Eise teen SAPD kos belastingbetalers R860 miljoen

Belastingbetalers moes die afgelope ses jaar al meer as R860 miljoen opdok vir siviele eise teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

As die skikkingsooreenkomste wat die SAPD sedert 2011 aangegaan het ook bygereken word, styg die bedrag tot meer as R1,04 miljard.

In 2009 is slegs sowat R80 miljoen vir sulke eise uitbetaal, het Netwerk24 berig.

Gareth Newham, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie, het aan Netwerk24 gesê die stygende eisuitbetalings toon dat siviele eise gewilder is by die publiek eerder as om by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te gaan kla waar ondersoeke lank kan sloer.

Die SAPD se jaarlikse gebeurlikheidsbegroting vir siviele eise wat moontlik nog in die toekoms ingestel kan word, het in die afgelope boekjaar meer as R312 miljard beloop.

Die SAPD se jaarverslae en parlementêre antwoorde van Nathi Nhleko, minister van polisie, wys voorts die polisie het in die 2009-’10-boekjaar regskoste betaal van sowat R89 miljoen.

Teen Maart vanjaar was die bedrag reeds ‘n yslike R278 miljoen.

Die jaarverslae wys ook die meeste van die eise wat teen die polisie ingestel is, was weens algemene polisie-optrede wat byvoorbeeld gedrag tydens inhegtenisnemings insluit, skietvoorvalle en motorongelukke.

In 2012 is berig ’n interne SAPD-oudit het gewys meer as 27 000 polisielede uit nagenoeg 157 000 wat toetse afgelê het om vuurwapens te hanteer, het gedruip.

In die 2010-’11-boekjaar toe die rybewysvereiste vir nuwe rekrute geskrap is, was dié eisuitbetalings nagenoeg R10 miljoen. Dié vereiste is intussen heringestel weens die groot eisuitbetalings agv motorongelukke.

Die SAPD se jaarverslag vir die 2011-’12-boekjaar het gewys van die grootste eisuitbetalings (R12,7 miljoen) was weens skietvoorvalle.

Daar is vandag 1 448 veroordeelde misdadigers wat in die polisiemag dien.

Vermeende plaasaanvaller is polisielid

Twee swartes, een ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), is in hegtenis geneem vir gewapende roof nadat ‘n boer, Peet Nortje, aangeval is op sy plaas Kareebosbult in Coligny, Noordwes, het die polisie Donderdag gesê.

Kolonel Sabata Mokgwabone het gesê vier swart mans het die eienaar met sy twee werknemers op Woensdagmiddag aangeval.

Hulle het die boer in die huis gedwing. Die verdagtes het die huis geplunder en die slagoffer erg aangerand, voordat hulle van die toneel gevlug het in ‘n wit Golf.

Die boer, 84, het daarin geslaag om te ontsnap en na die buurplaas te gaan waar hy hulp ontbied het.

Mokgwabone het gesê die twee is in hegtenis geneem op die N12-hoofweg Woensdag, na Coligny-polisie hul eweknieë in Klerksdorp en Potchefstroom gewaarsku het om op die uitkyk te wees vir ‘n wit Golf met vier swart insittendes.

Die motor is gestop en die twee is in hegtenis geneem. Die ander twee is nog op vrye voet.

“Een van die verdagtes is ‘n administratiewe klerk in diens van die SAPD. ‘n Interne dissiplinêre ondersoek sal ingestel word teen die werknemer,” het Mokgwabone gesê.

Nortje is wreed aangeval en sy vuurwapens is gesteel. Hy kon nog nie ondervra word deur die polisie nie, weens die aard van sy beserings. Hy is steeds in die hospitaal.

“Die polisie het begin soek na verdagtes in hul eie geledere nou. Hoe moet die publiek weet wie om te vertrou? Dit is besig om ‘n groter prioriteit vir gemeenskappe om hulself te beskerm, “Cameron het gesê nadat hy verneem het dat een van die mans in hegtenis geneem is in diens van die SAPD.

Mokgwabone gesê twee vuurwapens wat aan die boer behoort het, is in die SAPD-lid se huis gevind.

