Uitspraak in kinderporno-saak Woensdag verwag

Die Vrystaatse Hooggeregshof sal waarskynlik Woensdag uitspraak lewer in die kinderpornografie-verhoor.

Die aangeklaagde, ‘n man van Sasolburg wat in die hof erken het dat hy ‘n pedofiel is, het vroeër skuld beken op honderde aanklagte, waaronder die vervaardiging, besit en die verspreiding van kinderpornografie en seksuele aanranding.

Hy ontken egter aanklagte van verkragting op van sy slagoffers.

In die Staat se betoog is die hof versoek om die man se weergawe oor verskeie geleenthede rakende beweerde verkragtings te verwerp ten spyte van die aangeklaagde se skulderkenning.

Die Staat het geargumenteer dat dit en ander aspekte die hof genoeg bewyse gee om die man skuldig te bevind op verkragting. Die man se verdediging het aangevoer die Staat kon nie “opset” in al die beweerde verkragtings bewys nie.

Die saak is uitgestel vir vonnisoplegging.

Oproeriges brand skole, beskadig 50 voertuie

Spanning in Alberton het daartoe gelei dat die Ekurhuleni Metropolisie op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas is.

‘n Metropolisiewoordvoerder, Wilfred Kgasago, sê dit is nog nie duidelik waaroor die oproer handel nie, maar hy sê staatsgeboue word geteiken.

Gewelddadige oproer in die Albertongebied het Dinsdag tot brandstigting gelei. Amptenare sê oproeriges het in die nag die strate ingevaar en skole aan die brand gesteek.

Talle oproermakers is intussen weens openbare geweld in hegtenis geneem.

Vier skole en ‘n gemeenskapsaal is in brande beskadig en strate is versper. ‘n Raadslid se huis is tot op die grond afgebrand.

Polisie is ook ontplooi buite Sasolburg weens klipgooiery.

Tussen Sasolburg en Koppies is meer as vyftig voertuie op die R82-pad deur klipgooiers beskadig. Die toestand is steeds gespanne.

Nog motors is op die pad tussen Sasolburg en Heilbron geteiken in die onrus oor kragvoorsiening.

Oproermakers van die Amelialokasie by Sasolburg het paaie met klippe en brandende buitebande versper om te eis dat elektrisiteit aan hulle voorsien word.

Hulle eis ook dat die Metsimaholo-munisipaliteit woonerwe aan plakkers beskikbaar stel.

Sasolburgse plaasmoordenaars steeds soek

Die Sasolburgse polisie soek steeds na die moordenaar van Johan Fourie, wat buite sy huis op ‘n plaas in die Taaibosch-distrik doodgeskiet is.

Polisiewoordvoerder Livhuhani Hani sê die 67-jarige Fourie en sy vrou was Woensdagmiddag in hul huis toe sy ‘n verdagte buite gewaar. “Die slagoffer het toe na buite gegaan om uit te vind wat aan die gang is. Hy is in die bolyf geskiet en is op die toneel dood verklaar,” sê sy.

Hani sê die verdagte is gewapen en word as gevaarlik beskou.

Volgens Vrystaat Landbou se Tommie Esterhuyse was Fourie ‘n vragmotorbestuurder vir ‘n vooraanstaande boer in die Wolwehoek-distrik. Fourie het ook op een van sy plase gewoon.

Plaasmoord buite Sasolburg

In die jongste voorval van plaasmoorde, is ʼn 67-jarige man op ʼn plaas naby Sasolburg in die Vrystaat doodgeskiet.

‘n Woordvoerder van die SA Polisiediens, Lt. Livhuhani Hani, het gesê dat die man en sy gade ʼn huis op die plaas huur. Die vrou het glo Woensdagaand deur die huis se venster geloer en ʼn indringer gesien.

“Die man het na buite gegaan om uit te vind wat aangaan en is in die bolyf geskiet. Hy is op die toneel dood,” sê Hani. “Niemand anders is beseer nie en niks is gesteel nie. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.”

Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Molesteerder deur Interpol uitgesnuffel

Die borgtogaansoek van die Vrystaatse man wat daarvan aangekla word dat hy sy twee dogters en 17 ander meisies seksueel gemolesteer het, gaan vandag voort in die landdroshof in Sasolburg.

Die man is aangekeer nadat Interpol die plaaslike owerhede laat weet het dat hy op ‘n pedofielnetwerk ingeskakel het.

Hy het glo materiaal van homself waar hy verskeie meisies molesteer, op die netwerk gepubliseer.

Die man wie se identiteit weerhou word om sy dogters te beskerm, het gister vlugtig in die landdroshof verskyn.

Met sy inhegtenisname het die polisie beslag gelê op onder meer rekenaars, asook inkriminerende materiaal.

Oproerige stakers vandaliseer Sasolburg-munisipaliteit, kliniek

Die polisie moes van rubberkoeëls skokgranate gebruikmaak om oproeriges in Sasolburg uiteen te jaag.

Stakende werkers van Sasolburg se Metsimaholo-munisipaliteit het amok gemaak, het die Vrystaatse polisie gesê.

