Boervrou dood met bloudraad verwurg

‘n Oud-polisievrou, Susan Kotze, is Maandag in haar plaashuis in Ellisras (Lephalale) vermoor.

Kotze se liggaam is Dinsdag in haar plaashuis, waar sy alleen gewoon het, aangetref met ‘n stuk bloudraad om haar nek. Sy is waarskynlik verwurg.

Twee selfone en Kotze se bakkie word vermis.

Kotzé, ‘n boorling van die dorp, het met beeste geboer.

Daar is geen selfoonopvangs op haar plaas nie, maar sy was gekoppel aan die radiostelsel wat mbv sonpanele gewerk het aangesien sy nie aan die kragnetwerk gekoppel was nie.

Sy het Maandagaand 18:30 nie gereageer op ‘n oproep nie en onraad is vermoed toe sy Dinsdagoggend weer nie gereageer het nie.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het die moord bevestig en gesê die ondersoek duur voort.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 

Jongste plaasmoord eis boer van Estcourt

Die KwaZulu-Natalse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Willies Mchunu, is glo geskok deur die moord op ʼn 69-jarige boer van Estcourt.

‘n Bende swart plaasaanvallers het Malcolm Green vroeg Maandagoggend in die maag geskiet.

“Die soort voorval moet ten sterkste veroordeel word,” het Mchunu aan Sapa gesê.

Volgens Mchunu kan die tipe voorvalle voedselsekerheid en sakevertroue in die provinsie ondermyn.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die aanvallers het met die boer se voertuig gevlug.

“Die motief vir die moord is nog nie bekend nie en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en roof.

“Die verdagtes het glo Green se bakkie, selfoon, skootrekenaar en ander waardevolle items gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het,” het Mchunu gesê.

Die KwaZulu-Natal landbou-unie het sy kommer uitgespreek oor wat hy noem ‘n vlaag van plaasaanvalle in die provinsie.

Die unie sê vyf boere is dood en 25 beseer in onlangse aanvalle in die provinsie. Die woordvoerder, Koos Maiias sê die regering moet meer doen om boere te beskerm.

Hy sê die land se voedselprodusente word vermoor en van hulle grond gedryf en dit is iets wat die land nie kan bekostig nie. Maiias sê patrollies in plattelandse gebiede moet verskerp word.

 

 

Sasolburgse plaasmoordenaars steeds soek

Die Sasolburgse polisie soek steeds na die moordenaar van Johan Fourie, wat buite sy huis op ‘n plaas in die Taaibosch-distrik doodgeskiet is.

Polisiewoordvoerder Livhuhani Hani sê die 67-jarige Fourie en sy vrou was Woensdagmiddag in hul huis toe sy ‘n verdagte buite gewaar. “Die slagoffer het toe na buite gegaan om uit te vind wat aan die gang is. Hy is in die bolyf geskiet en is op die toneel dood verklaar,” sê sy.

Hani sê die verdagte is gewapen en word as gevaarlik beskou.

Volgens Vrystaat Landbou se Tommie Esterhuyse was Fourie ‘n vragmotorbestuurder vir ‘n vooraanstaande boer in die Wolwehoek-distrik. Fourie het ook op een van sy plase gewoon.

Boer in lokval doodgeskiet

‘n Boer, Freddie Tolman, 52, is Woensdag in die jongste plaasaanval buite Hartenbos in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê Tolman het Woensdagoggend sy werkers gaan haal toe hy in ‘n lokval gery het.

Die aanvallers het ‘n stomp in die pad gerol, en ‘n groep van vermoedelik ses mans het op hom losgebrand toe hy aanhou ry het.

Pojie het gesê Tolman is dood aangetref in sy bakkie langs die Brandwag-Hartenbos-pad. Hy is in die bolyf geskiet.

Die aanvallers het daarna ‘n paartjie gekaap wat van Brandwag na Hartenbos onderweg was, en in hul voertuig gevlug.

“Die polisie het die voertuig naby die Danabaai-afrit in Mosselbaai gevind. Die paartjie is nie beseer nie.”

Pojie het intussen die publiek gevra om die polisie te kontak indien hulle enige inligting het oor die voorval.

Swart plaasaanvaller gevonnis

‘n Swart plaasaanvaller is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n egpaar lewendig wou verbrand.

Die wrede aanval op Jan Pretorius, 72, en sy vrou op 18 November 2012 op hul plaas Uitschot in Noordwes, is aan die sewen-en-twintigjarige Hans Lekgetho verbind.