Die verdagtes sal aanstons in die hof verskyn.

Polisie wat moordverdagtes doodmartel borg geweier

‘n Polisiebeampte en ‘n polisie-informant van Springs aan die Oos-Rand wat na bewering drie vermeende moordverdagtes gemartel en vermoor het, is in die Landdroshof in Carletonville borgtog geweier, het RSG berig.

Die twee beskuldigdes is meer as ‘n maand gelede saam met nog twee polisiebeamptes in hegtenis geneem, nadat die liggame van die drie mans in ‘n oop veld in Carletonville gevind is.

Die landdros het aan die verdagtes gesê hulle het baie geleenthede gehad om na vore te kom en die waarheid te vertel, maar het aangehou om dit weg te steek.

Die beskuldigdes sal op 3 Julie weer in die hof verskyn. Die ma van een van die slagoffers sê sy is bly die beskuldigdes se borgtog is geweier, aangesien sy bang was dat hulle sou probeer om haar te intimideer.

Ses wat hulself as polisie voordoen vas

Ses mans, wat hulself as polisielede voorgedoen het, sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Viljoenskroon verskyn nadat hulle gister deur lede van die Viljoenskroon-, Bothaville- en Vredefort-polisie in hegtenis geneem is.

Die mans is na ’n hoëspoed jaagtog in besit van polisie-uniforms, ’n vuurwapen en ’n gesteelde voertuig gearresteer.

Daar is ook op ’n groot hoeveelheid kontant beslag gelê.

Volgens Noordwes-polisiewoordvoerder Peter Kareli het ’n voormalige polisiebeampte ’n wenk aan ondersoekers verskaf dat die verdagtes in die gebied is.

Zuma onder druk om Marikana-verslag te openbaar

President Jacob Zuma moet binne 30 dae reageer op ’n aansoek dat die Marikana-verslag openbaar gemaak moet word.

Dit nadat drie burgerlike organisasies – die Marikana Support-veldtog, die Right2Know-veldtog en die Suid-Afrikaanse Historiese Argiewe – Vrydag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ’n aansoek by die presidensie ingedien het.

Hulle eis dat Zuma binne 30 dae op hulle aansoek reageer.

Regsverteenwoordigers wat beseerde mynwerkers van die Marikanaskietery in 2012 verteenwoordig, het bevestig dat hulle opdrag gekry het om ‘n hofbevel te bekom om Jacob Zuma te dwing om die verslag van die Farlamkommissie vry te stel.

Zuma het verlede week gesê hy oorweeg steeds die verslag en gesê daarom sal dit nie binnekort vrygestel kan word nie.

‘n Prokureur, Andries Nkome, sê die presidensie het nie gehoor gegee aan ‘n versoek om die verslag teen die naweek bekend te maak nie.

Volgens hom voel hulle kliënte dat sekere indiwidue wat in die verslag bygekom word, deur die president beskerm word.

Hulle beweer ook dat daar gerugte is dat die Nasionale Polisiekommissaris ‘n aanbod gekry het om haar amp te ontruim, en dat die provinsiale kommissaris in Noordwes aan die einde van die maand gaan aftree.

Nkome sê dit skep die indruk dat die presidensie wil seker maak dat diegene wat die sondebokke is, eers na ander poste verskuif word voordat die verslag bekendgemaak word.

Verslag beveel aan dat McBride geskors word

Die minister van polisie, Nathi Nhleko sê ‘n verslag het aanbeveel dat Robert McBride geskors word uit sy amp omdat hy meegewerk het om sewe Zimbabwiërs in 2010 uit die land te sit.

Nhleko het die Parlement se portefeuljekomitee oor polisie toegespreek.

Hy het gesê ‘n onafhanklike verslag het bevind dat die omstrede McBride, wat tans as hoof van die onafhanklike klagtedirektoraat, OPOD dien, strafregtelik aangekla word vir beweerde sy rol in die deportering.

Daar is bevind dat McBride met ‘n verslag van die OPOD gepeuter het om Anwa Dramat vrygespreek te kry vir sý rol in die deporterings.