“Die werkers het die munisipaliteitgebou Woensdag met klippe bestook,” het ‘n polisiewoordvoerder, ao. Sellwane Mapamela, gesê.

Betogers het die munisipaliteitgebou sowel as ‘n kliniek gevandaliseer.

Werkers van die munisipaliteit het dié week oor salarisse begin staak.

Intussen het minister van samewerkende regering, Pravin Gordhan gesê die onderneming dat alle munisipaliteite teen die einde van die jaar skoon oudits sal ontvang, is onrealisties.

Gordhan sê die interministeriële taakspan oor dienslewering sal eersdaags vergader om haalbare teikens te bespreek.

Hy het in Port Elizabeth gesê net bevoegde personeel in finansiële poste kan ‘n oplossing bied vir die huidige swak ouditresultate.

Operasie skoon oudit is verlede jaar deur die voormalige minister, Sicelo Shiceka geloods.

 

Sasolburgse gemeenskapradiostasie afgebrand

arson2Sasolburg se gemeenskapsradiostasie Karabo FM is afgebrand in ‘n oënskynlike brandstigtingsaanval, het direksievoorsitter, Sam Mkhwanazi gesê.

“Twee gewapende mans wat hul gesigte verberg het, het in die ateljee ingekom met 25 liter petrol. Hulle het dit Saterdagnagoral uitgegooi en daarna die plek aan die brand gesteek,” het hy gesê.

Hy het gesê die twee het beveel dat die aanbieder in die ateljee die gebou verlaat voordat hulle dit aan die brand gesteek het om 21:00.

“Ons weet nie hoekom die stasie [af]gebrand is nie. Die hele gebou is vernietig en ons harde werk van vyf jaar is vernietig binne twee minute...“

Hy het gesê die stasie het ‘n normale verhouding met die inwoners in Sasolburg en hy kan nie verstaan ​​hoekom mense verkies het om dit af te brand nie.

“Mense was lief vir die stasie, dit is ‘n groot verlies vir ons,” het hy gesê.

Vrystaat se polisie was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie. – Sapa

Stakende werkers is Sasolburg se nagmerrie

metsimaholo“Die stert is besig om die hond te swaai, alhoewel die hond reeds dood is,” sê die Vryheidsfront Plus se raadslid in die plaaslike munisipaliteit, Theo du Toit.

Dit is bekend dat die werknemers van Metsimaholo-munisipaliteit herhaaldelik gestaak het en die dorpe verwoes deur geboue te beskadig en brand te stig.  Die betalingskantoor in Sasolburg is in so ‘n brand verwoes.  Die omvang van die skade aan munisipale bates beloop tans meer as R3 miljoen.  Die bedrag sluit nie die bedrag in van nie-invordering van skulde tydens die staking nie.

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering wat belê was vir Vrydag 19 Julie 2013 het die Speaker ‘n 27-blad regsdokumente uitgedeel vir bespreking.  In die staande reëls en orders vir plaaslike regering is dit duidelik dat dokumente minstens 48 uur voor die aanvang van ‘n vergadering beskikbaar moet wees, wat reeds te min is om weldeurdagte besluite te neem.

Na drie koukus-sessies tydens die vergadering en baie verduidelikings van verskillende individue van die regerende party het dit duidelik geword dat die ANC-geleide munisipale bestuur ‘n ooreenkoms met die stakers en SAMWU (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers Unie) aangegaan het om teen Dinsdag, 23 Julie 2013, hulle salarisse te betaal vir die tydperk wat hulle gestaak het.  Al die regsdokumente wat verskaf is, het dit duidelik gemaak dat dit teen die bepalings van die wet sou wees om die stakers te betaal.  Indien die uitstaande gelde as gevolg van die staking aan die stakers betaal word, sal dit vrugtelose en verkwiste uitgawes wees.

Die Speaker het na ‘n koukus gesê dat die stadsraad oor die aangeleentheid moet stem.

Du Toit het na ‘n bepaalde koukus tydens sy spreekbeurt dit duidelik gemaak dat elke werknemer van Metsimaholo-munisipaliteit ‘n dienskontrak onderteken het wat “Geen werk – Geen betaling” uitspel.  Verder het hy gesê dit is duidelik vanuit die gesprekke dat die ANC ‘n ooreenkoms met die werkers het om hulle te betaal voor Dinsdag 23 Julie 2013.  Aanbevelings van die munisipale bestuurder is deur die Sweep van die ANC verander om voorsiening te maak vir oortydbetaling, verlof en dies meer.  Du Toit het dit duidelik aan die Speaker gemaak dat hy homself nie met die besluite van die dag, wat teen die wet is, kan vereenselwig nie en uit die vergadering gestap.  Die Speaker het Du Toit beveel om te sit, maar hy het hom geïgnoreer en uitgestap.  Du Toit sê daar is geen manier hoe hy dit kan regverdig dat stakers, wat geen respek vir ander se eiendom het, vergoed word wanneer hulle onwettig staak nie.  Hy sê ook voorts dat die ANC nou byna twee dekades aan bewind is en dat die agteruitgang van dorpe en die land skokkend is.