“Lekgetho is Vrydag gevonnis vir die misdade wat hy saam met twee minderjariges gepleeg het,” het sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, in ‘n verklaring gesê. “Die minderjariges het as staatsgetuies opgetree.”

Die gesteelde eiendom, ʼn VW Jetta en vier vuurwapens wat die aanvaller op die plaas by Biesiesvlei gebuit het, is later teruggevind.

“Die beskuldigde het die slagoffer tydens die misdaad met ʼn ysterstaaf aangerand,” het Moleko gesê. “Hy het geval en is in die huis ingeneem waar hy herhaaldelik geslaan is. Sy vrou se hande is aan die toilet vasgebind en die beskuldigde het die kluissleutel geëis. Sy het geweier en haar vinger is met ʼn mes byna afgesny.”

Die aanvallers het onder andere ook paraffien oor Pretorius uitgegooi, ʼn kombers oor hom gegooi en hulle wou sy baard aan die brand steek.

Hulle het op die vlug geslaan toe ‘n hekklokkie gelui het en hul bose moordplan gefnuik is.

 

Plaasmoordenaar kry 30 jaar

‘n Swart plaasmoordenaar is Donderdag in die rondgaande hof in Nelspruit, Mpumalanga tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ʼn bejaarde boer met ʼn hamer doodgeslaan het.

Welcome Zenzele Bulunga het skuldig gepleit op aanklag van moord, roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy is skuldig bevind aan die moord op Gerhardus Petrus de Beer (82) en die aanranding van sy blinde vrou, Nicolina Albertina Jacoba de Beer (81), op hul plaas Spioenkop naby Witrivier op 10 Oktober 2013.

Die hof het gehoor dat Bulunga die egpaar van ondermeer selfone en vuurwapens beroof het. Volgens Bulunga se pleitverklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger Percy Tshabalala aan die hof voorgelees is, het hy die dag van moord na weiding gesoek vir vee.

“Ek het verby ‘n plaashuis geloop en ‘n grassnyer op die grasperk gesien. Ek het oor die heining gespring en terwyl ek die grassnyer na die heining gestoot het, het ek gesien een van die geboue se vensters is gebreek. Ek het by die venster ingeloer en gesien dit is ‘n werkswinkel vol gereedskap. Ek het ‘n bejaarde man sien nader kom en ‘n hamer uit die werkswinkel gegryp, oor twee heinings gespring en hom aangerand,” het Bulunga gesê.

Volgens Bulunga het hy hierna die plaashuis se deur oopgestoot en ʼn bejaarde vrou in ʼn stoel sien sit. Hy het haar met die hamer aangerand en op kontant aangedring. Bulunga het die twee vuurwapens en ander items gevat. “Terwyl ek uit die huis gestap het, het ek die bejaarde man sien nader kom. Ek het die televisie neergesit en hom weer met die hamer aangerand.”

Bulunga het die twee selfone die volgende dag aan Siphiwe Nkosi en Nonhlanhla Mashaba vir onderskeidelik R100 en R70 verkoop. Hy het die vuurwapens na sy suster se huis gevat en in ʼn ou Isuzu-bakkie weggesteek. “Ek gee hierdie verklaring met opregte berou en vra om vergifnis van die De Beer-familie,” het Bulunga gesê.

Regter Peter Mabuse het tydens vonnisoplegging gesê: “Jy het ʼn weerlose egpaar met geen krag om hulself te beskerm in die veiligheid van hul eie huis aangeval.”

Mabuse het daarop gewys dat Bulunga nooit die motief vir die aanval aangedui het nie.

Boere wat plaasaanvallers skiet, dalk aangekla

Twee boere wat twee vermeende plaasaanvallers Saterdag naby Leeudoringstad in Noordwes doodgeskiet het, gaan waarskynlik vervolg word.

Johan Janse van Rensburg, van die plaas Droëkraal, en sy twee vermeende swart moordenaars, is tydens Saterdag se voorval dood.

Die swart aanvallers het glo met die boer se lyk gevlug nadat hulle hom doodgemaak het.

Van Rensburg het met beeste geboer. Van sy werkers wat ook glo by die voorval betrokke was, is ongedeerd.

Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê ‘n ondersoek na die skietery sal gedoen word en dat twee moorddossiere geopen sal word.

“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die hof besluit of die boere, die slagoffer se bure, van enigiets aangekla gaan word,” het Mokgwabone gesê.