Die voormalige hoof van die Valke, Dramat se vermeende betrokkenheid by die saak het tot sy skorsing en uiteindelike bedanking gelei.

Alhoewel Dramat se skorsing ter syde gestel is na ‘n hooggeregshofaansoek, het hy bedank.

SAPD by Rustenburg ontplooi na oproer

Spanning in Boitekong naby Rustenburg in Noordwes het afgeneem nadat die SAPD teen oproermakers van Sondela en Meriteng ontplooi is. Die afgelope twee dae is die gebied op horings geneem.

Polisiewoordvoerder, Kelebogile Moleko, sê die polisie het die situasie sedert Maandagaand gemonitor. Sy sê die oproeriges is ontevrede oor swak munisipale dienslewering en gebrekkige watertoevoer.

‘n Groep van sowat 200 mense het gister by ‘n vulstasie op die R510 by Rustenburg saamgedrom en aangedring dat munisipale verteenwoordigers aan hulle antwoorde verskaf.

Volgens haar het verteenwoordigers van die munispaliteit die groep toegespreek waarna watertoevoer na die gebied weer herstel is.

Moleko sê twee betogers, ‘n man en vrou, wat Maandagaand in Sondela in hegtenis geneem is weens openbare geweld, is gister in die Rustenburg landdroshof op waarskuwing vrygelaat.

Volgens haar is die paaie by Sondela and Meriteng wat gesluit is nadat betogers dit met boomtakke en brandende bande versper het intussen weer oopgestel.

Twee kritiek na baksteengooier weer N12 teiken

‘n Agtjarige seuntjie veg om sy lewe nadat ’n baksteen op die N12-hoofweg in Johannesburg vanaf ‘n oorbrug op die gesin se motor gegooi is.

Die polisie stel glo nie in die saak belang nie en het nog geen verklarings afgeneem nie.

Caden Slabbert (8) is Donderdagmiddag op die N12 naby die winkelsentrum The Glen met ‘n baksteen raakgegooi. Hy is teen die kop getref.

Nóg ‘n passasier, Marionette Schwab (42) is ook Donderdagmiddag by dieselfde oorbrug deur ‘n baksteen getref, wat vermoedelik deur dieselfde swarte afgegooi is.

Albei slagoffers was passasiers in motors en is teen die kop getref. Caden en Schwab word in geïnduseerde komas gehou weens hul kritieke kopbeserings.

Justin Slabbert, Caden se pa, het Maandag gesê die polisie het nog nie die voorval opgevolg nie.

Schwab se ongeluk is Saterdag by die Alberton-polisiekantoor aangemeld, maar die polisie stel klaarblyklik nie belang om die misdadiger vas te trek nie.

Alberton se gemeenskapspoli­siëringsforum (GPF) het glo reeds die baksteengooier geïdentifiseer. Dit is glo nie die eerste keer dat hy bakstene gooi nie.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisiediens (JMPD), het gesê die metropolisie patrolleer die gebied en geen verdere voorvalle is aangemeld nie.

Vier polisielede vas wat huis beroof

Vier polisiebeamptes is Dinsdagoggend in Pretoria in hegtenis geneem nadat hulle ‘n huis na bewering beroof het.

Die beamptes het by ‘n huis in Akasia opgedaag, het hulleself as polisiebeamptes aangekondig en daarop aangedring dat die perseel deursoek moet word, het Mack Mngomezulu, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
 
Hulle het nege selfone, drie skootrekenaars en ‘n onbekende bedrag kontant gesteel.
 
‘n Vrou was by die huis wat haar kêrel daar besoek het.
 
Die beamptes het glo die vrou na haar huis in Sinoville teruggeneem.
 
Hulle het haar Mercedes-Benz by ‘n McDonald’s gelos en en verder gereis in hul eie motors, waarna hulle die vrou met hulle saamgeneem het.
 
Personeel by die McDonald’s het die polisie gebel, wat die beamptes in hegtenis geneem het toe hulle teruggekom het, saam met die vrou, na haar Mercedes.
 
