz dink Mandela se latere “strewe tot versoening was eg … Mandela was nie volmaak nie, al sou ‘n vreemdeling wel dié indruk kon kry ná die uitbarsting van emosie in die Suid-Afrikaanse media ná sy oorlye. (Trouens, buitelandse media het baie objektiewer oor hom geoordeel as dié in Suid-Afrika).”

Tim du Plessis vertel van ‘n onderhoud wat hy in 1992 met Mandela gevoer het. Mandela het erken dat hy bitter oor sy lang verblyf in die tronk was en veral oor wat sy familie in die proses aangedoen is. Daar word sonder meer beweer dat Mandela “magteloos” in die tronk gesit het, terwyl dit algemeen bekend is dat sy tronkstraf aansienlik korter kon gewees het as hy bereid sou wees om geweld af te sweer, wat hy nooit wou doen nie. Du Plessis erken dat dit Mandela was wat “sy organisasie” [die ANC en SAKP] oorreed het om ‘n gewapende stryd aan te knoop. “Dit het minstens drie geslagte Suid-Afrikaners geleer politieke geweld is ‘n aanvaarbare manier om jou doel te bereik of om geskille te besleg … Suid-Afrika proe vandag nog die wrange vrugte van dié indra van geweld in die land se politieke kultuur.” Uit hierdie onverwagte oord kry ek dus steun vir my standpunt dat Mandela nie die vader van ons nasie is nie (want daar bestaan nie so ‘n nasie nie), maar dat hy wel die vader van die politieke geweld is wat tot op hede voortduur en waarvan daar geen einde in sig is nie.

Van die bedenklikste teks wat die afgelope tyd in Die Burger gepubliseer is, is afkomstig van Hannelie Booyens, ‘n joernalistiekdosent, wat al die pro-Mandela-koerantvoorbladsye wil lamineer en monteer in die gange van die Skool vir Kommunikasiestudies van die Noordwes-universiteit; klaarblyklik omdat sy ‘n groot Mandela-bewonderaar is. Sy is hoogs ontsteld dat honderde Potch-koshuisstudente, bv dié van Veritas, as deel van hulle ontvangs- en bekendstellingsritueel ‘n saluut gegee het wat haar aan die Nazi-saluut herinner. Dit is glo ‘n aanstootlike simbool van Ariese meerderwaardigheid en van “benouende denke”, “veral as dit gebeur op ‘n oorwegend wit en Afrikaanse kampus”. Booyens sien seker uit na die verwagte verswarting en verengelsing van hierdie einste kampus. Sy vertel dat sy vroeg Vrydagoggend, dus die dag toe die jongste Mandela-ophef in al sy felheid begin het, met verf en ‘n kwas na ‘n sypaadjie is waar daar ‘n swastika in die sement uitgekerf is. “Oor dié teken van haat het ek ‘n wit vredesduif geskilder met dié woorde: ‘Dankie, Madiba!'” Dit is ironies dat dit juis sy is wat in ‘n kampuspublikasie (13 Jun) teen implusiewe gedrag gemaan het. Sy het sekerlik nie besin oor hoe die kampus sou lyk as almal op haar manier uitdrukking aan hulle politieke oortuigings gee nie. Aangesien daar tans nog orde op die kampus gehandhaaf word, hoop ek die universiteitsowerheid tree ferm teen haar op.

  • Op Saterdag, die 14de, is Die Burger se hoofopskrif: “Laaste reis begin.” Die By-bylae kon die vorige week nie aan die Mandela-bohaai deelneem nie, gevolglik is hierdie hele uitgawe aan Mandela gewy. Daar is selfs die ingewing van twee volle bladsye strokiesprente. Daar is ‘n verslag oor ‘n onderhoud met een van Mandela se kamerade, Ahmed Kathra, waarin ‘n mens geen objektiwiteit te wagte moet wees nie.

Naas Henry Jeffreys, waarna hier bo verwys is, het Naspers ‘n ander joernalis in diens geneem wat graag in Die Burger spog oor sy wandade, insluitende misdade, tydens die UDF/ANC se terrorisme. Ek verwys na Johann Maarman, wat “‘n Victor Verster-alumnis” genoem word. Hy vertel met smaak van sy onwettige dade en die duiwelse rol wat mense soos predikante daarin gespeel het. Net soos Jeffreys plooi Maarman sy vertelling sodat hy ‘n mede-held in die Mandela-sage word.

  • Ek het verwag dat daar die soberheid sou wees om te vra: Wat kos Mandela se mediese uitgawes en versorging die land/belastingbetaler? En al die reise tussen Gauteng en die Transkei oor jare? En die talle byeenkomste en die begrafnis en alles wat daarmee saamhang, insluitende die byeenroep van spesiale sittings van politieke liggame, nasionaal, provinsiaal en plaaslik? Ensovoorts. Pleks daarvan vertel Rapport (15de) en Die Burger (17de) hulle lesers hoe baie die land finansieel gebaat het; glo dalk ‘n miljard rand. “Die wêreld” het immers hier besoek afgelê en hierdie buitelandse vet katte het van hulle en/of hulle regerings/instansies se geld hier bestee.

Watter gevolgtrekkings kan uit die voorafgaande gemaak word? Hermann Giliomee het moontlik die beste opsomming verskaf: Die mite het die mens vervang. Al die massamedia (pers, radio, rolprent, televisie, internet) neem met oorgawe hieraan deel. Dit lyk na ‘n georkestreerde poging, maar in werklikheid geskied dit grootliks impulsief, dus irrasioneel. In die huidige ideologiese klimaat sal geen wit mens op so ‘n skaal en so onkrities geprys word nie. Dit gaan vorentoe die uiterste deskundigheid en insig van historici verg om die (permanente) vervalsing van die geskiedenis te voorkom. Die eintlike gevolg van hierdie harlaboerla [lawaai, rumoer – HAT] is die bevordering van swart mag, met as implikasie die verdere geringskatting, verkleinering en vertrapping van blankes. Dit is waarskynlik die fondament waarop verskerpte anti-wit rassediskriminasie plaaslik gebou gaan word. Tog word daar voortgegaan met die absurde bewering dat Mandela ‘n nie-rassige nuwe Suid-Afrika nagelaat het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.