Die twee het uit selfverdediging opgetree, maar ‘n moordklag is nogtans aanhangig gemaak tot die vervolgingsgesag of howe besluit of hul optrede geregverdig kan word.

Boere van die plaaswagstelsel het ‘n hakkejag teen die swart verdagtes van stapel gestuur, waarna ʼn oor-en-weer-skietery plaasgevind het.

Twee van die rowers is op die toneel dood en ʼn derde persoon (24) is in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die rondgaande hof in Leeudoringstad verskyn.

Boer doodgemartel

Sarel Janse van Rensburg, 75, is Donderdag op die plaas Froggy Pond naby Dullstroom doodgemartel. Hy is die vyfde slagoffer van ‘n plaasmoord in Limpopo die afgelope twee maande.

Twee jaar gelede is Van Rensburg se broer en skoonsuster in ‘n plaasaanval in Limpopo vermoor.

Sy ouer broer, Johan en skoonsuster, Gloudien, is in Junie 2012 op hul plaas naby Baltimore vermoor.

Claudine van Wyk, Janse van Rensburg se dogter, was in 2012 Mev. Verenigde Nasies vir die provinsie.

Haar pa is herhaaldelik met ‘n ysterstaaf teen die kop geslaan, met ‘n mes in die bors gesteek en in die kop geskiet. Die wewenaar sou in November sy 76ste verjaardag gevier het.

Hy was alleen toe twee swartes wat kom water vra het, hom oorval het. Janse van Rensburg is volgens die polisie eers met ’n staalstaaf geslaan voordat hy met sy eie skoenveters vasgebind is.

Hy is daarna deur die swart aanvallers met ‘n mes in die bors gesteek en in die kop geskiet.

Die twee swartes – 21 en 25 – wat onder meer ‘n geldtrommel gesteel het, is intussen gearresteer. Die polisie het die twee met die trommel betrap.

Een was voorheen gevang vir huisroof.

Drie vas na moord op Lens-egpaar

Drie swart mans, waarvaan twee onderskeidelik 52 en 27 jaar oud is, sal Maandag in die landdroshof op Utrecht in Mpumalanga verskyn op aanklagte van moord en huisbraak.

Die drie verdagtes is Vrydag naby Piet Retief in hegtenis geneem in verband met die plaasmoord op die Lens-egpaar in KwaZulu-Natal.

Hulle is met die rewolwer wat aan die eienaars van die plaas Commissiekraal behoort het, betrap.

Die verdagtes het die vuurwapen by hulle gehad wat vermoedelik tydens die aanval op die plaas in die Groenvlei-gebied buite Paulpietersburg gesteel is.

Die KwaZulu-Natalse Provinsiale Kommissaris, luitenant-generaal Mmamonnye Ngobeni, het gesê dit is ‘n deurbraak en hulle sal probeer vasstel of die aanvallers by ander voorvalle betrek kan word.

Boer en sy vrou in die kop geskiet

‘n Beesboer en sy vrou in KwaZulu-Natal is Woensdagmiddag op hul plaas doodgeskiet in die jongste plaasmoordaanval.

Nico en Marsha Lens, van Elandsberg,in die Paulpietersburg-distrik, is glo in die laatmiddag oorval. Albei is in die kop geskiet.

Marsha Lens het blykbaar die paniekknoppie gedruk om haar bure te laat weet van die aanval voor sy dood is.

Die Lens-egpaar, in hul vyftigs, is per alarmstelsel gekoppel aan buurplase, maar toe die bure by die plaas opdaag, was dit reeds te laat.

Hoewel die polisiekantoor net 30 km van die plaas geleë is, het die polisie eers ’n uur en half later opgedaag en die polisie se honde-eenheid het eers drie ure later toe dit te donker was om te begin soek.

Vredendal-plaasmoordslagoffer keelaf gesny

Koba Odendaal (74), is in ’n plas bloed in haar slaapkamer op ’n plaas buite Vredendal aangetref in die jongste gru-plaasmoord.

Sy is met ’n serp verwurg en het drie diep steekwonde aan die regterkant van haar nek gehad. Haar dogter sê het dit gelyk asof haar ma keelaf gesny is, het Die Burger berig.

Odendaal is vermoedelik in die huis op die plaas Akkerdal, waar sy en haar dogter gewoon het, oorval.

Mather het gister gesê sy het vir middagete huis toe gegaan toe sy op haar ma afkom.

Slegs Odendaal se beursie met sowat R100 en haar selfoon is gesteel.