Die beamptes het die vrou se huis deursoek, maar niks gekry nie.
 
“Die polisie sal voortgaan om al die vrot aartappels binne die polisiediens uit te roei,” het Mngomezulu gesê.

Xenofobie net soos plaasmoorde is ‘misdaad’

Die ANC-regime pas tans maksimaal skadebeheer toe nadat beeldmateriaal van ‘n xenofobiese moord op ‘n Mosambieker, ene Emmanuel Sithole, wêreldkundig geraak het.

Net soos met plaasmoorde, het die die SAPD verklaar dat dit gewone misdaad was, maar net soos met plaasmoorde is dit klinkklaar dat die ANC nie streef na enige oplossings nie.

Jacob Zuma het Maandag uitgevaar teen die media wat nie wil saamspeel om die jongste onverkwiklikhede toe te smeer nie. Die ANC is nou skielik aan die ontvangkant van linkse mediagif en “morele” verontwaardiging.

Zuma se amptenare het inderhaas allerlei mooi “morele” beloftes oor samesyn en vrede gemaak, sonder die vaagste idee oor wat die land nou eintlik getref het.

Dis eintlik eenvoudig: Hoe meer Afrika-immigrante oor die grense stroom, hoe groter word die mededinging vir skaars hulpbronne. Dat dit toenemend op geweld gaan uitloop, is so seker soos wat die son more aan die oosterkim gaan skyn.

Die Zoeloekoning is staande toegejuig by die imbizo in Durban Maandag nadat hy vroeër sy broers uit Afrika met miere en luise vergelyk het. Sy volgelinge is klaarblyklik nie goed ingelig oor wat die media deesdae as “moreel” voorhou nie, maar heeltemal op hoogte van die felle stryd wat daar buite woed tussen etniese groepe.

Pravin Gordhan, die minister van Samewerkende Regering, was die ANC se vroom gesig na buite, teen die nuwe media-aanslag. Hy het tydens sy besoek aan Alexandra verklaar dat Suid-Afrika die “hoop” van die vasteland moet verteenwoordig, dws net soos voorheen ‘n magneet moet bly vir immigrante. Dít is die “morele” hoëgrond.

Duidelik gaan die ANC niks kan doen aan die kwessie nie, want hulle verkeer tussen Scylla en Charybdis. Dus gaan gods water maar oor gods akker bly loop, tot die volgende grusame hoofstuk.

Die voortslepende geweld teen wit boere het die getal kommersiële boere in die land met byna die helfte verminder sedert 1994.

Die voorsitter van Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies (PLAAS), Ben Cousins het tewens Maandag aan afgevaardigdes by ‘n internasionale konferensie by die Universiteit van Wes-Kaap gesê omdat die oorblywende boere so produktief is, is daar geen bedreiging vir voedselsekerheid nie.

Daar is net 35 000 kommersiële boere in die land oor en vyf tot sewe persent van dié boere produseer sowat 80 persent van die kos in die land.

Daar is natuurlik ‘n ekonomie van skaal by landbouverwikkelinge betrokke, maar PLAAS het ‘n ideologiese projek wat ten uitvoere gebring moet word om “gelykheid” te bevorder. Dis ‘n ou kommunistiese slagspreuk wat beteken dat almal ewe arm moet word om die armes te plesier.

PLAAS wil naamlik toesien dat dié wit boere wat sukkel, hul grond aan swartes oorhandig “om armoede op te los”. En aangesien hulle nou verklaar het dat voedsel ‘n sekerheid is, is daar plaasaanvalle om die halsstarriges te oorreed om af te sien van eienaarskap.

‘n Mens begin wonder of die oorblywende boere dalk ewe tevrede is met die stand van PLAAS-sake. Na die Russiese rewolusie was daar ook diegene wat jammerlik gedink het hulle kan voordeel trek uit ‘n kommunistiese bewind. Toe nie.

Reusebeloning vir inligting oor polisiemoorde

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n reuse-beloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die verdagtes wat betrokke was by twee onlangse voorvalle waartydens drie polisiebeamptes doodgeskiet is, het Sapa berig.

Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, het gesê ‘n beloning van R400 000 is uitgeloof in verband met Sondag se voorval waar twee polisiebeamptes doodgeskiet is en nog een gewond is op die N3 naby Edenvale en verlede week se voorval waar ‘n polisiebeampte by Parkstasie in die Johannesburgse middestad doodgeskiet is. Kweza het gesê die verdagte wat tydens die skietery op die N3 gewond is en tans in die hospitaal aansterk, is vroeër op parool vrygelaat nadat hy skuldig bevind is aan gewapende roof.

Volgens Kweza is daar in die 2014/5-boekjaar reeds nege polisiebeamptes in Gauteng vermoor. Sy het gesê ‘n omvattende strategie is gefinaliseer en word tans geïmplementeer. Die strategie behels onder meer voortdurende situasiebewustheid van polisiebeamptes en opleiding en benutting van persoonlike veiligheidstoerusting.

“Die leierskap van die polisie is vasbeslote om voort te gaan met hul pogings om die stryd teen misdaad te verskerp. As kriminele dink ons gaan opgee omdat hulle op ons skiet, dan moet hulle weer dink. Ons sal binne die beperkings van die wet verseker dat ons lede se dood nie tevergeefs is nie,” het Kweza gesê.

Volgens Kweza is die grootste probleem onwettige vuurwapens. Sy het gesê daar is oor die afgelope twee maande op 456 onwettige vuurwapens beslag gelê.

Polisiekaptein vas vir moord op pa

‘n Swart polisiekaptein en haar 60-jarige ma sal na verwagting môre in die Orkney-landdroshof verskyn in verband met die moord op haar pa.

Noordwes polisiewoordvoerder Thulani Ngubane sê die 44-jarige swart vrou is gister in hegtenis geneem terwyl sy aan diens was in Klerksdorp.

Haar ma is by haar huis in Kanana aangekeer. Die beampte se pa is in Desember verlede jaar dood in ‘n veld naby Orkney gevind, met pangawonde aan sy lyf en kop.

Gebrek aan bloed op die toneel het egter volgens Ngubane daarop gedui dat die man elders vermoor is.

Die verdagtes word in Klerksdorp aangehou.

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

Polisieman, nog drie vas wat glo skape steel

Terwyl president Jacob Zuma die SANW dié naweek geloof het vir hul aandeel in landelike misdaadbekamping, is nog ‘n polisiebeampte en drie ander swartes in hegtenis geneem vir veediefstal, het die polisie in die Noord-Kaap gesê.

Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die konstabel en drie ander verdagtes het Vrydag in die Kenhardt-landdroshof verskyn. Die saak is tot 25 Februarie uitgestel wanneer die verdagtes om borg sal aansoek doen.

Die polisie het verlede week ‘n wenk ontvang oor moontlike veediefstal in die Kenhardt- en Keimoes-areas. Twee verdagtes, insluitend die polisiebeampte, is in hegtenis geneem nadat ‘n bakkie met ses skape agterop deur die polisie van die pad af getrek is.

Volgens Naidu het die twee ander verdagtes in ‘n VW Polo gery en van die toneel gevlug toe hulle die polisie gesien het.

Hulle is in Kakamas voorgekeer en in hegtenis geneem. “Hulle het glo die twee skape wat in die VW Polo was langs die pad afgelaai.”

Cele sê regering spreek wel landelike veiligheid aan

Die adjunkminister van landbou, Bheki Cele, sê die regering is druk besig om die kwessie van landelike veiligheid aan te spreek.

Hulle werk veral saam met die SAPD om die landelike veiligheidsplan te loods, het hy gesê.

Hy het Woensdag aan die parlementêre debat oor verlede week se staatsrede deelgeneem.

Cele het gesê boere, wit en swart, sowel as swart plaasarbeiders “gaan dood en ly” onder die aanvalle.

Hy het gesê die regering het direkte kontak met landbougemeenskappe.

Cele het onder meer uitgevaar teen opposisiepartye wat volgens hom verdelende propaganda versprei en op dié manier rassespanning aanwakker.