Die moordenaars was vermoedelik steeds in die huis toe die dogter by die huis aangekom het, maar het gevlug.

Odendaal het vyf maande gelede van George na Vredendal verhuis. Sy was glo ‘n gawe en vrygewige mens.

’n Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het die moord bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Hy het gevra dat mense met inligting oor die voorval die ondersoekbeampte, speursers. Amande Barens, by 0 074 112 0798 bel of die Stop Misdaad-nommer, 0 0860 010 111, skakel.

Soldaat in plaasaanval gevang

‘n Soldaat van 5SAI is in hegtenis geneem nadat hy positief verbind is met ‘n plaasaanval wat baie onlangs net buite Ladysmith in Natal plaasgevind het, het die Vryburger berig.

‘n Bejaarde dame is tydens die voorval deur twee gewapende mans op haar plaas langs die N11 net buite Ladysmith verras. Hulle het kontant en ‘n windbuks, wat hulle as ‘n swaarder wapen aangesien het, geroof. Die dame is nie in die aanval beseer nie.

Die twee stuks was deel van ‘n bende van nagenoeg vier tot vyf terroriste. Boere op naburige plase het vinnig gemobiliseer en die terroriste begin soek. Een van hulle is in die omliggende bosse gekry en aangekeer. Kort daarna is die soldaat in die Acaciavale-gebied in hegtenis geneem.

‘n Gelisensieerde 9mm vuurwapen is in die besit van een van die verdagtes gekry.

Die twee verdagtes het in die Ladysmith-landdroshof op aanklagte van gewapende roof verskyn. Die ander terroriste is nog op vrye voet.

Waarnemers het hulle kommer uitgespreek dat sulke voorvalle daarop dui dat soldate en polisiebeamptes dikwels deel uitmaak van die terroriste wat ingestel is op die volksmoord.

ʼn Woordvoerder van Projek 2010 is van mening dat daar verbintenisse is met terroristegroepe soos Al-Kaïda en andere.

Boer van Petrus Steyn doodgemartel

‘n Boer van die plaas Groot Waag by Petrus Steyn, Jan de Kock (69) is vermoor toe swart plaasaanvallers hom oorval het terwyl hy in die veld na beeste gesoek het.

Sy lyk is met binddraad aan sy vierwielmotorfiets vasgemaak, het die Volksblad berig.

Sy vrou, Marietjie (67), is nie beseer tydens die aanval nie, maar geweldig geskok.

Die egpaar se honde is enkele dae tevore gedurende ‘n inbraak vergiftig. Die egpaar was toe nie tuis nie.

De Kock se Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie, met die sleutels daarin, is verlate deur die polisie in Vereeniging gekry.

Nadat die bakkie opgespoor is, is die polisie glo na die plaas waar hulle waarskynlik gedink het die twee wit eienaars is reeds dood. Niks is aangemeld nie en die toneel op die werf was glo “normaal”.

‘n Buurman het daarna ‘n oproep van ‘n polisiebeampte gekry wat bevestig het dat dit wel De Kock se bakkie is wat gekry is. Hy en ‘n ander buurman het na hulle na die plaas gehaas.

Die boer is vermoor in die skuur aangetref nadat hulle sy vrou in badkamer vasgebind gekry het. Hy is waarskynlik doodgemartel.

Vuurwapens en selfone is gebuit.

Plaasaanvallers slaan 2 keer in 4 weke toe

plaasPlaasaanvallers het twee keer in vier weke op ’n plaas in Delmas toegeslaan.

Die stasiebevelvoerder van die Delmas-polisiekantoor, sê dit is “bisar” dat aanvallers binne vier weke op een plaas toeslaan.

Die drie gesinslede is Dinsdag met ’n stry­kyster gemartel, het Beeld berig.

Jan Berg (78) is op sy agterstewe gebrand, sy dogter, Riana (45), op haar wang en bene. Vier weke gelede is Jan se vrou, Ina (75), op die wang gebrand.

Jan is toe ook met ’n geweerkolf op die voorkop geslaan.

Die aanvallers het by vorige geleenthede kontant, ‘n voertuig en ‘n wapen gebuit na doodsdreigemente.

Die gesin het intussen diefwering en veiligheidshekke laat aanbring, maar die swart aanvallers het weer Dinsdag die eiendom binnegedring.

Drie swartes is Woensdag in hegtenis geneem. Die gesin het een verdagte uitgeken wat Vrydag in die Delmas-landdroshof op aanklagte van huisroof en aanranding met die opset om ernstig te beseer, sal verskyn.